LEGENDE VAN DIE KOPER WASKOM
Moses moes die waskom
van koper vir die tabernakel giet. Goud het die vroue uit Egipte gebring en silwer was hulle enkelringe,
dus moes hy oos van die kamp
in die klipbestrooide gebergtes soek. Nou gly hy asemloos van sy donkie se rug
as hy die blou vonkklippe teen die son sien slyp.
Hy hurk oor die vuur in die put
en deur bamboesrietjies blaas hy lug dat die vlamme opspring soos n kryger en die klip in die pan soos water buig.
In die skadu van n spelonk vorm hy n waskom van die koper
en toe hy water uit n spruit daarin giet, sien hy skielik sy gesig soos in n spiel.
Hy skrik en loop agteruit van sy frommelfrons maar toe hy weer dieper kyk,
smelt hy weg in die water en erts,
hou die kroestang van God hom onder.
Hy sien in die water wat inseep en loog
en uitblink soos n glansende spiel alle geheime dinge inkaats en uit,
insirkel soos n bergwind deur bome om die goud van n oes in te samel: die ins wat ingly tussen murg en been.
Moses was sy voete en hande, sy gesig weer en weer,
en dra die koper waskom onder die palmblare
op sy donkie kamp toe.
(Reeds 5000 jaar voor Moses uit Egipte getrek het, het volkere kopererts uit die streke suid van die Dooie See uit klip gekap)
