Naggety
Die see het gister heeldag skoon gesny,
die sand gelodder oor die rots, toe teruggetrek. Maar laas nag het golwe uit die diepte opgestyg in ry op ry en met blink fosforskuim
die kus van punt tot punt bedek.
Vanoggend het die water weggegly en staan die rotse hoog en skerp. Ons twee loop met die bootpad langs, verder versigtig oor die voorste hang wat los gespoel is, plek-plek opgekerf.
Jou skouers roer teen my, ek vat jou hand, ons soek n gang om baas te raak.
Ons kan ons o nie glo nie. Dis n vreemde strand.
