MA (aan Elna terwyl sy die sjerrie skink): Ouma wil buite by die braai gaan sit. Ek skink net gou vir haar ’n sjerrie.
OUMA: Moenie oor my praat asof ek nie hier is nie. Elna kan mos sien ek gaan buite sit. Ek het my kombers oor my knieë.
ELNA: Ouma kan bly wees Ouma woon nie by ons in Kanada nie. Dit word yskoud daar, vir maande aaneen.
OUMA: Hoekom sou ek in Kanada wou woon?
ELNA: Om die waarheid te sê, Ouma, ek kan nie aan ’n enkele rede dink nie.
OUMA: Julle dink ek sit halfdood in hierdie stoel en wonder oor my piepiepot … 
MA: Haai nee, Ma!
OUMA (draai haar rolstoel na Elna): Maar laat ek jou ’n ding vertel, my kaffertjie. Ek ken van dinge wat groei. Jy kan nie ’n volgroeide boom hier uit die grond uit ruk en daar gaan plant nie. ’n Boom se wortels praat met die grond waar hy groei, en terwyl hulle praat, verander hulle mekaar op ’n manier wat net God kan verstaan. Nou ruk jy hom uit en druk sy wortels in vreemde grond en dan wonder jy hoekom hy vrek. Ek sal jou sê hoekom. Want die wortels en die grond praat nie dieselfde taal nie. Dis dié lat ’n boom staan waar hy staan. En as hy die dag aan die einde van sy tyd kom, dan vrek hy net daar waar hy gestaan het, en word weer een met die einste grond waarmee hy gepraat het, wat sy taal geken het.
MA (wil die sjerrie vir Ouma gee): Kom, Mams.
OUMA: Jy kan mos sien ek praat. (Terug na Elna.) Daardie seun van jou is nog ’n jong boompie. Hy leer nog die grond se taal. Kanse is goed dat hy nog wortel sal skiet. Maar jy en daardie man van jou … ’n Volwasse mens leer nie maklik ’n nuwe taal nie.
ELNA: Ek kom so agter, Ouma.
OUMA: Nou ja, toe. Dink jy ek het negentig jaar lank oorleef omdat ek bang was vir die graf? Ek het oorleef omdat ek die bome waarvan ek die saad is, die bome wat voor my gestaan het waar ek nou staan, deur my wortels in my are opsuig. Hulle koers deur die takke van my hande en die grys blare op my kop. En wanneer ek praat, praat hulle saam, en praat ek ’n grondiger waarheid as iemand soos jy wat nie die wysheid van die geslagte in die grond waar jy staan kan praat nie, omdat jy hulle taal nie verstaan nie.
MA: Dis nou genoeg, Ma. Ma gaan die braai mis.
OUMA: Wat is genoeg? Ek kan mos sien die kind is ongelukkig. Kon dit sien toe sy hier instap.
ELNA: Dis ’n moeilike situasie, Ouma.
OUMA: Menswees is moeilik. Jy’s ’n vrou. Dis jou werk om jou man teen sy eie slimmigheid te beskerm, want slimmigheid was nog nooit wysheid nie.
Boetjan kom op agter regs en stap die kamer binne. Die drie vrouens staan vir ’n oomblik na hom en kyk.
BOETJAN: Skuus … Naand, Ouma. Ek hoop nie ek onderbeek iets nie. Pa soek nog ’n dop.
OUMA: Moenie daar staan en maak asof jy jammer is nie. Skink en kry klaar.
BOETJAN (aan Elna terwyl hy die dop skink): Jy moenie toelaat dat Ouma se norsheid jou ontstel nie, Sus.
MA: Boetjan, moenie jy nou met haar begin nie.
OUMA: Praat al weer oor my asof ek nie hier is nie.
BOETJAN: As ek die lewe so lank moes verduur, dan was ek ook permanent de bliksem in.
MA: Boetjan, asseblief.
ELNA: Ma, is daar enigiets anders waarmee ek kan help?
MA: Nee dankie, my skat.
OUMA (aan Elna): Jy moet oppas as hy eers te veel gedrink het.
BOETJAN (aan Elna): Ouma verwys na my drankprobleem. 
OUMA (aan Elna): Francois sou nooit só gewees het nie.
BOETJAN: Ouma sal bly wees om te hoor dat ek drie maande laas gedrink het.
OUMA: Ons sal sien hoe lank jy uithou.
Ma begin Ouma se stoel na die deur agter regs stoot.
MA: En julle twee sal moet uithou totdat Elna en Bertus nie meer hier is nie. Tot dan sal daar vrede in my huis wees. (Aan Ouma): Ma wou by die braai sit, en nou gaan Ma by die braai sit.
OUMA (reeds in die gang): Francois sou nooit só met my gepraat het nie. 
MA: Ons praat nie vanaand oor Francois nie, Ma.
Boetjan en Elna glimlag vir mekaar – hulle verstaan Ouma maar alte goed.
ELNA: Ek wou nog sê, veels geluk, met jou diploma. 
BOETJAN: Dankie. Teen wil en drank het Boetjan uiteindelik ’n kwalifikasie gekry, al is dit nou net as wildbewaarder.
ELNA: En ek sou nie sê “net” nie. Dis ’n belangrike werk.
BOETJAN: Probeer dit vir Ma vertel. Maar ek het gereken as ek iets gaan doen, dan kan dit maar net sowel iets wees wat die lewe bewaar, nie vernietig nie. (Omhels haar weer.) Dis so goed om jou te sien, Elna.
ELNA: En om jou te sien. Ek sou graag vir langer wou gebly het … 
BOETJAN: Ja, dis nogal ver, en dit vir so ’n kort rukkie.
ELNA: Ek wou al verlede jaar kom, maar dinge het ’n bietjie moeilik gegaan met die nuwe besigheid. Mens besef nie hoe sterk jy op jou netwerk vriende en kennisse steun nie, tot jy hulle nie meer het nie. Bertus moes van voor af ’n netwerk begin bou.
BOETJAN: Emigrasie is nie vir sissies nie.
ELNA: En duidelik nie vir boeties nie.
BOETJAN: My suster, of hulle nou wit mense in die land wil hê of nie, hierdie boetie is een boetie wat hulle sal moet verduur tot aan die bitter einde. 
ELNA: Ek’s bevrees Bertus sal nie met jou saamstem nie.
BOETJAN: Ja, ek was verbaas toe ek hoor hy kom. Die dag toe julle gewaai het, het hy vir my gesê hy sit nooit weer sy voete in hierdie land nie.
ELNA: Ek het aangedring om te kom. Pa het mooi gevra ons moet vir sy verjaarsdag hier wees. Vyf en sestig is ’n grote. Dit het regtig geklink asof dit vir hom belangrik is.
BOETJAN: Dit is.
ELNA: Daarom het ek aangedring. Dit het amper my huwelik gekos.
BOETJAN (gaan sit langs Elna op die bank): Pa het kanker. Die dokters gee hom vier maande, maksimum ses.
Pa en Bertus kom in die gang regsagter op.
PA: Nee hel, seun, die vleis is op die braai en ek staan en wag, maar daai drankie kom nie. 
BOETJAN: Jammer, Pa, ek en Elna het aan die gesels geraak.
Boetjan stap oor na die drankkabinet om Pa se drankie te gaan haal. Bertus skink vir homself nog ’n drankie. Elna sit tjoepstil op die bank.
PA: Maar kom staan dan by ons by die vuur, laat ons almal saam gesels. (Omhels Elna van agter.) Dis nie elke dag dat ek my dogter sien nie. Jy kan haar nie vir jouself hou nie.
Ma kom in met twee slaaibakke in haar hande.
MA: Aartappelslaai en ’n groenslaai. Spesiaal vir jou, Elna.
Boetjan gee vir Pa die drankie. Ouma kom regsagter op. Sy stoot met moeite haarself in die rystoel in die gang af.
PA (met verwysing na die drankie): Liewer laat as nooit, nè.
BOETJAN: Jammer, Pa.
Ma sien Ouma by die deur insukkel. Sy beweeg vinnig na Ouma.
MA: My magtag, Ma, hoekom roep Ma nie?
OUMA: Wat help dit ek kom sit by die vuur as ek stoksielalleen daar moet sit?
PA: Jammer, Ma, ons het net vinnig ingehol vir ’n refill.
OUMA: Julle drink te veel.
PA: Kom, mense … (Mik deur toe.)
BERTUS: Soos die Engelse sê, Ouma: “Eat, drink and be merry, for tomorrow we die.”
ELNA: Bertus!
BERTUS: Wat?
ELNA: As jy jou nie kan gedra nie, moet jy eerder ophou drink.
BERTUS: Elna? Ek maak net ’n grappie.
ELNA: Wel, vir iemand wat nie weer sy voete in hierdie land wou sit nie, klink dit nie vir my soos ’n grappie nie.
BERTUS: Ek’s jammer, my skat. Ek het nie bedoel om jou te ontstel nie.
Elna kan dit nie meer hou nie. Sy hardloop by die deur links uit en af met die gang. Vir ’n oomblik is daar stilte.
BERTUS: Ek’s jammer. Ek, e … verskoon my ’n oomblik.
Bertus volg Elna af.
BOETJAN: Dit was my skuld.
OUMA: Hoekom is ek nie verbaas nie?
MA: Wat sê jy, Boetjan?
BOETJAN: Dit was my skuld. Ek het gedink sy’t die reg om te weet.
Stilte.
