VIR N AANKLAER
Hoe kla jy aan as jou kop n silwer maan word
vol kitare, jou hart n mandolien wat in drukke
onder die galop van hande lewe pleit
en jy net vry wil wees van al die woede
en die wrede wette wil ophang aan larghettos in konserte
en wegkom van die rituele van regte en van kerke,
die slagtings
van geslagte troepe wat bevele gruwelik gehoorsaam het
om met staccatos uit vuurfluite, claymores op kontrabas,
in hinderlae klewerige stiltes van jong bloed te maak?
Los die sneller, staak jou vuur, want baie is geroep
om aan te kla, te oordeel, of die doelwit op te ruim,
maar min is uitverkies om net n noot te wees
wat vir n rukkie voluit op die lug kan hang 
soos daardie magic tussen n vrou en n man.
