<Doc01>
Suid-Afrikaanse Agentskap vir Sosiale Sekerheid
Kliëntedienshandves
Welkom by ons kliëntehandves
Ons wil hê u, ons kliënt, moet ons beoordeel volgens die standaard van diens wat ons in hierdie handves uiteensit. 
Ons sal u met respek behandel en aan u ’n goeie diens lewer volgens die BATHO PELE-beginsels. 
Ons onderneem, as deel van ons verantwoordelikheid, om aan u ’n diens van wêreldgehalte te verskaf en u te voorsien van korrekte inligting, raad en bystand in al ons dienste.  
Doel van die handves
Hierdie handves lig u in oor die standaard van die diens wat u kan verwag van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Sosiale Sekerheid (SASSA).  
SASSA is ’n uitbreiding van ’n diensleweringsafdeling van die regering wat die betaling van sosiale toelaes aan die burgers van Suid-Afrika administreer. 
Ons onderneem
Om gehalte sosiale sekerheidsdienste te administreer deur kostedoeltreffende en effektiewe beste praktyke. 
Wat u van ons kan verwag
Bevordering en beskerming van menswaardigheid, vertroulikheid, integriteit, regverdigheid, deursigtigheid en billikheid. 
Regdeur die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Sosiale Sekerheid, sal ons
U inligting en raad gee oor al die toelaes waarvoor u kan aansoek doen.
U na ander instellings verwys wat aan u behoeftes kan aandag gee.
U bystaan om ons vorms in te vul/te voltooi en aansoek vir die toelae te doen. 
Die inligting wat u vir ons gee vertroulik hou.
Altyd die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, die wette wat die staatsdiens beheer en die gedragskode van die staatsdiens te handhaaf  
U in ’n taal van u keuse te bedien. 
Werk in vennootskap met die mense wat ons dien en ander belanghebbers.
Streef na voortdurende verbetering van dienslewering om te voldoen aan u verwagtinge 
Kontak ons
Wanneer u ons ook al persoonlik, telefonies, per brief of e-pos kontak, sal die volgende gebeur:
Die kliëntediensagent met wie u praat, sal homself/haarself identifiseer. 
Met telefoniese en persoonlike navrae, sal ons u navrae dadelik oplos.
Indien ons dit nie dadelik kan oplos nie, sal ons redes verskaf en die kliënt inlig wanneer om ’n antwoord te verwag.
Ons sal u ’n verwysingsnommer gee om u in staat te stel om u navraag op te volg
Ons sal ontvangs erken van enige kommunikasie wat u stuur en ons sal die navraag binne 7 werksdae hanteer. 
Indien ons u nie binne 7 werksdae ten volle kan antwoord nie, sal ons u inlig waarom nie en wanneer u die antwoord kan verwag.
Ons sal probeer om u navraag binne 21 werksdae op te los.
Indien u ons bel, probeer ons om u oproep so gou as moontlik in die amptelike taal van u keuse te antwoord. 
Ons sal elke besluit oor u toelae skriftelik kommunikeer
By SASSA-kantore
Wanneer u by een van ons kantore aankom, sal ons hulptoonbank se personeel u dadelik help.
Al ons kantore is oop van 08h00 tot 16h30, Maandag tot Donderdag en van 08h00 tot 16h00 op Vrydag.
By ons kantore en betaalpunte sal u toegang hê tot die volgende:
Privaatheid
Gerieflike wagareas
Toiletgeriewe
Mediese hulp indien ons vooraf ingelig word oor so ’n behoefte 
Ons sal na u toe kom indien u om mediese redes nie na ons kantore kan kom nie.
U kan ons bel en ons sal ’n huisbesoek reël. 
Hantering van u aansoek om ŉ sosiale toelae 
Ons sal dieselfde dag begin om u aansoek te verwerk. 
Ons moet seker maak dat u wettiglik geregtig is op die toelae.
Ons stel vir onsself doelwitte om u eis te hanteer en u toelae binne 90 dae te betaal. 
Ons sal u raad gee oor u reg tot appèl in geval van afkeurings, opskortings en kansellasies 
Besluitneming. 
Indien ons ’n besluit neem oor u aansoek vir ’n toelae en u dink dit is verkeerd, of u wil meer inligting oor die besluit hê, kan u die volgende doen:
Vra ons om die besluit in meer besonderhede te verduidelik en ons sal dit met graagte doen. 
U kan teen ons besluit appelleer slegs binne 30 dae na die datum op die beslissingsbrief.  
U kan toegang kry tot u lêer vir watter inligting u ook al benodig. 
U verantwoordelikheid sal wees
Om ons te voorsien van:
U korrekte pos- en woonadres.
Veranderinge in u persoonlike omstandighede soos inkomste, adres, mediese toestand, ens.
Eerlike, waarheidsgetroue, akkurate en volledige inligting of verduideliking te alle tye.
Tydige reaksie op al ons korrespondensie insluitende hersienings of enige ander inligting wat van u versoek word.
Ongelukkig met ons dienste?
Indien u ongelukkig is met ons diens omdat:
Ons te lank geneem het om u toelae te verwerk en/of u nie u betaling betyds gekry het nie.
Die optrede van ons amptenaar ongewens was.
Ons personeel ’n fout op u aansoek begaan het of verkeerde raad aan u verskaf het.
Oor enige doelbewuste/onbewuste fout aan ons kant
lig ons daaroor in en ons sal dadelik enige fout regstel wat ons begaan het.
Indien u ’n klag wil lê, skryf asseblief aan ons of bel en vra om na ons kliëntedienseenheid verwys te word. 
Ons sal ons dienste met u bespreek
Ons stel belang in u mening oor ons dienste.
Ons sal die inligting wat u vir ons gee, gebruik om ons dienste te verbeter.
Stuur asseblief vir ons terugvoer op enige van die metodes wat hieronder volg:
Skakel ons inbelsentrum se tolvrynommer by 0800 601 011
Voltooi ’n kliëntekaart vir kommentaar wat beskikbaar is by sowel ons kantore as die betaalpunte. 
Besoek ons webwerf by www.sassa.gov.za
Besoek enige een van ons kontakpunte.
(Distrik, plaaslik, diens- en betaalpunte)
Dien ’n geskrewe voorlegging in by enige van ons kantore. 
Vrae of kommentaar oor hierdie handves
Indien u enige verdere inligting benodig oor hierdie handves, kontak een van ons kantore.
U kan hierdie handves in braille, op oudiokasset en CD ontvang, indien u daarvoor vra. 
Hierdie handves sal van krag word op  01/04/2007 en sal jaarliks hersien word om u kommentaar te akkommodeer. 
<Doc02>
Statistieke Suid-Afrika – Nuus
Binne Statistieke: Behoefte aan statistieke sal toeneem namate demokrasie verdiep
Hierdie artikel is oorspronklik op 05 Augustus 2004 in die Business Report gepubliseer
Ek het verlede week die plaaslike adviesraadsvergadering van die Oos-Afrikaanse Statistiese Opleidingsentrum in Tanzanië bygewoon, waar ek die geleentheid gehad het om die sentrum se 39ste jaarlikse gradeplegtigheid by te woon, waaraan vyf van Statistieke SA se lede deelgeneem het.  
Die opleiding van Statistieke SA-personeel is ’n organisatoriese passie vir my.
Kort na my aanstelling as statistikus-generaal het Statistieke SA, in samewerking met die Statistiekeraad, met ’n dringende soektog begin na instellings wat gepaste opleiding in amptelike data aanbied.
Ons het twee instellings geïdentifiseer: die opleidingsentrum in Dar es Salaam, Tanzanië, en die Instituut vir Statistiek en Toegepaste Ekonomie in Uganda.
Die opleidingsentrum is in 1965 ingestel deur die VN se Ekonomiese Kommissie vir Afrika, die Oos-Afrikaanse Organisasie vir Gemeenskaplike Dienste en die VN se Ontwikkelingsprogram.
Teen 1977 het die Tanzaniese regering die bedryf van die sentrum oorgeneem en die aantal Afrikalande wat deur die sentrum bedien word, tot 13 uitgebrei.
Die instituut in Uganda is in 1969 gestig, binne die regsraamwerk van die Makerere Universiteit.
Sy verklaarde oogmerk was die hoëvlakopleiding van professionele persone in statistiek en toegepaste ekonomie.
Statistieke SA het reeds die afgelope drie jaar personeellede na hierdie instellings gestuur.
Die eerste groep het verlede jaar gegradueer.
Sedert hulle terugkeer toon hulle ’n geweldige verbetering in prestasie en sommige beklee nou bestuursposisies.
Statistieke SA kom egter voor nuwe uitdagings te staan.
Die behoefte aan statistiese inligting vir besluitneming, op al drie regeringsvlakke, neem geweldig toe.
Veral mense wat opgelei is om statistiese inligting op munisipale vlak in te samel en te gebruik, raak al hoe meer kritiek.
Om in hierdie behoefte te voorsien, sal ons mense moet oplei teen ’n tempo van ten minste 2 000 per jaar.
Die Tanzaniese opleidingsentrum en die Ugandese Instituut vir Statistieke en Toegepaste Ekonomie kan glad nie in so ’n groot vraag voorsien nie.
Tydens die opening van die SA Statistiese Vereniging se konferensie verlede jaar, het die Minister van Finansies, Trevor Manuel, Suid-Afrikaanse universiteite uitgedaag om die tekort aan beskikbare statistiese vaardighede reg te stel om die regering te help om ingeligte besluite te neem wat gebaseer is op akkurate statistiese inligting.
Statistieke SA het begin met samesprekings met universiteite met die oog daarop om sodanige opleiding daar te stel.
In hierdie stadium bied geen Suid-Afrikaanse universiteit egter ’n kursus in amptelike statistieke aan nie.
Statistieke SA beplan om in die nabye toekoms ’n statistiekopleidingsentrum te stig wat opleiding in amptelike statistieke vir sowel interne personeel as personeel van ander departemente sal aanbied.
Die inwerkingstelling van ’n stelsel van nasionale statistieke sal lei tot die behoefte om statistiekeenhede in die verskillende staatsdepartemente te stig, wat ’n nog groter vraag na geskoolde statistiekkapasiteit sal skep.
Die ontwikkeling van statistiekkapasiteit hou  verband met meer as net die regering se behoefte aan akkurate inligting.
Statistieke raak aan die kern van demokrasie.
HG Wells was aan die begin van die 20ste eeu van mening dat statistiek in die toekoms net so noodsaaklik vir die burgery sal wees as die vermoë om te lees en te skryf.
Openbare statistieke is ’n onlangse kulturele prestasie wat met die koms van demokrasie ontwikkel het.
In ’n Afrikakonteks, waar demokrasie ’n meer onlangse verskynsel is, gaan daar ’n duidelike toename in die vraag na openbare statistieke wees namate demokrasie verdiep.
Statistici is bewaarders van demokratiese beginsels van deursigtigheid in meting en toegang, en dus van aanspreeklikheid. 
Dit is wat op die spel is in die poging om statistiekkapasiteit te vergroot en om die instellings te ontwikkel wat nodig is vir  massiewe en vinnige uitbreiding in die onderrig van amptelike data.
Pali Lehohla is statistikus-generaal en hoof van Statistieke SA.
Vir meer inligting oor Statistieke SA en sy uitsette, besoek www.statssa.gov.za of skakel (012) 310-8600
<Doc03>
16 Dae van Aktivisme: het jy geweet?
Sedert 1994 het die regering wetgewing ontwikkel om onregte teen vroue en kinders te herstel.
Die wet op die bevordering van gelykheid en voorkoming van onregverdige diskriminasie, 2000 is deurgevoer om te verseker dat almal grondwetlike regte geniet.
Hierdie wet verseker dat vroue gelyke regte en vryhede geniet deur die onregte van die verlede reg te stel.
Die wet op gelyke indiensneming, 1998 verseker dat diskriminasie by indiensneming, beroep en inkomste in die arbeidsmark wat deur apartheidswette veroorsaak is, beperk word.
Dit moedig billike verteenwoordiging van vroue en ander histories benadeelde persone op alle vlakke van openbare en privaat instellings aan.
Die Wet op Onderhoud, 1998 waarborg die regte van ’n kind op ’n lewenspeil wat geskik is vir fisiese, verstandelike, geestelike en sosiale ontwikkeling.
Die Wet verseker dat onderhoud vir die kind verhaal word van die ouers of ander persone wat finansieel vir die kind verantwoordelik is. 
Die Wet op Gesinsgeweld, 1998 is uitgevaardig om oorlewendes van geweld maksimum beskerming teen huishoudelike geweld te verleen.  
Vroue, wat aan die ontvangkant van huishoudelike geweld is, het nou ’n regstoevlug wat hulle beskerming sal verseker.
Die kinderwet, 2005 en die wysigingswet op kinders, 2007 is uitgevaardig om, onder meer, ’n kind teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik of vernedering te beskerm.
Die regering het baie ingrypings ingestel en ondersteun wat die menswaardigheid van vroue en kinders beskerm. 
Die Handves van Kinderregte word hersien  en bygewerk om ook nuwe uitdagings in te sluit soos die gebruik van kinders as onderwerp van pornografie en kinders se blootstelling aan pornografiese materiaal. 
Die regering het gereageer op die uitdaging van gedwonge huwelike tussen kinders en volwassenes onder voorwendsel van ’n tradisionele praktyk, genaamd "Ukuthwala".
Die regering is daartoe verbind om te verseker dat tradisionele en ander praktyke strook met die grondwet en ander relevante wetgewing.  
Die proses is aan die gang om gespesialiseerde polisie-eenhede te hervestig wat huishoudelike en seksuele oortredings en ander misdade teen vroue en kinders hanteer. 
Die instelling van gespesialiseerde eenhede sal die kundigheid mobiliseer wat nodig is om die bestuur en suksesvolle vervolging van misdade teen vroue en kinders te verbeter. 
Daar is tans 17 Thuthuzela-sorgsentrums landwyd gevestig in gemeenskappe met hoë vlakke van seksuele geweld.  
Die sentrums verskaf gesondheids- en welsynsdienste en sit prosesse aan die gang vir die doeltreffende aanmelding en vervolging van oortredings in ’n waardige en deernisvolle omgewing deur gekwalifiseerde professionele persone.  
Fondse uit herwonne kriminele bates is gebruik om 19 slagoffer-bemagtigingsprojekte te befonds. 
Die Gids oor Dienste vir Slagoffers van Geweld en Misdaad, wat dienste bevat wat deur sowat 1 500 staats- en burgerlike organisasies in alle provinsies verskaf word, is ontwikkel. 
Die gids bemagtig mense om toegang te kry tot dienste wat beskikbaar is in hul gebied.
Slagoffervriendelike geriewe is gevestig by polisiestasies met hoë vlakke van kontakmisdaad.
Howe wat toegespits is op seksuele oortredings is ontwikkel. 
Die Wet op Gesinsgeweld bepaal dat skuilings gevestig word. 
Daar is tans 96 skuilings in Suid-Afrika, teenoor 39 in 2001.
Die regte in die Slagofferhandves word ’n werklikheid vir slagoffers van misdaad wat betrokke raak by die strafregstelsel.
Hierdie handves sluit die Minimum Standaarde vir Dienste vir Slagoffers van Misdaad in, ’n regsraamwerk vir slagoffers oor hulle regte op dienste van die strafregstelsel. 
Sedert die implementering van die Slagofferhandves, het die aantal dae wat dit neem om ’n saak in die Hof vir Seksuele  Misdrywe af te handel, van 285 tot 142 afgeneem.  
Die Handves is ook ’n vereiste vir die Suid-Afrikaanse regering om sy internasionale verpligting na te kom kragtens die Verenigde Nasies (VN) se verklaring van basiese beginsels van geregtigheid vir slagoffers van misdaad en magsmisbruik.
Internasionale samewerking om geweld teen vroue en kinders reg te stel.
Suid-Afrika het sy verslag oor die vordering van die implementering van die konvensie vir uitwissing van diskriminasie teen vroue aan die VN se CEDAW-komitee voorgelê.  
Suid-Afrika het ’n ministeriële vergadering (Oktober 09) aangebied van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) om die 10-jaar plaaslike strategiese aksieplan op mensehandel, veral vroue en kinders, te finaliseer. 
Die SAOG-protokol oor geslag en ontwikkeling bepaal dat SAOG-lidlande teen 2015 wetgewing uitgevaardig sal hê wat seksuele teistering beveg.  
Suid-Afrika het die streeksberaad vir geslagsregte  (9–10 November 2009) aangebied en verteenwoordigers van Afrikalande byeengebring om ondervinding en die beste praktyke om seksuele en geslagsgebaseerde geweld uit te wis, te deel. 
Moenie wegkyk nie, tree op teen misbruik
<Doc04>
Privaatheidsverklaring  
Die Departement van Behuising is daartoe verbind om u privaatheid te beskerm en tegnologie te ontwerp om aan u die kragtigste en veiligste aanlynondervinding te verskaf.
Dié Privaatheidsverklaring het betrekking op die Departement van Behuising se webwerf en beheer data-insameling en -gebruik. 
Deur die Departement van Behuising se webwerf te gebruik, stem u in tot die datapraktyke wat in dié verklaring beskryf word.
Insameling van u Persoonlike Inligting
Die Departement van Behuising samel persoonlik identifiseerbare inligting in, soos u e-posadres, naam, huis- of werkadres of telefoonnommer. 
Die Departement van Behuising samel ook anonieme demografiese inligting in, wat nie uniek aan u is nie, soos u ZIP-kode, ouderdom, geslag, voorkeure, belangstellings en gunstelinge.
Daar is ook inligting oor u rekenaar se harde- en sagteware wat outomaties deur die Departement van Behuising ingesamel word. 
Hierdie inligting kan insluit: u IP-adres, webblaaiertipe, domeinname, toegangstye en verwysende webwerfadresse. 
Hierdie inligting word deur die Departement van Behuising gebruik om die diens te bedryf, om die gehalte van die diens te handhaaf, en om algemene statistiek oor die gebruik van die Departement van Behuising se webwerf te verskaf.
Hou asseblief in gedagte dat as u persoonlik identifiseerbare inligting of persoonlik sensitiewe data direk op die Departement van Behuising se openbare boodskapborde plaas, daardie inligting deur ander mense versamel en gebruik kan word. 
Aantekening: Die Departement van Behuising lees nie enige van u privaat aanlynkommunikasie nie.
Die Departement van Behuising moedig u aan om die privaatheidsverklarings van webwerwe wat u via die Departement van Behuising se skakel gebruik, na te gaan, sodat u verstaan hoe daardie webwerwe u inligting versamel, gebruik en deel. 
Die Departement van Behuising is nie verantwoordelik vir die privaatheidsverklarings of ander inhoud van webwerwe buite die webwerwe van die Departement van Behuising en die Departement van Behuising se reekse nie.
Gebruik van u Persoonlike Inligting
Die Departement van Behuising samel u inligting in en gebruik dit om die Departement van Behuising se webwerf te bedryf en die dienste te lewer wat u versoek het. 
Die Departement van Behuising gebruik ook u persoonlik identifiseerbare inligting om u in te lig oor ander produkte of dienste wat by die Departement van Behuising en sy geaffilieerdes beskikbaar is. 
Die Departement van Behuising mag u ook kontak om opnames te doen oor hoe u huidige dienste of potensiële nuwe dienste vind wat aangebied mag word.
Die Departement van Behuising verkoop, huur of verhuur nie sy kliëntlyste aan derde partye nie. 
Die Departement van Behuising mag u van tyd tot tyd namens eksterne sakevennote kontak oor ’n spesifieke aanbieding wat vir u van belang mag wees. 
In daardie gevalle word u unieke persoonlik identifiseerbare inligting (e-pos, naam, adres, telefoonnommer) nie aan die derde party verskaf nie. 
Hierbenewens mag die Departement van Behuising data met vertroude vennote deel om ons te help om statistiese ontledings te doen, vir u e-pos of gewone pos te stuur, kliëntesteun te bied of aflewerings te reël. 
Alle sodanige derde partye word verbied om u persoonlike inligting te gebruik behalwe om hierdie dienste aan die Departement van Behuising te verskaf, en hulle word verplig om die vertroulikheid van u inligting te handhaaf.
Die Departement van Behuising gebruik of openbaar nie enige sensitiewe persoonlike inligting soos ras, geloof of politieke affiliasies sonder u uitdruklike toestemming nie.
Die Departement van Behuising hou tred met die webwerwe en bladsye in die Departement van Behuising wat ons kliënte besoek om vas te stel watter dienste van die Departement van Behuising die gewildste is. 
Hierdie data word gebruik om doelgemaakte inhoud en reklame oor die Departement van Behuising te lewer aan kliënte wie se optrede aandui dat hulle in ’n bepaalde onderwerp belang stel.
Die Departement van Behuising se webwerwe sal u persoonlike inligting slegs sonder kennisgewing openbaar indien wetlik daartoe verplig of as hulle in goeie trou glo dat sodanige optrede nodig is om: (a) aan die vereistes van die wet te voldoen of om regsprosesstukke na te kom wat op die Departement van Behuising of die webwerf beteken is; (b) die regte of eiendom van die Departement van Behuising te beskerm of te verdedig; en (c) in die uiterste omstandighede op te tree om die persoonlike veiligheid van gebruikers van die Departement van Behuising of die publiek te beskerm.
Gebruik van koekies
Die Departement van Behuising se webwerf gebruik “koekies” om u te help om u aanlynondervinding te verpersoonlik. 
’n Koekie is ’n tekslêer wat deur ’n webbladbediener op u harde skyf geplaas word. 
Koekies kan nie gebruik word om programme te bedryf of virusse na u rekenaar oor te dra nie. 
Koekies word aan u alleen toegeken en kan slegs gelees word deur ’n webbediener in die domein wat die koekie aan u uitgereik het.
Een van die vernaamste doelwitte van koekies is om aan u ŉ tydbesparende geriefsmiddel te verskaf.
Die doel van ’n koekie is om vir die webbediener te sê dat u na ’n besondere  bladsy teruggekeer het. 
As u byvoorbeeld die blaaie van die Departement van Behuising verpersoonlik, of op die Departement van Behuising se webblad of vir hulle dienste registreer, help ’n koekie die Departement van Behuising om u spesifieke inligting by volgende besoeke te herroep. 
Dit vereenvoudig die proses van optekening van u persoonlike inligting, soos rekeningadresse, leweringsadresse, ensovoorts. 
Wanneer u terugkeer na dieselfde webwerf van die Departement van Behuising, kan die inligting wat u voorheen verskaf het onttrek word sodat u die Departement van Behuising se funksies waaraan u verstellings gemaak het, maklik kan gebruik.
U het die vermoë om koekies te aanvaar of te weier. 
Die meeste webblaaiers aanvaar koekies outomaties, maar u kan gewoonlik u blaaierinstelling verander om koekies te weier indien u so verkies. 
As u verkies om koekies af te skakel, sal u moontlik nie die interaktiewe gedeeltes van die dienste of webwerwe van die Departement van Behuising wat u besoek, ten volle kan geniet nie.
Veiligheid van u Persoonlike Inligting
Die Departement van Behuising beveilig u persoonlike inligting teen ongemagtigde toegang, gebruik of bekendmaking. 
Die Departement van Behuising beveilig die persoonlik identifiseerbare inligting wat u op rekenaarbedieners verskaf in ’n beheerde, veilige omgewing en beskerm u teen  ongemagtigde toegang, gebruik of bekendmaking. 
Wanneer persoonlike inligting (soos ’n kredietkaartnommer) na ander webwerwe oorgedra word, word dit beveilig met behulp van enkripsie, soos die Beveiligde Soklae (SSL)-protokol.
Veranderinge aan dié Verklaring
Die Departement van Behuising sal hierdie privaatheidsverklaring soms bywerk om maatskappy- en kliëntterugvoering te weerspieël. 
Die Departement van Behuising moedig u aan om hierdie Verklaring van tyd tot tyd weer te bestudeer om ingelig te bly oor hoe die Departement van Behuising u inligting beveilig.
Kontakinligting
Die Departement van Behuising verwelkom u kommentaar oor hierdie  Privaatheidsverklaring. 
Indien u glo dat die Departement van Behuising nie by hierdie Verklaring hou nie, kontak asseblief die Departement van Behuising by webmaster@kznhousing.gov.za.
Ons sal kommersieel redelike pogings aanwend om die probleem vinnig vas te stel en te korrigeer.
<Doc05>
Premier Ebrahim Rasool se Toespraak by die Matriekvieringsfunksie
Ons is vandag hier om ons topmatrieks geluk te wens.
Ons sê vir hulle: Knap gedaan! Ons is trots op julle, die provinsie en land is trots op julle, julle ouers is trots op julle, en die belangrikste is julle moet trots op julself wees.
Die rede waarom ons op ’n oomblik soos dié van trots praat, is ter erkenning van die feit dat ’n oomblik van prestasie voortspruit uit ’n langer tyd van moeilikheid en opoffering, dat vandag ’n oomblik van helderheid verteenwoordig uit omstandighede wat die beste as kompleks beskryf kan word.
Matriek is kompleks.
Oor die afgelope tien jaar moes ons die hele onderwysstelsel uit sy apartheidsoriëntering skuif.
Ons het in groot mate geslaag ten opsigte van beter integrasie, ’n enkele leerplan en eksamen, groter getalle leerders wat matriek skryf en slaag, en ’n bewustheid dat onderwys ook meer as net individuele behoeftes dien – dat die hele ekonomie afhanklik is van die stel vaardighede wat deur die onderwysstelsel gelewer word.
Matriek is inderdaad kompleks.
Ons leiers wat hier by Leeuwenhof byeen is, is ongetwyfeld die beste wat ons het, diegene wat die beste presteer het, en diegene wat al die lofbetuigings verdien wat hierdie Provinsie kan lewer.
Tog dink ons ook aan die 71% van die bevolking ouer as 20 jaar wat nie sekondêre onderwys voltooi het nie, die sowat helfte van die 80 000 wat 12 jaar gelede Graad 1 saam met julle begin het en nie eens die eksamen in 2004 geskryf het nie omdat hulle langs die pad uitgeval het, en die talle wat geskryf het, maar weens vak- en graadkeuses matrieksertifikate het wat nie deur die ekonomie of tersiêre onderwys geabsorbeer kan word nie.   
Matriek word nog meer gekompliseer deur die feit dat julle ons vertoonvensters is.
Die nasie beoordeel ons toekoms aan julle prestasie.
Hulle grond hulle optimisme op julle welstand.
Hulle grond hulle hoop vir die toekoms op ons investering in die onderwysstelsel wat tot hierdie oomblik van viering lei.
En ja, die grootste deel van sowel die nasionale as die provinsiale begroting gaan na onderwys.
Net vanjaar, om die diens van 2 000 opvoeders te behou, moes ons geld van ander provinsiale funksies vir onderwys aanwend.
Ons moet ons investering in armer skole versterk sodat die gehalte van onderwys in toenemende getalle gevoel word deur die groter geloof in die toekoms in elke skool in ŉ township.
Die belangrikste, Minister Dugmore en Superintendent-generaal Swartz, is dat ons een kans het om met ’n Menslikehulpbronstrategie vorendag te kom om al hierdie investering te regverdig.
Ons moet matrikulante oplewer wat sterk is in hulle waardes, uitstaande in hulle resultate, relevant vir die ekonomie, getrou aan hulle samelewing en voordelig is vir die mensdom.
Dit is wat ons vandag hier vier.
Julle verteenwoordig hierdie hoop terwyl ons ons Tuiste vir Almal bou.
Ons vier julle prestasies omdat julle opgeoffer en hard gewerk het, julle ouers opgeoffer en julle op skool gehou het, en julle samelewing opgeoffer en in julle toekoms geïnvesteer het.
Baie betwyfel die waarde van die viering van matriekprestasies omrede die kompleksiteite daarvan en die feit dat dit dalk steeds die reste van ’n apartheidstelsel weerspieël.
Net julle kan dit oorkom deur aktief en bewustelik daartoe verbind te wees om ’n Tuiste vir Almal te bou, een wat nierassig en gelyker is.
Dit moet weerspieël word in al die keuses wat julle van nou af maak.
Tot dusver moes julle net kies hoe hard julle wil werk.
Julle matrieksertifikate maak dit vir julle moontlik en dwing julle om besluite en keuses te maak oor die soort persoon wat julle wil wees en die soort lewe wat julle wil lei.
Geluk en beste wense. 
<Doc06>
Die 2010 Regeringskommunikasie Projekbestuur se missie is om:
die sukses van die strategiese kommunikasiedoelwitte vir die eerste FIFA Wêreldbeker vir Afrika te fasiliteer
die beste te maak van hierdie unieke geleentheid om eenheid en trots onder Suid-Afrikaners uit te druk en verder te bou
ons jeug te inspireer
die land aan die wêreld te bemark
’n klimaat vir kommunikasie te skep wat hierdie geleentheid sal gebruik om ontwikkeling te versnel en geleenthede uit te brei
Afrika-solidariteit te bou.
Dit sal bereik word deur:
die verskaffing van leierskap en koördinering vir regeringskommunikasie vir die  Wêreldbeker van 2010
die bou van ’n nasionale vennootskap van openbare en privaat kommunikeerders uit verskeie dissiplines, asook deur bondgenootskappe te smee met kommunikeerders op die vasteland en in die diaspora, sodat die land en vasteland kollektief kan voordeel trek uit hierdie kommunikasiegeleentheid van ’n leeftyd  
die onderneming van belangrike regeringskommunikasieprojekte vir die 2010 Sokkerwêreldbeker. 
<Doc07>
Nasionale padverkeersregulasies gewysig om padveiligheid te verbeter
POLOKWANE: die Nasionale Padverkeersregulasies is gewysig. 
Dit staan bekend as die Sewentiende Wysiging en het na publikasie in werking getree.
Die Departement van Paaie en Vervoer stel motoriste in kennis van die wysigings, naamlik:
Nuwe motorvoertuie wat na 01 Augustus 2010 geregistreer word, moet nommerplate hê wat met popklinknaels of skroewe toegerus is.  
As dit nie aan die voertuig geheg kan word nie, moet dit aan ’n montering geheg word wat aan SANS 973 voldoen. 
Hierdie wysiging sal misdaad en padverkeersoortredings verminder omdat  motoriste die nommerplate maklik verwyder sodat hulle nie opgespoor kan word nie. 
Dit sal nie maklik wees om die nommerplaat te verwyder en terug te sit nadat ’n misdaad gepleeg is nie, omdat daar altyd ekstra koste aangegaan sal moet word. 
Die nommerplaat is van aluminium sodat dit moeilik op ’n ongelukstoneel totaal deur brand vernietig kan word.
Met ingang van 1 Februarie 2011 word persone wat rybewyse vir kode C, C1, EC of EC1 bekom, nie toegelaat om ’n motorvoertuig te bestuur wat ’n kode B- of EB-lisensie vereis nie (voorheen kon ’n persoon met ’n kode 10-, 11-, 13- of 14-lisensie nie ’n voertuig bestuur waarvoor mens ’n kode 08-lisensie benodig nie).  
Dit geld net vir nuwe lisensiehouers. 
’n Taamlike groot aantal leerlingbestuurders doen deesdae aansoek vir lisensies vir swaar voertuie in teenstelling met dié vir ligte motorvoertuie ten einde byvoorbeeld parallelparkeertoetse te vermy. 
In werklikheid, wanneer hulle hul swaarmotorvoertuiglisensies bekom het, ry hulle met ligte motorvoertuie met wie se bestuurskontroles hulle nie vertroud is nie en raak sodoende in ongelukke betrokke. 
In werklikheid, wanneer hulle hul swaarmotorvoertuiglisensies bekom het, ry hulle met ligte motorvoertuie met wie se bestuurskontroles hulle nie vertroud is nie en raak sodoende in ongelukke betrokke.
Dit staaf die feit dat die aansoekers in werklikheid die bestuurlisensies vir ligte motorvoertuie bekom het en nie vir swaar motorvoertuie nie.
Rigtingstabiliseertoestelle vir mini- en midibusse word ingestel deur ’n sertifiseringsproses wat deel is van die padwaardigheidstoets.  
Dit is van toepassing op alle mini- en midibusse en nie net voertuie wat nuut vervaardig is nie. 
Die geregistreerde eienaar van ’n motorvoertuig of sy gevolmagtigde moet ’n behoorlik voltooide DSCD-vorm by die toetsstasie indien. 
’n Rigtingstabiliseertoestel is ’n toestel wat verhoed dat ’n band van sy velling loskom as die band bars terwyl die voertuig beweeg.
’n Wysiging aan Regulasie 332 is gepubliseer en lys die bewysregtelike asemtoetsers wat gebruik mag word om bewysregtelike asemmonsters te neem, en die sertifikaat wat deur die vervaardiger of verskaffer uitgereik word, mag as bewysstuk in hofsake gebruik word. 
Hierdie wysiging poog om die saak aan te spreek oor die wettigheid van asemtoetsers kragtens artikel 65(7) van die Nasionale Padverkeerswet, 1996, en voldoen aan SABS 1793 en mag gebruik word om die alkoholkonsentrasie in die asem te bepaal. 
Die volgende is voorgeskrewe toerusting:
“Dit kom net op die regte tyd vir hierdie feesgety omdat dit ons pogings steun om dronkbestuur op ons paaie te bekamp,” aldus die LUR van Paaie en Vervoer, Pinky Kekana.
<Doc08>
Voorgeboortelike (antenatale) Gesondheidsdienste
Swanger meisies en vroue word verwys na kraamdienste of Vroedvrouverloskunde-eenhede (VVE’s) in stedelike gebiede, en satelliet- of vaste klinieke in die landelike gebiede.
VVE’s is geboorte-eenhede wat deur vroedvroue in die gemeenskap bedryf word vir primêregesondheidsorgpasiënte.
Dit is raadsaam vir verwagtende moeders om hulle eerste besoek aan die kliniek voor 20 weke of so gou moontlik daarna te bespreek.
Die moeder ontvang ŉ volledige aanvanklike evaluering en berading wanneer sy vir haar eerste voorgeboortebesoek, ook bekend as die besprekingsbesoek, kom.
Die swangerskap word deur gereelde opvolgbesoeke gemonitor.
Die moeder se gesondheid word ook deeglik gemonitor.
Sy sal geweeg word, haar bloeddruk sal gemeet word en haar urine sal getoets word.
As daar geen komplikasies is nie, moet sy na twee weke vir haar eerste opvolgbesoek terugkom vir die resultate van die toetse wat tydens die besprekingsbesoek gedoen is.
Daarna moet sy elke ses weke kliniek toe gaan tot 28 weke, dan op 34 weke, en daarna soos deur die kliniek/VVE-personeel aangedui (frekwensie van besoeke kan verskil van gebied tot gebied).
Swanger moeders word ondersoek vir moontlike risiko’s vir hulle gesondheid en die gesondheid van die fetus.
Tienermeisies en vroue ouer as 35 jaar wat swanger is, word as hoërisikogevalle beskou.
Dit beteken daar is ’n groter waarskynlikheid van komplikasies tydens swangerskap en geboorte.
Swanger vroue kan ook as hoërisikogevalle beskou word as hulle hoë bloeddruk, ’n geskiedenis van genetiese versteurings of ’n veelvuldige swangerskap het en as hulle voorheen chirurgie ondergaan het soos ’n keisersnee.
Moeders wat as hoë risiko gediagnoseer word, word opwaarts verwys na die buitepasiënt voorgeboortekliniek by hospitale op sekondêre of tersiêre vlak, waar verdere ondersoeke en siftingstoetse gedoen word.
Moeders met hoërisikoswangerskappe word aangeraai om buitepasiënt voorgeboorteklinieke te besoek so dikwels as wat nodig is.
As jy ’n eerste besoek aan ’n gesondheidsfasiliteit bring, sal jy gevra word om ’n vorm in te vul en ’n lêer sal geopen word.
Bring jou ID-boekie, enige medikasie wat jy gebruik en ’n kliniek- of hospitaalkaart, as jy  voorheen by die fasiliteit geregistreer is.
Laerisikoswangerskappe word by VVE’s hanteer (geboorte-eenhede wat deur vroedvroue in die gemeenskap bedryf word vir primêregesondheidsorgpasiënte) in stedelike gebiede, en satelliet- of vaste klinieke in die landelike gebiede.
Hoërisikoswangerskappe word hanteer by buitepasiëntklinieke by stedelike en landelike streekhospitale en tersiêre hospitale.
<Doc09>
Geïntegreerde Voedingsprogram
Die Geïntegreerde Voedingsprogram (GVP) poog om die voedingstatus van alle mense wat in die Wes-Kaap woon te verbeter.  
Hierdie program bestaan uit talle aspekte.
Wat is wanvoeding?
Wanvoeding is ’n ernstige probleem in Suid-Afrika en een van die grootste bydraers tot kindersiektes en -sterftes. 
Daar word beraam dat sowat 30% Suid-Afrikaanse kinders se groei verhinder word weens ’n gebrek aan voldoende voeding in hul vroeë lewensjare.
Onvoldoende voedselinname, siekte en psigososiale stres/trauma is die belangrikste regstreekse oorsake van wanvoeding. 
Armoede en gebrek aan hulpbronne is basiese faktore wat bydra tot wanvoeding. 
Die GVP probeer om hierdie stille epidemie op ’n paar maniere te hanteer. 
Aanvullings vir kinders
Op die vlak van primêre gesondheidsorg sal kinders wat ondersoek en as ondervoed geïdentifiseer word (dit sluit kinders en volwassenes met MIV en tuberkulose in), voedselaanvullings ontvang, insluitend verrykte mieliemeel en ’n energieryke drankie. 
Aanvullings word aan geïdentifiseerde kliënte volgens verskeie maatstawwe gegee. 
Gesondheidswerkers verskaf ook berading, inligting en opvoeding oor gesonde diëte en die gesondste maniere om kos voor te berei. 
Dieetkundiges verskaf ook gespesialiseerde dienste aan die gemeenskap.
Borsvoeding
Om wanvoeding gedurende die vroeë kinderjare te beveg, moedig gesondheidswerkers vroue aan om hul kinders uitsluitlik te borsvoed tot op ses maande en ook daarna benewens toepaslike aanvullende voedsel, tot die kind twee jaar oud is.  
Ander voedingsopsies word bespreek met moeders wat MIV-positief is.
Vredendal Hospitaal en Groote Schuur Kraamsentrum is Babavriendelike Hospitale in die provinsie volgens die Babavriendelike Hospitaal-inisiatief.
Groeimonitering
Alle kinders word gereeld geweeg as deel van die groeimoniteringsprogram, omdat dit ’n sensitiewe aanduider is of die kind groei.
Die gewig word aangeteken op die pad-na-gesondheid-kaart. 
Onderliggende oorsake van gewigsverlies word ondersoek, soos aansteeklike siektes, tekort aan voedsel by die huis en kinderverwaarlosing. 
Aansteeklike siektes speel ’n groot rol in wanvoeding en word behandel op die vlak van primêre gesondheidsorg.
Diarreesiektes hou grootliks verband met swak omgewingshigiëne (sanitasie en watervoorsiening) en onder- of swak voeding van ’n baba, wat hom/haar dan meer kwesbaar maak vir ernstige en uitgerekte diarree. 
Armoedeverligting
Arm huishoudings word geïdentifiseer en verwys na een van die regering se armoedeverligtingsprogramme.  
Huishoudings se voedselsekuriteit word intersektoraal getakel en toepaslike ingryping  en steuning word verskaf.  
Vitamienaanvullings
Die beheer van tekorte aan mikronutriënte vorm ’n noodsaaklike deel van die diens.
Mikronutriënte is natuurlike stowwe soos vitamiene en minerale wat in klein hoeveelhede in voedsel voorkom en is baie belangrik vir die instandhouding van goeie gesondheid. 
Die GVP verskaf vitamien A-aanvullings aan kinders in die teikengroep.
Kinders met ’n tekort aan vitamien A verloor gewig, groei nie behoorlik nie en is meer geneig om infeksies te kry en daaraan te sterf. 
’n Tekort aan vitamien A beskadig die oog en is een van die hoofoorsake van blindheid onder kinders.
Kinders met ’n lae geboortegewig ontvang vitamien A-kapsules wat die immuunstelsel ’n hupstoot gee en help om die kind te ontwikkeling. 
Babas tussen 6-11 maande word ’n enkele dosis vitamien A (100 000 IU) gegee om ernstige siekte te voorkom. 
Kinders tussen 12 maande en vyf jaar kry ’n enkele dosis van 200 000 IU op 12 maande, daarna ’n dosis van 200 000 IU elke ses maande tot op vyf jaar. 
Bykomende dosisse vitamien A word gegee aan kinders wat ernstig ondervoed is, of wat aanhoudend aansteeklike siektes soos diarree, masels of ŉ MIV-infeksie het.
Ontwurming
Gewigsverlies by kinders kan ook veroorsaak word deur wurmbesmetting en dit kan by die kliniek met ontwurmingsmedikasie behandel word.
Voedingsadvies vir spesifieke toestande
Voedingsopvoeding, -inligting en -berading word op alle vlakke van sorg gegee aan mense wat beroertes gehad het, wat hipertensie, hoë bloeddruk, diabetes, MIV-vigs en tuberkulose het. 
Voedingsprogram vir laerskole
Die voedingsprogram vir laerskole is beskikbaar by subekonomiese skole wat spesifiek daarvoor  geïdentifiseer is. 
Hierdie skemas word tans bedryf in samewerking met die Departement van Onderwys. 
Die provinsiale regering se doelwit is om 125 000 kinders by 847 laerskole in die provinsie teen 2004 met sy skoolvoedingsprogram te bereik. 
Voedsel by instellings
Die GVP dra ook by tot die institusionele versorging van kliënte deur voedseldiensstelsels vir die voorsiening van gebalanseerde voedsel.
Instruksies:
Eerste besoekers aan die kliniek/sekondêre of tersiêre hospitaal sal gevra word om ’n vorm in te vul en ’n lêer sal vir die pasiënt oopgemaak word.
Bring jou ID-boek saam.
’n Verwysingsbrief van die kliniek sal vereis word wanneer ’n hospitaal besoek word. 
Hospitale sal vra vir jou mees onlangse betaalstrokie/inkomste-aanslag (IRP5).
Bring jou hospitaalkaart saam indien jy al voorheen by die hospitaal geregistreer is.
<Doc10>
Toespraak deur die Adjunkminister van Openbare Werke, mnr. Ntopile Kganyago, ter geleentheid van die eerste openbare bekendstelling van die Tshwane-middestadprogram, Suid-Afrikaanse Reserwebank-gebou, Tshwane
Ander senior staatsamptenare
Dames en here van die media
Agbare gaste
Die besluit wat die Kabinet in 1997 geneem het om nasionale staatsdepartemente aan te moedig om die middestad van Tshwane 'n permanente tuiste te maak, was ’n bewys van ’n groot visie; toe en nou. 
Die uitkoms is ’n goed georkestreerde plan om die verjonging van ons stede te koppel aan die regering se oproep tot stedelike hernuwing en ander ruimtelike ontwikkelingsinisiatiewe wat ontwerp is om stedelike bestuurswaardes te bevorder wat gehoor gee aan menseregte, gasvrye woongebiede, ekonomiese ontwikkeling en maatskaplike samehorigheid.  
Vandag, terwyl ons die eerste tree gee om daardie visie te realiseer, vier ons ook die reis wat ons tot nou toe onderneem het.
Intense beraadslaging, dikwels gekenmerk deur ewe intense debatte oor die behoeftes van en opsies beskikbaar vir staatsdepartemente wat hul fisiese omgewing betref, het nie almal van ons weggelei van die oorspronklike doelwitte nie, naamlik om die fisiese werksomgewing te verbeter van staatsdepartemente in die middestad Tshwane. 
Terselfdertyd moet ons bydra tot die middestad se hernuwing en verjonging.
Ander doelwitte, wat geensins minder belangrik is nie, sluit ’n aksie in om beleggings uit die privaatsektor te lok, die beeld van Tshwane te ontwikkel as ’n belangrike hoofstad in Afrika en swart ekonomiese bemagtiging te bevorder.
Die regering is die grootste besitter van eiendom en onder die voorste beleggers in die ekonomiese lewe van die plaaslike regering, veral in die Johannesburg- en Tshwane-metro’s in Gauteng. 
Departemente het funksionele sowel as kantoorakkommodasie nodig om hul openbare diensleweringsverpligting na te kom ter uitvoering van hul mandaat. 
Dit is algemeen bekend dat die meeste regeringsgeboue, wat hul toestand betref, in die kategorie goed tot redelik, teenoor uitstekend val.
Opknappingswerk, opgradering en herstelwerk sal aan die spits staan van kapitaalbesteding en bydra tot die SEB-komponent van die Tshwane-middestadprojek. 
Die nasionale regering, deur die Departement van Openbare Werke, spandeer jaarliks landswyd meer as twee miljard rand (R2 miljard) om te betaal vir huurkontrakte en ander verwante eiendombestuurstariewe soos eiendomsbelasting en diensgelde, met beide die privaat sektor en plaaslike regering as begunstigdes.
Daar word sonder uitsondering van dieselfde belanghebbers verwag om die proses om Tshwane-middestad se hernuwing voort te stu, moontlik met die deelname van Gauteng se provinsiale regering, deur belangrike beleggingsprojekte soos gesteun deur die Gautengse Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap (GEDA). 
In die konteks van die Tshwane-middestadprogram, voortaan bekend as "Re Kgabisa Tshwane" met die subtitel "ŉ Beter Plek om te Werk", is die fokus net so veel op die mense (beide staatsamptenare en publiek) as op die fisiese ruimtes wat hulle inneem wanneer hulle noodsaaklike openbare dienste lewer of ontvang. 
Met die aankondiging van die regering se aksieplan vir 2004, het die president, mnr. Thabo Mbeki, ’n beroep gedoen op die nasionale Departemente van Openbare Werke, asook Staatsdiens en Administrasie, om die projek saam te bestuur om die fisiese werksomgewing van staatsdepartemente en staatsamptenare te verbeter. 
Fisiese staatsinfrastruktuur is die enjin van dienslewering en die staatsamptenare is die brandstof wat die enjin aandryf en dit vinniger, doeltreffend en suksesvol laat draai.
Tydens die behoeftebepalingsfase van die projek het baie staatsdienswerkers wat geraadpleeg is die belangrikheid beklemtoon van uitstekende werkruimtes wat pas by hul amp, en dit het beide die interne en eksterne omgewing ingesluit, daarom die noodsaaklikheid om saam te werk met die Tshwane-metro, wat verantwoordelik is vir die meeste stedelike bestuursaspekte soos verkeer, netheid, veiligheid, sekuriteit en estetika. 
Laat ek hierdie geleentheid gebruik om die Tshwane-bestuur en -leierskap te bedank vir hul versiendheid om hierdie projek te aanvaar deur dit geredelik in ooreenstemming te bring met hul eie geïntegreerde ontwikkelingsplanne. 
Om die waarheid te sê, die memorandum van verstandhouding (MvV) wat ons later vandag aangaan tussen die Departement van Openbare Werke en die Stad Tshwane, is ’n bevestiging dat ons gemeenskaplike gronde gevind het van waar ons kan wegspring. 
Dit is ’n verklaring van voorneme om saam te werk aan inisiatiewe en projekte wat beide partye tot voordeel strek.
Ons boodskap aan u vandag is dat "die werk begin het" en oor die volgende 10 jaar sal ’n inspuiting van meer as agt miljard rand (R8 miljard) plaasvind deur die nasionale regering en privaat sektor deur kapitaalbegrotings, huurverbeterings en openbaar-privaat-vennootskappe.  
Wat programbestuur betref, is ’n loodskomitee gestig tussen die Departement van Staatsdiens en Administrasie, die Departement van Openbare Werke, die Nasionale Tesourie en die Stad Tshwane.  
Die komitee sal onder meer die program bevorder, daaroor toesig hou en die implementering monitor, die befondsingstrategie finaliseer en gekoördineerde implementering verseker. 
Die departement het mnr. Dumisani Dlamini aangestel as adjunk-direkteur-generaal verantwoordelik vir die hele programbestuur. 
Baie dankie.
<Doc11>
Mevrou die Speaker, Agbare Premier, Kabinetskollegas, Lede van die Huis, Geëerde gaste, die beamptes van die departement van behuising, lede van die media en die breë publiek, hartlik welkom.
Hierdie woorde, dames en here, reflekteer die die Suid-Afrikaanse politiek, veral in die Wes-Kaap.
Ongeag die harde werk van toegewyde mense in hierdie land wat vooruitgang loof, is sommige mense altyd daarop uit is om die wonderlike werk af te kraak wat deur ŉ sorgsame regering in die kort tydjie wat hy aan bewind is, gedoen is.
Dames en here, baie mense argumenteer oor wat behuising eintlik beteken, maar laat my toe om vir u nog ’n weergawe te gee. 
Vir my gaan behuising nie net oor skuiling nie.
Dit gaan daaroor dat mense self verantwoordelikheid aanvaar om hulle gemeenskaplike omgewing in stand te hou en hulle toekoms te beheer.
Dit gaan oor die skep van lewensvatbare gemeenskappe en volhoubare lewensomgewings.
Dit gaan oor voorspoed in eenheid deur vennootskappe tussen die privaat sektor, die openbare sektor, nieregeringsorganisasies, maar die belangrikste, gemeenskappe.
Vir my kan behuising die beste beskryf word as ’n proses wat beplanning met mense behels en nie beplanning vir mense nie.
Behuising in die Suid-Afrikaanse konteks is nie net ’n produk nie maar ook ’n proses wat berus op demokratiese waardes waarvoor die mense van hierdie land so hard baklei het.
Dit is ’n proses wat luister na die mense, wat mense toelaat om hulle demokratiese reg uit te druk deur die tipe behuising en gebiede waar hulle hul huise wil bou, te kies.
Daar is dus niks wat so verontmenslikend en ondemokraties is as om mense van hulle fundamentele reg van keuse te vervreem nie.
Anders as die apartheidstelsel, as ’n sosiale aktivis staan mense in die middel van my visie en strategie vir behuisingslewering.
Dames en here, ek bied vanmiddag met genoeë aan u my tweede begrotingsrede as die Provinsiale Minister van Behuising.
Ek is ook trots dat ek hierdie begrotingsrede lewer op die vooraand van die 10de herdenking van ons demokrasie.
Daar is konkrete bewys dat die ANC-geleide regering in net minder as tien jaar van sy demokratiese bewind meer bereik het as wat enige ander land ter wêreld ooit gedoen het.
Sisebenzile - Ons het presteer.
Konkreet gestel, ek is trots om aan te kondig dat van die 1.4 miljoen behuisingsgeleenthede wat die regering gelewer het, ons provinsie in die afgelope nege jaar 167 000 eenhede gelewer het, wat 11% van die nasionale koek is. 
Na my mening is dit ’n uitstekende prestasie gemeet aan enige maatstaf.
Ek wil ook boekstaaf dat die afgelope jaar vol uitdagings was, wat ’n negatiewe uitwerking gehad het op die lewering van behuising in die land as geheel maar in die provinsie in die besonder.
Hierdie uitdagings was ’n gevolg van die invoering van die nuwe beleidsvoorskrifte en meganismes soos bevoordeeldes se bydrae van R2 479 en die invoering van die Nasionale Huisbouersregistrasieraad se Waarborgskema vir staatsubsidiebehuising.
Hierdie maatreëls is nie daarop gemik om lewering te vertraag nie maar om seker te maak dat ons mense bekostigbare behuising van gehalte ontvang.
Die leerkromme wat ons met die implementering van hierdie beleide ondergaan, vertraag egter lewering.
Die situasie is vererger deur die feit dat my departement nege maande lank nie ’n Hoofdirekteur gehad het nie.
Dit het vordering in baie groot mate vertraag.
Sedertdien het ek een aangestel, mnr. Seth Maqethuka, wat in Kaapstad gebore en getoë is en ondervinding van nasionale en plaaslike regering het, en ek wil hom gelukwens en verwelkom, al het ek dit alreeds gedoen.
Ten spyte van al hierdie uitdagings en beperkings is ek trots om vir ons mense aan te kondig dat my departement daarin geslaag het om R348 miljoen te bestee, wat 92% van die behuisingstoekenning aan die Wes-Kaap is.
Party van die provinsies het skaars 25% van hulle begroting bestee.
Dit het gelei tot die goedkeuring van nagenoeg 25 000 behuisingsubsidies.
Steeds meer arm gesinne sal ’n kans kry om die vrugte van ons demokrasie te geniet.
Dit, dames en here, verteenwoordig ’n beduidende toename van 3 000 eenhede vergeleke met die vorige jaar.
In dié verband wil ek erkenning gee vir die belangrike rol wat munisipaliteite in ons provinsie speel.
Sonder hulle toewyding en uitstekende werk sou ons nie soveel kon bestee nie.
In dieselfde asem wil ek die Stad Kaapstad gelukwens met die besteding van ongeveer 70% van ons begroting.
Ek vergeet ook nie my amptenare nie, vir hulle harde werk en bydrae tot ons visie van behuising vir die nasie.
Dames en here, ek sal nie aan my gewete getrou wees as ek net ’n rooskleurige prentjie van die behuisingsleweringsproses skets nie.
Daar is steeds leemtes in ons leweringsproses.
Om hierdie rede moet ons nog op die volgende knellende gebiede verbeter:
Die meeste van ons huise voldoen nog nie aan die beleidsverskuiwing van kwantiteit na kwaliteit nie.
Ons moet nog die proses van behuisingslewering verander van die verskaffing van ŉ skuiling na die skep van volhoubare menslike nedersettings.
Ons moet die deelname van bevoordeeldes verander van passiewe na aktiewe deelname.
Ons moet die denke van ons mense verander sodat hulle kan begin om staatsubsidiehuise nie as blote produkte nie maar as bates te beskou.
<Doc12>
SEKTORPOLISIËRINGSWERK 
Groot was die verligting vir moeder en baba toe die 16 dae oue James Busakwe op 7 April 2006 met sy biologiese ma herenig is. 
Die beproewing het begin toe baba James se ma op 6 April by die Klerksdorp Hospitaal aankom om haar seun te besoek, en die verpleegpersoneel besef dat die kind aan ’n ander vrou gegee is, wat die vorige dag beweer het sy is die kind se biologiese ma. 
Onmiddellik nadat die ontdekking gedoen is, het die verpleegsters die Kanana-polisiekantoor in kennis gestel omdat die vrou wat James kom haal het ’n adres in Kanana gegee het.
Die adres is nagegaan, maar sonder sukses.
Niemand met daardie naam of beskrywing van die vrou was by daardie adres nie. 
Die aand van 6 April het die Kanana-GPF ’n vergadering gehou.
Die waarnemende stasiekommissaris het die vergadering ingelig oor die ontvoerde kind en almal versoek om hul oë en ore oop te hou. 
Ongeveer 23:00 dieselfde nag het een van die gemeenskapslede die polisie gebel met inligting dat ’n vrou wat in sy sektor woon, en wat volgens alle aanduidings nie swanger was nie, skielik ’n babaseuntjie gehad het.
Die polisie het die inligting opgevolg en inderdaad die vrou en die kind gevind. 
Die hospitaalpersoneel is uitgeroep en het die kind onmiddellik geïdentifiseer, asook die vrou wat hom uit die hospitaal ontvoer het. 
Verskeie bewyse, insluitend die plastiek hospitaalarmbandjie, is by die verdagte se huis gevind. 
Die vrou is in hegtenis geneem en die ongedeerde kind is teruggeneem hospitaal toe, waar hy die volgende oggend met sy regte ma herenig is. 
Die optrede van die lede van die gemeenskap wat betrokke was by die kind se ontdekking, moet geprys word, want dit beklemtoon die waarde van gemeenskapspolisiëring. 
Die waarde van sektorpolisiëring wat reg geïmplementeer en gehandhaaf word, moet nooit onderskat word nie.
Gaan voort met die goeie werk, Kanana-GPF!
Beste Mevrou
Ek neem aan dit was geluk, of miskien ’n gelukskoot, dat ek by u polisiestasie in Mondeor moes verbygaan, en so het ek afgekom op u SAPD-joernaal.
Ek neem aan dit word een keer per maand uitgegee en ek het dit baie interessante leesstof gevind. 
Ek en my vrou het pas ’n nuwe besigheid begin en ons wil graag al of enige van u personeel nooi om wanneer hulle in ons gebied is, in te loer vir ’n gratis koppie koffie of tee en hopelik sal ons ook ’n koekie of twee vir hulle beskikbaar hê.
Ek is seker u sal verstaan dat dit nie maklik is om ’n nuwe besigheid te begin nie en dat dit baie werk en kapitaal verg.
Ons is egter steeds van mening dat die polisie en al die ander wetstoepassingsafdelings baie belangrik is vir alle Suid-Afrikaanse burgers.
Dit is net iets kleins wat ons julle wil aanbied om julle te bedank vir dit wat julle opoffer om te sorg dat ons, die burgers, met ons daaglikse lewens kan voortgaan. 
Ons sien daarna uit om te hoor van sommige van u personeel in uniform, of nog beter, om hulle te sien wanneer hulle by ons winkeltjie inloer en hulle beter te leer ken.
Dankie weer aan u, die wetstoepassingspersoneel van Suid-Afrika, vir al julle harde werk en toewyding om Suid-Afrika veilig te hou.
Kort, feitelike briewe kan per faks of e-pos aan die Redakteur gestuur word. 
Ons behou die reg voor om briewe te redigeer of te verkort.
<Doc13>
’N OPROEP OM AKSIE 
Op 14 Junie 2007 het een van die artikels op die SAPS se aanlyntydskrif (www.sapsjournalonline.gov.za) beskryf hoe twee polisiebeamptes van die Welkom-voertuigidentifiseringsafdeling gearresteer is vir korrupsie en bedrog.
Na berig word, het hierdie twee, ’n superintendent en ’n inspekteur, voertuie wat deur die polisie teruggevind is, vir eie gewin verkoop.
Albei verdagtes het op 12 Junie in die hof verskyn en die saak is tot 21 Augustus 2007 uitgestel.
Een dag later, op 15 Junie 2007, het ’n News24-opskrif verklaar: “Twee polisiemans aangehou vir gewapende roof”.
Dié keer was dit ’n studentekonstabel en ’n inspekteur wat na berig word ’n klerewinkel in Marble Hall beroof en geld, broeke en ’n hemp gesteel het.
Korrupsie in die polisie moet beëindig word.
Die meeste van ons is eerlike, hardwerkende burgers, maar ’n paar polisiebeamptes toon geen respek vir hulself, hulle uniform of die Polisie se Gedragskode nie.
Dit is hoog tyd dat ons die SAPD eens en vir altyd van al hierdie negatiewe elemente bevry.
Nou kan jy ook help om van die korrupte polisielede ontslae te raak deur hulle op ’n nuwe misdaadlyn aan die kaak te stel.
Anoniem!
As jy vermoed dat een van jou kollegas iets in die mou voer, of as jy weet van iemand anders, hetsy polisiebeamptes, familielede, kollegas, bure of vreemdelinge, wat betrokke is by of beoog om betrokke te raak by misdaadbedrywighede, hoef jy net ’n SMS na 32211 te stuur.
Dit is die nuwe nasionale misdaadnommer wat onlangs deur Primedia in Sandton bekend gestel is.
Jy kan óf ’n SMS na 32211 stuur (teen ’n koste van R1 elk) óf na www.crime-line.co.za gaan.
Opgeleide datavasleggers wag om die inligting aan die polisie deur te gee, wat onmiddellik daarop sal reageer!
Die beste ding is dat jy naamloos sal bly.
Nou het jy die mag om misdaad te help beveg sonder om jouself aan gevaar bloot te stel.
Die Primedia-inisiatief belowe dat jy nie betrek sal word nie.
Yusuf Abramjee, Primedia se Teenmisdaadprojekkoördineerder, sê: “Ons wil nie jou naam of adres hê nie tensy jy dit vrywillig aan ons verstrek, en geen verklarings of hofverskynings is nodig nie.
Al wat ons wil hê, is inligting oor misdadigers sodat die polisie daarop kan reageer.”
Hierdie nuwe nasionale multimiljoenrand-teenmisdaadveldtog is op 7 Junie 2007 in Sandton deur Primedia bekend gestel.
Dit is op die internasionale misdaadstopperstelsel gebaseer.
Misdaadstoppers het in September 1976 in Albuquerque, Nieu-Mexiko, begin.
Dit is ’n vennootskap tussen die gemeenskap, die media en wetstoepassingsagentskappe en beoog om misdaad te bekamp en inwoners veilig te hou.
Vandag is daar ongeveer 1 200 Misdaadstoppers-programme wêreldwyd wat in 20 lande funksioneer en inligting gebruik wat deur die gemeenskap verskaf word om misdade te help oplos.
Volgens die HUB van Primedia Bpk, mnr William Kirsh, het hierdie programme al gehelp om 600 000 misdadigers te arresteer!
Wat elke polisiebeampte oor hierdie nuwe teenmisdaadveldtog moet weet, is dat dit die volle steun het van die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, mnr Charles Nqakula, en die Nasionale Kommissaris van die SAPD, kommissaris Jackie Selebi.
Kommissaris Selebi het belowe dat “as ’n organisasie ons alles in ons vermoë gaan doen om hierdie projek te laat werk”.
Die vraag is wat gaan jy daaraan doen?
Elkeen se volle steun is nodig, nie net om onmiddellik op te tree as jy inligting van die misdaadlynsentrum ontvang nie, maar ook om hierdie inisiatief te bemark waar jy ook al kan.
Vertel vir die mense, die GPF’s, die skole, jou familie en vriende van hierdie inisiatief.
Sorg dat hulle verstaan dat die veldtog belowe dat hulle nie betrek sal word nie, dat hulle anoniem sal bly al gebeur wat ook al.
En onthou dit is nie ’n noodlyn nie.
Mense moet noodgevalle steeds by 10111 of hulle naaste polisiestasie aanmeld.
Deur hierdie teenmisdaadveldtog reik die media ’n hand uit na die polisie.
Hulle wil ons help om Suid-Afrika ’n veiliger plek vir elkeen van ons te maak.
By die bekendstelling van die misdaadlyninisiatief het John Robbie, die oggendprogramaanbieder van Talk Radio 702, 65 ID-instrumentmasjiene aan die SAPD oorhandig.
Mnr Robbie het onlangs op die lug ’n beroep op luisteraars gedoen om hulle tot hierdie ID-instrumentmasjiene te verbind.
Die masjiene se kleinhandelaar, Face Technology, bring ook sy kant en het die prys van die masjiene tot kosprys verlaag, wat maatskappye wat aanvanklik genoeg geld vir een masjien belowe het, in staat stel om twee te koop.
Primedia en John Robbie is nie die enigste mense wat die polisie daadwerklik help in die stryd teen misdaad nie.
Lees enige van die suksesverhale in die SAPS-tydskrif of op die SAPS se aanlyntydskrif en jy sal sien hoeveel sake is al met behulp van gemeenskapslede opgelos.
Met hierdie nuwe teenmisdaadveldtog kan die misdadigers, insluitende enkele korruptes in die diens, nou van een ding seker wees … hulle dae is getel.
<Doc14>
ETQA-diensverskaffersakkreditasie
Suid-Afrika Regeringsdienste
Aansoek aan ’n ETQA vir akkreditasie as ’n verskaffer van onderwys en opleiding
Beskrywing
Die regulasies wat op die Onderwys-en-Opleiding Kwaliteitsversekeringsliggame (ETQA) onder die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO) van toepassing is, vereis dat verskaffers van onderwys en opleiding by ’n ETQA aansoek doen vir akkreditasie.
Om geakkrediteer te word, moet verskaffers van onderwys en opleiding ooreenkomstig die toepaslike wetgewing geregistreer word.
Wetgewing met betrekking tot Hoër Onderwys en Verdere Onderwys vereis dat alle verskaffers van onderwys en opleiding wat volle kwalifikasies aanbied, by die Departement van Onderwys geregistreer moet word.
Die verskaffer van onderwys en opleiding moet eenheidstandaarde en/of kwalifikasies aanbied wat binne die primêre fokusgebied van die Onderwys-en-opleiding Kwaliteitversekeringsliggaam (ETQA) van die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid (SOOO) of beroepsliggaam val.
Vereistes vir akkreditasie:
* Die vereistes vir akkreditasie is vervat in die dokument getitel Kriteria en Riglyne vir Verskaffers en is op die SAKO-webwerf beskikbaar.
* Die programme (en/of assesserings) wat deur die verskaffer van onderwys en opleiding aangebied word, lei tot eenheidstandaarde en/of kwalifikasies wat op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) geregistreer is.
* Die kurrikulum (ontwerp, inhoud en leermateriaal) is in ooreenstemming met die eenheidstandaarde en/of kwalifikasies.
* Daar is gepaste gekwalifiseerde personeel (fasiliteerders en geregistreerde assessors).
* Die leerders het toegang tot toereikende leersteundienste.
* Die assesseringsmetodes en -instrumente wat gebruik word om die vereistes vir die eenheidstandaard en/of kwalifikasie te meet, is billik, geldig en betroubaar en word gebruik om leer te bevorder. 
Stappe om te volg
* Stuur ’n brief van u voorneme om as ’n verskaffer van onderwys en opleiding geakkrediteer te word, aan die betrokke ETQA.
* Lê ’n selfevaluering en aansoekvorm aan die ETQA voor.
* As akkreditering nie aan u toegestaan word nie en u voel die proses was onbillik, het u die reg om te appelleer.
* ’n Lys van ETQA’s en kontakbesonderhede is op die SAKO-webwerf beskikbaar.
Dit kan tot 6 maande neem.
Die diens is gratis.
Vorms om in te vul
Aansoekvorms vir verskaffersakkreditasie en verbandhoudende dokumentasie kan van die betrokke ETQA verkry word.
Kontakbesonderhede – Kies asseblief een opsie:
