ABRAHAM
Ek het eers net gedink ek hoor u stem; later kon ek tog brokkies onderskei.
Nou weet ek dat ek van Haran af moet trek.
In u rigting bewe kamele langbeen op die horison.
Suid van Kanan en my gevolg mor kortgebonde oor skaars oases waar water soms bitter is 
vee en kamele kan net effens suip. U is knaksstil teen my oor.
Die landskap verwerp elke voetspoor
met n kriewelrige wind wat oor die see kruip. Die son en maan loop blind by mekaar verby. Saalsakke kreun swaar en sat in die skemer.
Een more wys U na alle kante toe:
Joune en al jou kinders sn tot in lengte van dae. En ek begin landjies vir plant en vee aftree,
span my tentseile en rol my matte oop.
Ek bou n altaar met uitgekapte sonvonk-klippe en word aan my kierie geken
wat sterre soos spulse ooitjies uitwys. Ek hou n oog oor ons kleim.
