<Doc01>
Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid
Handves vir Kliëntesorg
Welkom by ons Handves vir Kliënte
Ons wil hê u, ons kliënt, moet ons beoordeel volgens die diensstandaard wat ons in hierdie handves uiteensit.
Ons sal u met respek behandel en goeie diens aan u lewer ooreenkomstig die BATHO PELE-beginsels.
As deel van ons verantwoordelikheid onderneem ons om ’n wêreldklas diens te lewer en vir u akkurate inligting, advies en bystand vir al ons dienste te gee.
Doel van die Handves
Hierdie handves sê vir u watter diensstandaard u van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) kan verwag.
SASSA is ’n verlenging van ’n regeringsleweringsvertakking wat die lewering van maatskaplike toelaes aan die burgers van Suid-Afrika administreer.
Ons onderneem
Om maatskaplikesekerheidsdienste van gehalte kostedoeltreffend en doelmatig te administreer met gebruikmaking van die beste praktyke.
Wat u van ons kan verwag
Bevordering en beskerming van menswaardigheid, Vertroulikheid, Integriteit, Billikheid, Deursigtigheid en Regverdigheid.
Dwarsdeur die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid sal ons
Vir u inligting en advies gee oor al die toelaes waarvoor u aansoek kan doen.
U na ander instellings verwys wat na u behoeftes kan omsien.
U bystaan om ons vorms in te vul/te voltooi en vir die toelaag aansoek te doen.
Die inligting wat u aan ons verstrek, vertroulik hou.
Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, die wette wat die staatsdiens beheer en die gedragskode van die staatsdiens altyd handhaaf.
U in ’n taal van u keuse bedien.
Saamwerk met die mense wat ons dien en ander belanghebbendes.
Strewe na deurlopende verbetering van dienslewering om aan u verwagtinge te voldoen.
Kontak ons
Wanneer u ons persoonlik of per telefoon, brief of e-pos kontak, sal die volgende gebeur:
Die kliëntediensagent met wie u skakel, sal hom of haar identifiseer.
Vir telefoniese en persoonlike navrae sal ons u navrae onmiddellik oplos.
As ons dit nie onmiddellik kan oplos nie, sal ons redes verstrek en die kliënt inlig wanneer om ’n reaksie te verwag.
Ons sal vir u ’n verwysingsnommer gee sodat u ’n opvolgnavraag oor u navraag kan doen.
Ons sal ontvangs erken van enige kommunikasie wat u stuur en ons sal die navraag binne 7 werkdae hanteer.
As ons u nie binne 7 dae volledig kan antwoord nie, sal ons vir u sê hoekom nie en wanneer u die antwoord kan verwag.
Ons sal probeer om u navraag binne 21 werkdae op te los.
As u telefonies met ons skakel, sal ons probeer om u oproep so gou moontlik in die amptelike taal van u keuse te beantwoord.
Ons sal elke besluit oor u toelaag skriftelik aan u meedeel.
By SASSA-kantore
By u aankoms in een van ons kantore sal ons hulptoonbankpersoneel u onmiddellik bystaan.
Al ons kantore is oop van 08h00 tot 16h30, Maandag tot Donderdag, en van 08h00 tot 16h00 op Vrydag.
By ons kantore en betaalpunte sal u toegang tot die volgende hê:
Privaatheid
Gerieflike wagruimtes
Toiletfasiliteite
Mediese bystand as u ons vooraf van so ’n behoefte in kennis stel
Ons sal na u toe kom as u om mediese redes nie ons kantore kan besoek nie.
U kan ons skakel en ons sal ’n tuisbesoek reël.
Hantering van u aansoek vir ’n maatskaplike toelaag
Ons sal op dieselfde dag begin om u aansoek te prosesseer.
Ons moet seker maak dat u wetlik op die toelaag geregtig is.
Ons het vir onsself teikens gestel om u eis te hanteer en u toelaag binne 90 dae te betaal.
Ons sal u laat weet van u reg op appèl in die geval van verwerpings, opskortings en kansellasies.
Besluitneming
As ons ’n besluit oor u aansoek vir ’n toelaag neem en u dink dit is verkeerd, of as u meer inligting oor die besluit wil hê, kan u die volgende doen:
Vra ons om die besluit in meer besonderhede te verduidelik, en ons sal aan u versoek voldoen.
U kan teen ons besluit appelleer slegs binne 30 dae na die datum op die besluitbrief.
U kan toegang tot u lêer kry vir enige inligting wat u nodig het.
U verantwoordelikheid sal wees
Om ons te voorsien van:
U korrekte pos- en woonadres.
Veranderinge in u persoonlike omstandighede soos inkomste, adres, mediese toestand, ens.
Eerlike, korrekte, akkurate en volledige inligting of verduideliking te alle tye. 
Tydige reaksie op al ons korrespondensie, insluitende hersiening of enige ander inligting wat van u verlang word.
Ontevrede met ons diens?
As u ontevrede is met ons diens omrede:
Ons te lank geneem het om u toelaag te prosesseer en/of u u betaling nie betyds ontvang het nie.
Die optrede van ons beampte ongewens was.
Ons personeel ’n fout gemaak het met u aansoek of vir u verkeerde advies gegee het.
Enige opsetlike/onopsetlike fout aan ons kant
laat ons daarvan weet, en ons sal enige fout wat ons gemaak het, onmiddellik regstel.
As u ’n klag wil rig, skryf asseblief aan ons of skakel en vra om na ons kliëntedienseenheid verwys te word.
Ons sal ons dienste met u bespreek.
Ons stel belang in u menings oor ons dienste.
Ons sal die inligting wat u vir ons gee, gebruik om ons dienste te verbeter.
Stuur asseblief vir ons terugvoer volgens enige van die metodes hieronder:
Skakel ons tolvry inbelsentrumnommer – 0800 601 011. 
Vul ’n kliëntkommentaarkaartjie in wat by ons kantore en betaalpunte beskikbaar is.
Besoek ons webwerf by www.sassa.gov.za.
Besoek enige van ons kontakpunte.
(Distriks-, plaaslike, diens- en betaalpunte)
Dien ’n skriftelike voorlegging by enige van ons kantore in.
Vrae of kommentaar oor hierdie handves
As u enige verdere inligting oor hierdie handves wil hê, skakel met enige van ons kantore.
U kan hierdie handves in Braille, oudioband en CD kry, as u vra.
Hierdie Handves tree op 01/04/2007 in werking en sal jaarliks hersien word om vir u kommentaar voorsiening te maak.
<Doc02>
Statistieke Suid-Afrika - Nuus
Binne Statistieke: Behoefte aan statistieke sal toeneem namate demokrasie verdiep
Hierdie artikel is oorspronklik op 05 Augustus 2004 in die Business Report gepubliseer
Ek het verlede week die streekadviesraadsvergadering van die Oos-Afrikaanse Statistiekopleidingsentrum in Tanzanië bygewoon, waar ek die geleentheid gehad het om die sentrum se 39ste jaarlikse gradeplegtigheid by te woon, waaraan vyf personeellede van Statistieke SA deelgeneem het.
Die opleiding van Statistieke SA-personeel is ’n organisatoriese passie.
Kort na my aanstelling as statistikus-generaal het Statistieke SA, in samewerking met die Statistiekeraad, begin met ’n dringende soektog na instellings wat gepaste opleiding in amptelike data aanbied.
Ons het twee instellings geïdentifiseer: die opleidingsentrum in Dar es Salaam, Tanzanië, en die Instituut vir Statistiek en Toegepaste Ekonomie in Uganda.
Die opleidingsentrum is in 1965 ingestel deur die VN se Ekonomiese Kommissie vir Afrika, die Oos-Afrikaanse Organisasie vir Gemeenskaplike Dienste en die VN se Ontwikkelingsprogram.
Teen 1977 het die Tanzaniese regering die bedryf van die sentrum oorgeneem en die aantal Afrikalande wat deur die sentrum bedien word, tot 13 uitgebrei.
Die instituut in Uganda is in 1969 gestig, binne die regsraamwerk van die Makerere-universiteit.
Die verklaarde oogmerk was die hoëvlakopleiding van professionele persone in statistiek en toegepaste ekonomie.
Statistieke SA stuur die afgelope drie jaar personeellede na hierdie instellings.
Die eerste groep het verlede jaar gegradueer.
Sedert hulle terugkeer toon hulle ’n geweldige verbetering in prestasie, en sommige beklee nou bestuursposisies.
Statistieke SA kom egter voor nuwe uitdagings te staan.
Die behoefte aan statistiese inligting vir besluitneming, op al drie regeringsvlakke, neem geweldig toe.
Veral mense wat opgelei is in die insameling en gebruik van statistiese inligting op munisipale vlak, raak kritiek.
Om in hierdie behoefte te voorsien, sal ons mense moet oplei teen ’n tempo van ten minste 2 000 per jaar.
Die Tanzaniese opleidingsentrum en die Ugandese Instituut vir Statistieke en Toegepaste Ekonomie kan hoegenaamd nie in so ’n groot vraag voorsien nie.
Tydens die opening van die SA Statistiekvereniging se konferensie verlede jaar het die minister van finansies, Trevor Manuel, Suid-Afrikaanse universiteite uitgedaag om aandag aan die tekort aan beskikbare statistiese vaardighede te gee om die regering te help om ingeligte besluite te neem op grond van akkurate statistiese inligting.
Statistieke SA het begin met samesprekings met universiteite met die doel om sulke opleiding in te stel.
In hierdie stadium bied geen Suid-Afrikaanse universiteit egter ’n kursus in amptelike statistieke aan nie.
Statistieke SA beplan om in die nabye toekoms ’n statistiekopleidingsentrum in te stel wat opleiding sal bied in amptelike statistieke vir sowel interne personeel as personeel van ander departemente.
Die implementering van ’n stelsel van nasionale statistieke sal lei tot die behoefte om statistiekeenhede in die verskillende staatsdepartemente te stig, wat ’n nog groter vraag na geskoolde statistiekkapasiteit sal skep.
Die ontwikkeling van statistiekkapasiteit hou egter verband met meer as die regering se behoefte aan akkurate inligting.
Statistieke raak aan die kern van demokrasie.
HG Wells het aan die begin van die 20ste eeu gesê statistieke gaan in die toekoms net so noodsaaklik vir die burgery wees as die vermoë om te lees en te skryf.
Openbare statistieke is ’n onlangse kulturele prestasie wat met die koms van demokrasie ontwikkel het.
In ’n Afrikakonteks, waar demokrasie ’n meer onlangse verskynsel is, gaan daar ’n duidelike toename in die vraag na openbare statistieke wees namate demokrasie verdiep.
Statistici is bewaarders van demokratiese beginsels van deursigtigheid in meting en toegang, en dus van aanspreeklikheid. 
Dit is wat op die spel is in die poging om statistiekkapasiteit te vergroot en om die instellings te ontwikkel wat nodig is vir ’n massiewe en snelle uitbreiding in die onderrig van amptelike data.
Pali Lehohla is statistikus-generaal en hoof van Statistieke SA.
Vir meer inligting oor Statistieke SA en sy uitsette, besoek www.statssa.gov.za of skakel (012) 310-8600
<Doc03>
16 Dae van Aktivisme: het jy geweet?
Die Regering ontwikkel sedert 1994 wetgewing om die onreg waardeur vroue en kinders geraak word, reg te stel.
Wet op die bevordering van gelykheid en voorkoming van onbillike diskriminasie, 2000, is aangeneem om te verseker dat almal Grondwetlike regte geniet.
Hierdie wet verseker dat vroue gelyke regte en vryhede het, om die onreg van die verlede reg te stel. 
Wet op diensbillikheid, 1998, verseker dat diskriminasie in diens, beroep en inkomste in die arbeidsmark wat uit apartheidswette voortspruit, verminder word.
Dit moedig billike verteenwoordiging van vroue en ander histories benadeelde persone op alle vlakke van openbare en private entiteite aan.
Wet op Onderhoud, 1998, waarborg die regte van ’n kind op ’n lewenstandaard wat toereikend is vir fisiese, verstandelike, geestelike en sosiale ontwikkeling.
Die Wet verseker dat die onderhoud vir die kind verhaal word van die ouers of ander persone wat finansieel vir die kind verantwoordelik is.
Wet op Gesinsgeweld, 1998, is verorden om oorlewendes van geweld maksimum beskerming teen gesinsgeweld te bied.
Vroue, wat aan die ontvangkant van gesinsgeweld is, het nou ’n regstoevlug wat hulle beskerming sal verseker.
Kinderwet, 2005, en kinderwysigingswet, 2007, is verorden onder meer om ’n kind teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik of vernedering te beskerm. 
Die regering implementeer en steun baie ingrypings wat die menswaardigheid van vroue en kinders beskerm.
Die Handves van Kinderregte word hersien en bygewerk om ook opkomende uitdagings soos die gebruik van kinders as onderwerp van pornografie en kinders se blootstelling aan pornografiese materiaal in te sluit.
Die regering reageer op die uitdaging van gedwonge huwelike van kinders met volwassenes onder die voorwendsel van ’n tradisionele praktyk genaamd "Ukuthwala".
Die regering is daartoe verbind om te verseker dat tradisionele en ander praktyke in ooreenstemming is met die Grondwet en toepaslike wetgewing.
Die proses is aan die gang om gespesialiseerde polisie-eenhede wat gesins- en seksuele misdrywe en ander misdade teen vroue en kinders hanteer, weer in te stel.
Die instelling van gespesialiseerde eenhede sal die kundigheid mobiliseer wat nodig is om die bestuur en suksesvolle vervolging van misdade teen vroue en kinders te verbeter.
Daar is tans 17 Thuthuzela-sorgsentrums dwarsoor die land in gemeenskappe met hoë voorkomssyfers van seksuele geweld.
Die Sentrums lewer gesondheids- en welsynsdienste en inisieer ook prosesse vir doeltreffende aanmelding en vervolging van misdrywe in ’n waardige en sorgsame omgewing deur gekwalifiseerde professionele persone.
Fondse uit die Herwinning van Misdaadbates is gebruik om 19 slagofferbemagtigingsprojekte te befonds.
Die Gids oor Dienste vir Slagoffers van Geweld en Misdaad, wat dienste bevat wat deur meer as 1 500 regerings- en burgerlikesamelewingsorganisasies in al die provinsies gelewer word, is ontwikkel.
Die gids bemagtig mense om gebruik te maak van dienste wat in hulle gebied beskikbaar is.
Slagoffervriendelike fasiliteite is ingestel in polisiestasies met hoë kontakmisdaad.
Toegewyde Howe vir Seksuele Misdrywe is ontwikkel.
Die Wet op Gesinsgeweld maak voorsiening vir die instelling van skuilings.
Daar is tans 96 skuilings in Suid-Afrika, teenoor 39 in 2001.
Die regte in die Slagoffershandves word verwesenlik vir slagoffers van misdaad wat by die Strafregstelsel betrokke raak
Hierdie Handves sluit in die Minimum Standaarde vir Dienste vir Slagoffers van Misdaad, wat ’n regsraamwerk uiteensit vir slagoffers om hulle regte op verwagte dienste van die Strafregstelsel af te dwing.
Sedert die implementering van die Slagoffershandves het die getal dae wat dit neem om ’n saak in Howe vir Seksuele Misdrywe af te handel, van 285 tot 142 gedaal. 
Die Handves is ook ’n vereiste vir die Regering van Suid-Afrika om sy internasionale verpligting na te kom ingevolge die Verenigde Nasies (VN) se Verklaring van die Basiese Beginsels van Geregtigheid vir Slagoffers van Misdaad en Magsmisbruik.
Internasionale samewerking om geweld teen vroue en kinders die hoof te bied.
Suid-Afrika het sy verslag oor vordering met die implementering van die Konvensie oor die Uitskakeling van Diskriminasie teen Vroue aan die UN se KUDIV-komitee voorgelê.
Suid-Afrika het ’n Ministeriële Vergadering van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) aangebied (09 Oktober) om die 10-jaar regionale strategiese plan van aksie oor handel in persone, veral vroue en kinders, te finaliseer.
Die SAOG-protokol oor Gender en Ontwikkeling verklaar dat SAOG-lidstate teen 2015 wetgewing moet verorden het wat seksuele teistering bekamp.
Suid-Afrika het die Gendergeregtigheid-streekberaad (9–10 November 2009) aangebied, waar verteenwoordigers van Afrikalande byeengekom het om ervarings en beste praktyke ter uitskakeling van seksuele en gendergebaseerde geweld te deel.
Moenie wegkyk nie, doen iets teen misbruik
<Doc04>
Privaatheidsverklaring
Die Departement van Behuising is daartoe verbind om u privaatheid te beskerm en om tegnologie te ontwikkel wat u die kragtigste en veiligste aanlynervaring bied.
Hierdie Privaatheidsverklaring is op die Departement van Behuising se webwerf van toepassing en beheer die insameling en gebruik van data.
Deur die Departement van Behuising se webwerf te gebruik, stem u in tot die datapraktyke wat in hierdie verklaring beskryf word.
Insameling van u Persoonlike Inligting
Die Departement van Behuising samel persoonlik identifiseerbare inligting in, soos u e-posadres, naam, huis- of werkadres of telefoonnommer.
Die Departement van Behuising samel ook anonieme demografiese inligting in, wat nie uniek aan u is nie, soos u ZIP-kode, ouderdom, geslag, voorkeure, belangstellings en gunstelinge.
Daar is ook inligting oor u rekenaar se hardeware en sagteware wat outomaties deur die Departement van Behuising ingesamel word.
Hierdie inligting kan insluit: u IP-adres, blaaiertipe, domeinname, toegangstye en webwerfadresse waarna verwys word.
Hierdie inligting word deur die Departement van Behuising gebruik vir die bedryf van die diens, om gehalte van die diens te handhaaf en om algemene statistieke oor die gebruik van die Departement van Behuising se webwerf te verskaf.
Hou asseblief in gedagte dat as u persoonlik identifiseerbare inligting of persoonlik sensitiewe data regstreeks deur die Departement van Behuising se openbare boodskapborde bekend maak, hierdie inligting deur andere ingesamel en gebruik kan word.
Nota: Die Departement van Behuising lees nie enige van u privaat aanlyn kommunikasie nie.
Die Departement van Behuising moedig u aan om die privaatheidsverklarings van webwerwe waaraan u vanaf die Departement van Behuising wil koppel, te bestudeer sodat u kan verstaan hoe daardie webwerwe u inligting insamel, gebruik en deel.
Die Departement van Behuising is nie vir die privaatheidsverklarings of ander inhoud op webwerwe buite die Departement van Behuising en die Departement van Behuising-familie van webwerwe verantwoordelik nie.
Gebruik van u Persoonlike Inligting
Die Departement van Behuising samel u persoonlike inligting in en gebruik dit om die Departement van Behuising se webwerf te bedryf en die dienste te lewer wat u versoek het.
Die Departement van Behuising gebruik ook u persoonlik identifiseerbare inligting om u in kennis te stel van ander produkte of dienste wat van die Departement van Behuising en sy filiale verkrygbaar is.
Die Departement van Behuising kan u ook deur middel van opnames kontak om navorsing te doen oor u mening oor huidige dienste of potensiële nuwe dienste wat aangebied kan word.
Die Departement van Behuising verkoop of verhuur nie sy kliëntelyste aan derde partye nie.
Die Departement van Behuising kan u van tyd tot tyd namens eksterne sakevennote kontak oor ’n bepaalde aanbieding wat vir u van belang kan wees.
In daardie gevalle word u unieke persoonlik identifiseerbare inligting (e-pos, naam, adres, telefoonnommer) nie aan die derde party oorgedra nie.
Voorts kan die Departement van Behuising data met vertroude vennote deel om ons te help om statistiese ontleding te doen, e-pos of landpos te stuur, kliëntesteun te bied of aflewerings te reël.
Al sulke derde partye word verbied om u persoonlike inligting te gebruik, behalwe om hierdie dienste aan die Departement van Behuising te lewer, en hulle moet die vertroulikheid van u inligting handhaaf.
Die Departement van Behuising gebruik nie sensitiewe persoonlike inligting, soos ras, godsdiens of politieke affiliasie, en maak dit ook nie bekend nie sonder u uitdruklike toestemming.
Die Departement van Behuising monitor die webwerwe en webblaaie wat ons kliënte in die Departement van Behuising besoek, ten einde te bepaal watter dienste van die Departement van Behuising die gewildste is.
Hierdie data word gebruik om pasgemaakte inhoud en reklame in die Departement van Behuising te verskaf aan kliënte wie se gedrag aandui dat hulle in ’n bepaalde vakgebied belang stel.
Die Departement van Behuising se webwerwe sal u persoonlike inligting sonder kennisgewing bekend maak slegs as dit by wet vereis word of in die oortuiging dat sodanige optrede nodig is om: (a) ooreen te kom met die bepalings van die reg of te voldoen aan regstukke wat aan die Departement van Behuising of die webwerf beteken is; (b) die regte of eiendom van die Departement van Behuising te beskerm en te verdedig; en (c) in dringende omstandighede op te tree om die persoonlike veiligheid van gebruikers van die Departement van Behuising of die publiek te beskerm.
Gebruik van Koekies
Die Departement van Behuising se webwerf gebruik “koekies” om u te help om u aanlyn ondervinding te verpersoonlik.
’n Koekie is ’n tekslêer wat op u hardeskyf geplaas word deur ’n webbladbediener.
Koekies kan nie gebruik word om programme te laat loop of virusse op u rekenaar te plaas nie.
Koekies word uitsluitlik aan u toegewys en kan gelees word net deur ’n webbediener in die domein wat die koekie aan u uitgereik het.
Een van die primêre doeleindes van koekies is om ’n geriefsfasiliteit te verskaf om vir u tyd te bespaar.
Die doel van ’n koekie is om vir die webbediener te sê u het na ’n spesifieke blad teruggekeer.
Byvoorbeeld, indien u die blaaie van die Departement van Behuising verpersoonlik het, of by ŉ webwerf of diens van die Departement van Behuising geregistreer het, sal ŉ koekie help om u besondere inligting by ŉ volgende besoek te herroep.
Dit vereenvoudig die proses om u persoonlike inligting aan te teken, soos rekeningadresse, versendingsadresse en dies meer.
Wanneer u na dieselfde webwerf van die Departement van Behuising terugkeer, kan die inligting wat u voorheen verstrek het, herwin word sodat u die Departement van Behuising se eienskappe wat u aangepas het, maklik kan gebruik.
U het die vermoë om koekies te aanvaar of te verwerp.
Die meeste webblaaiers aanvaar koekies outomaties, maar u kan gewoonlik u blaaierstelling verander om koekies te weier as u dit verkies.
As u besluit om koekies te weier, sal u dalk nie die interaktiewe eienskappe van die Departement van Behuising se dienste of webwerwe wat u besoek, ten volle kan ervaar nie.
Sekuriteit van u Persoonlike Inligting
Die Departement van Behuising beveilig u persoonlike inligting teen ongemagtigde toegang, gebruik of bekendmaking.
Die Departement van Behuising beveilig die persoonlike identifiseerbare inligting wat u op rekenaarbedieners verskaf in ŉ beheerde, veilige omgewing beskerm teen ongemagtigde toegang, gebruik of openbaarmaking.
Wanneer persoonlike inligting (soos ’n kredietkaartnommer) na ander webwerwe versend word, word dit beskerm deur die gebruik van enkodering, soos die Secure Socket Layer (SSL)-protokol.
Veranderinge aan hierdie Verklaring 
Die Departement van Behuising sal hierdie Verklaring van Privaatheid van tyd tot bywerk om maatskappy- en kliëntterugvoer te weerspieël.
Die Departement van Behuising moedig u aan om hierdie Verklaring periodiek na te gaan om ingelig te word oor hoe die Departement van Behuising u inligting beskerm. 
Kontakinligting
Die Departement van Behuising verwelkom u kommentaar rakende hierdie Privaatheidsverklaring.
Indien u glo dat die Departement van Behuising nie by hierdie Verklaring hou nie, kontak asseblief die Departement van Behuising by webmaster@kznhousing.gov.za.
Ons sal kommersieel redelike pogings aanwend om die probleem onverwyld te bepaal en reg te stel.
<Doc05>
Premier Ebrahim Rasool se Toespraak by die Matriekvieringsfunksie
Ons is vandag hier om ons topmatrieks geluk te wens.
Ons sê vir hulle: Knap gedaan! Ons is trots op julle, die Provinsie en Land is trots op julle, julle ouers is trots op julle, en die belangrikste is julle moet trots op julself wees.
Die rede waarom ons op ’n oomblik soos dié van trots praat, is ter erkenning van die feit dat ’n oomblik van prestasie voortspruit uit ’n langer tyd van moeilikheid en opoffering, dat vandag ’n oomblik van helderheid verteenwoordig uit omstandighede wat die beste as kompleks beskryf kan word.
Matriek is kompleks.
Oor die afgelope tien jaar moes ons die hele onderwysstelsel uit sy apartheidsoriëntering skuif.
Ons het in groot mate geslaag betreffende groter integrasie, ’n enkele leerplan en eksamen, groter getalle van diegene wat matriek skryf en slaag, en ’n bewustheid dat onderwys ook meer as net individuele behoeftes dien – dat die hele ekonomie afhanklik is van die stel vaardighede wat deur die onderwysstelsel gelewer word.
Matriek is inderdaad kompleks.
Ons leiers wat hier by Leeuwenhof byeen is, is ongetwyfeld die beste wat ons het, diegene wat die beste presteer het, en diegene wat al die lofbetuigings verdien wat hierdie Provinsie kan lewer.
Maar ons dink ook aan die 71% van die bevolking ouer as 20 jaar wat nie sekondêre onderwys voltooi het nie, die nagenoeg helfte van die 80 000 wat 12 jaar gelede met Graad 1 begin het wat in 2004 nie eers die eksamen geskryf het nie omdat hulle langs die pad uitgesak het, en die baie wat geskryf het maar as gevolg van vak- en graadkeuses matrieksertifikate het wat nie deur die ekonomie of tersiêre onderwys geabsorbeer kan word nie.
Matriek word nog meer gekompliseer deur die feit dat julle ons vertoonvensters is.
Die nasie beoordeel ons toekoms aan julle prestasie.
Hulle grond hulle optimisme op julle welstand.
Hulle grond hulle hoop vir die toekoms op ons investering in die onderwysstelsel wat tot hierdie oomblik van viering lei.
En ja, die grootste deel van sowel die nasionale as die provinsiale begroting gaan na onderwys.
Net vanjaar, om die diens van 2 000 opvoeders te behou, moes ons geld van ander provinsiale funksies vir onderwys aanwend.
Ons moet ons investering in armer skole versterk sodat die gehalte van onderwys in toenemende getalle gevoel word deur die groter geloof in die toekoms in elke townshipskool.
Die belangrikste, Minister Dugmore en Superintendent-generaal Swartz, is dat ons een kans het om met ’n Menslikehulpbronstrategie vorendag te kom om al hierdie investering te regverdig.
Ons moet matrikulante oplewer wat sterk is in hulle waardes, uitstaande in hulle resultate, relevant vir die ekonomie, getrou aan hulle samelewing en voordelig is vir die mensdom.
Dit is wat ons vandag hier kom vier.
Julle verteenwoordig hierdie hoop terwyl ons ons Tuiste vir Almal bou.
Ons vier julle prestasies omdat julle opgeoffer en hard gewerk het, julle ouers opgeoffer en julle op skool gehou het, en julle samelewing opgeoffer en in julle toekoms geïnvesteer het.
Baie betwyfel die waarde van die viering van matriekprestasies omrede die kompleksiteite daarvan en die feit dat dit dalk steeds die reste van ’n apartheidstelsel weerspieël.
Net julle kan dit oorkom deur aktief en bewustelik daartoe verbind te wees om ’n Tuiste vir Almal te bou, een wat nierassig en gelyker is.
Dit moet weerspieël word in al die keuses wat julle van nou af maak.
Tot dusver moes julle net kies hoe hard julle wil werk.
Julle matrieksertifikate maak dit vir julle moontlik en noodsaak julle om besluite en keuses te maak oor die soort persoon wat julle wil wees en die soort lewe wat julle wil lei.
Geluk en beste wense.
<Doc06>
Die Bestuursmissie van die Regeringskommunikasieprojek vir 2010 is om:
die verwesenliking van die strategiese kommunikasiedoelwitte vir die eerste Afrika-FIFA-wêreldbeker te fasiliteer
die meeste te maak van hierdie unieke geleentheid om eenheid en trots onder Suid-Afrikaners uit te druk en uit te bou
ons jeug te inspireer
die land aan die wêreld te bemark
’n kommunikasieklimaat te skep wat help om hierdie kans te gebruik om ontwikkeling te versnel en geleenthede te vergroot
Afrikasolidariteit uit te bou.
Dit sal gedoen word deur:
leierskap en koördinasie vir regeringskommunikasie vir die 2010-Wêreldbeker te verskaf
’n nasionale vennootskap van openbare en privaat kommunikeerders in verskeie dissiplines te vorm, asook bondgenootskappe te smee met kommunikeerders op die vasteland en in die diaspora, sodat die land en die vasteland gesamentlik voordeel kan trek uit hierdie kommunikasiegeleentheid van ’n leeftyd
sleutelregeringskommunikasieprojekte vir die 2010-Sokkerwêreldbeker te onderneem.
<Doc07>
Nasionale Padverkeersregulasies Gewysig om padveiligheid te verbeter
POLOKWANE: Die Nasionale Padverkeersregulasies is gewysig.
Dit word die Sewentiende Wysiging genoem en het met publikasie in werking getree.
Die Departement van Paaie en Vervoer lig motoriste in oor die wysigings, naamlik:
Nuwe motorvoertuie wat na 01 Augustus 2010 geregistreer is, moet nommerplate hê wat met klinknaels of skroewe vasgeheg is.
As dit nie aan die voertuig aangebring kan word nie, moet dit aangebring word in ’n klamp wat aan SANS 973 voldoen.
Hierdie wysiging sal lei tot ’n afname in misdaad en padverkeersmisdrywe deur motoriste wat die nommerplate maklik verwyder sodat hulle nie opgespoor kan word nie.
Dit sal nie maklik wees om die nommerplaat te verwyder en terug te sit nadat ’n misdaad gepleeg is nie, omdat dit altyd bykomende koste sal behels.
Die nommerplaat word van aluminium gemaak, wat dit moeilik sal maak om onherkenbaar te verbrand op ’n ongelukstoneel.
Met ingang van 1 Februarie 2011 sal persone wat bestuurslisensies vir ’n kode C-, C1-, EC- of EC1-bestuurslisensie verkry, nie toegelaat word om ’n motorvoertuig te bestuur wat ’n kode B- of kode EB-lisensie vereis nie (volgens die ou bedeling mag ’n persoon met ’n kode 10-, 11-, 13- of 14-lisensie nie ’n voertuig bestuur waarvoor ’n kode 08-lisensie vereis word nie).
Dit sal net op nuwe lisensiehouers van toepassing wees.
Heelwat leerlingbestuurders doen aansoek vir swaarmotorvoertuigbestuurslisensies pleks van ligte motorvoertuie sodat hulle byvoorbeeld parallelparkeertoetse kan vermy.
Die werklikheid is dat nadat hulle hulle swaarmotorvoertuiglisensies verkry het, hulle ligte motorvoertuie bestuur waarvan hulle nie met die bestuurskontroles vertroud is nie en dan in ongelukke betrokke raak.
Daar word ook verwag dat alle bestuurders wat swaarmotorvoertuigbestuurslisensies verkry het, Professionele Bestuurspermitte moet besit, maar die statistieke dui op iets anders.
Dit bewys die feit dat die aansoekers die bestuurslisensies vir ligte motorvoertuie moes kry en nie vir swaar motorvoertuie nie.
Rigtingstabiliteitbeheertoestelle vir mini- en midibusse word ingebring deur ’n sertifiseringsproses wat deel van die padwaardigheidstoets uitmaak.
Dit geld vir alle mini- en midibusse en nie net nuut vervaardigde voertuie nie.
Die geregistreerde eienaar van ’n motorvoertuig of gevolmagtigde moet ’n behoorlik ingevulde vorm DSCD aan die toetsstasie voorlê.
’n Rigtingstabiliteitbeheertoestel is ’n toestel wat voorkom dat ’n band van die naaf loskom wanneer die band bars terwyl die voertuig beweeg.
’n Wysiging van Regulasie 332 is gepubliseer en lys die bewyslewerende asemtoetsers wat gebruik kan word om bewyslewerende asemmonsters te versamel, en die sertifikaat wat deur die vervaardiger of verskaffer uitgereik is, kan in sake as bewys gebruik word deur die blote voorlegging daarvan.
Hierdie wysiging is bedoel om die kwessie te hanteer wat geopper is rakende die wettigheid van die asemontleders ingevolge artikel 65(7) van die Nasionale Padverkeerswet, 1996, en voldoen aan SABS 1793 en kan gebruik word om die konsentrasie alkohol in asem te bepaal.
Die volgende is die voorgeskrewe toerusting se:
“Dit is meer gepas tydens hierdie feesseisoen aangesien dit ’n bykomende hupstoot gee vir ons pogings om dronkbestuur op ons paaie te bekamp,” sê die LUR van Paaie en Vervoer, Pinky Kekana.
<Doc08>
Antenatale (Voorgeboortelike) Gesondheidsdienste
Swanger meisies en vroue word verwys na kraamdienste of vroedvrou-obstetriese-eenhede (VOE’s) in stedelike gebiede, en satelliet- of vaste klinieke in die landelike gebiede.
VOE’s is kraameenhede wat bedryf word deur vroedvroue in die gemeenskap vir pasiënte van basiese gesondheidsdienste.
Dit is raadsaam vir verwagtende moeders om hulle eerste besoek aan die kliniek voor 20 weke of so gou moontlik daarna te bespreek.
Die moeder kry ’n volledige aanvanklike assessering en berading wanneer sy vir haar eerste antenatale besoek kom, ook bekend as die besprekingsbesoek.
Die swangerskap word deur gereelde opvolgbesoeke gemonitor.
Die moeder se gesondheid word ook deeglik gemonitor.
Sy sal geweeg word, haar bloeddruk sal gemeet word en haar urine sal getoets word.
As daar geen komplikasies is nie, moet sy na twee weke vir haar eerste opvolgbesoek terugkom vir die resultate van die toetse wat tydens die besprekingsbesoek gedoen is.
Daarna moet sy elke ses weke kliniek toe gaan tot 28 weke, dan op 34 weke, en daarna soos deur die kliniek/VVE-personeel aangedui (frekwensie van besoeke kan verskil van gebied tot gebied).
Swanger moeders word ondersoek vir moontlike risiko’s vir hulle gesondheid en die gesondheid van die fetus.
Tienermeisies en vroue ouer as 35 jaar wat swanger is, word as hoërisikogevalle beskou.
Dit beteken daar is ’n groter waarskynlikheid van komplikasies tydens swangerskap en geboorte.
Swanger vroue kan ook as hoërisikogevalle beskou word as hulle hoë bloeddruk, ’n geskiedenis van genetiese versteurings of ’n veelvuldige swangerskap het en as hulle voorheen chirurgie ondergaan het soos ’n keisersnee.
Moeders wat as hoë risiko gediagnoseer word, word opwaarts verwys na die buitepasiënt antenatale klinieke by hospitale op sekondêre of tersiêre vlak, waar verdere ondersoeke en siftingstoetse gedoen word.
Moeders met hoërisikoswangerskappe word aangeraai om buitepasiënt antenatale klinieke te besoek so dikwels as wat nodig is.
As u ’n eerste besoek aan ’n gesondheidsfasiliteit bring, sal u gevra word om ’n vorm in te vul en ’n lêer sal geopen word.
Bring u ID-boekie, enige medikasie wat u neem en ’n kliniek- of hospitaalkaart, indien u voorheen by die instelling geregistreer is.
Laerisikoswangerskappe word by VVE’s hanteer (geboorte-eenhede wat deur vroedvroue in die gemeenskap bedryf word vir primêregesondheidsorgpasiënte) in stedelike gebiede, en satelliet- of vaste klinieke in die landelike gebiede.
Hoërisikoswangerskappe word hanteer by buitepasiëntklinieke by stedelike en landelike streekhospitale en tersiêre hospitale.
<Doc09>
Geïntegreerde Voedingsprogram
Die Geïntegreerde Voedingsprogram (GVP) is daarop gemik om die voedingstatus van alle mense in die provinsie Wes-Kaap te verbeter.
Hierdie program het talle aspekte.
Wat is wanvoeding?
Wanvoeding is ’n ernstige probleem in Suid-Afrika en is een van die grootste bydraers tot kindersiektes en -sterftes.
Na raming toon ongeveer 30% van Suid-Afrikaanse kinders belemmerde groei as gevolg van ’n gebrek aan toereikende voeding in die vroeë jare van hulle lewe.
Ontoereikende voedselinname, siekte en psigososiale stres/trauma is die vernaamste onmiddellike oorsake van wanvoeding.
Armoede en gebrek aan hulpbronne is basiese faktore wat tot wanvoeding bydra.
Die GVP poog om hierdie stille epidemie op verskeie maniere die hoof te bied.
Aanvullings vir kinders
Op primêregesondheidsorgvlak sal kinders wat ondersoek word en as ondervoed geïdentifiseer word (dit sluit in kinders en volwassenes wat MIV-positief is en met tuberkulose), voedselaanvullings kry, insluitende verrykte mieliemeel en ’n hoë-energiedrankie.
Aanvullings word volgens kriteria vir geïdentifiseerde kliënte gegee.
Gesondheidswerkers gee ook berading, inligting en opvoeding oor gesonde diëte en die gesondste maniere om voedsel te berei.
Dieetkundiges lewer ook gespesialiseerde dienste aan die gemeenskap.
Borsvoeding
Om wanvoeding in die vroeë kinderjare te help bekamp, moedig gesondheidswerkers vroue aan om hulle kinders tot ouderdom ses maande net borsvoeding te gee en daarna met borsvoeding voort te gaan saam met die invoering van geskikte aanvullende voedsel, totdat die kind twee jaar oud is.
Ander voedingopsies word bespreek met moeders wat MIV-positief is.
Vredendal Hospitaal en Groote Schuur Kraamsentrum is Babavriendelike Hospitale in die provinsie volgens die Babavriendelike Hospitaal-inisiatief.
Groeimonitering
Alle kinders word gereeld geweeg as deel van die groeimoniteringsprogram, ’n sensitiewe aanwyser van of die kind groei.
Die gewig word in die Pad na Gesondheid-kaart aangeteken.
Onderliggende oorsake van gewigsverlies word ondersoek, soos aansteeklike siektes, voedseltekort tuis en kinderverwaarlosing.
Aansteeklike siektes speel ’n groot rol in ondervoeding en hierdie siektes word op primêregesondheidsorgvlak behandel.
Daar is ’n noue verband tussen diarreegevalle en swak omgewingshigiëne (sanitasie en watervoorsiening) en onder- of wanvoeding van ’n baba, wat hom/haar dan vatbaarder maak vir ernstige en langdurige diarree. 
Armoedeverligting
Armoedegeteisterde huishoudings word geïdentifiseer en na een van die regering se armoedeverligtingsprogramme verwys.
Huishoudings se voedselsekerheid word intersektoraal hanteer en gepaste ingrypings en ondersteuning word verskaf.
Vitamienaanvullings
Die beheer van mikrovoedingstoftekorte is ’n wesenlike deel van die diens.
Mikrovoedingstowwe is natuurlike stowwe soos vitamiene en minerale, wat in klein hoeveelhede in voedsel voorkom en baie belangrik is vir die handhawing van goeie gesondheid.
Die GVP verskaf vitamien A-aanvulling vir geteikende kinders.
Kinders met ’n vitamien A-tekort verloor gewig, groei nie behoorlik nie en het ’n groter kans om infeksies te kry en daarvan te sterf.
’n Tekort aan vitamien A beskadig ook die oog en is een van die hoofoorsake van blindheid onder kinders.
Kinders met lae geboortegewig kry vitamien A-kapsules, wat die immuunstelsel versterk en help met die kind se ontwikkelingsgroei.
Babas van 6-11 maande kry ’n enkele dosis vitamien A (100 000 IE) om ernstige siekte te voorkom.
Kinders van 12 maande tot vyf jaar kry ’n enkele dosis van 200 000 IE op 12 maande en dan elke ses maande ’n dosis van 200 000 IE tot ouderdom vyf jaar.
Bykomende dosisse vitamien A word gegee vir kinders wat ernstig wanvoed is of wat aanhoudende aansteeklike siektes soos diarree, masels of MIV-infeksie het.
Ontwurming
Gewigsverlies by kinders kan ook die gevolg van wurminfestasie wees, en dit kan by die kliniek met ontwurmingsmedikasie behandel word.
Voedingkundige advies vir spesifieke toestande
Voedingkundige opvoeding, inligting en berading word op alle vlakke van sorg gegee vir mense wat beroerte gehad het of wat hipertensie, hoë bloeddruk, diabetes, MIV/vigs en tuberkulose het.
Laerskoolvoedingsprogram
Die Laerskoolvoedingsprogram is beskikbaar by spesifiek geïdentifiseerde subekonomiese skole.
Hierdie skemas word tans saam met die Departement van Onderwys bedryf.
Die provinsiale regering beoog om 125 000 kinders by 847 laerskole in die provinsie teen 2004 met sy skoolvoedingsprogram te bereik.
Voedsel in instellings
Die GVP dra ook tot die institusionele sorg van kliënte by deur voedseldiensstelsels vir die verskaffing van gebalanseerde voeding.
Instruksies:
Nuwe besoekers aan die kliniek/sekondêre hospitaal sal gevra word om ’n vorm in te vul, en ’n lêer sal vir die pasiënt oopgemaak word.
Bring u ID-boekie saam.
’n Verwysingsbrief van die kliniek is nodig wanneer u ’n hospitaal besoek.
Hospitale sal u jongste betaalstrokie/inkomsteaanslag (IRP5) wil sien.
Bring u hospitaalkaart saam as u voorheen by die hospitaal geregistreer het.
<Doc10>
Toespraak deur die Adjunkminister van Openbare Werke, mnr Ntopile Kganyago, LP, by geleentheid van die eerste openbare bekendstelling van die Tshwane-middestadprogram, Suid-Afrikaanse Reserwebankgebou, Tshwane
Ander senior regeringsamptenare
Dames en here van die media
Vooraanstaande gaste
Die besluit wat die Kabinet in 1997 geneem het om nasionale staatsdepartemente aan te moedig om die middestad van Tshwane hulle permanente tuiste te maak, was ’n teken van groot visie; toe en nou.
Die uitkoms is ’n goed georkestreerde plan om die verjonging van ons stede te koppel aan die regering se oproep vir stadsvernuwing en ander ruimtelike-ontwikkelingsinisiatiewe wat daarop gemik is om ’n stadsbestuursetos te bevorder wat responsief is vir menseregte, ondersteunende habitatte, ekonomiese ontwikkeling en maatskaplike samehorigheid.
Terwyl ons vandag die eerste steen lê ter verwesenliking van daardie visie, vier ons ook die reis wat ons tot dusver afgelê het.
Intensiewe oorlegpleging, dikwels gekenmerk deur ewe intensiewe debatvoering, oor die behoeftes en opsies vir staatsdepartemente betreffende hulle fisiese omgewing, het ons almal nie van die fundamentele oogmerke, naamlik om die fisiese werkomgewing van staatsdepartemente in die middestad van Tshwane te verbeter, weggevoer nie.
Terselfdertyd moet ons ook saam daarmee tot die vernuwing en verjonging van die middestad bydra.
Ander oogmerke, hoegenaamd nie minder belangrik nie, sluit in ’n aksie om privaatsektorinvestering te lok, die beeld van Tshwane as ’n belangrike hoofstad in Afrika te ontwikkel en swart ekonomiese bemagtiging te bevorder.
Die staat is die grootste eiendomseienaar en een van die toonaangewende investeerders in die ekonomiese lewe van die plaaslike regering, veral in die metro’s Johannesburg en Tshwane in Gauteng.
Departemente het funksionele kantoorakkommodasie nodig om hulle verpligtinge van openbare dienslewering na te kom ter vervulling van hulle mandate.
Dit is algemene kennis dat die meeste regeringsgeboue in die kategorie goed tot redelik, pleks van uitstekend, val wat hulle toestand betref.
Opknapping, opgradering en herstelwerk sal aan die spits van kapitaalbesteding wees en sal bydra tot die SEB-komponent van die Tshwane-middestadprojek.
Die nasionale regering, deur die Departement van Openbare Werke, bestee jaarliks meer as twee miljard rand (R2 miljard) om te betaal vir huurkontrakte en ander verbandhoudende eiendomsbestuurstariewe soos eiendomsbelasting en dienste, landwyd, met sowel die privaatsektor as die plaaslike regering as begunstigdes.
Daar word sonder uitsondering van dieselfde belanghebbers verwag om die proses om Tshwane-middestad se hernuwing te bestuur, moontlik met die deelname van Gauteng se provinsiale regering deur hul belangrike beleggingsprojekte soos ondersteun deur die Gautengse Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap (GEDA).
In die konteks van die Tshwane-middestadprogram, voortaan bekend as "Re Kgabisa Tshwane" en met subtitel “’n Beter Plek om te Werk”, is die fokus in gelyke mate op die mense (sowel die staatsamptenare as die publiek) en op die fisiese ruimtes waar hulle verkeer wanneer hulle noodsaaklike openbare dienste lewer en ontvang.
Met die aankondiging van die regering se Program van Aksie van 2004 het die President, mnr Thabo Mbeki, op die nasionale departemente van Openbare Werke en van Staatsdiens en Administrasie ’n beroep gedoen om die fisiese werkomgewing van staatsdepartemente en staatsamptenare te verbeter.
Openbare fisiese infrastruktuur is die enjin van dienslewering en die staatsamptenare is die brandstof wat die enjin aandryf en vinniger laat funksioneer, doeltreffend en doelmatig.
Tydens die behoeftebepalingsfase van die projek het baie regeringswerknemers wat geraadpleeg is, klem gelê op die belangrikheid van uitstekende werkplekke wat by hulle status pas, en dit sluit sowel die interne as die eksterne omgewings in, en daarom is dit nodig om saam te werk met die Tshwane-metro, wat verantwoordelik is vir die meeste stadsbestuursaspekte soos verkeer, netheid, veiligheid, sekuriteit en estetika.
Ek gebruik graag hierdie geleentheid om Tshwane se bestuur en leierskorps te bedank vir hulle versiendheid om hierdie projek te omhels deur dit geredelik met hulle eie Geïntegreerde Ontwikkelingsplanne in ooreenstemming te bring.
Die Memorandum van Verstandhouding (MVV) wat ons later vandag tussen die nasionale Departement van Openbare Werke en die Stad Tshwane-metro sal aangaan, is trouens ’n bevestiging dat ons gemeenskaplike terrein gekry het van waar ons kan werk. 
Dit is ’n verklaring van voorneme om saam te werk aan inisiatiewe en projekte tot wedersydse voordeel van albei partye.
Ons boodskap vandag aan u is “die werk het begin” en in die volgende 10 jaar gaan daar ’n inspuiting van meer as agt miljard rand (R8 miljard) deur die nasionale regering en die privaat sektor wees deur kapitaalbegrotings, huurverbeterings en openbaar-privaat vennootskappe. 
Wat Programbestuur betref, is ’n Reëlingskomitee ingestel tussen die Departement van Staatsdiens en Administrasie, die Departement van Openbare Werke, die Nasionale Tesourie en die Stad Tshwane.
Die Komitee sal onder andere die program dryf, implementering monitor en toesig hou daaroor, die befondsingstrategie finaliseer en gekoördineerde implementering verseker.
Die Departement het mnr Dumisani Dlamini aangestel as die Adjunk-direkteur-generaal verantwoordelik vir die hele programbestuur.
Ek dank u.
<Doc11>
Mevrou die Speaker, die Agbare Premier, Kabinetskollegas, Lede van die Huis, Geëerde gaste, die beamptes van die departement van behuising, lede van die media en die breë publiek, hartlik welkom.
Hierdie woorde, dames en here, slaan op die Suid-Afrikaanse politiek, veral in die Wes-Kaap.
Ongeag die harde werk van toegewyde mense van hierdie land wat vooruitgang lief het, is sommige mense altyd daarop uit om die wonderlike werk af te kraak wat deur ŉ  sorgsame regering gedoen is in die baie kort tydjie wat hy aan bewind is.
Dames en here, baie mense argumenteer oor wat behuising eintlik beteken, maar laat my toe om vir u nog ’n weergawe te gee. 
Vir my gaan behuising nie net oor skuiling nie.
Dit gaan daaroor dat mense self verantwoordelikheid aanvaar om hulle gemeenskaplike omgewing in stand te hou en hulle toekoms te beheer.
Dit gaan oor die skep van lewensvatbare gemeenskappe en volhoubare lewensomgewings.
Dit gaan oor voorspoed in eenheid deur vennootskappe tussen die privaat sektor, die openbare sektor, nieregeringsorganisasies, maar die belangrikste, gemeenskappe.
Vir my kan behuising die beste beskryf word as ’n proses wat beplanning met mense behels en nie beplanning vir die mense nie.
Behuising in die Suid-Afrikaanse konteks is nie net ’n produk nie maar ook ’n proses wat berus op demokratiese waardes waarvoor die mense van hierdie land so hard geveg het.
Dit is ’n proses wat luister na die mense, wat mense toelaat om hulle demokratiese reg uit te oefen om die tipe behuising en gebiede waar hulle hul huise wil bou, te kies.
Daar is dus niks wat so verontmenslikend en ondemokraties is nie as om mense van hulle fundamentele reg van keuse te vervreem.
Anders as die apartheidstelsel, as ’n sosiale aktivis staan mense in die middel van my visie en strategie vir behuisingslewering.
Dames en here, ek bied vanmiddag met genoeë aan u my tweede begrotingsrede as die Provinsiale Minister van Behuising.
Ek is ook trots dat ek hierdie begrotingsrede lewer op die vooraand van die 10de herdenking van ons demokrasie.
Daar is konkrete bewys dat die ANC-geleide regering in net minder as tien jaar van sy demokratiese bewind meer bereik het as wat enige ander land ter wêreld ooit gedoen het.
Sisebenzile – Ons het presteer.
Konkreet gestel, ek is trots om aan te kondig dat van die 1.4 miljoen behuisingsgeleenthede wat die regering gelewer het, ons provinsie in die afgelope nege jaar 167 000 eenhede gelewer het, wat 11% van die nasionale koek is. 
Na my mening is dit ’n uitstekende prestasie gemeet aan enige maatstaf.
Ek wil ook boekstaaf dat die afgelope jaar vol uitdagings was, wat ’n negatiewe uitwerking gehad het op die lewering van behuising in die land as geheel maar in die provinsie in die besonder.
Hierdie uitdagings was ’n gevolg van die invoering van die nuwe beleidsvoorskrifte en meganismes soos bevoordeeldes se bydrae van R2 479 en die invoering van die Nasionale Huisbouersregistrasieraad se Waarborgskema vir staatsubsidiebehuising.
Hierdie maatreëls is nie daarop gemik om lewering te vertraag nie maar om seker te maak dat ons mense bekostigbare behuising van gehalte ontvang.
Die leerkurwes wat ons met die implementering van hierdie beleide ondergaan, vertraag egter lewering.
Die situasie is vererger deur die feit dat my departement nege maande lank nie ’n Hoofdirekteur gehad het nie.
Dit het vordering in baie groot mate vertraag.
Sedertdien het ek een aangestel, mnr. Seth Maqethuka, wat in Kaapstad gebore en getoë is en ondervinding van nasionale en plaaslike regering het, en ek wil hom gelukwens en verwelkom, al het ek dit alreeds gedoen.
Ten spyte van al hierdie uitdagings en beperkings is ek trots om vir ons mense aan te kondig dat my departement daarin geslaag het om R348 miljoen te bestee, wat 92% van die behuisingstoekenning aan die Wes-Kaap is.
Party van die provinsies het skaars 25% van hulle begroting bestee.
Dit het gelei tot die goedkeuring van nagenoeg 25 000 behuisingsubsidies.
Al hoe meer arm gesinne sal ’n kans kry om die vrugte van ons demokrasie te geniet.
Dit, dames en here, verteenwoordig ’n beduidende toename van 3 000 eenhede vergeleke met die vorige jaar.
In dié verband wil ek erkenning gee vir die belangrike rol wat munisipaliteite in ons provinsie speel.
Sonder hulle toewyding en uitstekende werk sou ons nie soveel kon bestee nie.
In dieselfde asem wil ek die Stad Kaapstad gelukwens met die besteding van ongeveer 70% van ons begroting.
Ek vergeet ook nie my amptenare nie, vir hulle harde werk en bydrae tot ons visie van behuising vir die nasie.
Dames en here, ek sal nie aan my gewete getrou wees as ek net ’n rooskleurige prentjie van die behuisingsleweringsproses skets nie.
Daar is steeds leemtes in ons leweringsproses.
Om hierdie rede moet ons nog op die volgende knellende gebiede verbeter:
Die meeste van ons huise voldoen nog nie aan die beleidsverskuiwing van kwantiteit na kwaliteit nie.
Ons moet nog die proses van behuisingslewering verander van die verskaffing van ŉ skuiling na die skep van volhoubare menslike nedersettings.
Ons moet die deelname van bevoordeeldes verander van passiewe na aktiewe deelname.
Ons moet die denke van ons mense verander sodat hulle kan begin om staatsubsidiehuise nie as blote produkte nie maar as bates te beskou.
<Doc12>
SEKTORPOLISIËRING WERK
Groot was die verligting vir ma en kind toe die 16 dae oue James Busakwe op 7 April 2006 met sy biologiese ma herenig is.
Die beproewing het begin toe baba James se ma op 6 April by die Klerksdorp-hospitaal aankom om haar seun te besoek en verpleegpersoneel besef dat die kind die vorige dag vir ’n ander vrou gegee is wat gesê het sy is die kind se biologiese ma.
Onmiddellik nadat die ontdekking gemaak is, het verpleegkundiges die Kanana-polisiestasie in kennis gestel, omdat die vrou wat James weggeneem het, ’n adres in Kanana gegee het.
Die adres is nagegaan, maar sonder sukses.
Niemand met die naam of beskrywing van die vrou was by hierdie adres bekend nie.
Die aand van 6 April het die Kanana-GPF ’n vergadering gehou.
Die waarnemende stasiekommissaris het die vergadering van die ontvoerde kind in kennis gestel en almal versoek om hulle oë en ore oop te hou.
Teen ongeveer 23:00 dieselfde nag het een van die gemeenskapslede die polisie geskakel met inligting dat ’n vrou wat in sy sektor woon en van wie dit nie bekend was dat sy swanger was nie, skielik ’n babaseuntjie by haar het.
Die polisie het die inligting opgevolg en inderdaad die vrou en die kind gekry.
Hospitaalpersoneel is ontbied en het die kind onmiddellik geïdentifiseer, en ook die vrou wat hom uit die hospitaal ontvoer het.
Verskeie bewysstukke, insluitende die hospitaal se plastiekarmband, is in die verdagte se huis gekry.
Die vrou is in hegtenis geneem en die ongeskonde kind is terug hospitaal toe geneem, waar hy die volgende oggend met sy regte ma herenig is.
Die optrede van die lede van die gemeenskap wat gehelp het om die kind te kry, moet geloof word, want dit toon die waarde van gemeenskapspolisiëring.
Die waarde van sektorpolisiëring wat korrek geïmplementeer en gehandhaaf word, moet nooit onderskat word nie.
Gaan voort met die goeie werk, Kanana-GPF!
Geagte Dame
Ek veronderstel dit was toeval of dalk geluk dat ek u polisiestasie in Mondeor moes besoek, waar ek u SAPD-tydskrif gesien het.
Ek veronderstel dit word een keer per maand gepubliseer, en ek het dit baie interessante leesstof gevind.
Ek en my vrou het pas ’n nuwe besigheid begin en ons wil graag al of enige van u personeel nooi om wanneer hulle in ons gebied is, in te loer vir ’n gratis koppie koffie of tee en hopelik sal ons ook ’n koekie of twee vir hulle beskikbaar hê.
Ek is seker u sal verstaan dat dit nie maklik is om ’n nuwe besigheid te begin nie en dat dit baie werk en kapitaal verg.
Ons is egter steeds van mening dat die polisie en al die ander wetstoepassingsafdelings baie belangrik is vir alle Suid-Afrikaanse burgers.
Dit is net iets kleins wat ons vir julle almal wil aanbied om julle te bedank vir wat julle opoffer om te verseker dat ons, die burgers, met ons daaglikse lewens kan voortgaan. 
Ons sien daarna uit om van julle te hoor, of nog beter, sommige van julle personeel in uniform te sien wanneer hulle by ons winkeltjie inloer en ons hulle beter leer ken.
Dankie weer aan u, die wetstoepassingspersoneel van Suid-Afrika, vir al julle harde werk en toewyding om Suid-Afrika veilig te hou.
Kort, feitelike briewe kan per faks of e-pos aan die Redakteur gestuur word. 
Ons behou die reg voor om briewe te redigeer of te verkort.
<Doc13>
’N WEKROEP VIR AKSIE 
Op 14 Junie 2007 het een van die artikels op die SAPS se Joernaal Aanlyn  (www.sapsjournalonline.gov.za) beskryf hoe twee polisiebeamptes van die Welkom-voertuigidentifiseringseksie gearresteer is vir korrupsie en bedrog.
Na berig word, het hierdie twee, ’n superintendent en ’n inspekteur, voertuie wat deur die polisie teruggevind is, vir eie gewin verkoop.
Albei verdagtes het op 12 Junie in die hof verskyn en die saak is tot 21 Augustus 2007 uitgestel.
Een dag later, op 15 Junie 2007, het ’n News24-opskrif verklaar: “Twee polisie vas vir gewapende roof”.
Dié keer was dit ’n studentekonstabel en ’n inspekteur wat na berig word ’n klerewinkel in Marble Hall beroof en geld, broeke en ’n hemp gesteel het.
Korrupsie in die polisie moet beëindig word.
Die meeste van ons is eerlike, hardwerkende burgers, maar ’n paar polisiebeamptes toon geen respek vir hulself, hulle uniform of die Polisie se Gedragskode nie.
Dit is hoog tyd dat ons die SAPD eens en vir altyd van al hierdie negatiewe elemente bevry.
En nou kan jy help om van die korrupte polisielede ontslae te raak deur hulle op ’n nuwe misdaadlyn aan die kaak te stel.
Anoniem!
As jy vermoed een van jou kollegas voer iets in die mou, of as jy weet van iemand anders, hetsy polisiebeamptes, familielede, kollegas, bure of vreemdelinge, wat betrokke is by of beoog om betrokke te raak by misdaadbedrywighede, hoef jy net ’n SMS na 32211 te stuur.
Dit is die nuwe nasionale misdaadnommer wat onlangs deur Primedia in Sandton bekend gestel is.
Jy kan óf ’n SMS na 32211 stuur (teen ’n koste van R1 elk) óf na www.crime-line.co.za gaan.
Opgeleide datavasleggers wag om die inligting aan die polisie deur te gee, wat onmiddellik daarop sal reageer!
Die beste deel is dat jy anoniem sal bly.
Nou het jy die mag om misdaad te help beveg sonder om jouself aan gevaar bloot te stel.
Die Primedia-inisiatief belowe dat jy nie betrek sal word nie.
Yusuf Abramjee, Primedia se Teenmisdaadprojekkoördineerder, sê: “Ons wil nie jou naam of adres hê nie tensy jy dit vrywillig aan ons verstrek, en geen verklarings of hofverskynings is nodig nie.
Al wat ons wil hê, is inligting oor misdadigers sodat die polisie daarop kan reageer.”
Hierdie nuwe nasionale multimiljoenrand-teenmisdaadveldtog is op 7 Junie 2007 in Sandton deur Primedia bekend gestel.
Dit is op die Misdaadstoppers Internasionaalstelsel gebaseer.
Misdaadstoppers het in September 1976 in Albuquerque, Nieu-Mexiko, begin.
Dit is ’n vennootskap tussen die gemeenskap, die media en wetstoepassingsagentskappe en is bedoel om misdaad te bekamp en inwoners veilig te hou.
Vandag is daar ongeveer 1 200 Misdaadstoppersprogramme wêreldwyd wat in 20 lande funksioneer en inligting gebruik wat deur die gemeenskap verskaf word om misdade te help oplos.
Volgens die HUB van Primedia Bpk, mnr William Kirsh, het hierdie programme al gehelp om 600 000 misdadigers te arresteer!
Wat elke polisiebeampte oor hierdie nuwe teenmisdaadveldtog moet weet, is dat dit die volle steun het van die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, mnr Charles Nqakula, en die Nasionale Kommissaris van die SAPD, kommissaris Jackie Selebi.
Kommissaris Selebi het belowe dat “as ’n organisasie ons alles in ons vermoë gaan doen om hierdie projek te laat werk.”
Die vraag is wat gaan jy daaraan doen?
Almal se volle steun is nodig, nie net om onmiddellik op te tree as jy inligting van die misdaadlynsentrum ontvang nie, maar ook om hierdie inisiatief te bemark waar jy ook al kan.
Vertel vir die mense, die GPF’s, die skole, jou familie en vriende van hierdie inisiatief.
Maak seker hulle verstaan dat die veldtog belowe dat hulle nie betrek sal word nie, dat hulle anoniem sal bly al gebeur wat ook al.
En onthou, hierdie is nie ’n noodlyn nie.
Mense moet noodgevalle steeds by 10111 of hulle naaste polisiestasie aanmeld.
Deur hierdie teenmisdaadveldtog reik die media ’n hand uit na die polisie.
Hulle wil ons help om Suid-Afrika ’n veiliger plek vir almal te maak.
By die bekendstelling van die misdaadlyninisiatief het John Robbie, die oggendprogramaanbieder van Talk Radio 702, 65 ID-instrumentmasjiene aan die SAPD oorhandig.
Mnr Robbie het onlangs op die lug ’n beroep op luisteraars gedoen om hulle tot hierdie ID-instrumentmasjiene te verbind.
Die masjiene se kleinhandelaar, Face Technology, bring ook sy kant en het die prys van die masjiene tot kosprys verlaag, wat maatskappye wat aanvanklik genoeg geld vir een masjien belowe het, in staat stel om twee te koop.
Primedia en John Robbie is nie die enigstes wat die polisie daadwerklik help in die stryd teen misdaad nie.
Lees enige van die suksesverhale in die SAPS Joernaal of op die SAPS se Joernaal Aanlyn en jy sal sien hoeveel sake is al met behulp van gemeenskapslede opgelos.
Met hierdie nuwe teenmisdaadveldtog kan die misdadigers, insluitende die enkele korruptes in die diens, nou van een ding seker wees … hulle dae is getel.
<Doc14>
ETQA-diensverskaffersakkreditasie
Suid-Afrika Regeringsdienste
Aansoek aan ’n ETQA vir akkreditasie as ’n verskaffer van onderwys en opleiding
Beskrywing
Die regulasies wat op die Education and Training Quality Assurance (ETQA)-liggame onder die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO) van toepassing is, vereis dat verskaffers van onderwys en opleiding by ’n ETQA aansoek doen vir akkreditasie.
Om geakkrediteer te word, moet verskaffers van onderwys en opleiding ingevolge die toepaslike wetgewing geregistreer word.
Wetgewing met betrekking tot Hoër Onderwys en Verdere Onderwys vereis dat alle verskaffers van onderwys en opleiding wat volle kwalifikasies aanbied, by die Departement van Onderwys geregistreer moet word.
Die verskaffer van onderwys en opleiding moet eenheidstandaarde en/of -kwalifikasies bied wat binne die primêre fokusgebied van die Kwaliteitsversekeringsliggaam vir Onderrig en Opleiding (ETQA) van die Sektorowerheid vir Onderwys en Opleiding (SETA) of professionele liggaam val.
Vereistes vir akkreditasie:
* Die vereistes vir akkreditasie is vervat in die dokument getitel Criteria and Guidelines for Providers en is op die SAKO-webwerf beskikbaar.
* Die programme (en/of assesserings) wat deur die verskaffer van onderwys en opleiding aangebied word, lei tot eenheidstandaarde en/of kwalifikasies wat op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) geregistreer is.
* Die kurrikulum (ontwerp, inhoud en leermateriaal) is in ooreenstemming met die eenheidstandaarde en/of kwalifikasies.
* Daar is gepaste gekwalifiseerde personeel (fasiliteerders en geregistreerde assessors).
* Die leerders het toegang tot toereikende leersteundienste.
* Die assesseringsmetodes en -instrumente wat gebruik word om die vereistes vir die eenheidstandaard en/of kwalifikasie te meet, is billik, geldig en betroubaar en word gebruik om leer te bevorder. 
Stappe om te volg
* Stuur ’n brief van u voorneme om as ’n verskaffer van onderwys en opleiding geakkrediteer te word, aan die betrokke ETQA.
* Lê ’n selfevaluering en aansoekvorm aan die ETQA voor.
* As akkreditering nie aan u toegestaan word nie en u voel die proses was onbillik, het u die reg om te appelleer.
* ’n Lys van ETQA’s en kontakbesonderhede is op die SAKO-webwerf beskikbaar.
Dit kan tot 6 maande neem.
Die diens is gratis.
Vorms om in te vul
Aansoekvorms vir verskaffersakkreditasie en verbandhoudende dokumentasie kan van die betrokke ETQA verkry word.
Kontakbesonderhede – Kies asseblief een opsie:
