GEBED
Vir Alzheimers
Wat moet hom nog vergewe word
voordat hy in U stad mag slaap?
hy ken nie meer die oerverwyt
van goed of kwaad nie, tuur net onwetend
oor sy eie draad, bo-oor sy eie blom en saad;
hy kan nie meer van U nog weet
of glo nie, maar U weet van elke blou kol
op sy gevange lyf, sy kwyl, sy elke liefde,
ook vir U, verlore in die versmoorde kop.
En deur die krake van die atrofie
breek soms nog nostalgie
oor iemand wat hom dalk kom haal:
oop arms, in wit geklee, iets soos sy bruid,
miskien.
En U weet,
al het hy alles al vergeet,
vir U sal hy weer helder word
as U hom net onthou.
