MA: Ek weet wat jy wil doen en ek sal dit nie toelaat nie.
PA: My vrou, ons seun se dood was nie soos jy dink dit was nie.
MA: Ek sê ek weet wat jy wil doen en ek sal dit nie toelaat nie!
PA: Daar was nie ’n veldslag nie … 
MA: Nee.
PA: … en Francois was nie op patrollie nie.
MA: Nee.
PA: Hy was in ’n tydelike basis, besig om ’n tent op te slaan … 
MA (aan Boetjan): Dis jou skuld. Dis alles jou skuld.
PA: Maar hy’t nie ’n hamer gehad nie en toe sien hy die vinne van ’n mortierdowwerd naby hom in die sand.
MA: Ek het die brief.
PA: Toe trek hy die bom uit die sand om die tentpen mee in te slaan.
MA: Ek het die brief. Ek het die brief.
PA: En toe ontplof die bom.
MA (sak op die grond neer): Nee-ee-ee-ee …
Pa kniel langs Ma.
PA: Dis hoekom hulle ons nooit sy liggaam gewys het nie.
Ma ween en wieg heen en weer. Pa het sy arm om haar skouer. Boetjan staan eenkant.
BOETJAN: Ek’s jammer, Ma.
MA (deur haar trane): Hoekom het jy hom nie gekeer nie?
BOETJAN (huilend): Ek was besig om sandsakke te dra.
Lang stilte. Elna staan langs Bertus met haar hand oor haar mond in reaksie op wat sy pas gehoor het, dan stap hulle die vertrek binne. Pa kom stadig orent en help Ma om op te staan en op ’n stoel te sit. Pa sien Elna en Bertus net binne die deur staan.
PA: Nou weet julle ook. 
Stilte. Pa draai na Bertus.
PA: Ek neem aan Elna het jou van my … situasie gesê.
BERTUS: Ja, Pa.
ELNA: Hoe lank weet Pa al?
PA: Ses weke. Ek’s jammer julle moes nou eers uitvind. Ek het gedink om julle ná my verjaarsdag te sê, maar Boetjan is reg – mens kan nie ’n partytjie hou met twee mense wat “Veels geluk, liewe maatjie” sing terwyl die ander almal weet dat hy beslis nie vir nog baie jare gespaar gaan word nie. En terwyl ons nou met ’n voorraadopname besig is, kan ons maar net sowel die rakke tot heel agter uitpak. Waar is Ma? Bertus, gaan haal asseblief vir Ouma. Dis tyd dat sy ook weet.
Bertus af.
ELNA: Is daar niks wat hulle kan doen nie?
PA: Die kanker wat ek het, is pankreaskarsinoom. Nege en negentig persent van hierdie gevalle is binne vier tot ses maande fataal.
ELNA: Pappa … 
PA: Toemaar, toemaar, toemaar. (Stap nader en omhels Elna.) Die dood kom haal ons almal op die ou end.
ELNA: Pa is nog so jonk.
PA: Ek moet dankbaar wees. Ek is agt jaar ouer as wat my pa was.
ELNA: As ek geweet het, het ek Neil saamgebring.
PA: (stoot haar saggies terug, hande op haar skouers, en kyk haar in die oë). Daar is nog tyd.
Intussen het Ma stadig vorentoe beweeg. Boetjan, Pa en Elna versteen.
MA: Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see. Ek lewe al lank genoeg om te weet hoe die wêreld is en hoe jy wens dit was, altyd twee verskillende dinge is. Ek weet ook dat die vooruitgang van ’n volk in sy mans sit, en die oorlewing van ’n volk in sy vrouens lê. Op die primitiefste vlak is dit ’n feit dat een man in nege maande soveel vrouens kan bevrug as wat daar dae in daardie nege maande is. Sy saad gesaai, is die man dan vry om te gaan kyk wat anderkant die berge lê en bevorder hy, omdat hy vry is, die vooruitgang van sy volk. Aan die ander kant kan elke vrou net een keer in nege maande baar. Een vrou, een geboorte; baie vrouens, baie geboortes. Dis ’n eenvoudige som. Daarom dat ’n volk sal oorleef en vinnig vermeerder as daar meer vrouens is as mans, maar nie andersom nie. As jy ’n volk wil uitwis, vermoor sy vrouens. Daarom ook dat die band tussen vrou en kind soveel dieper loop as die band tussen man en kind. ’n Man met baie kinders by baie vrouens sal naderhand sukkel om hulle name te onthou, maar elkeen van daardie vrouens onthou nie net haar kind se naam nie, maar ook elke roering van hom, vanaf sy eerste beweging, soos ’n seeanemoon teen die rotswand van haar moer, tot sy uitstorting as mens op die aarde. ’n Vrou weet haar kind is haar kind;’n man is nooit honderd persent seker nie. Vandaar die nodige woorde aan ’n man by die geboorte van sy kind: “Haai kyk, hy lyk nes jy.” Iets wat ek met oortuiging met Francois se geboorte vir Jan kon sê. ’n Ma behoort nie gunstelinge te hê nie, veral nie onder haar seuns nie; hulle tel dit op, voel dit aan. Maar ek erken: Francois was – hoe sal ek dit stel? – nader aan my hart as sy broer. Miskien omdat Francois so baie na sy pa gelyk het, of miskien omdat hy meer na my geaard het. Waarskynlik al twee. En toe word die brief afgelewer deur die kapelaan. Soveel keer in die verlede het ek op Republiekdag by die seuns se skool gestaan en kyk hoe die ou landsvlag gehys word, die volkslied saam gesing. Dit was vir my altyd so ’n roerende melodie. Maar eers toe ek daardie brief vasgehou het, het ek besef wat ek al daardie jare gesing het: Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra. Toe het ek besef oorlewing en opoffering voed mekaar soos die hemel en die see mekaar voed. En dat vooruitgang – van klip tot spies tot geweer tot mortierbom – niks meer is nie as die gedaantewisseling van wat nog altyd agter dieselfde berg gelê het. My man het ’n besigheid opgebou; ek … het drie kinders van ’n volk gebaar. En ek sukkel nou om ’n volkslied te sing.
BOETJAN: Ma … 
Ma kyk om na Boetjan. 
BOETJAN: Ek mis hom ook, Ma, ek mis hom ook.
Stilte. Ma en Boetjan staan stil vir mekaar en kyk. Ma stap stadig oor na Boetjan en raak liggies aan sy gesig asof sy hom vir die eerste keer sien. Dan soen sy hom teer op sy voorkop.
Bertus, en Ouma in haar rolstoel, kom agter links in die gang op. Bertus stoot Ouma tot in die sitkamer.
OUMA: Ek’s nou moeg daarvoor dat ek soos ’n lappop in ’n draadkarretjie van plek tot plek rondgestoot word. En as ek nie rondgestoot word nie, word ek vergeet. Eers in my kamer, toe by die braai.
PA: Die vleis!
BOETJAN: Ek sal gaan.
Boetjan af.
PA (aan Ouma): Ma, ek’s bevrees ek het nuus wat Ma gaan ontstel.
OUMA: Ek weet al klaar. Jy pak jou tasse. Jy gaan weg.
PA: Op ’n manier is Ma reg. Behalwe dat waar ek heen gaan, ek nie tasse nodig sal hê nie.
OUMA: Waarheen gaan jy?
PA: Ek gaan doodgaan.
OUMA: Ons gaan almal doodgaan.
PA: Ek het kanker, Ma.
Stilte.
OUMA: Jou pa het kanker gehad.
PA: Ja, Ma.
Stilte.
OUMA: Dis nie reg nie … ’n Kind is nie veronderstel om voor sy ouers te sterf nie.
PA: Wel, soos Ma weet, sal ek en Rika ten volle met Ma saamstem. Maar ongelukkig is dit nie hoe dit uitgewerk het nie.
OUMA (aan Ma): Het jy hiervan geweet?
MA: Natuurlik, Ma.
OUMA: En jy sê my niks nie.
MA: Ons het vir die regte oomblik gewag.
OUMA: Die dood is die dood. Hy het nie ’n regte oomblik nie. Jy bedoel julle’t gehoop dat ek voor my seun die gees sal gee en dan hoef julle my nie te sê nie.
MA: Om die waarheid te sê Ma: ja. Maar om my lewe te red, kan ek nie nou dink hoekom ons so bedagsaam was nie.
OUMA: Uiteindelik. ’n Brokkie eerlikheid.
Boetjan weer op.
BOETJAN: Tot kole verbrand. En die vuur is dood.
