Beroerling
Watter kurktrekkerlopie dit verg om elke dag by moetroer uit te kom, dit maak my spel so traag
hier op die rand van die hoesenaam. Ek moet my tong weer leer,
maar vernaamlik my twee hande wat ek, geyk, wil kommandeer om self te vat: Gehoorsaamheid is beter as oferande.
Enersyds wil ek bly reik
na n nuwe houvas op die grens; andersyds aan jou wat gryp wanneer ek val, my bly verkyk  aan jou, my vrou, waar jy soos nou voortgaan om n maaltyd te berei: Jy laat dit vanselfsprekend lyk.
Ons sit aan. Jy stel my stoel. Ons het n skeutjie binnepret: Ek skuif die mes en vurk
met my elmboog teen mekaar  ons is van bed, maar gelukkig nie van tafel nie geskei.
