ONTKLEEDANSER
Hy trek sy spiere en taai senings
saam op n klubverhoog.
n Kaal man met n liesriem.
Van voor af bult hy onder die blinkers en agter verdeel sy boude bruin
in twee bronstige fantasie, maar hy dink weg, ondergronds,
n plek waar hy skoon en geborge soos n woestynplant is.
Hy loop by die kleedkamer uit, n agterstraatjie in
om in iemand se kar te klim en rigtingloos te ry
na n bed of matras
wat ruik na sweet en sperm
of om rond te dwaal op die hawe en n skip se loopplank dop te hou.
Hy vergeet nooit die genadiger tyd toe hy die bok
by hulle werfie ingejaag het en sy ma onder haar burka lag
as sy die pot van die vuur af haal. Hy onthou hoe hy gespeel het met die Joodjies in die wit vallei, hoe hulle lag en spring
oor die Kidronklippe in die stroom
of n yarmulka laat seil het soos n skip.
yarmulka: kroonpet deur Joodse mans gedra.
Maar hy swenk hier en toe daar as hy weer sien hoe sy pa 
hoe die vroue lo beseder, lo beseder! skreeu  as sy pa 
doeke oor hulle o vou  by Beit-Jeez voor
n vuurpeloton val.
Nou loop hy by die nag in na sy kamer in Dawidstraat waar n portret van sy ma
langs n prent van Jerusalem hang en hy slaap in die stad
wat oplaai en aflaai op die dokke, wat wemel van ligte en karre
en mense wat op hulle tone loop.
En hy droom van n tyd
toe hy nog gespeel het en hy voel
aan sy bors
die ingeprikte letters:
Sjaloom.
lo beseder: dis nie reg nie.
Sjaloom: vrede.
