KARAVANE
Wat is die ding, tussen een mens en n ander een, wat so duiselingwekkend is dat dit die laaste tree na mekaar toe onmoontlik maak?
Chris Barnard
hoekom ontwyk jy my altyd
in die opgeefsels 
voor my
sien ek jou
agter my
eie wasem in winters
word ek grys tussen karavane wat trek
oor die doellose droogte
van die duine
l medepligtig die klam onskuld
van jou lyf uitgestrek in die tyd
ek het deur soveel son gereis
en jou nooit gesien nie
St. TUIGLIK
Ek sal vir jou
n adagio bring
vandag
wat jy nie kan hoor nie.
Ek sal vir jou
n boek skryf
vannag
wat jy nie kan lees nie.
Want as ek oor jou huil
lyk dit asof jy nie kan sien nie
en jou hand, voel ek, is iets
wat my nie meer raak nie.
