JARDEN
Jordaan,
jou oorsprong het ek gaan soek. Jou sien wegdwaal
onder n kalkklip uit. Klein meandertjies af
tot in die meer van Hula in.
Toe verder na Tiberias  Kinneret,
die harp van die woestyn
waar stringe waterlope soos los snare aan die kas van die meer hang. Gesien hoe die wind
n golf tower uit jou snare, sodat n silwer vis
so blink soos n muntstuk tol en draai
en in n diepseenet verstrengel.
Twee bote trek n volronde net dieper die meer in.
Die oggend van aangee en neem verdeel in n gelykenis
en skares daglelies en irisse sit op jou oewers saam.
Ek het vasgemeer
om op te trap na die tempel van Kapernaum
en teruggekyk hoe jou onderstroom wegsny na die vallei van Gor.
Hier word jy man! Jou stem diep
in die larinks van Zor
want Jarmoek, Jabbok en twaalf ander vloei in die slenkdal
van jou basale kepe.
Jy is laer as die see en ingedoop
en die land is n wit duif op jou skouer. In skor tale spreek jy
snel en korrek:
My naam is Neerdaler en ek ken my herinneringe  Salomo giet matryse, spiese flits soos sonne. Kamele buig af soos riete,
tros soos dadels op my oewers en tre kantel
as varke vlug uit Gadara. En hier kry ek jou lief,
want huisies van Jabes-Gilead tros saam na jou weivelde
en jou blink staf heers oor die mond van die Dooie See.
