PA: Jy’t gedink sy’t die reg om te weet?
OUMA: Wat te weet?
PA: Rika, neem Ma na haar kamer toe.
OUMA: Ek wil nie kamer toe gaan nie.
PA: Rika, neem Ma asseblief na haar kamer toe.
MA (aan Boetjan): Jy’t nie die reg gehad om dit te dink nie.
Ma vat Ouma se stoel vas en stoot haar uit die kamer.
OUMA: Ek sien wat hier aangaan. Julle gaan my hier los. Gaan maar. Ek’s nie bang nie. Ek kan vir myself sorg. Ek en oom Paul. Ek het my versekering.
Ma en Ouma af. 
PA: Ek dink jy sal saamstem dat jy nou ’n paar rand geblaas het wat nie joune was om te blaas nie.
BOETJAN: As dit nie myne was nie, wie s’n was dit? Sy’s Pa se kind, maar sy’s my suster. 
PA: En jy reken dit gee jou die reg om te besluit wat sy van my lewe moet weet? Dis nuus wat myne is om mee te deel, niemand anders s’n nie!
BOETJAN: Wanneer wil Pa dan hê moet sy uitvind? By Pa se graf?
PA: Wanneer ek reg is! Op my tyd en volgens my diskresie. 
BOETJAN: Dis nie hoe dit werk nie, Pa.
PA: Moenie daar staan en vir my vertel hoe dit werk nie! My magtag! Dis my dood waarvan ons praat!
BOETJAN: ’n Man se dood behoort nie net aan homself nie, Pa. Iemand anders dra altyd saam. Dit het Ma met Francois se dood maar alte goed vir my geleer.
PA: Ek het nog nooit Francois se dood voor jou deur gelê nie.
BOETJAN: Nee, Ma het. En Pa het haar nooit gekeer nie, nooit die waarheid vertel nie. Net soos nou.
PA: Wat weet jy van ’n leeftyd se stilgesprek tussen ’n man en sy vrou? Jy was skaars twee jaar getroud. Wat weet jy van ’n man en vrou se gesprek oor die dood van ’n kind? Jy het nie kinders nie. 
BOETJAN: Nee, maar ek het ’n broer gehad. En ek weet alles van sy dood. Dra my deel nog steeds. En ek weet Ma wens dikwels ek het saam met hom gesterf .
PA: Moenie so praat nie. Dis glad nie waar nie.
BOETJAN: Pa, Pa wil praat van rande wat nie myne is om te blaas nie. Maar toe ek die rande wou blaas wat wel myne was om te blaas, toe keer Pa my. Pa het gesê Pa sal dit doen “wanneer die tyd reg is”.
PA: Jy was dronk!
BOETJAN: My ma het my broer se dood voor my deur gelê! Hoe dan anders? En toe ek haar die waarheid wou vertel, toe sê Pa nee, Pa sal dit doen. Nou dit was ’n dood wat myne was om te deel, maar ek wag nog steeds, al vyftien jaar! Hoekom het Pa haar nie gesê nie?
PA: Ek wou haar vertel … 
BOETJAN: Maar Pa het nie.
PA: Ek het probeer … 
BOETJAN: Hoekom het Pa nie, Pa? 
Pa is stil. Hy sukkel om te sê wat hy dink.
BOETJAN: Hoekom nie, Pa?
PA (uitbarstend): Ek wou haar beskerm. Wat kan ek sê? Ek wou haar beskerm! (Pouse.) Ek het haar een Sondag, kort ná jy my die waarheid vertel het, in die slaapkamer gekry. Sy’t op die kant van die bed gesit met die brief wat die kapelaan gebring het in haar hande. Ek het langs haar gaan sit. Nou’s my kans, het ek gedink. En toe kyk sy na my en sê: “Ten minste het hy op die slagveld gesneuwel, soos dit ’n soldaat betaam.” 
Stilte.
BOETJAN (na aan trane): Al hierdie jare, Pa. Al hierdie jare.
PA: Ek’s jammer, my seun. Ek’s so jammer.
Stilte.
BOETJAN: En wanneer was Pa van plan om vir Elna en Bertus van Pa te vertel?
PA: Oormôre, ná my verjaarsdag.
BOETJAN: Pa ken vir Elna. As sy dit dan eers gehoor het, sou sy Pa verwyt het oor Pa so lank gewag het, oor sy vrolik partytjie gehou het terwyl Pa die dood in die oë staar. Inderdaad, soos ek Elna ken, sal Pa nogtans mooi moet verduidelik.
PA: Dis nou gaaf. Ek’s die een wat vrek, maar ek’s die een wat moet verduidelik.
BOETJAN: ’n Man se dood behoort nie net aan homself nie.
Ma kom doelgerig in die gang af en stap die kamer binne. Sy gaan staan en kyk stip na Boetjan.
BOETJAN: Ek weet wat Ma gaan sê.
MA: O, jy weet wat ek gaan sê?
BOETJAN: Ma sê dit al vir jare. Die lewe wat ek Ma gekos het; die prys wat Ma moes betaal.
MA: En ons betaal nog steeds.
PA: Rika, asseblief.
MA: Nee. As hy so vry voel om oor die dood te praat, dan praat ons nou oor die dood.
PA: Hy’s reg. Ons moes vir Elna en Bertus laat weet het. Lankal.
BOETJAN: Ek’s nie bang om oor die dood te praat nie, Ma. 
MA: Het jy al ooit jou eie dood vierkant in die oë gekyk?
BOETJAN: Nee, maar ek het wel my lewe vierkant in die oë gekyk.
MA: En tog, hier staan jy. Hier staan jy soos die engel van die dood, en besluit wanneer dit die gepaste tyd sal wees om jou suster in kennis te stel dat haar Pa aan die doodgaan is. Mens sou dink dit sou vir jou genoeg wees dat jy reeds een keer vantevore die rol van doodsengel in hierdie huis vertolk het.
Boetjan draai na die gehoor en ’n kollig doof op hom in. Die ander spelers versteen.
BOETJAN: Daar is waarheid en daar is wysheid. Die waarheid is nie altyd wys nie. Maar die wysheid … En wanneer is dit wys om die waarheid te praat? Dit is byvoorbeeld waar dat as jy ’n 61 mm-mortierdowwerd – dis nou ’n mortierbom wat in die grond ingeploeg het, maar nie ontplof het nie – uit die sand optel en dit gebruik om ’n tentpen in te slaan, die kanse baie goed is dat die dowwerd sal ontplof en jou kop en lyf aan stukke in die haak-en-steekbome om jou inblaas. Maar is dit wys om jou ma – wat glo haar seun het ’n heldedood op die slagveld gesterf omdat sy broer, wat saam met hom op die grens was, nie sy gat gedek het nie – te vertel dat haar seun eintlik in stukkies in ’n boom gehang het omdat die sammajoor hom so aangejaag het om ’n tent op te slaan dat hy uit dom desperaatheid ’n dowwerd vir ’n slaanding uit die sand opgetel het om die tentpenne mee in te slaan? Miskien is dit wys as jy dronk is. (Pouse.) Ek kom nou die dag op ’n rooibok af. Hy was in ’n strik gevang. ’n Stuk bloudraad was aan die een kant om ’n boompie se stam vasgemaak en aan die ander kant in ’n strop gedraai. Teen die tyd dat ek op die bok afgekom het, het die draad al diep in sy nek ingesny. (Pouse.) Hy lê op sy sy. Sy asem roggel vlak in sy keel, sy oë wit en wyd. Ek hardloop terug na my bakkie toe om ’n tang te kry. Ek kniel langs sy kop. Hy lê daar, stil, sy wit oog staar in myne. Ek sny die draad om sy nek los, maar hy beweeg nie, kyk net na my. En stadig, soos die laaste flikkering van ’n kers se vlam, verdwyn die lewe uit die oog wat na my kyk. En al wat ek sien, is Francois se oog wat aan ’n tak hang en na my staar. (Pouse.) Gedurende die oorlog op die grens was die briefie altyd min of meer dieselfde: “Jou seun het in ’n veldslag op die grens gesneuwel. Ons medelye en dank. Hy het die hoogste prys vir sy land betaal.” In ’n veldslag … Was dit altyd waar? Ek twyfel, maar die moeders was waarskynlik deur dié wysheid getroos.
MA (aan Pa): Ek het jou gewaarsku.
PA: My vrou … 
MA: Ek het geweet hierdie ding gaan gebeur.
BOETJAN: Ek dink dis beter dat ek maar gaan.
PA: Nee. Jy bly net hier. (Aan Ma.) Jy weet hoekom die kinders hier is, hoekom ek hulle gevra het om te kom. Ek kan nie die saak afhandel as Boetjan nie hier is nie. En wat Francois betref … 
MA: Moenie eens daaroor praat nie.
PA: Ek sal daaroor praat! Ons moet daaroor praat. Die verlede se notules is vanaand op die tafel. Ek vat dit nie saam met my graf toe nie. Ons praat nou die waarheid … 
Elna en Bertus kom in die gang af en stap die kamer binne. Hulle steek net buite die deur vas.
PA: … en moes dit al vyftien jaar gelede gedoen het. 
