PA: Ek ken jou as ’n redelike man, Bertus, maar hoe kan jy jou eie kind sy moedertaal … 
BERTUS (uitbarstend): Want as ek Afrikaans praat, dan sien ek my ma en pa se lyke voor my lê! As ek Afrikaans praat, sien ek Zoeloes in die nag, sien ek bloed en vere en kinders waarvan die koppe teen wawiele vergruis is; sien ek polisie met sambokke en mense wat soos koring afgemaai word. En ek hoor ’n dominee op ’n kansel – “want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God, wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en vierde geslag van dié wat My haat.” En ek wil nie hê dat my seun daardie dinge moet sien of hoor nie, of dat die misdaad van sy vaders aan hom besoek sal word nie. (Pouse.) Klop die syfers nou, Pa?
PA (stil): Ja, dit klop. Maar Hy het ook gesê: “Ek bewys barmhartigheid aan duisende van dié wat my liefhet.”
BERTUS (stil): Vertel dit vir my ma en pa.
Stilte. Pa stap oor na Bertus, gaan staan voor hom, sit sy hand op Bertus se skouer, en knik sy kop.
PA (aan Elna en Bertus): Ek sal dit waardeer as julle daardie kleinseun van my nog een keer vir my sal bring.
Bertus knik stadig. ’n Oondklokkie lui af regs.
MA (met enorme selfbeheersing): Anders as jou braai, het my oond ’n klokkie.
Ma af na kombuis.
OUMA (aan Elna): My kaffertjie … (haal die Krugerrand uit haar sakdoekie en hou dit na Elna toe uit.)
ELNA: Maar dis Ouma se versekering.
OUMA: En nou’s dit joune. (Druk die muntstuk in Elna se hand.) Al kom jy nooit weer op hierdie plaas nie, sal jy altyd weet dat jy kan.
ELNA (huilend): Dankie, Ouma.
Ouma stoot haar stoel vorentoe en praat met die gehoor. Die ander spelers versteen.
OUMA: Die sondes van die vaders. Ek is in 1917 gebore, presies in die middel van die groot oorlog. Hulle’t gesê dis die oorlog wat alle ander oorloë moet beëindig. As hulle maar net geweet het hoeveel daar nog sou wees. Die name kom by my op soos paddastoele onder ’n boom. En miskien die vernaamste van hulle almal – die Midde-Ooste, waar die soldate van Christus en Hashem en Allah mekaar vir tweeduisend jaar met spies, geweer en bom probeer oortuig dat hulle die eerste reg op daardie stukkie woestyn het. En mens kan dit verstaan, want daardie stukkie woestyn was op sy tyd die paradys. En as daar nou een plek op aarde is waarvoor dit die moeite werd is om te baklei, dan is dit die paradys. Almal wil in die paradys wees, al is dit deur onreg en moord en doodslag. As jy die bloed moes meet wat deur die eeue heen daaroor gestort is, sal dit waarskynlik meer wees as die waters van die see. En hulle baklei met goeie rede, want die paradys is nie net ’n plek nie, dis ’n plek van melk en heuning. ’n Beloofde land waar ’n mens, ná die verbanning van wat dit is om mens te wees, uiteindelik sy rus kan vind. Dis ’n swaar ding om kennis te dra van goed en kwaad – as mens of as volk – maar in die Vader se wysheid het Hy ook verstaan dat g’n mens of volk slegs kennis van óf goed óf kwaad dra nie. Hy dra kennis van albei. Dis net dat die kwaad makliker is om te onthou, veral as jy nog nie in die paradys is nie. Die sondes van die vaders. Dis waar, maar wys my die vaders sonder sonde. En wys my die kinders aan wie daardie sondes nie besoek word nie – hulle wil ek graag ontmoet. Daarom skenk die Vader vir ons sy genade, en daarom is daar geloof. Mense soek versekering, volke ook. Maar net soos dit gaan met ’n mens en sy lewe, so kan ’n volk ook net vergaan omdat hy sy bestaan gehad het. Ons almal verloor … op die ou end. Maar intussen … wen ons ook. Wat ’n besigheid.
Ma kom op met ’n skinkbord met twee pasteie daarop. 
PA: Nou ja, toe, as ek nie nou eet nie, sal ek van die honger omkom.
Almal beweeg na die tafel. Boetjan stoot Ouma in haar stoel. Ma sit die pasteie op die tafel neer. 
Elna stap oor na Bertus, raak saggies aan sy skouer en soen hom saggies op sy voorkop. Hulle stap saam na die tafel.
PA: Kom, kry vir julle ’n sitplek. Kokkerot, kom sit jy hier, waar jy altyd gesit het. Bertus, sit jy langs Elna. Boetjan, laat Ouma by die ander kop sit. (Beduie na die stoel links van Ma, wat direk links van Pa sit.) En dan sit jy hier. 
Almal neem hulle sitplekke in. Pa tik drie keer met die agterkant van sy mes op die tafel. Hulle vat almal hande en buig hulle hoofde vir die gebed.
Die ligte doof stadig uit.
