<Doc01>
Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid
Kliëntedienshandves 
Welkom by ons Kliëntehandves
Ons wil graag hê u, ons kliënt, moet ons beoordeel aan die diensstandaard wat ons in hierdie handves uiteensit.
Ons sal u met respek behandel en goeie diens aan u verskaf volgens die BATHO PELE-beginsels.
As deel van ons verantwoordelikheid onderneem ons om wêreldgehaltediens te verskaf, om u akkurate inligting, advies en bystand oor al ons dienste te gee.
Doel van die Handves
Hierdie handves vertel u van die diensstandaard wat u van die Suid-Afrikaanse Agentskap Vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) kan verwag.  
SASSA is ’n verlenging van ’n regeringsleweringsbeen wat die lewering van maatskaplike toelaes aan die burgers van Suid-Afrika behartig.
Ons onderneem
Om maatskaplikesekerheidsdienste van gehalte kostedoeltreffend en doelmatig te administreer met gebruikmaking van die beste praktyke.
Wat u van ons kan verwag
Bevordering en beskerming van menswaardigheid, Vertroulikheid, Integriteit, Billikheid, Deursigtigheid en Gelykheid.
Dwarsdeur die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid sal ons
U inligting en raad gee oor al die toelaes waarvoor u aansoek mag doen.
U na ander instellings verwys wat aan u behoeftes kan voldoen.
U help om ons vorms in te vul/te voltooi en om die toelae aansoek te doen.
Die inligting wat u aan ons verskaf, vertroulik hou.
Altyd die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, die wette wat die staatsdiens bereël en die gedragskode van die staatsdiens eerbiedig
U bedien in ’n taal van u keuse.
In ’n vennootskap werk saam met die mense wat ons dien en ander belanghebbendes.
Streef na deurlopende verbetering van dienslewering om aan u verwagtinge te voldoen 
Kontak met ons
Wanneer u ons persoonlik, telefonies, per brief of e-pos kontak, sal die volgende gebeur:
Die kliëntediensagent met wie u te doen het, sal hom-/haarself identifiseer.
By telefoniese en persoonlike navrae sal ons u navrae dadelik oplos.
As ons dit nie dadelik kan oplos nie, sal ons redes verskaf en die kliënt inlig oor wanneer ’n respons verwag kan word.
Ons sal vir u ’n verwysingsnommer gee om u in staat te stel om u navraag op te volg.
Ons sal ontvangs erken van enige kommunikasie wat u stuur en binne 7 werkdae aan die navraag aandag gee. 
As ons u nie binne 7 werkdae kan beantwoord nie, sal ons u sê waarom nie en wanneer u die antwoord kan verwag.  
Ons sal probeer om u navraag binne 21 werkdae te beantwoord.
As u ons bel, poog ons om u oproep so gou as moontlik in die amptelike taal van u keuse te beantwoord.
Ons sal elke besluit oor u toelae skriftelik oordra
By SASSA se kantore
Wanneer u by een van ons kantore opdaag, sal ons hulptoonbankpersoneel u dadelik bedien. 
Al ons kantore is oop van 08h00 tot 16h30, Maandag tot Donderdag, en van 08h00 tot 16h00 op Vrydae.  
By ons kantore en betaalpunte sal u toegang hê tot die volgende:
Privaatheid 
Gemaklike wagareas
Toiletgeriewe
Mediese bystand indien vooraf ingelig oor só ’n behoefte
Ons sal na u kom as u om mediese redes nie ons kantore kan besoek nie.  
U mag ons bel en ons sal ’n tuisbesoek reël. 
Hantering van u aansoek om ’n maatskaplike toelae
Ons sal u aansoek op dieselfde dag begin verwerk.
Ons moet seker maak dat u regtens op die toelae geregtig is.
Ons stel vir onsself teikens om u eis te verwerk en u toelae binne 90 dae te betaal.
Ons sal u in kennis stel van u reg om te appelleer in geval van afkeurings, opskortings en kansellasies
Besluitneming.
As ons ’n besluit oor u aansoek vir ’n toelae neem en u dink dit is verkeerd, of as u meer inligting oor die besluit wil hê, kan u die volgende doen:
Vra ons om die besluit in meer besonderhede te verduidelik en ons sal aan u versoek voldoen.
U kan slegs binne 30 dae na die datum op die beslissingsbrief teen ons besluit appelleer.
U mag toegang tot u lêer kry vir watter inligting u ook al mag benodig.
U verantwoordelikheid is
om ons te voorsien van:
U korrekte pos- en woonadres.
Veranderinge in u persoonlike omstandighede soos inkomste, adres, mediese toestand ens.
Eerlike, ware, akkurate en volledige inligting of verduideliking te alle tye.
Tydige antwoorde op al ons korrespondensie, insluitende oorsigte of enige ander inligting wat van u gevra word.
Ongelukkig met ons dienste?
As u ongelukkig oor ons diens is omdat:
Ons te lank geneem het om u toelae te verwerk en/of u nie betyds u betaling ontvang het nie.
Die gedrag van ons amptenaar ongewens was.
Ons personeel ’n fout op u aansoek gemaak het of vir u verkeerde advies gegee het.
Of enige opsetlike/onopsetlike fout van ons kant 
lig ons daaroor in en ons sal dadelik enige fout wat ons begaan het, regstel.  
As u ’n klagte wil lê, skryf asseblief aan ons of bel en vra om na ons kliëntesorgeenheid verwys te word.
Ons sal ons dienste met u bespreek.
Ons stel belang in u mening oor ons dienste. 
Ons sal die inligting wat u aan ons gee, gebruik om ons dienste te verbeter. 
Stuur asseblief vir ons terugvoering op enige van die metodes wat hieronder volg:
Skakel ons oproepsentrum se tolvrye nommer 0800 601 011
Voltooi ’n kliëntekommentaarkaart beskikbaar by ons kantore sowel as betaalpunte.
Besoek ons webwerf by www.sassa.gov.za
Besoek enige van ons kontakpunte 
(Distriks-, plaaslike, diens- en betaalpunte).
Dien ’n skriftelike voorlegging by enige van ons kantore in.
Vrae of kommentaar oor hierdie handves
As u enige verdere inligting oor hierdie handves benodig, skakel met een van ons kantore. 
U kan hierdie handves op aanvraag in Braille of op oudioband en CD kry.
Hierdie Handves tree op 01/04/2007 in werking en sal jaarliks hersien word om u kommentaar in aanmerking te neem.
<Doc02>
Statistieke Suid-Afrika – Nuus
In Statistieke: Behoefte aan statistiek sal toeneem namate demokrasie diepte kry
Hierdie artikel het oorspronklik in Business Report van 05 Augustus 2004 verskyn
Ek het verlede week die vergadering van die streekadviesraad van die Oos-Afrikaanse Statistiekopleidingsentrum in Tanzanië bygewoon, waar ek die geleentheid gehad het om die sentrum se 39e jaarlikse gradeplegtigheid by te woon, waaraan vyf personeellede van Statistieke SA deelgeneem het.
Opleiding van Stats SA-personeel is ’n organisasiepassie. 
Kort nadat ek as statistikus-generaal aangestel is, het Stats SA in samewerking met die Statistiekeraad ’n dringende soektog geloods na instellings wat toepaslike opleiding in amptelike data bied.
Ons het twee instellings geïdentifiseer: die opleidingsentrum in Dar es Salaam, Tanzanië, en die Instituut van Statistiek en Toegepaste Ekonomie in Uganda.
Die opleidingsentrum is in 1965 gevestig deur die VN se Ekonomiese Kommissie vir Afrika, die Oos-Afrikaanse Organisasie vir Gemeenskaplike Dienste en die VN se Ontwikkelingsprogram.
Teen 1977 het die Tanzaniese regering die bedryf van die sentrum oorgeneem en die aantal Afrikalande wat dit bedien, tot 13 uitgebrei.
Die Instituut in Uganda is in 1969 gestig binne die regsraamwerk van die Makerere-Universiteit. 
Sy gestelde doelwit was die hoëvlakopleiding van beroepsamptenare in statistiek en toegepaste ekonomie.
Stats SA stuur al die afgelope drie jaar personeellede na dié instellings. 
Die eerste groep het verlede jaar afgestudeer. 
Sedert hulle terugkeer het hulle ’n geweldige verbetering in prestasie getoon, met sommiges wat nou bestuursposte beklee.
Stats SA staan egter nou voor nuwe uitdagings. 
Die behoefte aan statistiese inligting vir besluitneming, op al drie regeringsvlakke, het geweldig toegeneem. 
In die besonder raak mense wat opgelei is in die insameling en gebruik van statistiese inligting op munisipale vlak nou kritiek.
Om aan hierdie behoefte te voldoen, moet ons mense teen die koers van minstens 2 000 per jaar oplei. 
Die Tanzaniese opleidingsentrum en die Ugandese Instituut van Statistiek en Toegepaste Ekonomie kan geensins bybly by só ’n groot aanvraag nie.
By die opening van die SA Statistiese Vereniging se konferensie verlede jaar het die minister van finansies, Trevor Manuel, Suid-Afrikaanse universiteite uitgedaag om aandag te gee aan die tekort aan beskikbare statistiese vaardighede om die regering te help om ingeligte besluite gegrond op akkurate statistiese inligting te maak.
Stats SA het samesprekings met universiteite aangeknoop met die oog op die instelling van sulke opleiding. 
Geen Suid-Afrikaanse universiteit bied egter tans ’n kursus in amptelike statistiek aan nie.
Stats SA beplan om in die nabye toekoms ’n statistiekopleidingsentrum te vestig wat opleiding in amptelike statistiek sal bied aan beide interne personeel en personeel van ander departemente.
Die ontplooiing van ’n stelsel vir nasionale statistiek sal lei tot die behoefte aan die vestiging van statistiekeenhede in die verskillende staatsdepartemente en dus tot ’n nog groter vraag na vaardige statistiese kapasiteit.
Die ontwikkeling van statistiese kapasiteit behels egter meer as die regering se behoefte aan akkurate inligting.
Statistiek lê aan die hart van die demokrasie. 
Aan die begin van die 20e eeu het HG Wells gereken dat statistiek in die toekoms vir die burgery net so nodig sal wees as die vermoë om te lees en te skryf.
Openbare statistiek is ’n onlangse kulturele prestasie wat met die opkoms van die demokrasie ontwikkel het. 
In die Afrikakonteks, waar demokrasie ’n meer onlangse verskynsel is, gaan ons ’n beduidende toename sien in die aanvraag na openbare statistiek namate die demokrasie diepte kry.
Statistici is die bewaarders van die demokratiese beginsels van deursigtigheid in meting en toegang, en dus van toerekenbaarheid.
Dit is wat op die spel is in die inisiatief om statistiese kapasiteit te verhoog, en om die instellings te ontwikkel wat nodig is vir ’n enorme en snelle uitbreiding in die onderrig van amptelike data.
Pali Lehohla is statistikus-generaal en die hoof van Stats SA.
Vir meer inligting oor Stats SA en sy uitsette, besoek www.statssa.gov.za of skakel (012) 310-8600.
<Doc03>
16 Dae van Aktivisme: het jy geweet?
Sedert 1994 het die regering wetgewing ontwikkel om die onregte wat vroue en kinders raak, reg te stel.
Die wet op die bevordering van gelykheid en voorkoming van onregverdige diskriminasie van 2000 is ingestel om te verseker dat almal grondwetlike regte kan geniet. 
Hierdie wet verseker dat vroue regte en vryhede op gelyke voet kan geniet deur die onregte van die verlede uit die weg te ruim.
Die wet op gelyke indiensneming, 1998, verseker dat diskriminasie in werk, beroep en inkomste in die arbeidsmark wat uit apartheidswetgewing gespruit het, beperk word. 
Dit bevorder billike verteenwoordiging van vroue en ander histories benadeelde persone op alle vlakke van openbare en private entiteite.
Die Wet op Onderhoud, 1998, waarborg ’n kind se regte op ’n lewenspeil wat voldoende is vir fisiese, verstandelike, geestelike en sosiale ontwikkeling. 
Die Wet verseker dat onderhoud verhaal word van die ouers of ander persone wat finansieel vir die kind verantwoordelik is.
Die Wet op Gesinsgeweld, 1998, is uitgevaardig om maksimum beskerming teen gesinsmishandeling aan oorlewendes van geweld te verleen. 
Vroue wat aan die ontvangkant van gesinsgeweld is, kan hulle nou tot die reg wend, wat hulle beskerming verseker.
Die kinderwet, 2005, en die wysigingswet op kinders, 2007, is uitgevaardig om ’n kind onder andere te beskerm teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik of afbreking.
Die regering het talle intervensies geïmplementeer en ondersteun wat die menswaardigheid van vroue en kinders beskerm.
Die Handves van Kinderregte word hersien en bygewerk om ook ontluikende uitdagings in te sluit soos die gebruik van kinders as onderwerp van pornografie en kinders se blootstelling aan pornografiese materiaal.
Die regering het gereageer op die uitdaging van gedwonge huwelike van kinders met volwassenes onder die voorwendsel van ’n tradisionele gebruik bekend as “Ukuthwala”. 
Die regering is daartoe verbind om te verseker dat tradisionele en ander praktyke strook met die Grondwet en tersaaklike wetgewing.
Daar word werk gemaak van die herinstelling van gespesialiseerde polisie-eenhede vir die hantering van gesins- en seksuele misdrywe en ander misdade teen vroue en kinders. 
Die vestiging van gespesialiseerde eenhede sal die nodige kundigheid mobiliseer om die bestuur en suksesvolle vervolging van misdaad teen vroue en kinders op te skerp.  
Daar is tans 17 Thuthuzela-sorgsentrums landwyd gevestig in gemeenskappe met ’n hoë voorkoms van seksuele geweld. 
Die sentrums verskaf gesondheids- en welsynsdienste en inisieer ook prosesse vir die effektiewe aanmelding en vervolging van misdrywe deur gekwalifiseerde beroepslui in ’n waardige en sorgsame omgewing.
Die fondse vir die verhaling van kriminele bates is gebruik vir die befondsing van 19 slagofferbemagtigingsprojekte.
Die Gids oor Dienste vir Slagoffers van Geweld en Misdaad is ontwikkel en lys dienste wat deur meer as 1 500 regerings- en burgerlike organisasies in alle provinsies verskaf word. 
Die gids bemagtig mense om toegang te verkry tot dienste wat in hulle gebiede beskikbaar is. 
Slagoffervriendelike geriewe is daargestel in hoëkontakmisdaad-polisiestasies.
Toegewyde howe vir seksuele misdrywe is ontwikkel.
Die Wet op Gesinsgeweld maak voorsiening vir die daarstelling van skuilings. 
Daar is tans 96 skuilings in Suid-Afrika teenoor die 39 in 2001.
Die Handves vir die Regte van Slagoffers kry nou gestalte vir slagoffers van misdaad wat met die strafregstelsel te doen kry.
Dié Handves bevat die Minimum Standaarde vir Dienste vir Slagoffers van Misdaad, wat ’n regsraamwerk uiteensit waarvolgens slagoffers hulle regte kan uitoefen oor die verwagte dienste van die strafregstelsel. 
Met die instelling van die slagofferhandves het die aantal dae wat dit geverg het om ’n saak in die Hof vir Seksuele Misdrywe af te handel, van 285 tot 142 afgeneem.
Die handves is ook ’n vereiste sodat die regering van Suid-Afrika sy internasionale verpligting kan nakom ten opsigte van die Verenigde Nasies (VN) se verklaring van die basiese beginsels van geregtigheid vir slagoffers van misdaad en magsmisbruik.
Internasionale samewerking in die hantering van uitdagings van geweld teen vroue en kinders.
Suid-Afrika het sy verslag oor vordering met die toepassing van die konvensie oor die uitskakeling van alle vorme van geweld teen vroue aan die CEDAW-komitee van die VN voorgelê.
Suid-Afrika was die gasheer van die ministeriële vergadering van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) (Oktober 09) vir die afhandeling van die streek se 10-jaar- strategiese aksieplan oor mensehandel, veral vroue en kinders.
Die SAOG-protokol oor geslag en ontwikkeling verklaar dat SAOG-lidlande teen 2015 wetgewing moet uitvaardig wat seksuele teistering beveg.
Suid-Afrika was die gasheer van die streekspitsberaad oor geslagsgeregtigheid (9–10 November 2009) wat verteenwoordigers van Afrikalande byeengebring het om ondervindings en beste praktyke vir die uitskakeling van seksuele en geslagsgebaseerde geweld te deel.
Moenie wegkyk nie, tree op teen mishandeling
<Doc04>
Privaatheidsverklaring
Die Departement van Behuising is daartoe verbind om jou privaatheid te beskerm en om tegnologie te ontwikkel wat jou die kragtigste en veiligste aanlyn ervaring bied.
Hierdie Privaatheidsverklaring is van toepassing op die webwerf van die Departement van Behuising en beheer dataversameling en -gebruik.
Deur die gebruik van die webwerf van die Departement van Behuising stem jy in om die datapraktyke soos in hierdie verklaring beskryf, na te kom. 
Versameling van jou persoonlike inligting.
Die Departement van Behuising versamel inligting wat jou persoonlik kan identifiseer, soos jou e-posadres, jou naam, huis- en werkadres of telefoonnommer.
Die Departement van Behuising versamel ook anonieme demografiese inligting wat nie uniek aan jou is nie, soos jou ZIP-kode, ouderdom, voorkeure, belange en gunstelinge. 
Daar is ook inligting oor jou rekenaarhardeware en -sagteware wat outomaties deur die Departement van Behuising versamel word.
Hierdie inligting kan insluit: jou IP-adres, blaaiertipe, domeinname, toegangstye en verwysende webwerf-adresse. 
Hierdie inligting word deur die Departement van Behuising gebruik om die diens te bedryf, om diensgehalte te handhaaf en om algemene statistiek oor die gebruik van die Departement van Behuising se webwerf te bekom. 
Hou asseblief in gedagte dat indien jy inligting wat jou persoonlik kan identifiseer, of persoonlike sensitiewe data, sou openbaar deur middel van die openbare boodskapborde van die Departement van Behuising, dan kan hierdie inligting deur ander mense bekom en gebruik word. 
Let wel: die Departement van Behuising lees geen van jou private aanlynkommunikasie nie. 
Die Departement van Behuising moedig jou aan om die privaatheidsverklarings van webwerwe wat jy koppel aan die Departement van Behuising na te gaan sodat jy presies verstaan hoe hierdie webwerwe jou inligting versamel, gebruik en met ander deel.
Die Departement van Behuising is nie verantwoordelik vir die privaatheidsverklarings of ander inhoud op webwerwe buite die Departement van Behuising en die Departement van Behuising se reeks webwerwe nie. 
Gebruik van jou persoonlike inligting
Die Departement van Behuising versamel jou inligting en gebruik dit om die webwerf van die Departement van Behuising te bedryf en die dienste te lewer wat jy versoek het.  
Die Departement van Behuising gebruik ook jou persoonlik identifiseerbare inligting om jou in te lig oor ander produkte of dienste wat by die Departement van Behuising en sy geaffilieerdes beskikbaar is.
Die Departement van Behuising mag jou ook deur middel van opnames kontak om navorsing te doen oor jou mening oor huidige dienste of potensieel nuwe dienste wat aangebied mag word. 
Die Departement van Behuising verkoop, verhuur of verskaf nie sy kliëntelyste op bruikhuur aan derde partye nie.
Die Departement van Behuising kontak jou van tyd tot tyd namens eksterne besigheidsvennote oor ŉ besondere aanbieding waarin jy moontlik belang mag stel. 
In sodanige gevalle word jou unieke, persoonlike identifiseerbare inligting (e-pos, naam, adres, telefoonnommer) nie aan enige derde party oorgedra nie.
Hierbenewens mag die Departement van Behuising data met vertroude vennote deel om ons te help om statistiese ontledings te maak, e-pos of gewone pos aan jou te stuur, vir kliënteondersteuning, of om aflewerings te reël.
As sodanig word derde partye verbied om enige van jou persoonlike inligting te gebruik, buiten om hierdie dienste aan die Departement van Behuising te verskaf, en daar word van hulle verwag om die vertroulikheid van jou inligting te eerbiedig.
Die Departement van Behuising gebruik of openbaar nie enige sensitiewe persoonlike inligting soos ras, geloof of politieke affiliasies sonder jou uitdruklike toestemming nie.
Die Departement van Behuising volg die webwerwe en webblaaie wat ons kliënte in die Departement van Behuising besoek ten einde vas te stel watter van die Departement van Behuising se dienste die gewildste is.
Hierdie data word gebruik om pasklaargemaakte inhoud en reklame binne die Departement van Behuising aan kliënte te bied wat aandui dat hulle in ŉ besondere onderwerpveld belang stel.
Die Departement van Behuising se webwerwe sal jou persoonlike inligting – sonder kennisgewing – openbaar slegs indien dit wetlik vereis word, of in goeie trou dat sodanige optrede nodig is om (a), ŉ regsdekreet na te kom of om aan regsprosesse wat aan die Departement van Behuising of sy webwerf beteken word, te voldoen; (b), die regte of eiendom van die Departement van Behuising te beskerm of te verdedig; en (c), onder uiterste omstandighede op te tree om die persoonlike veiligheid van gebruikers van die Departement van Behuising of die publiek te beskerm. 
Gebruik van koekies
Die webwerf van die Departement van Behuising gebruik ‘koekies’ om jou aanlyn-ervaring te verpersoonlik.
ŉ Koekie is ŉ tekslêer wat op jou hardeskyf deur ŉ webbladbediener geplaas word. 
Koekies kan nie gebruik word om programme te laat loop of om virusse op jou rekenaar te sit nie.
Koekies word uniek aan jou toegeken, en kan slegs deur ŉ webbediener gelees word in die domein wat die koekie aan jou verskaf het. 
Een van die primêre doelwitte van koekies is as ŉ geriefskenmerk om jou tyd te bespaar.
Die doelwit van ŉ koekie is om die webbediener in kennis te stel dat jy na ŉ besondere bladsy teruggekeer het.
Byvoorbeeld, indien jy die blaaie van die Departement van Behuising verpersoonlik het, of by ŉ webwerf of diens van die Departement van Behuising geregistreer het, sal ŉ koekie help om jou besondere inligting by ŉ volgende besoek te herroep.
So word die proses om jou persoonlike inligting, soos ŉ rekening- of afleweringsadres op rekord te plaas. 
Wanneer jy dan na dieselfde webwerf van die Departement van Behuising terugkeer, kan die inligting wat jy voorheen verskaf het, herwin word, en jy kan maklik die kenmerke van die Departement van Behuising wat jy verpersoonlik het, weer gebruik. 
Jy het die vermoë om koekies te aanvaar of te verwerp.
Meeste webblaaiers aanvaar koekies outomaties, maar jy kan jou blaaierinstelling so stel dat dit koekies verwerp indien jy dit verkies.
Indien jy koekies verwerp, kan dit gebeur dat jy nie ten volle die interaktiewe kenmerke van die Departement van Behuising se dienste of webblaaie wat jy besoek, mag geniet nie.
Veiligheid van jou persoonlike inligting
Die Departement van Behuising beveilig jou persoonlike inligting teen ongemagtige toegang, gebruik of openbaarmaking. 
Die Departement van Behuising beveilig die persoonlike identifiseerbare inligting wat jy op rekenaarbedieners verskaf in ŉ beheerde, veilige omgewing beskerm teen ongemagtigde toegang, gebruik of openbaarmaking.
Wanneer persoonlike inligting (soos ŉ kredietkaartnommer) aan ander webwerwe oorgedra word, word dit deur enkodering  beskerm soos die Beveiligde Soklaag- (SSL) protokol.
Veranderinge aan hierdie verklaring
Die Departement van Behuising sal van tyd tot tyd hierdie privaatheidsverklaring bywerk om maatskappy- en kliënte-terugvoer te weerspieël.
Die Departement van Behuising moedig jou aan om hierdie verklaring periodiek te hersien ten einde te weet hoe die Departement van Behuising jou inligting beskerm.
Kontakbesonderhede
Die Departement van Behuising verwelkom jou kommentaar oor hierdie privaatheidsverklaring.
Indien jy van mening is dat die Departement van Behuising nie hierdie verklaring nakom nie, moet jy asseblief die Departement van Behuising kontak by webmaster@kznhousing.gov.za.
Ons sal alle redelike kommersiële pogings aanwend om dadelik die probleem vas te stel en dit reg te stel.
<Doc05>
Premier Ebrahim Rasool se toespraak by die Matrikulante-feesviering
Ons is vandag hier om ons topmatrieks geluk te wens.
Ons sê vir hulle: Welgedaan! Ons is trots op julle, die Provinsie en land is trots op julle, julle ouers is trots op julle, en bowenal moet julle trots wees op julleself.
Ons verwys by ’n geleentheid soos hierdie na trots, uit erkenning van die feit dat ’n oomblik se prestasie voortspruit uit ’n langer tydperk van moeite en opoffering, dat vandag tekenend is van ’n oomblik van helderheid uit omstandighede wat ten beste as kompleks beskryf kan word.
Matriek is kompleks.
Oor die afgelope tien jaar moes ons die hele onderwysstelsel uit sy apartheidsoriëntasie verskuif. 
Ons het in groot mate geslaag betreffende groter integrasie, ’n enkele leerplan en eksamen, groter getalle van diegene wat matriek skryf en slaag, en ’n bewustheid dat onderwys ook meer as net individuele behoeftes dien – dat die hele ekonomie afhanklik is van die stel vaardighede wat deur die onderwysstelsel gelewer word.
Matriek is inderdaad kompleks.
Ons leiers wat hier op Leeuwenhof vergader het, is ongetwyfeld die bestes wat ons het, diegene wat die beste gepresteer het en elke eer verdien wat dié Provinsie kan bewys. 
Ons dink egter ook aan die 71% van die bevolking oor die ouderdom van 20 wat nie sekondêre onderwys voltooi het nie, sowat die helfte van die 80 000 wat 12 jaar gelede saam met julle in graad 1 begin het en nie eens in 2004 die eksamen afgelê het nie omdat hulle langs die pad uitgesak het, en die baie wat geskryf het, maar weens vak- en graadkeuses matrieksertifikate het wat nie deur die ekonomie of tersiêre onderwys geabsorbeer kan word nie.
Matriek word nog meer kompleks weens die feit dat julle ons toonvensters is. 
Die nasie beoordeel ons toekoms volgens julle prestasie. 
Hulle grond hulle optimisme op julle welstand. 
Hulle vestig hulle hoop op die toekoms op ons belegging in die onderwysstelsel waarvan hierdie feestelike oomblik die kruin is. 
En ja, die grootste deel van die nasionale en provinsiale begrotings word vir onderwys aangewend. 
Net vanjaar, om die aanstellings van 2 000 opvoeders te behou, moes ons geld van die ander provinsiale funksies afknyp vir onderwys. 
Ons moet ons belegging in armer skole opstoot sodat die gelykheid van onderwys in toenemende getalle in elke townshipskool beleef word deur ’n sterker geloof in die toekoms.
En die belangrikste, minister Dugmore en superintendent-generaal Swartz, ons het een kans om ’n mensehulpbronnestrategie op te stel om hierdie hele belegging te regverdig. 
Ons moet matrikulante produseer wat vasstaan in hulle waardes, uitstaan met hulle resultate, relevant vir die ekonomie is, getrou aan hulle samelewing en ’n voordeel vir die mensdom.
Dit is wat ons vandag hier kom vier het. 
Julle verteenwoordig hierdie hoop terwyl ons ons Tuiste vir Almal bou. 
Ons vier julle prestasies omdat julle opgeoffer en hard gewerk het, omdat julle ouers opgeoffer en julle op skool gehou het, en julle samelewing opgeoffer en in julle toekoms belê het.
Baie het hulle bedenkinge oor die viering van matriekprestasies weens die kompleksiteit daarvan en die feit dat dit dalk nog die neerslag van die apartheidstelsel kan bevat. 
Net julle kan dit oorkom deur aktief en bewustelik toegewyd te wees om ’n Tuiste vir Almal te bou, een wat nierassig en meer gelyk is.
Dit moet weerspieël word in al die keuses wat julle van hier af uitoefen.
Tot nou toe moes julle net kies hoe hard julle sou werk. 
Julle matrieksertifikaat stel julle in staat en verplig julle om te besluit en keuses te maak oor die soort mense wat julle wil wees en die soort lewe wat julle wil leef.
Baie geluk en voorspoed.
<Doc06>
Die missie van die bestuur van die 2010 Regeringskommunikasieprojek is om:
die prestasie van die strategiese kommunikasiedoelwitte vir die eerste Afrika FIFA Wêreldbeker te fasiliteer
hierdie unieke geleentheid ten volle te benut om eenheid en trots tussen Suid-Afrikaners uit te druk en verder uit te bou
ons jongmense te inspireer
die land aan die wêreld te bemark
’n kommunikasieklimaat te skep wat help om dié kans te benut om ontwikkeling te bespoedig en geleenthede uit te brei
Afrikasolidariteit te bou.
Dit sal verwesenlik word deur:
leierskap en koördinasie vir regeringskommunikasie oor die 2010 Wêreldbeker te verskaf
’n nasionale vennootskap van openbare en private kommunikators oor dissiplines heen te bou en alliansies te smee met kommunikators op die vasteland en in die diaspora, sodat die land en die vasteland kollektief hierdie kommunikasiegeleentheid van ’n leeftyd kan benut
sleutel-regeringskommunikasieprojekte vir die 2010 Sokkerwêreldbeker te onderneem.
<Doc07>
Nasionale Padverkeersregulasies gewysig om padveiligheid te verbeter
POLOKWANE: Die Nasionale Padverkeersregulasies is gewysig.
Dit word die Sewentiende Wysiging genoem het in werking getree met publikasie.
Die Departement van Paaie en Vervoer stel hiermee die volgende wysigings aan motoriste bekend: 
Die nommerplate van nuwe motorvoertuie wat na 01 Augustus 2010 geregistreer is, moet met plofklinknaels of skroewe vasgemaak wees. 
Indien dit nie direk aan die voertuig vasgemaak kan word nie, moet dit aan ŉ steunraam vasgemaak word wat voldoen aan SANS 973.
Hierdie wysiging sal misdaad en padverkeersoortredings verminder deur motoriste wat nommerplate maklik afhaal sodat dit nie maklik opgespoor kan word nie.
Die nommerplaat sal nie maklik verwyder of teruggesit kan word na ŉ misdaad gepleeg is nie, want dit sal altyd addisionele onkoste meebring.
Hierdie nommerplaat is van aluminium en sal moeilik onherkenbaar verbrand word gedurende ŉ ongeluk. 
Vanaf 1 Februarie 2011 sal persone wat ŉ bestuurslisensie vir lisensiekode C, C1, EC of EC1 ontvang het, nie toegelaat word om ŉ motorvoertuig te bestuur wat ŉ lisensiekode B of EB vereis nie (met ander woorde, ŉ persoon met ŉ lisensiekode 10, 11, 13 of 14 mag nie ŉ voertuig bestuur waarvoor ŉ 08-lisensiekode benodig word nie).
Hierdie regulasie is slegs van toepassing op nuwe lisensiehouers.
ŉ Groot aantal leerlingbestuurders doen aansoek vir swaarmotorvoertuigbestuurderslisensies in teenstelling met ligtemotorvoertuiglisensies sodat hulle byvoorbeeld parallelle parkeertoetse kan vermy. 
In werklikheid, wanneer hulle hul swaarmotorvoertuiglisensies bekom het, ry hulle met ligte motorvoertuie met wie se bestuurskontroles hulle nie vertroud is nie en raak sodoende in ongelukke betrokke.
Daar word ook verwag van al daardie bestuurders wat swaarmotorvoertuiglisensies ontvang het, dat hulle Professionele Bestuurspermitte moet hê, maar statistieke vertel ŉ ander storie.
Hierdie feit bewys dat die applikante bestuurslisensies vir ligte motorvoertuie benodig, nie vir swaar motorvoertuie nie.
Direksionele Stabiliteitsbeheertoestelle is in mini- en midibusse ingestel deur middel van ŉ sertifiseringsproses wat deel van die padwaardigheidstoets vorm. 
Dit is op alle mini- en midibusse van toepassing, nie net op nuut vervaardigde voertuie nie. 
Die geregistreerde eienaar van ŉ motorvoertuig of sy volmag moet ŉ behoorlik-voltooide DSCD-vorm aan die toetsstasie voorlê.
ŉ Direksionele Stabiliteitsbeheertoestel is ŉ toestel wat verhoed dat ŉ band van sy velling losskeur wanneer die band bars terwyl die motor beweeg.
ŉ Wysiging aan Regulasie 332 is gepubliseer wat die asemtoetsers lys wat as bewysstukke gebruik mag word om asemmonsters as getuienis te kollekteer, en die sertifikaat wat deur die vervaardiger of verskaffer as bewysstuk by howe ingedien en gebruik mag word.
Hierdie wysiging poog om die kwessie aan te spreek wat geopper is oor die regsgeldigheid van die asemontleders volgens artikel 65(7) van die Nasionale Padverkeerswet, 1996 en voldoen aan SABS 1793, en mag gebruik word om die konsentrasie alkohol in asem vas te stel. 
Die volgende is die voorgeskrewe toerusting:
“Dit is meer gepas gedurende hierdie feesseisoen omdat dat ŉ hupstoot gee aan ons pogings om dronkbestuur op ons paaie te bekamp,” sê Pinky Kekana, die LUR van Paaie en Vervoer. 
<Doc08>
Antenatale (Voorgeboortelike) Gesondheidsdienste
Swanger meisies en vroue word verwys na kraamdienste of vroedvrou-obstetriese-eenhede in stedelike gebiede, en satelliet- of vaste klinieke in die plattelandse gebiede. 
VOE’s is kraameenhede wat bedryf word deur vroedvroue in die gemeenskap vir pasiënte van basiese gesondheidsdienste.
Dit is raadsaam vir verwagtende moeders om hulle eerste besoek aan die kliniek voor 20 weke of so spoedig moontlik daarna te bespreek.
Die moeder ondergaan ’n volledige aanvangsevaluering en berading wanneer sy haar eerste voorgeboortebesoek, ook bekend as die besprekingsbesoek, aflê. 
Die swangerskap word deur gereelde opvolgbesoeke gemoniteer. 
Die moeder se gesondheid word ook fyn dopgehou. 
Sy word geweeg, haar bloeddruk gemeet en urine getoets. 
As daar geen komplikasies is nie, moet sy na twee weke vir haar eerste opvolgbesoek terugkom vir die resultate van die toetse wat tydens die besprekingsbesoek gedoen is.
Daarna moet sy elke ses weke terugkom kliniek toe tot by 28 weke, dan op 34 weke, daarna soos aangedui deur die kliniek-/VOE-personeel (frekwensie van besoeke mag van gebied tot gebied verskil).
Swanger moeders ondergaan sifting vir moontlike risiko’s vir hulle gesondheid en die gesondheid van die fetus. 
Tienermeisies sowel as vroue ouer as 35 jaar wat swanger is, word as hoërisikogevalle beskou. 
Dit beteken dat hulle meer waarskynlik komplikasies tydens swangerskap en geboorte kan ondervind. 
Swanger vroue word ook as ’n hoë risiko beskou as hulle hoë bloeddruk of ’n geskiedenis van genetiese afwykings of ’n veelvuldige swangerskap het en as hulle vorige chirurgie soos ’n keisersnee gehad het. 
Moeders wat as ’n hoë risiko gediagnoseer word, word vooruitverwys na buitepasiënt-voorgeboorteklinieke by hospitale op sekondêre of tersiêre vlak, waar verdere ondersoeke en siftingstoetse uitgevoer word. 
Moeders met hoërisikoswangerskappe word aangeraai om buitepasiënt-voorgeboorteklinieke so dikwels as wat nodig is, te besoek.
As jy ’n gesondheidsfasiliteit vir die eerste keer besoek, sal jy gevra word om ’n vorm in te vul en ’n lêer sal oopgemaak word. 
Bring jou ID-boek, enige medikasie wat jy gebruik en ’n kliniek- of hospitaalkaart as jy reeds by die fasiliteit geregistreer is. 
Laerisikoswangerskappe word behartig by VOE’s (geboorte-eenhede wat deur vroedvroue in die gemeenskap vir primêregesondheidsorg-pasiënte bedryf word) in stedelike gebiede, en satelliet- en vaste klinieke in die plattelandse gebiede.
Hoërisikoswangerskappe word behartig by buitepasiëntklinieke by stedelike en plattelandse streekhospitale en tersiêre hospitale.
<Doc09>
Geïntegreerde Voedingsprogram
Die Geïntegreerde Voedingsprogram (GVP) beoog om die voedingstatus van alle mense wat in die Provinsie Wes-Kaap woon, te verbeter. 
Hierdie program behels talle aspekte.
Wat is wanvoeding?
Wanvoeding is ’n ernstige probleem in Suid-Afrika en een van die grootste bydraers tot kindersiektes en -sterftes. 
Na raming het sowat 30% van Suid-Afrikaanse kinders ingekorte liggaamlike groei weens ’n gebrek aan voldoende voeding in hulle vroeë lewensjare.
Onvoldoende voedselinname, siekte en psigososiale stres/trauma is die belangrikste onmiddellike oorsake van wanvoeding. 
Armoede en ’n gebrek aan hulpbronne is basiese faktore wat tot wanvoeding bydra. 
Die GVP probeer hierdie stille epidemie op verskillende maniere hanteer.
Aanvullings vir kinders
Op primêregesondheidsorgvlak word kinders wat ondersoek en as ondervoed geïdentifiseer word (dit sluit in kinders en volwassenes wat MIV-positief is en tuberkulose het), voedselaanvullings gegee, insluitende gefortifiseerde mieliemeel en ’n hoë-energiedrankie. 
Aanvullings word volgens kriteria aan geïdentifiseerde kliënte gegee. 
Gesondheidswerkers verskaf ook berading, inligting en opvoeding oor gesonde diëte en die gesondste maniere om kos voor te berei. 
Dieetkundiges verskaf ook gespesialiseerde dienste aan die gemeenskap.
Borsvoeding
Om wanvoeding in die vroeë kinderjare te beveg, moedig gesondheidswerkers vroue aan om hulle kinders tot op die ouderdom van ses maande slegs te borsvoed en om daarna aan te hou met borsvoeding bykomend tot die gee van toepaslike aanvullende kossoorte, totdat die kind twee jaar oud is. 
Ander voedingsmoontlikhede word bespreek met moeders wat MIV-positief is. 
Vredendal Hospitaal en Groote Schuur Kraamsentrum is Babavriendelike Hospitale in die provinsie volgens die Babavriendelike Hospitaal inisiatief.
Groeimonitering
Alle kinders word gereeld geweeg as deel van die groeimoniteringsprogram, ’n sensitiewe aanwyser van die kind se groei. 
Die gewig word op die Pad-na-Gesondheid-kaart aangeteken. 
Onderliggende oorsake van gewigsverlies word ondersoek, soos aansteeklike siektes, ’n voedseltekort tuis en kinderverwaarlosing. 
Aansteeklike siektes speel ’n groot rol in ondervoeding en dié siektes word op primêregesondheidsorgvlak behandel. 
Diarreeverwante siektes hou nou verband met omgewingshigiëne (sanitasie en watertoevoer) en onder- of swak voeding van ’n jong kind, wat hom/haar weer meer kwesbaar maak vir ernstige en langdurige diarree. 
Armoedeverligting
Armlastige huishoudings word geïdentifiseer en na een van die regering se armoedeverligtingsprogramme verwys. 
Huishoudelike voedselsekerheid word intersektoraal gehanteer en toepaslike ingrypings en ondersteuning word verleen.
Vitamienaanvullings
Die beheer van mikronutriënttekorte is ’n noodsaaklike deel van die diens. 
Mikronutriënte is natuurlike stowwe soos vitamiene en minerale, wat in klein hoeveelhede in kos voorkom en baie belangrik is om goeie gesondheid te handhaaf. 
Die GVP verskaf vitamien A-aanvullings aan kinders in die teikengroep. 
Kinders met ’n vitamien A-tekort verloor gewig, groei nie na behore nie en is meer geneig om infeksies te kry en daarvan te sterf. 
’n Tekort aan vitamien A beskadig ook die oë en is een van die hoofoorsake van blindheid by kinders.
Kinders met ’n lae geboortegewig kry vitamien A-kapsules, wat die immuunstelsel versterk en die kind se ontwikkelingsgroei aanhelp. 
Babas van 6-11 maande kry ’n enkeldosis vitamien A (100 000 IE) om ernstige siektetoestande te voorkom. 
Kinders van 12 maande tot vyf jaar oud kry ’n enkeldosis van 200 000 IE op 12 maande en dan ’n dosis van 200 000 IE elke ses maande tot op die ouderdom van vyf jaar.
Bykomende dosisse vitamien A word toegedien aan kinders wat aan ernstige wanvoeding of volgehoue aansteeklike siektes soos diarree, masels of MIV-infeksie ly.
Ontwurming
Gewigsverlies by kinders kan ook aan wurmbesmetting te wyte wees en dit kan met ontwurmingsmedikasie by die kliniek behandel word.
Voedingsadvies vir bepaalde toestande
Opvoeding, inligting en berading oor voeding word op alle versorgingsvlakke verskaf aan mense wat ’n beroerte gehad het of aan hipertensie, hoë bloeddruk, diabetes, MIV/VIGS en tuberkulose ly.
Laerskool-voedingsprogram
Die Laerskool-voedingsprogram is beskikbaar by spesifiek geïdentifiseerde subekonomiese skole. 
Hierdie skemas word tans gesamentlik met die Departement van Onderwys bedryf. 
Die provinsiale regering beoog om teen 2004 125 000 kinders by 847 laerskole in die provinsie met sy skoolvoedingsprogram te bereik.
Voedsel by inrigtings
Die GVP dra ook by tot die institusionele versorging van kliënte deur voedseldiensstelsels vir die verskaffing van gebalanseerde voeding.
Instruksies:
Persone wat die kliniek/sekondêre of tersiêre hospitaal vir die eerste keer besoek, word gevra om ’n vorm in te vul en ’n lêer sal vir die pasiënt oopgemaak word. 
Bring jou ID-boek. 
’n Verwysingsbrief van die kliniek word vereis by ’n hospitaalbesoek. 
Hospitale sal vir jou mees onlangse betaalstrokie/inkomsteassessering (IRP5) vra.
Bring jou hospitaalkaart indien voorheen by die hospitaal geregistreer.
<Doc10>
Toespraak deur die Adjunkminister van Openbare Werke, mnr. Ntopile Kganyago, LP, tydens die eerste openbare bekendstelling van die Tshwane-binnestadprogram, Suid-Afrikaanse Reserwebankgebou, Tshwane
Ander senior regeringsamptenare
Dames en here van die media
Hoogs gerespekteerde gaste
Die besluit wat die Kabinet in 1997 geneem het om nasionale regeringsdepartemente aan te moedig om die binnestad van Tshwane hul  permanente tuiste te maak, het van ’n grootse visie getuig, toe en nou. 
Die gevolg is ’n goed georkestreerde plan om die verjonging van ons stede te koppel aan die regering se oproep tot stedelike vernuwing en ander ruimtelikeontwikkelingsinisiatiewe wat ontwerp is om ’n stedelikebestuursetos te bevorder wat ontvanklik is vir menseregte, verwelkomende habitatte, ekonomiese ontwikkeling en maatskaplike samehorigheid.
Vandag, terwyl ons die eerste steen lê in die verwesenliking van hierdie visie, vier ons ook die reis wat ons tot dusver afgelê het. 
Intense samesprekings, dikwels gekenmerk deur ewe intense debatte oor die behoeftes en beskikbare keuses van regeringsdepartemente wat hulle fisiese omgewing betref, het ons almal nie ontspoor van die oorspronklike doelwitte, naamlik om die fisiese werkomgewing van regeringsdepartmente in die binnestad van Tshwane te verbeter nie.
Terselfdertyd moet ons eweneens bydra tot die binnestad se vernuwing en verjonging. 
Ander doelwitte wat geensins terugstaan nie, sluit in 'n strewe om privaatsektorbeleggings te lok, die beeld van Tshwane as ’n belangrike hoofstad in Afrika te ontwikkel en swart ekonomiese bemagtiging te bevorder. 
Die regering is die grootste grondeienaar en een van die belangrikste beleggers in die ekonomiese lewe van plaaslike regering, veral in die Johannesburgse en Tshwane-metropole in Gauteng. 
Departemente benodig funksionele sowel as kantoorakkommodasie om hulle openbarediensleweringsverpligtings ingevolge hulle opdragte na te kom. 
Dit is algemene kennis dat die meeste regeringsgeboue se toestand in die kategorie van goed tot redelik eerder as uitstekend val.
Opknappings, opgraderings en herstelwerk sal aan die spits van kapitaalbesteding staan en tot die SEB-komponent van die Tshwane-binnestadprojek bydra. 
Die nasionale regering het via die Departement van Openbare Werke landwyd meer as twee miljard rand (R2 miljard) bestee om vir huurkontrakte en ander verwante eiendomsbestuurstariewe soos eiendomsbelasting en dienste te betaal, met die privaatsektor en plaaslike regerings as bevoordeeldes. 
Dit is steeds dieselfde belanghebbendes van wie verwag word om die proses van die Tshwane-binnestadvernuwing te bedryf, moontlik met die deelname van die Gautengse provinsiale regering deur sy groot beleggingsprojekte wat voorgestaan word deur die Gautengse Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap (GEDA).
In die konteks van die Tshwane-binnestadprogram, voortaan bekend as “Re Kgabisa Tshwane” met die subleuse “’n Beter plek om in te werk”, val die kollig net soveel op die mense (staatsamptenare sowel as die publiek) as op die fisiese ruimtes wat hulle inneem terwyl hulle noodsaaklike openbare dienste lewer en ontvang. 
Toe hy die regering se Aksieprogram van 2004 aankondig, het die President, mnr. Thabo Mbeki, ’n beroep gedoen op die nasionale departemente van Openbare Werke en Staatsdiens en Administrasie om die projek saam te bestuur om die fisiese werkomgewing van staatsdepartemente en staatsamptenare te verbeter. 
Openbare fisiese infrastruktuur is die enjin van dienslewering en regeringsamptenare is die brandstof wat die enjin aandryf en dit vinniger, doeltreffend en effektief laat loop.
Tydens die behoefteassesseringsfase van die projek het talle regeringswerknemers wat geraadpleeg is, beklemtoon hoe belangrik dit is om uitstekende werkruimtes te hê wat pas by hulle diensomskrywing, en dat dit die binne- sowel as die eksterne omgewing insluit, derhalwe is dit noodsaaklik om die Tshwane Metro as vennoot te hê, wat verantwoordelik is vir die meeste aspekte van stedelike bestuur soos verkeer, skoon toestande, veiligheid, sekuriteit en estetika.
Ek gebruik graag dié geleentheid om Tshwane se bestuur en leierskap te bedank vir hulle versiende aanvaarding van dié projek deur dit geredelik by hul eie planne vir geïntegreerde ontwikkeling in te lyf. 
Die memorandum van verstandhouding tussen die nasionale departement van Openbare Werke en die Stad van Tshwane Metro wat ons vandag nog aangaan, is trouens die bevestiging dat ons gemeenskaplike belange as vertrekpunt gevind het. 
Dit is ’n verklaring van ’n voorneme om saam te werk aan inisiatiewe en projekte wat vir albei partye wedersyds voordelig sal wees.
Ons boodskap van vandag aan u is “nou begin die werk” en dat daar oor die volgende 10 jaar ’n inspuiting van meer as agt miljard rand (R8 miljard) op pad is van die nasionale regering en die privaatsektor deur middel van kapitaalbegrotings, huurpagverbeterings en vennootskappe tussen die openbare en privaatsektor. 
Ingevolge die programbestuur is ’n Reëlingskomitee saamgestel tussen die Departement van Staatsdiens en Administrasie, die Departement van Openbare Werke, die Nasionale Tesourie en die Stad Tshwane. 
Die komitee is die programkampioen, bestuur en moniteer inwerkingstelling oorhoofs, finaliseer die befondsingstrategie en verseker gekoördineerde implementering. 
Die Departement het mnr. Dumisani Dlamini aangestel as adjunk-direkteur-generaal wat oorhoofs vir die programbestuur verantwoordelik is.
Dankie.
<Doc11>
Mevrou die Speaker, die agbare Premier, kabinetskollegas, lede van die Huis, geëerde gaste, amptenare van die departement van behuising, lede van die media en die publiek in die algemeen, hartlik welkom.
Hierdie woorde, dames en here, besin oor die Suid-Afrikaanse politiek, veral in die Wes-Kaap. 
Maak nie saak hoe hard toegewyde en vorderinggerigte mense van hierdie land werk nie, sommige mense se missie is altyd om die wonderlike werk wat hierdie sorgsame regering binne die kortste moontlike tyd van sy ampstermyn gedoen het, af te kraak.
Dames en here, baie mense het al gestry oor wat behuising behels, maar ek wil julle graag nog ’n ander weergawe voorhou.
Vir my gaan behuising nie net oor skuiling nie. 
Dit gaan daaroor dat mense self verantwoordelikheid aanvaar vir die onderhoud van hulle gedeelde omgewing en vormgewing aan hulle toekoms.
Dit gaan oor die skepping van lewensvatbare gemeenskappe en volhoubare lewensomgewings. 
Dit gaan oor voorspoed in eenheid deur vennootskappe tussen die privaatsektor, openbare sektor, nieregeringsorganisasies en bowenal gemeenskappe.
Vir my kan behuising ten beste beskryf word as ’n proses, wat beplanning saam met mense eerder as beplanning vir mense behels. 
Behuising in die Suid-Afrikaanse konteks is nie net ’n produk nie, maar ’n proses gegrond op die demokratiese waardes waarvoor die mense van dié land so hard gestry het.
Dit is ’n proses wat na die mense luister, mense toelaat om hulle demokratiese reg uit te oefen om die tipe behuising en die gebiede waar hulle hul huise gebou wil hê, te kies.
Daar is dus niks so verontmenslikend en ondemokraties as om mense hulle grondliggende reg om te kies, te ontneem nie. 
Vir my as sosiale aktivis, in teenstelling met die apartheidsregime, is mense die middelpunt van my visie en strategie vir die voorsiening van behuising.
Dames en here, ek lewer graag vanmiddag voor u my tweede begrotingsrede as Provinsiale Minister van Behuising. 
Ek is ook trots daarop dat ek hierdie begrotingsrede op die vooraand van die 10e herdenking van ons demokrasie lewer.
Daar is tasbare bewyse dat die regering onder leiding van die ANC baie in die net minder as tien jaar van sy demokratiese bewind vermag het as wat enige ander land ter wêreld nog gedoen het. 
Sisebenzile - Ons het presteer.
Prakties gesproke kan ek met trots aankondig dat van die 1.4 miljoen behuisingsgeleenthede wat die regering oor die afgelope nege jaar verskaf het, ons provinsie 167 000 eenhede gelewer het, naamlik 11% van die nasionale produksie. 
Na my mening is dit volgens enige standaard ’n uitstekende prestasie.
Ek wil ook noem dat die afgelope jaar vol uitdagings was wat die verskaffing van behuising landwyd nadelig getref het, veral in die provinsie.
Dié uitdagings het gespruit uit die nuwe beleidsvoorskrifte en -meganismes, soos ’n begunstigdebydrae van R2 479 en die instelling van die Nasionale Registrasieraad vir Huisbouers se waarborgskema op regeringsgesubsidieerde behuising.
Hierdie maatreëls beoog nie om verskaffing te vertraag nie, maar om te verseker dat ons mense bekostigbare behuising van gehalte ontvang. 
Die leerkurwe waardeur ons gaan in die implementering van dié beleide het lewering egter vertraag.
Om sake verder te vererger, moes my departement vir nege maande sonder ’n Hoofdirekteur bedryf word. 
Dit het vordering baie ernstig belemmer. 
Ek het sedertdien een aangestel, mnr. Seth Maqethuka, wat in Kaapstad gebore en getoë is en ervare is in nasionale en plaaslike regering, en vir wie ek graag wil gelukwens en verwelkom selfs al het ek dit reeds soveel keer gedoen.
Ondanks al hierdie uitdagings en beperkings, kondig ek met trots aan ons mense aan dat my departement R348 miljoen kon bestee, wat 92% van die behuisingstoewysing aan die Wes-Kaap is. 
Van die provinsies het skaars 52% van hulle begroting bestee.
Dit het gelei tot die goedkeuring van sowat 25 000 behuisingsubsidies. 
Al hoe meer arm gesinne gaan die kans kry om die vrugte van ons demokrasie te pluk. 
Dit, dames en here, verteenwoordig ’n beduidende toename van 3 000 eenhede vergeleke met die vorige jaar. 
In hierdie opsig erken ek graag die belangrike rol wat munisipaliteite in ons provinsie gespeel het. 
Sonder hulle toewyding en puik werk sou ons besteding nie moontlik gewees het nie.
In dieselfde asem wil ek die Stad Kaapstad gelukwens omdat sowat 70% van ons begroting spandeer is.
Daarby vergeet ek nie van my amptenare en hulle harde werk en bydrae tot ons visie van behuising vir die nasie nie.
Dames en here, ek sou egter my gewete verkrag as ek net ’n rooskleurige prentjie van die behuisingverskaffingsproses sou skilder. 
Daar is steeds leemtes in ons leweringsproses. 
Wat dit betref, moet ons steeds op die volgende dringende gebiede verbeter:
Die meeste van ons huise voldoen nog nie aan die beleidsverskuiwing van die hoeveelheid tot die gehalte van behuising nie.
Ons moet nog die proses van behuisingsverskaffing aanpas van die verskaffing van skuilings na die skepping van volhoubare menslike nedersettings.
Ons moet die deelname van begunstigdes van passiewe na aktiewe deelname omskakel.
Ons moet die denke van ons mense verander sodat hulle kan begin om staatsubsidiehuise nie as blote produkte nie maar as bates te beskou.
<Doc12>
SEKTORPOLISIËRING WERK
Daar was groot verligting vir moeder en kind toe die 16-dae-oue James Busakwe op 7 April 2006 met sy biologiese ma herenig is. 
Die beproewing het begin toe baba James se ma op 6 April by die Klerksdorp Hospitaal aankom om haar seun te besoek, en die verpleegpersoneel besef dat die kind aan ’n ander vrou gegee is, wat die vorige dag beweer het sy is die kind se biologiese ma.
Onmiddellik nadat die ontdekking gemaak is, het verpleegsters die Kanana-polisiestasie ingelig, omdat die vrou wat James kom haal het, ’n adres in Kanana verskaf het. 
Die adres is onverrigter sake besoek. 
Niemand met die vrou se naam of beskrywing was by hierdie adres bekend nie.
Op die aand van 6 April het die Kanana GPF ’n vergadering gehou. 
Die waarnemende stasiekommissaris het die vergadering van die ontvoerde kind in kennis gestel en almal versoek om hulle oë en ore oop te hou.
Ongeveer 23:00 op dieselfde aand het een van die gemeenskapslede die polisie gebel met inligting dat ’n vrou wat in sy sektor woon en na berig word nie swanger was nie, skielik ’n babaseuntjie by haar gehad het.
Die polisie het die inligting opgevolg en inderdaad die vrou en kind gevind. 
Hospitaalpersoneel is ontbied en het dadelik die kind sowel as die vrou wat hom uit die hospitaal ontvoer het, uitgeken. 
Verskillende bewysstukke, insluitende die plastiese hospitaalarmbandjie, is by die verdagte se huis gevind.
Die vrou is gearresteer en die ongedeerde kind is teruggeneem hospitaal toe, waar hy die volgende oggend met sy regte ma herenig is.
Die optrede van die gemeenskapslede wat by die ontdekking van die kind betrokke was, moet geloof word, want dit het die waarde van gemeenskapspolisiëring uitgelig. 
Die waarde van sektorpolisiëring wat korrek toegepas en volgehou word moet nooit onderskat word nie.
Gaan voort, Kanana GPF!
Geagte Mevrou
Ek neem aan dit was geluk of dalk ’n seën dat ek by u polisiestasie in Mondeor moes verbygaan en só op u SAPD-tydskrif afgekom het. 
Ek neem aan dit verskyn maandeliks, en dit was vir my baie interessante leesstof.
Ek en my vrou het pas ’n nuwe besigheid begin en nooi alle lede, of enige van u personeel in ons omgewing, om in te loer vir ’n gratis koppie koffie of tee, en ons sal hopelik kan sorg vir ’n koekie of twee daarby.
Ek glo u verstaan dat dit nie maklik is om ’n nuwe besigheid te begin nie en dat dit baie werk en kapitaal verg. 
Ons is egter steeds van mening dat die polisie en al die ander wetstoepassingsafdelings baie belangrik is vir alle Suid-Afrikaanse burgers.
Dit is net ’n klein blykie van waardering aan julle almal om dankie te sê vir alles wat julle opgeoffer het om te verseker dat ons, die burgers, met ons daaglikse lewe kan voortgaan.
Ons sien daarna uit om van u personeel te hoor of nog beter, om van die mense in uniform by ons winkeltjie te sien inloer en hulle beter te leer ken.
Nogmaals dankie aan julle, die wetstoepassingspersoneel van Suid-Afrika, vir al julle harde werk en toewyding om Suid-Afrika veilig te hou.
Kort, feitelike briewe kan aan die Redakteur gefaks of ge-e-pos word.
Ons behou die reg voor om briewe te redigeer of te verkort.
<Doc13>
’N OPROEP TOT AKSIE
Op 14 Junie 2007 beskryf een van die artikels in die SAPD se aanlyntydskrif (www.sapsjournalon-line.gov.za) hoedat twee polisiebeamptes van die Welkomse Voertuigidentifiseringseksie vir korrupsie en bedrog in hegtenis geneem is.
Na berig word, het dié twee, ’n superintendent en ’n inspekteur, voertuie wat deur die polisie teruggevind is, vir eie gewin verkoop. 
Albei verdagtes het op 12 Junie in die hof verskyn en die saak is tot 21 Augustus 2007 uitgestel.
’n Dag later, op 15 Junie 2007, verskyn ’n News24-berig onder die opskrif: “Twee van polisie vas vir gewapende roof.” 
Hierdie keer was dit ’n leerlingkonstabel en ’n inspekteur wat na bewering ’n klerewinkel in Marble Hall beroof het, en geld, ’n broek en 'n hemp gesteel het.
Korrupsie in die polisie moet tot 'n einde kom. 
Hoewel die meeste van ons eerlike, hardwerkende burgers is, respekteer sommige polisiebeamptes nie hulleself, hulle uniform of die Polisie se gedragskode nie. 
Dit is hoog tyd dat ons al hierdie negatiewe elemente eens en vir altyd uit die SAPD uitroei. 
Jy kan nou help om van dié korrupte polisielede ontslae te raak deur hulle via ’n nuwe misdaadlyn aan die kaak te stel. 
Anoniem!
As jy vermoed dat een van jou kollegas ’n misdaad beplan of as jy van enigiemand anders weet, hetsy polisiebeamptes, gesins- en familielede, kollegas, bure of vreemdelinge, wat betrokke is by of beoog om by misdaad betrokke te raak, hoef jy net ’n SMS na 32111 te stuur. 
Dit is die nommer van die nuwe nasionale misdaadlyn wat onlangs deur Primedia in Sandton bekendgestel is. 
Jy kan ’n SMS aan 32211 (teen R1 elk) of na www.crime-line.co.za stuur. 
Opgeleide datavasleggers is gereed om die inligting oor te dra aan die polisie, wat dadelik daarop sal reageer! 
Die beste is dat jy anoniem sal by. 
Nou het jy die mag om misdaad te help bestry sonder om jouself aan gevaar bloot te stel. 
Die Primedia-inisiatief beloof dat daar geen nagevolge sal wees nie. 
Yusuf Abramjee, Primedia se koördineerder van die teenmisdaadprojek, sê: “Ons wil nie jou naam en adres hê tensy jy dit vrywillig aan ons gee nie, en dis nie nodig om verklarings af te lê of in die hof te verskyn nie. 
Ons soek bloot na inligting oor misdadigers sodat die polisie daarop kan reageer.”
Hierdie nuwe multimiljoenrand- nasionale teenmisdaadveldtog is op 7 Junie 2007 in Sandton deur Primedia bekend gestel. 
Dit is op die stelsel van Misdaadstoppers Internasionaalgegrond. 
Misdaadstoppers het in September 1976 in Albuquerque, Nieu-Mexiko, ontstaan. 
Dit is ’n vennootskap tussen die gemeenskap, die media en wetstoepassingsagentskappe en is ontwerp om misdaad te bekamp en inwoners te beveilig. 
Vandag is daar sowat 1 200 Misdaadstoppersprogramme in 20 lande wêreldwyd, wat inligting wat die gemeenskap verskaf, gebruik om misdade op te los. 
Volgens Primedia Bpk. se HUB, mnr. William Kirsh, het dié programme bygedra tot die inhegtenisneming van 600 000 misdadigers!
Elke polisiebeampte moet weet dat hierdie nuwe veldtog teen misdaad die volle steun geniet van die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, mnr. Charles Nqakula, en die Nasionale Kommissaris van die SAPD, Kommissaris Jackie Selebi. 
Kommissaris Selebi het beloof dat “as ’n organisasie gaan ons alles in ons vermoë doen om hierdie projek te laat slaag.” 
Die vraag is, wat gaan jy daaromtrent doen? 
Almal se volle ondersteuning word vereis, nie net om dadelik te reageer as jy inligting van die misdaadlynsentrum ontvang nie, maar ook om dié inisiatief te bemark waar jy ook al kan. 
Vertel mense, die GPF’s, skole, jou familie en vriende van dié inisiatief. 
Maak seker dat hulle verstaan dat die veldtog beloof dat daar geen nagevolge sal wees nie, dat hulle anoniem sal bly al gebeur wat. 
En onthou, hierdie is nie ’n noodlyn nie.
Mense moet noodgevalle steeds by 10111 of hulle naaste polisiestasie aanmeld.
Deur hierdie teenmisdaadveldtog het die media na die polisie uitgereik. 
Hulle wil ons help om Suid-Afrika ’n veiliger plek vir almal te maak. 
Tydens die bekendstelling van die misdaadlyninisiatief het John Robbie, die oggendprogramaanbieder van Talk Radio 702, 65 ID-instrumentmasjiene aan die SAPD oorhandig. 
Mnr. Robbie het onlangs ’n beroep op luisteraars uitgesaai om geld vir dié ID-instrumentmasjiene te beloof. 
Die masjiene se kleinhandelaar, Face Technology, het sy kant gebring deur die masjiene se pryse na kosprys te verminder, wat maatskappye wat oorspronklik genoeg geld vir een masjien beloof het, om twee te koop.
Primedia en John Robbie is nie die enigstes wat die polisie daadwerklik help in die bekamping van misdaad nie. 
Lees enige van die suksesverhale in die SAPD se tydskrif of aanlyntydskrif en jy sal sien hoe sake met die hulp van gemeenskapslede opgelos is.
Noudat hierdie nuwe teenmisdaadveldtog gevestig is, sal misdadigers, insluitende die paar korruptes in die diens, sonder twyfel weet ... hulle dae is getel.
<Doc14>
ETQA-diensverskaffersakkreditering
Suid-Afrikaanse Regeringsdienste
Aansoek by ’n ETQA vir akkreditering as voorsiener van onderwys en opleiding
Beskrywing 
Die regulasies van toepassing op die Onderwys-en-Opleiding Kwaliteitsversekeringsliggame (ETQA) onder die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO) vereis dat verskaffers van onderwys en opleiding by ’n ETQA aansoek doen om akkreditering. 
Om geakkrediteer te word, moet verskaffers van onderwys en opleiding kragtens die toepaslike wetgewing geregistreer wees. 
Wetgewing ten opsigte van Hoër Onderwys en Voortgesette Onderwys vereis dat alle verskaffers van onderwys en opleiding wat volle kwalifikasies aanbied, by die Departement van Onderwys geregistreer moet wees.
Die verskaffer van onderwys en opleiding moet eenheidstandaarde en/of kwalifikasies bied wat binne die primêre fokusgebied val van die Onderwys-en-opleiding Kwaliteitversekeringsliggaam (ETQA) van die Sektorale Onderwys- en Opleidingsgesag (SETA) of beroepsliggaam.
Vereistes vir akkreditering:
* Die vereistes vir akkreditering is vervat in die dokument Kriteria en Riglyne vir Verskaffers en is op die SAKO-webwerf beskikbaar.
* Die programme (en/of assesserings) wat die verskaffer van onderwys en opleiding bied, kulmineer in eenheidstandaarde en/of kwalifikasies wat in die nasionale kwalifikasieraamwerk (NKR) geregistreer is.
* Die leerplan (ontwerp, inhoud en leermateriaal) is belyn met die eenheidstandaarde en/of kwalifikasies.
* Daar is paslik gekwalifiseerde personeel (fasiliteerders en geregistreerde assessors).
* Die leerders het toegang tot voldoende leerondersteuningsdienste.
* Die assesseringsmetodes en instrumente wat gebruik word om die vereistes vir die eenheidstandaard en/of kwalifikasie te meet, is billik, geldig en betroubaar, en word gebruik om kennisverwerwing te versterk.
Stappe om te volg
* Stuur ’n brief van u voorneme om as ’n verskaffer van onderwys en opleiding geakkrediteer te word, aan die betrokke ETQA.
* Lê ’n selfevaluering en aansoekvorm aan ETQA voor.
* As u nie akkreditering ontvang nie en van mening is dat die proses onbillik was, het u die reg tot appèl.
* ’n Lys ETQA’s en kontakbesonderhede is op die SAKO-webwerf beskikbaar.
Dit kan tot 6 maande duur.
Die diens is gratis.
Vorms wat ingevul moet word
Aansoekvorms vir verskaffersakkreditering en verwante dokumentasie kan van die betrokke ETQA verkry word.
Kontakinligting – kies asseblief een opsie:
