LIGBREKING
Ek sien van die meer af iemand met die bergpad opgefiets kom. Ek buk aan die koel kant
van die sinagoge in die nat basilietuin af, as ek opkyk is die wolke n wit argipel waar vols boegkant eerste saggies indok.
Oor Safat is daar deesdae n tekort aan sterre,
die aardbol word daagliks kleiner afgerol en sit anders op haar as.
Die son gryp seerrooi aan elke skemering.
Ek wil voor alles hierdie impiteit uit die wreld ruk,
arkadies n weiplek
vir troppe-troppe planete skep sodat hulle druifpers
snags oor ons gewelf kom wei.
Op die buitetafel val ronde appelskywe onder my mes. n Broeder fiets agter die hoogtetjie uit;
hy hys hom van die saal en vlag armlank iets. Miskien die ster, die enigma se laaste skuif
wat dynserig op vlerke deur die teleskoop van Hubble afvlieg soos n duif uit die noordelike lig?
Die barde hou tog al die eeue vol dat sterre alles weet,
die pad van die Verwagte sfeer na sfeer ooppluis
en dat die Lig daarbo en hier soos kerse op die kandelaber
binnekort uit ons harte oop sal breek.
