Aardse bederf
Die aarde troos met son op hom, dra van n goddelike ontstaan
in algehele leegheid die getuienis van hoe uit n verrykte oseaan
oor mikroob tot paradys gegaan is,
hoe die val na chaos en na dood,
die nuk om na amebe terug te krimp, gestuit word deur n bokmakierieluit, vinkgekwetter by Wolwas in die riet en as jy fyner luister, sal jy hoor
hoe gons dit steeds in elke selfabriek.
Wie klinkklaar lewe ken, wil aanhou leef: Die kind skreeu moord oor elke wond; die toktokkie oefen sy beheerde beef, want stil is hy n kuttel, afgerond.
