EON
Oh as I was young and easy in the mercy of his means,
Time held me green and dying
Though I sang in my chains like the sea.
Dylan Thomas
Ek was toe nie eers n kartel
in die jaarringe van my stamboom nie.
Was my aanwesigheid, my wete,
toe ooit meer as verbeelding
in die Tyd?
My jare was nie eers n halte,
nie eers n huiwering
in die verloop van dinge nie,
en ek, wat met my teenwoordigheid
n keep in die Bas wou kerf,
was toe nooit eers n jota of tittel
in sy windings nie.
Miskien verstaan ek my aanwesigheid
nou beter, omdat ek byna weet
dat ek amper nie hier is nie
en hiern niks behalwe Tyd
daarraan sal herinner nie. 
Miskien huil ek nou makliker
omdat ek soos rooibos,
soos sekelbos hard en droog
geword het  om te verstaan
dat selfs herinnering
aan groenhout en die droom
deur graf en tyd omring is.
Kyk, ek het nou knopknie,
n grys snor en are wat blou
teen my enkels oprank,
maar in di kastige aanwesigheid
rys my potsierlike werklikheid
nog soms vir my soos n brood,
voel ek nog die oond,
veins ek nog
betekenis.
Maar ek weet al
dit sal ook verdwyn.
Mettertyd. Altyd onstuitbaar,
die Tyd.
