BERTUS: Maar ten minste kan ons kinders buite speel en lyk ons woonbuurte nie soos laers nie.
MA: Ons trek al laer van ons hier aangekom het, hoewel die vrouens nou nie meer die roers hoef te laai nie. Ons druk net ’n panic button en laat die geveg aan Chubb oor. Maar so van kla gepraat: As julle mansmense nie nou die vleis op die vuur sit nie, gaan ek begin kla.
ELNA: Wag eers, Ma. (Lig haar glas.) Pa, ons drink op Pa se vyf en sestigste verjaarsdag.
PA: Nie so haastig nie, kind, dis eers môre. Laat my toe om die laaste paar uur van my nog-nie-vyf-en-sestig-jaar-oud-nie te geniet.
ELNA: Nou goed, dan drink ons op die laaste paar uur van Pa se nog-nie-vyf-en-sestig-jaar-oud-nie. 
MA: En op afwesige familie.
’n Kort stilte.
PA: En op afwesige familie.
ELNA: Saluut.
Almal lig hulle glase, maak gepaste klanke en drink.
BERTUS: Mag Pa nog vir baie jare gespaar wees.
Pouse.
PA: Ek is dankbaar dat julle almal hier kon wees. Boetjan, ek neem aan jy slaap hier by ons vanaand?
BOETJAN: Ek was nie seker of daar genoeg plek … 
PA: Waarvan praat jy? Ma het reeds beplan om vir jou ’n bed in die sonkamer te maak.
BOETJAN: Dis miskien makliker as ek ’n kamer in ’n hotel kry.
MA: Ons praat nie weer daaroor nie. Dis gereël. (Draai na Pa). Gaan braai die vleis. Dit staan alles reg in die kombuis.
PA: Daar het julle dit, seuns. Sy wat gehoorsaam moet word, het gepraat.
MA: En ek praat nie weer nie. Elna, jy kan my met die tafel help.
PA: Kom. (Met die uitgaan aan Bertus en Boetjan): Julle moet sien watse oulike braaiplek ek verlede maand vir my laat bou het; dis my verjaarsdagpresent aan myself. 
Pa, Bertus en Boetjan gaan deur die gang na agter regs. Ma beweeg na die buffet wat regs van die tafel staan. Sy haal ’n tafeldoek uit ’n laai.
MA: Arme Neil. Hy was seker baie bekaf gewees oor hy nie kon saamkom nie.
ELNA: Gehuil vir ’n week.
MA: Sies tog, die arme kind. Kon julle hom nie maar uit die skool gehaal het nie? Dis mos nie so lank nie. En as dit waar is wat ek van die skole daar hoor, dan sou dit in elk geval nie veel verskil gemaak het nie.
ELNA (aarselend): Om die waarheid te sê, Ma, dit was nie eintlik die rede nie.
MA: Maar jy’t dan in die e-pos geskryf dat die skool dit nie wou toelaat nie.
ELNA: Omdat ek julle nie wou ontstel nie.
Stilte. Ma staan met die tafeldoek in haar hand en kyk na Elna. Elna sukkel om haar in die oë te kyk.
ELNA: Ek wou Ma netnou in die kamer al vertel het, maar toe besluit ek daarteen. As Bertus uitvind dat ek Ma gesê het, sal ek nooit die einde daarvan hoor nie.
MA: Dan sal hy nooit uitvind nie.
Stilte. Dan begin Elna saggies huil.
MA: My kind … My gogga, wat makeer? Elna? (Neem Elna in haar arms.) Praat met my, my kind, hoekom huil jy?
ELNA: Hy wou hom nie bring nie, Ma. Neil het gesmeek om te kom, maar Bertus wou hom nie bring nie.
MA: Hoe bedoel jy hy “wou” hom nie bring nie?
ELNA: Hy wou hom nie hiernatoe saambring nie.
MA: Maar hy’s ons kleinseun. Hoekom sou Bertus nie wou hê ons moet hom sien nie?
ELNA: Nie daaroor nie, Ma. Hy wou hom nie na die land toe bring nie … as gevolg van wat met sy ma en pa gebeur het. (Ma begryp nou.) Ons het amper geskei oor ek daarop aangedring het om vir Pa se verjaarsdag hier te wees. Toe Pa gebel het, was dit so duidelik dat hy ons regtig graag hier wou hê. Ek het vir Bertus gesê as hy nie wil kom nie, kom ek alleen, maar daar’s g’n manier op aarde dat hy my sal keer nie. Pa het ons nog nooit vir enigiets gevra nie.
MA: Ai tog, my kind.
ELNA: Bertus sou my nooit toegelaat het om alleen te kom nie, toe reël hy met vriende om vir Neil te sorg terwyl ons weg is. Ek voel sleg omdat ek Bertus geforseer het om te kom, maar ek het ook gevoel dis onregverdig dat hy verwag ek moet soos hy oor Suid-Afrika voel. 
MA: Maar hy lyk nie ongemaklik nie.
ELNA: Ma ken mos vir Bertus; hy sal nooit so onbeskof wees om sy ongemak te wys nie. Maar in ons huis praat ons nooit oor Suid-Afrika nie. En hy wil nie hê ek moet enigsins met Neil daaroor praat nie. Hy wil hê Neil moet in murg en been ’n Kanadees wees .
MA: Dis absurd. Julle praat dan Afrikaans. 
ELNA: Nie in Kanada nie. 
MA: Hoe bedoel jy nou?
ELNA: Ons praat Engels … by die werk, by die huis. Ons praat Engels. Bertus voel as Neil Afrikaans by die huis praat en Engels by die skool, sal hy nooit behoorlik aanpas nie. Altyd half Suid-Afrikaner sal wees.
MA: Maar hy sal altyd half Suid-Afrikaner wees. Jy kan mos nie jou herkoms ontken nie.
ELNA: Dis wat ek heeltyd vir Bertus sê.
MA: Die kind was nege toe julle hier weg is … Hy weet mos waar hy gebore is, waar hy vandaan kom. Sy ouma en oupa bly per slot van sake nog in Suid-Afrika.
ELNA: Bertus is nie oop vir gesprek nie, Ma. En wat dit vir my moeilik maak, is dat, terwyl ek heeltemal verstaan hoekom hy voel soos hy voel … Ek bedoel, as wat met sy ouers gebeur het, met Ma en Pa moes gebeur, sou ek waarskynlik presies dieselfde gevoel het as hy, maar terwyl ek verstaan hoekom hy voel soos hy voel, voel ek nie dis die regte ding om te voel nie. As Ma weet wat ek bedoel.
MA: Ek verstaan heeltemal. So graag as wat ’n mens die badwater wil uitgooi, mag die baba nie saam nie.
ELNA: Dit was moeilik genoeg gewees om die land te verlaat, om weg te gaan van Ma en Pa, van alles wat ek ken, maar om alleen in ’n vreemde land te sit en nie eens oor jou verlange of heimwee met jou eie man te kan praat nie. Om as moeder jou kind se moedertaal te moet ontken. Ek sukkel, Ma.
MA: Ai tog … 
BERTUS (af regs, maar nie sigbaar nie): Ma … 
Elna draai van die deur af weg voor Bertus inkom en hou haar met die tafeldoek besig sodat hy nie haar trane moet sien nie. Sy vee vinnig haar trane weg. Ma help met die tafeldoek. Bertus kom in. 
BERTUS: Ma, Pa soek sy braaitang. Hy’t gesê ek moet sê sy “gunstelingbraaitang”.
MA: In die kassie onder die wasbak in die kombuis. 
BERTUS: Dankie. (Hy wil wegdraai, maar voel iets aan. Hy kyk vir ’n oomblik na Elna wat doelbewus met haar rug na hom staan.) Elna. 
ELNA: H’m?
BERTUS: Elna, kyk na my.
Elna draai na Bertus en probeer lyk asof daar niks skort nie.
BERTUS: Hoekom huil jy?
ELNA: Van blydskap.
MA: Ma’s en dogters, Bertus, wanneer hulle mekaar sien, dan huil hulle. Julle mans behoort dit te probeer.
OUMA (roep af): Rika. Rika!
MA: O, wêreld, ek het skoon vergeet om Ouma te gaan roep. (Op pad uit na Ouma se kamer): Bertus, sê asseblief vir Pa hy moenie die braaibroodjies vergeet nie. Dis op ’n broodbord onder ’n lap langs die stoof. 
Met ’n laaste kykie na Elna gaan Bertus af. Ma gee Elna ’n drukkie en ’n soen op die voorkop en stap uit. Elna stap na die buffet. Sy haal servette en messegoed uit en sit dit op die tafel neer. Dan draai sy na die gehoor.
ELNA: Die polisie het op die ou end uitgewerk dat die bediende se kêrel die roof beplan het. Hulle sê mos nege uit tien keer is ’n roof of ’n moord ’n inside job – iemand wat die slagoffer ken. Ná ’n paar uur se ondervraging het Patience geknak en die hele storie erken. Dit was ’n Dinsdagoggend. Soos gewoonlik, het Bertus se pa om en by halfagt die oggend die kombuisdeur vir Patience oopgesluit. Wat hy nie geweet het nie, is dat sy die tuin se syhekkie, waarvoor sy ’n sleutel gehad het, toegemaak het maar doelbewus nie gesluit het nie. Hy stap toe terug kamer toe om te gaan stort. Bertus se ma was reeds in die bad. Pa het net sy klere uitgetrek toe die drie mans, met gewere in die hand, by die badkamer instap. Hulle sleep toe vir Pa en Ma, nakend, na die slaapkamer en dreig hulle met die dood as hulle nie die kluis oopsluit nie. Dis onwaarskynlik dat iemand veertien jaar lank jou huis skoonmaak sonder om uit te vind jy’t ’n kluis. Pa het altyd ’n paar duisend rand in die kluis gehou – ’n ou gewoonte, gebore uit ’n bepaalde wantroue vir kredietkaarte. “Kontant is koning,” het hy altyd gesê. Pa het geweet om nie met die drie te stry nie. Hy’t die kluis oopgesluit, waarskynlik in die hoop dat hulle sou vat wat hulle wil en weggaan. Hulle kry toe die geld, asook Pa se rewolwer, en sleep Pa terug na die kamer toe, waar hulle Ma en Pa langs mekaar laat kniel het. En toe, sonder waarskuwing of ’n verdere woord … skiet hulle Pa en Ma met Pa se rewolwer agter in die kop. Soos hulle in Engels sê: “Execution style.” Die polisie het Pa en Ma só gekry, langs mekaar … op hulle knieë … koppe teen die grond. (Pouse.) Bertus het vir dae nie ’n woord gesê nie, net tjoepstil in sy studeerkamer gesit. Langs die dubbele graf, ná die kiste gesak het, het hy stil en uitdrukkingloos gesê: “Ek het besluit om te emigreer.” En dit was dit. Ek het dit nie eens oorweeg om te stry nie, kon self nie wag om uit hierdie geknelde land weg te kom nie. En al wou ek nie gaan nie, sou ek Bertus nie teëgestaan het nie. Hoe sê jy vir jou man dat hy oorreageer op die koelbloedige moord op beide sy ouers ? Hoe dink hy daarna oor sy toekoms sonder om geweld in daardie toekoms te sien? Hoe kyk hy na sy vrou en kind sonder om hulle ook langs mekaar te sien? Op hulle knieë, koppe teen die grond. Maar wat ek eers later besef het, is dat daardie drie mans nie net Bertus se ouers vermoor het nie maar ook sy identiteit as Afrikaner, en as Suid-Afrikaner. Dit lê saam met sy ma en pa in hulle graf. En nou, nou voel ek asof ek en my kind lewend in vreemde grond begrawe word.
Ma kom in die gang af. Sy stoot Ouma in haar rolstoel. Elna draai terug na die tafel om klaar te dek. Ma stoot Ouma in die gang agter die sitkamer verby. Ouma het ’n kombers oor haar knieё.
OUMA: Jy’t gesê jy sal my kom haal sodra julle die vleis op die kole sit.
MA: Ek’s jammer, Ma. Ek en Elna wou net eers gou die tafel dek. 
OUMA: Waar’s daardie seun van my? Hy moes al lankal my sjerrie geskink het.
Ma stoot Ouma in die sitkamer in deur die deur agter regs.
MA: Ek sal dit doen. 
ELNA: Hallo, Ouma. Het Ouma lekker gerus?
OUMA: Nee. 
