Tolbos aan tuinier
Uit draai ek my, uit jou goeie bedoelings
met wortels lug gee, my verlos van gras en breblaarkruid. Laat hul onversteur begaan. Laat my met rus.
Verslap die hand
wat mik om my te stut of dalk verplant 
ek buig in elke lit. Jy kan ontspan oor my en weer en wind.
Ek dra lig aan blomme; n glad ingevoude knop bly dig gesluit.
Maar diep is ek verbind: Kyk hoe die suur
van die onbruikbare entjie grond deur dennenaalde
in my are brand.
