Strandvakansiehuis
Nou is dit verby. Met bagasie reeds gepak, word die huis nog net gereed gekry
vir die bestryding van n jaar
se leegheid, die opruk van die mot en roes: In elke vertrek staan kannetjies orent
om tot in die diepste hoek
hul gif te sprei; die deur- en vensterrame is genadiglik met silikon bestryk, die dak teen lek gevrywaar, oral membraan gel, daarna met Rainkote afgewerk.
Is almal buite, word die gif
in pluime losgelaat, die alarm geaktiveer, die sleutel uit die slot getrek, die gat met Prestik-gom versel. En maagdelik wag hy op n volgende besoek,
die akom om die spreeus uit die nok
te laat skarrel, die kransduiwe se paringsroep bo die balkon te onderbreek, n draai
in die tuin te loop, huiwerig oor dit
wat binne wag: n saagselhoop, n plank wat lig, n vlermuis in n spinnerak gevang.
Maar weer sal hy aan die verwagtinge voldoen wanneer met die laaste blinding opgerol
die lig verskuif na waar duikpakke, groen soos luidiere aan die hanebalke hang.
