Anatomie van n miskenning
(Aan Toon van den Heever, skrywer van Op die Hoveld en
Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer)
Mijn naam kwam moeilijk uit zijn strot.  Ed Hoornik: De nederlaag
O, sing my die lied, sing my die lied, die lied wat my hart so raak,
van die Hoveldse digter en die kritiek met n DAAD wat soos donder slaat.
Anders as die koringboer van A.D. Keet met sy gerwe en gerwe haas ongeteld, was Toontjie se oes veel minder breed, die verskyning van n bundel onvoorspeld,
want vroer, ontbied deur Jan F.E. Celliers om hom teen Helikon  so het hy geglo  n Steek die blad, broeder digter! te gee en hy dit sien stol op die lippe daar bo,
het hy geweet sy verse se lot was beklink.
Te uitheems, had ons volksdigter hulle bevind: Jou minnegod sal aan n Boesman laat dink. Nee, bly by die ossewa en die keteltjie, Vrind!
Toe n bundel van hom oplaas tog verskyn, was n destydse ghoeroe ook meer as gereed om met n oog wat nie wyk, n bars te kyk
en die dinamiet met sekere hand aan te steek.
O, sing my die lied, sing my die lied van die digter van Kupido en Pan:
Sy bundel is summier die lug ingeskiet en die stukkies vir bloemlesings gevang.
O, sing my die lied, sing my die lied, die lied wat my hart so raak
van die weg van n bundel na die publiek verby n hardlywige keurder se kaak.
