Opdrag uit n lentetuin
Met geel en rooi trompette in die lug het my tuinorkes uit die winter gekom, met bolwange die soutsproei geblaas tot waar die golwe spoel teen die kus.
Van plek afstaan wil geeneen iets weet nie, die dralende mis demp nie die gees nie, die bergwinde, tot inskiklikheid gemaan, tower bassontone uit die garingbome, help die rofeling van die vuurpyle aan
en om die klank van die kleineres te lig: die sang van viooltjies, die klokkies se drup, die klots van hondebalvygies teen die wal.
Dis duidelik, lief, dat die hele spul se spel afgestem is op n opdrag aan my,
dat geen gelatenheid geduld kan word nie van wind of wolke of die son,
van die duiker wat tubagevou nog l, die Septemberbosse wat bloukappienote oral oor die veld moet sprei.
Instrumenteel in al di lentemalligheid, omdat jy tot in die muisstilhoekies hoor, is, lief, op slot van sake j.
