OUMA (aan Boetjan): So wat jy gedink het, is dat Elna die reg het om te weet dat haar pa kanker het.
BOETJAN: Ja, Ouma.
OUMA: Dan het jy meer murg in jou pype as wat ek gedink het.
BERTUS: As ek mag vra, het Ma en Pa al besluit wat Ma gaan doen wanneer … 
PA: Ja. Ma gaan hier bly … saam met Ouma.
OUMA: En wat gaan jy maak wanneer ek nie meer hier is nie?
MA: Aangesien Ma vanaand “’n brokkie eerlikheid” so waardeer, sal ek Ma sê: Ek gaan in ons huisie in die Dordogne in Frankryk bly.
OUMA: Moenie laat ek jou hier hou nie. Ek kan vir myself sorg.
MA: Ek is seker Ma kan.
Ma beweeg na die deur.
PA: Rika, waar gaan jy heen?
MA: Ek gaan kyk wat ek in die vrieskas het.
Ma af na kombuis.
PA: Wel, aangesien die kat nou uit die sak is en die braai in sy glory in, kan ek maar net sowel sê wat ek eers later met julle wou bespreek het. Dis eintlik die rede hoekom ek julle gevra het om hier te wees. Maar eers moet ek weer vra: Bertus, vroeër toe ons gesels het, het jy gesê julle oorweeg dit nie om terug te kom Suid-Afrika toe nie. Is dit reg?
BERTUS: Dis reg, Pa.
ELNA: Hoekom vra Pa?
PA: My verjaarsdag was nie die rede hoekom ek julle hier wou hê nie. Meer ’n ekskuus. Om die waarheid te sê, ek het nog nooit van verjaarsdae gehou nie, kon nog nooit verstaan hoekom vyf en sestig belangriker as vier en sestig is nie, of selfs hoekom een dag meer belangrik as ’n ander is nie, behalwe miskien die dag van jou dood. Maar juis as gevolg van die feit dat daardie dag nou vir my ’n realiteit geword het, moet ek my sake agtermekaar kry. Soos julle weet, het ek my hele lewe aan die bou van my besigheid gewy en daarin geslaag om dit tot ’n stewige, winsgewende onderneming uit te bou. Daardie besigheid is my nalatenskap. En as ek nou een laaste wens mag hê, dan is dit dat die beheer van die besigheid ná my dood in hierdie familie se hande sal bly.
Stilte. Die drie kinders verwerk die implikasie van hierdie nuus.
BERTUS: So Pa wil dit nie verkoop nie?
PA: Nee. My plan was om my aandele eweredig tussen Boetjan en Elna te verdeel, en om jou te vra, Bertus, om die pos as hoof- uitvoerende beampte oor te neem; en om Boetjan op die raad as aan te stel as nie-uitvoerende direkteur.
ELNA: Wat van Ma?
PA: Vir Ma se toekoms het ek reeds gesorg. Waaroor ek nou praat, is die besit, die beheer en die voortbestaan van my maatskappy.
Ma kom in vanaf die kombuis.
MA: Ek het ’n paar Woollies-pasteie in die oond gesit. Dit sal nie te lank vat nie.
PA: Ek het besluit om te vertel.
Ma knik en gaan sit langs Elna op die bank.
PA (aan Bertus en Elna): Nou ja. Dit was my plan. Maar as julle seker is dat julle dit nie oorweeg om terug te kom nie – ’n besluit wat ek heeltemal sal verstaan en respekteer – dan gaan ek my plan, wat Elna se aandeel betref, moet verander.
Elna kyk benoud na Bertus.
BOETJAN: Pa, ek weet julle het dit deur die hare een al baie keer oorweeg om my as julle seun af te skryf … 
PA: Dis nie waar nie.
BOETJAN: Dit is, Pa, en ek sou dit verstaan het. En gevolglik, toe Elna en Bertus geëmigreer het, was dit asof julle nie meer kinders gehad het nie.
OUMA: Mense gaan aan. Hulle’s nie die enigste mense wie se kinders in die buiteland sit nie.
BOETJAN: Maar ek wil net vir Pa sê: Dit sal vir my ’n voorreg wees om by Pa se besigheid betrokke te raak. Ek het nie Bertus se formele geleerdheid nie, maar in my omswerwinge het ek agtergekom dat ek ten minste ’n gesonde verstand het. En ek reken dis ’n goeie begin.
PA: Dit is inderdaad.
OUMA (aan Bertus): Bertus, my oorle’ man het altyd gesê: Gee my liewers een man met ’n gesonde verstand as drie manne met ’n graad.
PA: (aan Elna en Boetjan) Dan is dit my besluit om die aandele nog steeds tussen julle te verdeel, maar om ’n meerderheidsaandeel aan Boetjan te gee, en hy sal stemreg oor jou aandele hê, Elna. 
ELNA ( staan stadig op): Hoekom met stemreg oor myne?
Pa: Die beheer kan nie in die buiteland lê nie.
ELNA: Met alle respek, Boetjan … (Dan aan Pa.) ’n Besigheid so groot soos Pa s’n het iemand met ’n gesonde verstand en behoorlike bestuurservaring en kennis nodig. Nie waar nie, Pa?
PA: Baie beslis, en ek het een of twee manne in gedagte. Ek wou eers uitvind waar julle staan.
ELNA: Bertus?
BERTUS: My “gesonde verstand” sê vir my dat daar geen manier is dat ek my seun in hierdie land gaan grootmaak nie.
ELNA: Dis die kans van ’n leeftyd, my man.
BERTUS: Het jy om jou gekyk? Toe ons van die lughawe hiernatoe gery het, het jy om jou gekyk? Dis alles omgekeer – die beskaafde mense lewe agter tralies en die misdadigers loop op straat.
BOETJAN: Dis nie so erg nie, Swaer.
BERTUS: Jy sê dit omdat jy daaraan gewoond geraak het. Jy sien dit nie meer raak nie.
BOETJAN: Die ding van Suid-Afrikaner wees, Bertus, is … hierdie land is miskien hel, maar dit is ook die paradys.
BERTUS: Ja, en met tienvoetmure omhein.
BOETJAN: Adam en Eva se paradys was ook omhein. 
OUMA: Hulle paradys het selfs ’n sekuriteitshek gehad en twee wagte met vlammende swaarde.
ELNA: Bertus, ek verstaan hoekom jy voel soos jy voel, maar … 
BERTUS: Vergewe my, my vrou, maar jy verstaan nie hoe ek voel nie. Jou ma en pa leef nog. Daar is hulle. En jammer om dit te moet sê, Pa – dit breek my hart dat Pa hierdie siekte gekry het – maar ten minste is dit nie ’n geweer teen Pa se kop nie.
PA: Dit voel soos een.
ELNA: Dis nie asof ons in Kanada in ’n paradys leef nie.
BERTUS: Ek sê dit weer – daar is geen manier dat ek my seun in hierdie land gaan grootmaak nie.
ELNA: Hy is my seun ook! Ek is sy ma, of het jy dit vergeet?
BERTUS: Gaan jy wragtag hier staan en my voor almal uittrap?
OUMA: Nou’s daar moeilikheid.
MA: My kind, as jou man nie met ’n oop gemoed ’n lewe in hierdie land … 
ELNA: Nee, Ma! Dit gaan nie net oor wat my man wil hê nie. Dis hoe Ma geleer is hoe ’n vrou moet wees.
PA: Elna! Pasop hoe jy met jou ma praat.
ELNA: Dit tref my dat Pa vir Boetjan, maar nie vir my nie, ’n plek op die raad aangebied het. Ek het presies dieselfde grade as my man. Ons het saam klas gedraf op universiteit. Om die waarheid te sê, ek het hoër punte gekry as hy. Net omdat ek my loopbaan prysgegee het om my kind groot te maak, beteken dit nie dat ek my brein prysgegee en vergeet het wat ek geleer het nie. Maar nee, ek is ’n vrou – wat weet ek van besigheid? En as my man sê “nee”, dan moet ek sê “ja en amen”.
OUMA: Dis hoe dit in my dae was.
PA: My meisie, ek was onder die indruk dat jy nog steeds jou kind wou grootmaak. 
ELNA: Dis die beginsel waarvan ek praat, Pa. 
BERTUS: Dis nie ’n kwessie van ja en amen dié nie. As Boetjan in hierdie land wil bly, dan is dit sy saak, ek wens hom alles van die beste toe. Maar ek kan julle dit sê: Kyk ’n bietjie van buite af na die wit man in hierdie land en al wat jy sien, is ’n padda in ’n pot water. Dis mos ’n feit van ’n padda. Gooi hom in ’n pot kokende water en hy sal spartel om uit te kom, maar sit hom in ’n pot koue water en maak dan daardie water geleidelik warmer en hy sal tjoepstil daar bly sit totdat hy doodgebrand is. Die water word warmer vir die wit man in hierdie land … maar so geleidelik dat julle dit nie agterkom nie. Noem dit “affirmative action, BEE, redressing the injustices of the past”. Noem dit net wat jy wil, maar hulle gaan nie ophou totdat hulle alles gevat het nie. En as hulle dit klaar gevat het, sal daar nog steeds miljoene wees wat honger ly terwyl ’n elite groepie magtiges met alles sit. Business as usual. En daar sal nie ’n enkele wit man onder hulle wees nie. Apartheid Deel 2. Spring nou uit daardie pot terwyl julle nog kan.
BOETJAN: Jy vergeet waar ek vandaan kom, Swaer. Jy vergeet wie my voorouers was. Die stof van hierdie land is in elke been van my lyf. Ek het vir drie jaar met ’n rugsak op my rug vanuit die buiteland na hierdie land gekyk, en ek sê vir jou dat om van buite af in te kyk nie dieselfde is as om hier binne te leef nie. As hulle wil kom, dan moet hulle kom, as hulle my jaag, jaag ek terug. As hulle my onderdruk, druk ek terug en as hulle slim raak, dan raak ek slimmer, want ’n boer maak ’n plan en hy leef nie in vrees nie. Ek het respek vir al die mense van my land en ek verwag dat hulle aan my dieselfde respek moet betoon. En enige mens wat nie my bestaansreg kan aanvaar nie, of nie wil erken nie, sal ongelukkig op die harde manier moet leer wat dit beteken om die strydbyl teen my op te neem. Ek ken van vegter wees. Het al baie sandsakke gedra. My lot is hier, of dit nou enige ander landgenoot pas of nie. Ek moet hulle verduur, hulle kan my verduur. En as dit iemand dwars in die krop steek, het ek eenvoudige raad: Sluk, boeties, sluk, want ek is ’n Afrikaan. Ek kom van die stam wat hulle in Afrika die naam Kaburu gegee het en ek gaan nêrens heen nie.
BERTUS (aan Elna): As jy hier wil bly, is jy welkom, maar ek gaan terug na my huis in Kanada.
ELNA: Bertus, kan jy nie verstaan nie? Die aandele wat Pa aanbied, is nie net ’n gulde geleentheid nie, dis ’n aandeel in my pa se lewe. Dis nie net ’n erfporsie nie. Dis my erfenis.
BERTUS: En as ek Pa reg verstaan het, dan sal jy dit nog steeds kry; sonder stemreg oor jou aandeel, maar jy sal nog steeds jou erfenis kry.
ELNA: Dit sal jou jare neem om in Kanada ’n besigheid op te bou soos die een wat Pa ons aanbied 
BERTUS: Ten minste sal ek nie in vrees lewe terwyl ek dit doen nie.
ELNA: Ek is ongelukkig in Kanada, Bertus!
OUMA: Ek het dit gesien toe sy hier instap.
Kort stilte.
BERTUS: Wat het jy gesê?
ELNA: Ek is ongelukkig daar.
