Op die asem
Galbitter aalwyn met die stroopsoet blom  ek ken net ten dele, eks n suikerbekklong. Wie lol nou dieper as die ontluikende kelk so veel het om te gee, so veel te ontdek?
Inboor na die kroon is n mors van tyd: In die skaarste is dit net ystervark se kind wat deur die bitterste buiteblare byt
om die pit  wat dalk weer soet is  te vind.
Waarom wonder oor die geheim van die kroon? Dis aand, lief, ek en jy, en dis nog blomseisoen. Ek laat jou proe aan my wyn, jy bied my joue aan, met n tint kruisement word ons saamgesnoer.
