SKEIDING
Vir Est
Sonder my is jy toe met jou ver stroom af,
blaf ek uit opdrifsels agter jou aan 
snuif hondalleen oor al ons dooie grond
en tjank op merke en patrone af
wat vaagweg na jou spore ruik
op pleine, in treine of in blomwinkels
na jou skouers of jou hare lyk.
En toe ek jou weer sien
was jy te ver om teen jou op te spring,
al het jy vlak by my kom lag,
het jy nt vir my tussen almal
lewendood gebly.
Maar snags, onder kwasars en mane
en alles wat ver is,
l my kop nog op jou skoot
waar ek hom eendag gelos het 
tussen jou stories en jou hande
en alles wat nooit vir ons kon wees nie.
En dan wonder ek of jy soms sien
hoe koud die sterre word
			en as hy alleen is
hoe skeef en muf n vy op die grond raak,
hoe vaal n vuur homself kan brand?
