BERTUS: Dis die eerste wat ek daarvan hoor. 
OUMA: Dis daai wortels.
BERTUS (aan Elna): Selfs toe ons besluit het om te emigreer, het jy nie ’n woord gesê nie.
ELNA: Jy’t besluit, Bertus, nie ons nie. En ek het niks daaroor gesê nie omdat ek jou wonde verstaan het. Maar ek het gedink dit sal mettertyd gesond word. 
BERTUS: Ons is nog net drie jaar daar. Mens kan nie soos ’n blaar in die wind van land tot land waai nie.
ELNA: Die lewe staan nie in klip geskryf nie. Dinge verander. (Aan Pa.) Pappa, ek het gedink dat ons ’n gelukkige lewe daar sou kon maak. En ek het probeer, maar ek sukkel … ek sukkel.
Stilte.
PA: Dit spyt my dat my aanbod sulke onmin gesaai het.
BERTUS: Inteendeel, Pa, dis goed so. As ’n man moet uitvind dat sy vrou hom nie in sy lewenskeuses ondersteun nie, dan’s dit beter dat hy dit vroeër uitvind eerder as later.
BOETJAN: Sy’t nie gesê dat sy jou nie ondersteun nie, Bertus, sy’t gesê sy’s ongelukkig.
BERTUS: Sy’s ongelukkig daar en ek’s ongelukkig hier. Wat stel jy voor? 
MA: Miskien sal dit help as jy haar toelaat om in haar eie huis Afrikaans te praat.
BERTUS (kyk van Ma na Elna): Ek sien daar was ’n gesprek waarvan ek nou eers verneem.
OUMA: Jy sal nog leer, mannetjie. Tussen ma en dogter is daar nie geheime nie, veral nie as daardie dogter eers ’n kind gebaar het nie.
BERTUS: Dit ontstel my, Elna, dat jy so so maklik uit ons huis praat.
ELNA: Ek moes met iemand praat. Iemand wat verstaan. Die mense in Kanada is nie my mense nie.
PA: Waarvan praat ons nou? Hoekom kan julle nie julle moedertaal praat nie? (Pouse.) Bertus?
BERTUS: Ek wil hê my seun moet Kanadees grootword, Pa.
PA: Maar hy kan mos tweetalig wees. Drietalig, as hy Frans ook leer.
MA: Bertus wil nie hê Elna moet met Neil Afrikaans praat nie.
ELNA: Los dit, Ma.
PA (aan Bertus): Is dit waar?
BERTUS: Ja, Pa, dit is.
PA: Hoekom?
Bertus is stil. Hy wil nie hierdie vraag antwoord nie.
PA (aan Bertus): Kyk, ek verstaan dat ouers nie met hulle kinders se huwelik moet inmeng nie, maar dis my dogter en kleinseun waarvan ons praat! Jy kan nie jou herkoms ontken nie, Bertus, en ook nie jou vrou of jou kind s’n nie. ’n Mens is wie jy is. En al bly jy nou in Kanada of in ’n tent in die Sahara, is jy wie jy is omdat jou taal jou so gemaak het.
OUMA: Dis dié lat ’n boom staan waar hy staan.
BERTUS (Aan Elna terwyl hy duidelik moeite het om hom te beheer ): Oor drie dae gaan ek op daardie donnerse vliegtuig wees, maar as jy by jou familie wil bly, dan is dit jou eie keuse.
BOETJAN: Stadig, Swaer.
BERTUS: Moenie jy vir my sê stadig nie! Wat weet jy van my redes, my lewe? Kry eers weer vir jou ’n vrou, en ’n kind, dan sal ons praat.
BOETJAN: Ek weet genoeg om te weet dat jou seun eendag sal opstaan en sy herkoms kom soek juis omdat jy hom dit laat ontken het.
PA: Daar is syfers hier wat nie klop nie. Ek vra nog steeds: hoekom? 
(Bertus klem sy kake saam, wil nie antwoord nie.) 
