VLERKSLAG I
Matteus 24: 28
Aaneen trek ons op uit die noorde,
gepantser en gesnawel.
Radaro bespied, verklaar die wind en stryk die son.
Megiddo bewe die gerug deur,
die wolke maak los vir ons.
Almagtige oormag deur vallei, oor drade, kruip laag teen walle.
Gedo wag ons buit.
Ons snawels soos mortiere. Vlerke knal.
Een-een die teiken uit, ons breek deur grense,
skouer aan skouer blok ons
deurgange af.
Elkeen wag in skaduwees soos n lang kolf.
Duisende, duisende beweeg, beweeg, die aarde kreun.
Opruk, legio, slaglinie n slaglinie, strykgereed.
Naas ons alles,
ons, die karkassoekers, die profesie.
