Projeksies in die vertreksaal
Rus nou maar gerus: Die visum is goedgekeur, die paspoort is in orde,
die lewensboek die regte kleur; die sensors in die boog waardeur jy ten slotte stap, het slegs geskel oor jy
jou kleingeld moes verklaar.
Dit is om van te kreun: die invra en prosesse. Maar beter dae is op pad,
toegangsbande tot sekere plekke word reeds radikaal versnel deur eenvoudig n mikroskyf
in jou te laat plant  sonder pyn  n snitjie deur die vel.
Sodoende word jy koud gelaat deur welke klank jou gang
in ander oorde kan ontlok. Ongesny bly n mens genoop om soos n wegbreekbees of -bok elke beweging te laat ken
met om die nek n klingelende klok.
