JASSER ARAFAT
Parys, Oktober 2004
Van my Ramallah-kampong af tussen twee geboue sketterklap die helikopter op. My bloed loop agteruit,
stol rens onder my hart. Die straler uit Jordani sal my beter geval.
Nou vlieg ons eers wes. Die wind laat witjurk-duine in lae aanbidding
kniel.
Anemies flenter wolke bo ons. Gaza toe, my stad Gaza
waar potskerwe in vlak grafte
ons edel oorsprong ondergronds krap en uit die meulens van Delila
val steeds heuningsoet karkasse raaisels toe.
My stad, myne sn, ons sn, Palestina sn!
O algenoegsame Allah, Allah,
God van my slagaar, U wat tot bloedens toe
elke tand vergruis vir elke tand van al my jong mans
wat uit eie hand ontplof,
soos busse in strate, verstrooi die Jood!
Hondehare wat tussen ons kom val het!
Maar jy, Palestina 
ontvang soene uit my benerige hande. Ag, hoe asmaties sukkel
suurstof na my vingers
en plof my polse in my skoot en weet dit:
My bloed kruip waar niemand nog ooit geloop het nie
en sypel uit die hart van elke klip. Aljimmers roep ons volk na vryheid!
Ek vlieg vanaand na Parys vir bloed.
Kyk hoe tap vergelding wraakrooi oor die wit oogbol
van die ondergaande son.
