’n Enkele sagte kollig doof in op Pa. Die res van die verhoog is in halflig gehul. Pa staan voor die sitkamerstel in die middel van die verhoog. Ouma en Ma is ook op die verhoog. Ouma sit in haar rolstoel en Ma staan met ’n pot blomme in haar hande.
Die toneel is ’n oopplansitkamer-eetkamerruimte. Buite-om die vertrek se denkbeeldige muur strek ’n gang. Handeling wat in die gang afspeel, is sigbaar vir die gehoor. Daar is ’n gewelfde gang agter regs en nog een in die middel van die linkerkantste, denkbeeldige muur. Die kombuis, voordeur en braai-area is af regs en die slaapkamers is af links. Dit is duidelik dat die inwoners welgesteld is.
Wanneer die ligte indoof, is al drie die spelers in ’n versteende posisie in medias res betrap. Gedurende Pa se eerste spreekbeurt bly Ouma en Ma in versteende posisies.
PA: Ons almal verloor … op die ou end. (Pouse.) Maar dis nie waar ek wil begin nie. Ek wil eers besigheid praat. My vrou sê natuurlik altyd: “Hoe dan anders? Dis jou hele lewe.” Waarop ek dan antwoord: “Hoe dan nie? Alles is besigheid.” Want ’n mens se lewe is ’n balansstaat. Jy het jou bates en jou laste. Dit wat jy het, en dit wat jy skuld. Aan die een kant is daar dit wat jou dra, aan die ander kant dit wat jy moet dra. En dit moet … moet balanseer. ’n Bate vir elke las, en ’n las vir elke bate. Presies gelyk. Wanneer jy begin, is jou laste klein; jou bates ook. Maar met die verloop van tyd word die getalle aan beide kante van daardie lyn al hoe groter. Meer wat jou dra, meer om te dra. En dis waar die inkomstestaat sy bydrae maak – die dryfveer van die balansstaat. Want sonder profyt – of verlies – is daar geen beweging nie, staan alles tjoepstil. Om ’n profyt te wys, is eenvoudig – jou inkomste moet jou uitgawes oorskry. Jy moet meer inkry as wat jy uitgee. Eenvoudig, maar nie maklik nie. Kry dit reg, dan wys jy ’n profyt, en jou bates groei. Kry dit verkeerd, dan wys jy ’n verlies, en jou bates krimp. En wat interessant is, is dat mense in die algemeen banger is vir verlies as wat hulle bly is oor wins. Om ’n rand te maak, is nie so ’n groot plesier as die pyn om een te verloor nie … veral nie as jy reeds ’n paar rand in die sak het nie. Hoe meer jy het, hoe banger is jy vir die risiko van minder hê; hoe minder jy het, hoe minder bang is jy vir die risiko van nog minder hê. Daarom dat ’n man met min bereid is om meer te waag as ’n man met meer – die man met min het klaar verloor, en die bykomende pyn van verdere verlies is marginaal. Daarom dat, wanneer ’n onderneming oorweeg word, die moontlikheid van profyt soveel meer moet wees as die moontlikheid van verlies. Want een dag van ongeluk kan sy man teen tien dae van geluk staan. ’n Enkele dag by ’n graf word langer onthou as ’n honderd dae by ’n partytjie, en die duisende dae van jou lewe word uitgekanselleer deur die enkele dag van jou dood. Ons almal verloor op die ou end. Dis die las van bestaan. Maar soos ek gesê het: g’n las sonder ’n bate nie. En mens kan die lewe slegs verloor omdat jy dit gehad het. 
MA: My man, die kinders gaan nou-nou hier wees. Dink jy nie jy moet met die vleis begin nie?
Die ligte doof oor die hele speelruimte in.
PA: Ons gaan tog seker nie eet sodra hulle hier aankom nie?
MA: Nee, maar ons kan ook nie eers teen tienuur eet nie. En na so ’n lang vlug sal hulle moeg en honger wees, want soos ek my dogter ken, het sy so min as moontlik van daardie vliegtuigkos geëet en het sy ook nie toegelaat dat Bertus veel daarvan eet nie.
OUMA: As die kinders eers begin dros, is die einde in sig.
Ma kyk na Pa en beduie hy moet Ouma hanteer.
MA: Ek sit net gou dié in hulle kamer. (Sy beduie weer dat Pa vir Ouma moet beheer. Ma stap uit na die gang links. Terwyl sy in die gang wegstap, roep sy): En moenie die vuur laat doodgaan nie!
PA (roep agterna): Het ek al ooit ’n vuur laat doodgaan? (Pa draai ná ’n kort pouse na Ouma.) Ma, ek wil Ma mooi vra om nie weer daardie woord te gebruik nie. 
OUMA: Watse woord?
PA: Ma weet goed watse woord. Dit ontstel Rika … 
OUMA: Noem dit wat jy wil, dit bly wat dit is.
PA: … en dit ontstel my.
OUMA: Waar sou jy vandag gewees het as jou voorvaders se kinders gedros het toe die eerste Zoeloe-impi oor die veld gestroom het? H’m? Ek sal jou sê : Jy sou nie hier gewees het nie, want jou voorvaders sou almal dood gewees het.
PA: Ek verstaan dit Ma, maar … 
OUMA: Nee, jy verstaan dit nie, want as jy dít verstaan het, dan het jy verstaan dat jou kinders jou in die steek gelaat het. 
PA: Hulle het my nie in die steek gelaat nie, Ma. Hulle het hulle lewe iewers anders gaan vind. Mense doen dit al deur die eeue heen. Dis presies hoe my voorvaders in die eerste plek hier gekom het – deur ’n ander plek te verlaat.
OUMA: Omdat hulle nie meer daar welkom was nie.
PA: Presies.
OUMA: Die regerings daar het hulle vervolg.
PA: Presies.
OUMA: En al hulle besittings by hulle afgeneem.
PA: Presies.
OUMA: Presies. (Pouse.) Wat bedoel jy met “presies”?
PA: Miskien voel my kinders ook so.
OUMA (Pouse): Jy’t nog niks verander vandat jy klein was nie; altyd ’n slim antwoord vir alles.
PA: Dankie, Ma, ek beskou dit as ’n kompliment. En ek vra Ma mooi om nie weer daardie woord te gebruik nie. Nie voor Rika nie, nie voor my nie, en veral nie voor die kinders nie.
OUMA: Jy kan so slim wees as wat jy wil, maar moenie dink ek weet nie wat aangaan nie. As die damwal eers ’n krakie het … 
PA: Nie weer daardie storie nie, Ma.
OUMA: … dros eers jou kleinkinders, en as jy weer kyk, dros jou kind agterna. Dan sit jy alleen in die wildernis. Dis hoekom julle die huis verkoop het.
PA: Ons het die huis verkoop omdat dit te groot was. En dis nie asof ons nou tydelik in ’n pondokkie sit nie, gereed om oormôre ons tasse te pak en te waai nie – dis ’n drieslaapkamermeenthuis met ’n tuin, swembad, de lot. Ek gaan in hierdie land bly, Ma, tot die dag van my dood. Dit kan ek waarborg. Glo my.
OUMA: Dis nie nodig nie, ek het my versekering. (Soek na iets in ’n sakdoekie op haar skoot.) Sien jy hierdie Krugerrand? (Sy hou die muntstuk tussen haar duim en voorvinger op.)
PA: Ek sien hom, Ma, en ek ken hom goed.
OUMA: Oom Paul. Hy’s my versekering. Wanneer jy en jou vrou eendag hier uitsluip, dan vat ek hom … 
PA: … en Ma gaan koop Pa se plaas terug. Dis goed so, Ma. Ek sal Ma waarsku voor ons waai, maar Ma gebruik nie weer die woord “dros” nie.
Ma kom weer ingestap.
MA: Nou ja, toe. Die huis is mooi netjies, die nuwe beddegoed lyk pragtig. Dis net jammer ons is nie meer in die ou huis nie. 
PA: Moenie jy ook nou begin nie. Inderwaarheid was dit jou idee om die bleddie plek te verkoop.
MA: Het ek iets gemis? Ek sê net dit sou vir Elna lekker gewees het om terug te kom na die huis waarin sy grootgeword het.
PA: Waar gaan Boetjan slaap?
MA: Hoe bedoel jy?
PA: Hoe bedoel jy “hoe bedoel ek”? Ek vra waar gaan Boetjan slaap?
MA: Ek was nie daarvan bewus dat hy vannag gaan oorbly nie.
PA: Maar my magtag, my vrou! Hy ry dan al die pad van Nelspruit af. 
MA: Ja, maar ek het gedink … Wel, jy weet mos hoe hy is. Kom en gaan soos hy wil – mens weet nooit wat sy planne is nie.
OUMA: Presies.
PA: Ma! (Draai terug na Rika). Ek weet hoe hy is, maar dink jy nie dit sou beleefd gewees het om hom ten minste ’n slaapplek aan te bied nie? Ons het hom per slot van rekening genooi, nie waar nie? En dis die eerste keer in drie jaar dat hy sy suster sien. Om nie eens te praat van die feit dat dit môre my verjaarsdag is nie. Ek reken mens kan met ’n hoë mate van akkuraatheid voorspel dat hy waarskynlik hier sal slaap.
MA: Ek’s jammer, Jan, noem dit gewoonte as jy wil, maar ek het dit regtig nie eens oorweeg dat hy hier sal slaap nie.
OUMA: Hy kry nie my kamer nie.
MA (ontlont die situasie): Indien hy besluit om te bly, sal ek vir hom op die divan in die sonkamer ’n bed maak.
PA: Dankie.
OUMA: As hy veldwagter wil wees, gee vir hom ’n tent in die tuin. 
PA: Hy’s ’n wildbewaarder, Ma, en hy woon in ’n huis.
’n Motortoeter blaas af regs.
MA: Hulle’s hier, hulle’s hier! Hoe lyk ek?
PA: Soos altyd, my vrou, pragtig.
Ma en Pa begin deur die gewelfde gang agter afbeweeg, dan regs met die gang af.
MA: Hulle gaan sien ek het ouer geword.
PA: Ons het albei ouer geword en as hulle dit nie kan sien nie, is hulle blind. (Aan Ouma): Wil Ma saamkom?
OUMA: Moenie jou oor my bekommer nie. Ek het my versekering. 
MA (in die uitgaan): Dit spyt my nog steeds dat ons hulle nie self gaan haal het nie.
PA: Ons het aangebied, my vrou, en hulle het gesê hulle wil ’n kar huur sodat hulle wiele het.
Ma en Pa af. Ouma bly agter. Ná ’n oomblik kan die gehoor Ma, Pa, Elna en Bertus mekaar af regs hoor groet. Ouma sit tjoepstil en luister. Dan kom Ma in die gang op, gevolg deur Elna. Elna dra ’n handsak en grimeertassie en ’n warm jas oor haar arm. Pa en Bertus is nie sigbaar nie, maar hoorbaar. 
BERTUS (af regs): Los die goed, Pa, ek sal dit self kamer toe vat.
PA (af regs): Ek’s nie te oud om ’n tas te sleep nie, jong man.
MA: Dis nie so groot soos die ou huis nie, maar dis gerieflik en die kompleks se sekuriteit is uitstekend.
ELNA: Dis perfek, Ma, wat meer het julle nodig? Dit lyk presies soos op die foto’s wat Ma gestuur het.
MA: Julle slaapkamer is soontoe (beduie links in die gang af.) Die badkamer is en suite, en die sitkamer en eetkamer is hier. (Stap deur na die sitkamer. Elna volg.) 
Intussen verskyn Pa, gevolg deur Bertus, agter in die gang. Elkeen sleep ’n tas op wieletjies. Bertus dra ook handbagasie oor sy skouer.
PA: Hierdie kant toe, Bertus. Kom sit eers neer voor jy groet.
Pa en Bertus beweeg met die gang af om die tasse na die slaapkamer te neem.
Elna sien vir Ouma en sit haar grimeertassie, handsak en jas neer.
ELNA: Hallo, Ouma. (Soengroet Ouma.)
OUMA: So, julle’t kom kuier.
