ELNA: Ja, Ouma.
OUMA: Vir jou pa se verjaarsdag.
ELNA: Ja, Ouma, en omdat ons verlang het.
OUMA: Wanneer gaan julle terug?
MA: Mens vra nie sulke goed nie, Ma.
OUMA: Kinders vra nie sulke goed nie. Grootmense vra wat hulle wil.
ELNA: Ons is net vir ’n paar dae hier, Ouma. Bertus kan nie te lank van die kantoor af wegbly nie.
OUMA: Ek sien jy’t bietjie lyf gekry.
ELNA: Spekvet en gesond, Ouma.
Stilte. Ouma kyk rond.
OUMA: Waar’s Neil?
ELNA: Hy’t nie gekom nie. Hy’s by goeie vriende van ons in Toronto.
OUMA: Dis mos wat ek sê: As jou enigste agterkleinkind nie meer … 
MA (val Ouma vinnig in die rede): My kind, kom sit eers gou jou goedjies neer, dan kan Pa vir almal iets skink en dan kan ons lekker gemaklik gesels. Ma moet ons vir ’n oomblik verskoon. Ons is nou weer terug.
OUMA: Ek’s moeg. Ek wil gaan lê.
MA: Goed so. Ek sal Ma kamer toe vat. Elna, bring jou goedjies.
Ma begin Ouma na die linkerkantste gang stoot. Pa verskyn linksagter in die gang, gevolg deur Bertus.
OUMA: Ek wil nie die braai mis nie.
MA: Ek sal Ma kom wakker maak wanneer ons die vleis op die kole sit.
OUMA: Ek het nie gesê ek wil gaan slaap nie, ek het gesê ek wil gaan lê.
MA (beheers): Gaaf. Ek sal Ma kom roep wanneer ons die vleis op die kole sit.
Ma stoot Ouma deur die deur af links, gevolg deur Elna. Hulle loop Pa en Bertus in die gang raak.
BERTUS: Naand, Ouma. Dis goed om Ouma weer te sien.
OUMA: Hoekom het julle nie vir Neil saamgebring nie?
BERTUS (aarselend): Dis nog skooltyd daar, Ouma. Ons wou hom nie uit die klas haal nie.
MA: Ma is moeg. Sy gaan ’n bietjie lê.
PA: Nou toe, ons kan nie hier in die gang staan en kuier nie. Kom, Bertus, ek gooi vir ons ’n dop. Boetjan behoort ook binnekort hier te wees.
MA: Moenie die vuur vergeet nie. (Aan Bertus:) Ek neem aan julle’s honger.
BERTUS: (halfpad die agterste gang af): Dit kan Ma weer sê. Ons het amper niks op die vliegtuig geëet nie.
ELNA: Ons sal eerder van die honger omkom voor ons daardie vliegtuigkos eet.
BERTUS: Ek moet sê, dit het vir my nogals lekker gelyk.
ELNA: My man, jy sal ’n baksteen eet as dit genoeg sous op het.
Ma, Ouma en Elna linksagter af. Pa het intussen regsagter in die sit-eetkamer ingestap en twee drankies by die kabinet begin skink. Bertus kom regsagter in.
PA: Vliegtuigkos kan nou wel verbode wees, maar ek neem aan jy mag nog ’n whisky geniet?
BERTUS: Pa kan hom maar styf gooi. Ek laat haar toe om te besluit wat ek eet, maar as dit by my drank kom, trek ek die streep. 
PA: Nou ja, toe. Welkom tuis. En laat hom val waar hy wil.
Pa gee die glas vir Bertus. Hulle klink .
BERTUS: Tjorts.
Pa en Bertus neem elk ’n mond vol. Vir ’n oomblik staan hulle in stilte en geniet die whisky wat deur die are vloei.
BERTUS: Daar’s hy. 
PA: Kom sit.
BERTUS: Ek sal ’n bietjie staan, as Pa nie omgee nie. Ek sit al vir drie en twintig uur.
PA: Magtag, is dit hoe lank dit neem?
BERTUS: Drie en twintig uur in transit. Ons het via Heathrow gevlieg, omtrent twee uur daar gewag vir die vlug na Johannesburg Internasionaal … of O.R. Tambo, soos ek sien hulle dit nou noem.
PA: Ja, en as dit aangaan soos dit aangaan, sal hulle een van die dae al die Afrikaanse vanne ook wil verander. (Groet ’n denkbeeldige man.) Aangename kennis, Jan Mbata, voorheen Botha. (Neem ’n slukkie whisky.) Ek en Ma was ’n paar maande gelede in die wildtuin. Ons besluit toe om by Orpenhek in te gaan, soos ons al vantevore gedoen het. Noord in die rigting van Pietersburg – hulle noem dit nou Polokwane – maar dan draai jy af en ry deur die Limpopoprovinsie. Alles goed en wel, behalwe dat hulle reeds elke dorp en watergat se naam in die hele provinsie verander het, wat ons nie geweet het nie, en ons sit met ’n padkaart met al die ou name. Die dem kaart was nog korrek toe ons dit die vorige keer gebruik het. As ek nie ’n elektroniese kompas in die 4x4 gehad het nie, het Ma en ek nou nog in sirkels daar rondgery. Toe moes ek nog ’n boete by Orpenhek betaal omdat ons laat daar aangekom het. En probeer jy nou vir daai wag by daardie hek verduidelik jy is laat omdat jy soos ’n immigrant in jou eie land verdwaal het. Ek wou hom nog sê: As julle nie die bleddie name verander het nie, was ek nie nou laat nie. Maar Ma het my natuurlik gekeer. Ook maar goed so, anders het hy ons tot sonop voor daardie hek in die kar laat sit. (Neem nog ’n slukkie.) En julle? Hoe gaan dit met die besigheid?
BERTUS: Baie beter as verlede jaar, Pa. Ek het mos ’n ruk gelede veertig persent daarvan aan ’n kollega verkoop. Ons is nou vennote. Ek dink dinge hoort nou van krag tot krag te gaan.
PA: Nee, maar dis mooi. Dis nie ’n maklike ding om ’n nuwe sakeonderneming te stig nie, veral nie in ’n vreemde land nie. (Pouse.) Julle oorweeg dit nie om terug te kom Suid-Afrika toe nie?
BERTUS (laggie): Nee dankie, Pa. Ek bedoel ons mis julle natuurlik baie. Elna veral het haar dae wanneer die heimwee haar onder kry, maar sy’t nog nooit gesê dat sy wil terugkom nie. En Neil is gelukkig, baie gelukkig.
PA: Hoe oud is die mannetjie nou?
Pa versteen. Bertus draai na die gehoor. Die ligte doof stadig effens af op die res van die verhoog. ’n Kollig doof in op Bertus.
BERTUS: Oorweeg julle dit om terug te kom? Amper altyd die eerste vraag wat mense jou vra as hulle weet dat jy die land verlaat het. En die antwoord is so moeilik, want dit begin met die sterre. Volgens wetenskaplike navorsing het dit ongeveer ’n een biljoen jaar geneem, ná die ontstaan van die heelal, vir Aarde om van ’n vurige gasbol tot ’n soliede massa af te koel. Daarna het die eerste lewe begin vorm. Bakterieë was eerste, gevorm uit kosmiese elemente wat op van verbygaande komete en verskietende sterre op Aarde neergestort het. Sterrestof: die saad van alle lewe op aarde. Drie punt vier biljoen jaar later, ongeveer ’n honderd miljoen jaar gelede, het die dinosourus die aarde oorheers – met die gevolg dat soogdiere, waaruit die mens soos hy vandag is, sou ontstaan, nie kans gekry het om veel te ontwikkel nie. Maar toe gebeur ’n merkwaardige ding: ’n Massiewe stuk van ’n verskietende ster tref Aarde en saai verwoesting gelyk aan dié van duisende atoombomme. Die weerpatrone verander, die dinosourus sterf uit, die klein soogdiere kry kans om te ontwikkel. En die pad lê oop vir die ewolusie van Homo sapiens, die mens, tussen ’n honderd en ’n honderd en vyftig duisend jaar gelede – in geologiese tyd ’n niks meer as ’n onbenulligheid nie. Om ’n bietjie perspektief te gee: As die hele ontwikkeling van lewe op Aarde – vanaf die eerste bakterieë tot die mens vandag – as die vier en twintig uur van ’n enkele dag beskou word, dan verteenwoordig Homo sapiens se totale bestaan om en by die laaste twee en ’n halwe sekondes van daardie dag, en die min of meer sewentig jaar van ’n individuele mens se bestaan, verteenwoordig ongeveer een duisendste van ’n sekonde. (Pouse.) Was dit nie vir daardie verskietende ster nie, het die dinosourus nou nog die aarde oorheers. Ek het my bestaan te danke aan ’n enkele verskietende ster. En tog, so onherbergsaam as wat die tyd van die dinosourus vir soogdiere was, veral as gevolg van monsters soos die Tyrannosaurus Rex, vra ek myself dikwels af: Is die tyd van die soogdier enigsins beter? Soos daardie monsterdiere die tyd van die dinosourus oorheers het, só oorheers die mens die tyd van die soogdier. Soos daardie monster die lewe om hom verskeur en verslind het, só is daar mensemonsters wat die lewe om hulle verskeur en verslind; en soos soogdiertjies vir die Tyrannosaurus Rex in gate en bome weggekruip het, só kruip beskaafde mense agter tralies en elektriese heinings vir die mensemonsters weg. Daarom sal ek nie terugkom nie, want terwyl daar wel ook mensemonsters bestaan waar ek nou woon, is daar baie, baie minder as hier. My seun is ’n soogdiertjie gebore uit sterrestof, en ek gaan hom die beste kans gee wat ek kan, om gedurende daardie een duisendste van ’n sekonde wat sy lewe is, tot beskaafde Homo sapiens te ontwikkel.
Bertus draai terug na Pa en die ligte herstel.
BERTUS: Hy’s nou twaalf, Pa, amper dertien.
PA: Mensdom, maar die tyd gaan vinnig verby! Amper ’n tiener. Toe ek hom laas gesien het, was hy nog so ’n klein … 
BERTUS: … apie.
PA: Juis.
Ma en Elna kom uit die gang linksagter aangestap na die sitkamerarea.
MA: Dis nou lekker. Kry die vrouens nie ’n kelkie nie?
Pa staan op.
PA: Maar natuurlik. (Aan Elna): My kokkerot, ek weet wat jou Ma drink … 
ELNA: Ek sal ’n glasie witwyn vat, dankie, Pa.
MA (aan Pa): Dis in die yskas.
BERTUS: Ek sal dit kry, Pa.
PA (op pad deur toe): Later miskien, maar hierdie eerste drankie skink ek.
Pa af na die kombuis. Ma beduie na die bank. Ma en Elna gaan sit. 
ELNA: Ek’s mal oor die huis, Ma. Dis ruim en gerieflik, maar kompak. Het Ma nog vir Emily?
MA: Nee. Ná dertig jaar het ons haar laat aftree. Pa het vir haar ’n huisie by haar familie laat bou. Pretty werk nou al ’n jaar vir my, maar sy kom net drie dae ’n week.
ELNA: Ten minste het Ma iemand. As daar nou iets is wat ek van hierdie land mis, dan’s dit ’n bediende.
Bertus gaan sit op die stoel langs die bank.
BERTUS: Gelukkig woon ons in die Eerste Wêreld – almal het skottelgoedwassers en wasmasjiene en elke aarbeidsbesparing-gadget waaraan jy kan dink. Ons yskas by die huis kan amper vir homself dink.
ELNA: Dis net jammer dat die vloere hulleself nie vee nie en die klere hulleself nie stryk nie en die beddens hulleself nie opmaak nie, nè, my man?
BERTUS: Klein prys om te betaal vir die wete dat dit alles nog daar sal wees as jy saans by die huis kom. Ek soek nie ’n vreemdeling in my huis nie.
MA: Ná dertig jaar se diens kan mens skaars van Emily praat as ’n vreemdeling.
BERTUS: Patience het veertien jaar vir my ma en pa gewerk … 
Pa kom in met ’n bottel wyn, ys en ’n glas. Boetjan volg Pa die sitkamer in. 
PA: Kyk wie’s hier. 
Elna stap vinnig oor en omhels Boetjan. Die twee is duidelik baie lief vir mekaar.
ELNA: Boetjan, dis so goed om jou te sien.
BOETJAN: En om jou te sien, Sus. (Draai na Bertus en bied sy hand aan.) Bertus. Welkom t’rug.
BERTUS: Dankie, Swaer. Jy lyk goed.
BOETJAN: Onkruid vergaan nie, Swaer.
Boetjan beweeg oor na Ma.
BOETJAN: Naand, Ma.
Ma se houding teenoor Boetjan is vriendelik, maar effens terughoudend. Sy omhels hom wel en gee hom ’n soentjie op die wang.
MA: Hallo, my seun.
BOETJAN: Waar’s Ouma?
MA: Sy’t gaan lê. Jy kan haar later groet.
PA: Nou ja, toe. Weer eens was die voordeel aan ons kant ; ten spyte van duisende myle per vliegtuig vir julle, en een van die gevaarlikste paaie in die land vir jou, Boetjan, is julle almal veilig hier. Elna … (Gee haar die glasie wyn.)
ELNA: Dankie, Pa.
Pa skink vir Ma ’n sjerrie.
BERTUS: Hoe gaan dinge daar in die wildtuin, Swaer?
BOETJAN: Wild. 
PA: Maar niks wilder as in die stad nie. (Gee vir Ma die sjerrie.) Ek sê nou die dag vir Ma, ná ons trippie waarvan ek jou vertel het, Bertus, ons moet saam met Boetjan in die wildtuin gaan bly. Jy staan daar by die braai in die nag. Om jou hoor jy die leeus brul en die hiëna’s roep. Maar nêrens in die land voel jy so veilig as tussen daardie wilde diere nie.
BERTUS: Dit kan ek glo. 
PA: Boetjan, wat sal jy drink?
BOETJAN: Net ’n sodawater vir my, dankie, Pa.
PA (kort pouse): Sodawater. Gaaf. Dit het ek.
Pa skink die sodawater.
MA: Dis nou ’n goeie idee, my man. Hoekom moet mens so baie vir hoë mure en elektriese heinings en beams deur die tuin en alarms in die huis betaal? Kry net vir ons ’n leeu of twee. Baie meer effektief as armed response.
PA: En vinniger.
ELNA: As Ma en Pa so aangaan, gaan Bertus te bang wees om sy voet by die deur uit te sit.
PA: Ag man, dis nie so erg nie. As ons nie oor die misdaad kla nie, waaroor sal ons kla? In Europa kla hulle oor die weer, in Amerika kla hulle oor die een of ander oorlog, en in Suid-Afrika kla ons oor die misdaad.
BOETJAN: Waaroor kla hulle in Kanada?
PA (gee sodawater vir Boetjan): Goeie vraag. Waaroor kla julle in Kanada?
BERTUS: Oor vloere vee en bed opmaak. 
ELNA: En bediendes.
