My bloekom
Saans beuk die wind die bloekom en beur hom, beur hom weg
uit al sy gejeuk en geneuk en kwinte en kwale uit: n gejeuk onder die oksel, n geneuk in die kwaste. Die bas krul in die hitte en die stram litte smyt
al die oortollige tolletjies en rolletjies af, woeps! op ons huis se kop.
En wat doen die bloekom?
Hy los n wind reeds lank opgekrop
en hy slurp-slurp suutjies al my surings en katjiepierings se vogtigheid op.
Soggens moet ek buk en optel: al sy skifsels en skaafsels geskeurde repe bloekombas  van al die beur en beuk
teen die Suidoos en die Noordwes  bloekomse bloekomblare!
Wat vang hy aan agter my rug? Maar ek kry hom terug 
dis ferplie en jannetjies
my knepe wat die grondwater help houvas: Ek bou hutjies en hopies,
vorm n korbeelhuis met sy blare en repe bas. Bloekomse bloekom!
