<Doc01>
Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid
Kliëntedienshandves
Welkom by ons kliëntehandves
Ons wil hê u, ons kliënt, moet ons beoordeel volgens die standaard van diens wat ons uiteensit in hierdie handves. 
Ons sal u met respek behandel en aan u ’n goeie diens lewer in ooreenstemming met die BATHO PELE-beginsels. 
Ons onderneem, as deel van ons verantwoordelikheid, om ’n diens van wêreldgehalte te verskaf en u te voorsien van korrekte inligting, raad en bystand in al ons dienste.  
Doel van die handves
Hierdie handves lig u in oor die standaard van diens wat u kan verwag van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA).  
SASSA is ’n uitbreiding van ’n diensleweringsafdeling van die regering wat die betaling van maatskaplike toelaes aan die burgers van Suid-Afrika administreer. 
Ons onderneem
Om kwaliteit maatskaplike sekerheidsdienste te administreer deur die kostedoeltreffende en effektiewe gebruik van die beste praktyke. 
Wat u kan verwag van ons
Bevordering en beskerming van menswaardigheid, vertroulikheid, integriteit, regverdigheid, deursigtigheid en billikheid. 
Regdeur die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid, sal ons
U inligting en raad gee oor al die toelaes waarvoor u kan aansoek doen.
U na ander instellings verwys wat kan aandag gee aan u behoeftes.
U bystaan om ons vorms in te vul/te voltooi en aansoek te doen vir die toelae. 
Die inligting wat u ons gee vertroulik hou.
Altyd die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, die wette wat die staatsdiens beheer en die gedragskode van die staatsdiens handhaaf  
U bedien in ’n taal van u keuse. 
Werk in vennootskap met die mense wat ons dien en ander belanghebbers.
Streef na voortdurende verbetering van dienslewering om te voldoen aan u verwagtinge 
Kontak ons
Wanneer u ons ook al persoonlik, telefonies, per brief of e-pos kontak, sal die volgende gebeur:
Die kliëntediensagent met wie u praat, sal homself/haarself identifiseer. 
Met telefoniese en persoonlike navrae, sal ons u navrae onmiddellik oplos.
Indien ons dit nie onmiddellik kan oplos nie, sal ons redes verskaf en die kliënt inlig wanneer om ’n antwoord te verwag.
Ons sal u ’n verwysingsnommer gee om u in staat te stel om u navraag op te volg
Ons sal ontvangs erken van enige kommunikasie wat u stuur en ons sal die navraag binne 7 werksdae hanteer. 
Indien ons u nie binne 7 werksdae volledig kan antwoord nie, sal ons u inlig waarom nie en wanneer u die antwoord kan verwag.
Ons sal probeer om u navraag op te los binne 21 werksdae.
Indien u ons bel, probeer ons om u oproep so gou as moontlik in die amptelike taal van u keuse te antwoord. 
Ons sal elke besluit oor u toelae skriftelik kommunikeer
By SASSA-kantore
Wanneer u aankom by een van ons kantore, sal ons hulptoonbank se personeel u onmiddellik help.
Al ons kantore is oop van 08h00 tot 16h30, Maandag tot Donderdag en van 08h00 tot 16h00 op Vrydag.
By ons kantore en betaalpunte sal u toegang hê tot die volgende:
Privaatheid
Gerieflike wagareas
Toiletgeriewe
Mediese hulp indien ons vooraf ingelig word oor so ’n behoefte 
Ons sal na u toe kom indien u om mediese redes nie na ons kantore kan kom nie.
U kan ons bel en ons sal ’n huisbesoek reël. 
Hantering van u aansoek om maatskaplike ‘n toelae 
Ons sal dieselfde dag begin om u aansoek te verwerk. 
Ons moet seker maak dat u wettiglik geregtig is op die toelae.
Ons stel vir onsself doelwitte om u eis te hanteer en u toelae te betaal binne 90 dae. 
Ons sal u raad gee oor u reg van appèl in geval van afkeurings, opskortings en kansellasies 
Besluitneming. 
Indien ons ’n besluit neem oor u aansoek vir ’n toelae en u dink dit is verkeerd, of u wil nog verdere inligting oor die besluit hê, kan u die volgende doen:
Vra ons om die besluit in meer besonderhede te verduidelik en ons sal gehoor gee aan u versoek. 
U kan teen ons besluit appelleer slegs binne 30 dae vanaf die datum op die beslissingsbrief. 
U kan toegang kry tot u lêer vir watter inligting u ook al nodig het. 
U verantwoordelikheid sal wees
Om ons te voorsien van:
U korrekte pos- en woonadres.
Veranderinge in u persoonlike omstandighede soos inkomste, adres, mediese toestand, ens.
Eerlike, waarheidsgetroue, akkurate en volledige inligting of verduideliking te alle tye.
Tydige reaksie op al ons korrespondensie insluitend hersienings of enige ander inligting wat van u versoek word.
Ongelukkig met ons dienste?
Indien u ongelukkig is met ons diens omdat:
Ons te lank geneem het om u toelae te verwerk en/of u nie u betaling betyds gekry het nie.
Die optrede van ons amptenaar ongewens was.
Ons personeel ’n fout op u aansoek begaan het of u verkeerde raad gegee het.
Oor enige doelbewuste/onbewuste fout aan ons kant
lig ons daaroor in en ons sal onmiddellik enige fout regstel wat ons gemaak het.
Indien u ’n klag wil lê, skryf asseblief aan ons of bel en vra om verwys te word na ons kliëntedienseenheid. 
Ons sal ons dienste met u bespreek
Ons stel belang in u mening oor ons dienste.
Ons sal die inligting wat u ons gee, gebruik om ons dienste te verbeter.
Stuur asseblief vir ons terugvoer op enige van die metodes wat hieronder volg:
Skakel ons inbelsentrum se tolvrye nommer - 0800 601 011
Voltooi ’n kliëntekaart vir kommentaar wat beskikbaar is by beide ons kantore en betaalpunte. 
Besoek ons webwerf by www.sassa.gov.za
Besoek enige een van ons kontakpunte.
(Distrik, plaaslik, diens- en betaalpunte)
Dien ’n geskrewe voorlegging in by enige van ons kantore. 
Vrae of kommentaar oor hierdie handves
Indien u enige verdere inligting nodig het oor hierdie handves, kontak een van ons kantore.
U kan hierdie handves in braille, op oudiokasset en CD ontvang, indien u vra. 
Hierdie handves sal van krag word op die 01/04/2007 en sal jaarliks hersien word om u kommentaar te akkommodeer. 
<Doc02>
Statistieke Suid-Afrika - Nuus
Binne-statistieke: Behoefte aan statistieke sal toeneem soos demokrasie vorder
Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in die Business Report van 05 Augustus 2004 
Verlede week het ek die plaaslike adviesraadsvergadering bygewoon van die Oos-Afrikaanse Statistiese Opleidingsentrum in Tanzanië, waar ek die geleentheid gehad het om die sentrum se 39ste jaarlikse gradeplegtigheid by te woon, waaraan vyf van Statistieke SA se lede deelgeneem het.  
Die opleiding van Stats SA-personeel is ’n organisatoriese passie. 
Kort nadat ek aangestel is as statistikus-generaal, het Stats SA, in samewerking met die Statistiekraad, ’n dringende soektog onderneem na instellings wat toepaslike opleiding bied in amptelike data.  
Ons het twee instellings geïdentifiseer: die opleidingsentrum in Dar es Salaam, Tanzanië, en die Instituut vir Statistiek en Toegepaste Ekonomie in Uganda. 
Die opleidingsentrum is in 1965 gestig deur die VN se Ekonomiese Kommissie vir Afrika, die Oos-Afrikaanse Organisasie vir Gemeenskaplike Dienste en die VN se ontwikkelingsprogram.   
Teen 1977 het die Tanzaniese regering die bestuur van die sentrum oorgeneem en die aantal Afrika-lande wat dit bedien tot 13 uitgebrei.  
Die instituut in Uganda is in 1969 begin binne die regsraamwerk van die Makerere Universiteit. 
Sy verklaarde doelwit was die hoë-vlak opleiding van spesialiste in statistiek en toegepaste ekonomie.
Die afgelope drie jaar het Stats SA personeellede na hierdie instellings gestuur.
Verlede jaar het die eerste groep gegradueer.
Sedert hul terugkoms, het hulle ’n geweldige verbetering in prestasie getoon, met sommige wat nou bestuursposisies beklee. 
Maar, Stats SA staar nuwe uitdagings in die gesig.
Die behoefte aan statistiese inligting vir besluitneming, op al drie regeringsvlakke, het geweldig toegeneem. 
In besonder, mense wat opgelei is om statistiese inligting op munisipale vlak te versamel en te gebruik word dringend benodig.
Om aan hierdie behoefte te voldoen, sal ons mense moet oplei teen ’n  koers van minstens 2 000 per jaar.
Die Tanzaniese opleidingsentrum en die Ugandese Instituut vir Statistiek en Toegepaste Ekonomie kan onmoontlik voorbly met so ’n hoë aanvraag.
Tydens die opening van die SA Statistiese Vereniging se konferensie verlede jaar, het die Minister van Finansies, Trevor Manuel, Suid-Afrikaanse universiteite uitgedaag om die tekort aan beskikbare statistiese vaardighede reg te stel om die regering te help om ingeligte besluite te neem wat gebaseer is op akkurate statistiese inligting.
Stats SA het besprekings met universiteite begin met die doel om sulke opleiding bekend te stel.
Maar, op die oomblik bied geen Suid-Afrikaanse universiteit ’n kursus aan in amptelike statistiek nie. 
Stats SA beplan om ’n statistiese opleidingsentrum te vestig in die nabye toekoms wat opleiding bied in amptelike statistiek vir beide interne personeel en personeel van ander departemente. 
Die bekendstelling van ’n stelsel van nasionale statistieke sal lei tot die behoefte aan die vestiging van statistiese eenhede in die verskillende staatsdepartemente, wat sal lei tot selfs groter aanvraag na opgeleide statistiese kapasiteit.   
Maar die ontwikkeling van statistiese kapasiteit is gekoppel aan meer as die regering se behoefte aan akkurate inligting.
Statistieke raak aan die kern van demokrasie.
HG Wells, aan die begin van die 20ste eeu, het gemeen dat statistieke in die toekoms so noodsaaklik vir die burgery sal wees soos die vermoë om te lees en skryf.
Openbare statistieke is ’n onlangse kulturele prestasie wat ontwikkel het met die koms van demokrasie. 
In ’n Afrikakonteks, waar demokrasie ’n meer onlangse verskynsel is, sal ons ’n merkbare toename sien in die aanvraag na openbare statistieke soos demokrasie vorder.
Statistici is die bewaarders van demokratiese beginsels van deursigtigheid in meting en toegang, en daarom van aanspreeklikheid.  
Dit is wat op die spel is in die strewe om statistiese kapasiteit te vergroot, en om die instellings te ontwikkel wat nodig is vir ’n massiewe en snelle uitbreiding in die onderrig van amptelike data. 
Pali Lehohla is statistikus-generaal en hoof van Stats SA.
Vir meer inligting oor Stats SA en sy werksaamhede, besoek www.statssa.gov.za of skakel (012) 310-8600
<Doc03>
16 Dae van Aktivisme: het jy geweet?
Sedert 1994 het die regering wetgewing ontwikkel om die onregte wat vroue en kinders raak, te herstel.
Die wet op die bevordering van gelykheid en voorkoming van onregverdige diskriminasie, 2000 is deurgevoer om te verseker dat almal grondwetlike regte geniet.
Hierdie wet verseker dat vroue gelyke regte en vryhede geniet deur die onregte van die verlede reg te stel.
Die wet op gelyke indiensneming, 1998 verseker dat diskriminasie by indiensneming, beroep en inkomste in die arbeidsmark wat deur apartheidswette veroorsaak is, beperk word.
Dit bevorder billike verteenwoordiging van vroue en ander voorheen benadeelde persone op alle vlakke van openbare en privaat instellings.
Die Wet op Onderhoud, 1998 waarborg die regte van ’n kind op ’n lewenstandaard wat geskik is vir fisiese, verstandelike, geestelike en sosiale ontwikkeling.
Die wet verseker dat onderhoud vir die kind verhaal word van die ouers of ander persone wat finansieel  verantwoordelik is vir die kind. 
Die Wet op Gesinsgeweld, 1998 is uitgevaardig om oorlewendes van geweld maksimum beskerming te bied teen huishoudelike geweld.  
Vroue, wat aan die ontvangkant van huishoudelike geweld is, het nou ’n wettige toevlug wat hulle beskerming sal verseker.
Die kinderwet, 2005 en die wysigingswet op kinders, 2007 is uitgevaardig om, onder andere, ’n kind te beskerm teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik of vernedering.
Die regering het baie intervensies geïmplementeer en ondersteun wat die menswaardigheid van vroue en kinders beskerm. 
Die Kinderregtehandves word hersien  en bygewerk om ook nuwe uitdagings in te sluit soos die gebruik van kinders as onderwerp van pornografie en kinders se blootstelling aan pornografiese materiaal. 
Die regering het gereageer op die uitdaging van gedwonge huwelike tussen kinders en volwassenes onder voorwendsel van ’n tradisionele praktyk, genaamd "Ukuthwala".
Die regering is daartoe verbind om te verseker dat tradisionele en ander praktyke strook met die grondwet en ander relevante wetgewing.  
Die proses is aan die gang om gespesialiseerde polisie-eenhede te hervestig wat huishoudelike en seksuele oortredings en ander misdade teen vroue en kinders hanteer. 
Die vestiging van gespesialiseerde eenhede sal die kundigheid mobiliseer wat nodig is om die bestuur en suksesvolle vervolging te verbeter in misdade teen vroue en kinders. 
Daar is tans 17 Thuthuzela-sorgsentrums landwyd gevestig in gemeenskappe met hoë vlakke van seksuele geweld.  
Die sentrums verskaf gesondheids- en welsynsdienste en sit prosesse aan die gang vir die doeltreffende aanmelding en vervolging van oortredings in ’n waardige en deernisvolle omgewing deur gekwalifiseerde spesialiste.  
Fondse uit herwonne kriminele bates is gebruik om 19 slagoffer-bemagtigingsprojekte te befonds. 
Die Gids van Dienste vir Slagoffers van Geweld en Misdaad, wat dienste bevat wat deur sowat 1 500 staats- en burgerlike organisasies in alle provinsies verskaf word, is ontwikkel. 
Die gids bemagtig mense om toegang te kry tot dienste wat beskikbaar is in hul gebied.
Slagoffer-vriendelike geriewe is gevestig by polisiestasies met hoë vlakke van kontakmisdaad.
Howe wat toegespits is op seksuele oortredings is ontwikkel. 
Die Wet op Gesinsgeweld bepaal dat skuilings gevestig word. 
Daar is tans 96 skuilings in Suid-Afrika, teenoor 39 in 2001.
Die regte in die slagofferhandves word ’n werklikheid vir slagoffers van misdaad wat betrokke raak by die strafregstelsel.
Hierdie handves sluit die minimumstandaarde vir dienste aan slagoffers van misdaad in, wat ’n regsraamwerk uiteensit waarop slagoffers kan staan vir dienste verwag van die Strafregstelsel.
Met die implementering van die slagofferhandves, het die aantal dae wat dit neem om ’n saak in die hof vir seksuele oortredings af te handel, van 285 tot 142 afgeneem.  
Die handves is ook ’n vereiste vir die Suid-Afrikaanse regering om sy internasionale verpligting na te kom kragtens die Verenigde Nasies (VN) se Deklarasie van Basiese Beginsels van Geregtigheid vir Slagoffers van Misdaad en Magsmisbruik.
Internasionale samewerking om uitdagings van geweld teen vroue en kinders reg te stel.
Suid-Afrika het sy verslag oor die vordering van die implementering van die konvensie vir uitwissing van diskriminasie teen vroue aan die VN CEDAW-komitee voorgelê.  
Suid-Afrika het ’n ministeriële vergadering (Oktober 09) aangebied van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) om die 10-jaar plaaslike strategiese aksieplan op mensehandel, veral vroue en kinders, te finaliseer. 
Die SAOG-protokol oor geslag en ontwikkeling bepaal dat SAOG-lidlande teen 2015 wetgewing uitgevaardig sal hê wat seksuele teistering beveg.  
Suid-Afrika het die streeksberaad vir geslagsregte  (9–10 November 2009) aangebied en verteenwoordigers van Afrikalande byeengebring om ondervinding en die beste praktyke om seksuele en geslagsgebaseerde geweld uit te wis, te deel. 
Moenie wegkyk nie, tree op teen misbruik.
<Doc04>
Privaatheidsbeleid
Die Departement van Behuising is verbind tot die beskerming van u privaatheid en die ontwikkeling van tegnologie wat u die kragtigste en veiligste aanlyn ervaring bied.
Hierdie privaatheidsbeleid is van toepassing op die Departement van Behuising se webwerf en beheer dataversameling en -gebruik.
Deur die gebruik van die Departement van Behuising se webtuiste, stem u in tot die datapraktyke soos beskryf in hierdie beleid.
Versameling van u persoonlike inligting
Die Departement van Behuising versamel persoonlik identifiseerbare inligting, soos u e-posadres, naam, huis- of werkadres of telefoonnommer.
Die Departement van Behuising versamel ook anonieme demografiese inligting, wat nie uniek is aan u nie, soos u poskode, ouderdom, geslag, voorkeure, belangstellings en gunstelinge.
Daar is ook inligting oor u rekenaarapparatuur en -programmatuur wat outomaties versamel word deur die Departement van Behuising. 
Hierdie inligting kan insluit: u IP-adres, tipe blaaier, domeinname, toegangstye en verwysende webwerfadresse.
Hierdie inligting word gebruik deur die Departement van Behuising vir die bestuur van die diens, om die kwaliteit van die diens te handhaaf en om algemene statistieke te verskaf aangaande die gebruik van die Departement van Behuising se webwerf. 
Hou asseblief in gedagte dat, indien u persoonlik identifiseerbare inligting of persoonlik sensitiewe data direk op die Departement van Behuising se openbare kennisgewingborde bekend maak, kan hierdie inligting deur ander versamel en gebruik word. 
Nota: Die Departement van Behuising lees nie enige van u privaat aanlyn kommunikasie nie.
Die Departement van Behuising moedig u aan om die privaatheidsbeleid deur te kyk van webwerwe waaraan u kies om te koppel vanaf die Departement van Behuising, sodat u kan verstaan hoe hierdie webwerwe u inligting versamel, gebruik en deel.
Die Departement van Behuising is nie verantwoordelik vir die privaatheidsbeleid of ander inhoud op webwerwe buiten die Departement van Behuising en Departement van Behuising se verwante webwerwe nie.   
Gebruik van u persoonlike inligting
Die Departement van Behuising versamel en gebruik u persoonlike inligting om die Departement van Behuising se webwerf te bestuur en die dienste te lewer wat u versoek het.  
Die Departement van Behuising gebruik ook u persoonlik identifiseerbare inligting om u in kennis te stel van ander produkte of dienste beskikbaar by die Departement van Behuising en sy affiliasies. 
Die Departement van Behuising kan u ook kontak via opnames om navorsing te doen oor u mening van bestaande dienste of potensiële nuwe dienste wat aangebied kan word. 
Die Departement van Behuising verkoop, huur of verhuur nie sy kliëntelys aan derde partye nie.
Die Departement van Behuising kan, van tyd tot tyd, u namens eksterne sakevennote kontak oor ’n spesifieke aanbieding wat vir u van belang kan wees. 
In sulke gevalle sal u unieke persoonlik identifiseerbare inligting (e-pos, naam, adres, telefoonnommer) nie aan die derde party oorgedra word nie. 
Daarby kan die Departement van Behuising data deel met vertroude vennote om ons te help om statistiese ontledings te doen, e-posse of slakkepos aan u te stuur, kliënteondersteuning te verskaf of aflewerings te reël. 
Alle sodanige derde partye word verbied om u persoonlike inligting te gebruik, behalwe om hierdie dienste te verskaf aan die Departement van Behuising, en hulle is verplig om die vertroulikheid van u inligting te handhaaf.
Die Departement van Behuising gebruik of maak nie sensitiewe persoonlike inligting, soos ras, godsdiens, of politieke affiliasie, sonder u uitdruklike toestemming bekend nie.
Die Departement van Behuising bly op hoogte van die webwerwe en -blaaie wat ons kliënte besoek binne die Departement van Behuising, om te bepaal watter dienste van die  Departement van Behuising die gewildste is. 
Hierdie data word gebruik om pasgemaakte inhoud en advertensies binne die Departement van Behuising te bied aan kliënte wie se gedrag toon dat hulle belangstel in ’n spesifieke vakgebied.
Die Departement van Behuising se webwerwe sal u inligting bekend maak, sonder kennisgewing, slegs indien die wet dit vereis of te goeder trou dat sodanige optrede noodsaaklik is om: (a) te voldoen aan die vereistes van die wet of te onderwerp aan die regsproses wat bedien word op die Departement van Behuising of die webwerf; (b) die regte of eiendom van die Departement van Behuising te beskerm en te verdedig; en, (c) in uiterste omstandighede op te tree om die veiligheid van gebruikers van die Departement van Behuising, of die publiek, te beskerm.    
Gebruik van koekies
Die Departement van Behuising se webwerf gebruik “koekies” om u te help om u aanlyn ervaring te verpersoonlik. 
’n Koekie is ’n tekslêer wat deur ’n webbladbediener op u apparatuur geplaas word. 
Koekies kan nie gebruik word om programme aan te dryf of virusse af te laai op jou rekenaar nie.  
Koekies word slegs aan u toegewys, en kan net gelees word deur ’n webbediener in die domein wat die koekie aan u uitgereik het.
Een van die basiese doelwitte van koekies is om ’n geriefskenmerk te verskaf om u tyd te spaar. 
Die doelwit van ’n koekie is om die webbediener te sê dat u teruggekeer het na ’n spesifieke blad.
Byvoorbeeld, indien u die Departement van Behuising se blaaie verpersoonlik, of registreer op die Departement van Behuising se webwerf of dienste, sal ’n koekie die Departement van Behuising help om u spesifieke inligting te herroep by daaropvolgende besoeke.
Dit vereenvoudig die proses van opname van u persoonlike inligting, soos adresse vir fakture, adresse vir aflewerings, en so meer.  
Wanneer u na dieselfde  Departement van Behuising webwerf terugkeer, kan die inligting wat u voorheen verskaf het, teruggevind word sodat u maklik die Departement van Behuising kenmerke wat u pasgemaak het, kan gebruik.
U het die opsie om koekies te aanvaar of te weier. 
Die meeste webblaaiers aanvaar koekies outomaties, maar u kan gewoonlik u blaaierinstelling aanpas om koekies te weier indien u dit verkies.
Indien u kies om koekies te weier, sal u dalk nie in staat wees om die interaktiewe kenmerke van die Departement van Behuising se dienste of webwerwe wat u besoek, ten volle te benut nie. 
Veiligheid van u persoonlike inligting
Die Departement van Behuising beskerm u persoonlike inligting teen ongemagtigde toegang, gebruik of openbaarmaking. 
Die Departement van Behuising bewaar die persoonlik identifiseerbare inligting wat u op rekenaarbedieners verskaf, in ’n gekontroleerde, veilige omgewing, beskerm teen ongemagtigde toegang, gebruik of openbaarmaking.
Wanneer persoonlike inligting (soos ’n kredietkaartnommer) oorgedra word na ander webwerwe, word dit beskerm deur die gebruik van enkripsie, soos die Secure Socket Layer (SSL) protokol.
Veranderinge aan hierdie beleid
Die Departement van Behuising sal soms hierdie privaatheidsbeleid bywerk om die maatskappy en kliënte se terugvoer te weerspieël. 
Die Departement van Behuising moedig u aan om van tyd tot tyd hierdie beleid deur te kyk om ingelig te word oor hoe die Departement van Behuising u inligting beskerm.
Kontakbesonderhede
Die Departement van Behuising verwelkom u kommentaar aangaande hierdie privaatheidsbeleid.
Indien u reken die Departement van Behuising het nie by die beleid gehou nie, kontak asseblief die Departement van Behuising by webmaster@kznhousing.gov.za.
Ons sal kommersieel redelike pogings aanwend om die probleem vinnig te bepaal en reg te stel. 
<Doc05>
Premier Ebrahim Rasool se toespraak by die matrikulante se plegtigheid
Vandag vergader ons hier om ons top matrikulante geluk te wens.
Ons sê vir hulle: Knap gedaan! Ons is trots op julle, die provinsie en land is trots op julle, julle ouers is trots op julle en die belangrikste, julle moet trots wees op julleself.
Die rede waarom ons trots is in ’n oomblik soos hierdie, is ter erkenning van die feit dat ’n momentele sukses te voorskyn kom uit ’n langer tydperk van swaarkry en opoffering, dat vandag ’n oomblik van helderheid verteenwoordig onder omstandighede wat die beste beskryf kan word as ingewikkeld.   
Matriek is ingewikkeld.
Die afgelope tien jaar moes ons die hele onderwysstelsel uit sy apartheidoriëntasie verskuif. 
Ons was in groot mate suksesvol wat betref groter integrasie, ’n enkele leerplan en eksamen, groter getalle van diegene wat matriek skryf en slaag,  en ’n bewustheid dat onderwys ook behoeftes buite die individu bevredig - dat die hele ekonomie afhanklik is van die stel vaardighede wat deur die onderwysstelsel verskaf word.
Matriek is inderdaad ingewikkeld.
Ons leiers wat hier by Leeuwenhof byeen is, is ongetwyfeld die beste wat ons het, diegene  wat die beste bereik het en diegene wat al die eerbetoon verdien wat hierdie provinsie kan bied.
Tog dink ons ook aan die 71% van die bevolking ouer as 20 jaar wat nie sekondêre onderwys voltooi het nie, die sowat helfte van die 80 000 wat 12 jaar gelede Graad 1 saam met julle begin het en nie eens die eksamen in 2004 geskryf het nie omdat hulle langs die pad uitgeval het, en die talle wat geskryf het, maar weens vak- en graadkeuses matrieksertifikate het wat nie deur die ekonomie of tersiêre onderwys geabsorbeer kan word nie.   
Matriek word selfs meer ingewikkeld deur die feit dat julle ons toonvensters is.
Die nasie oordeel ons toekoms aan julle prestasie.
Hulle baseer hulle optimisme op julle welstand. 
Hulle baseer hulle hoop in die toekoms deur ons belegging in die onderwysstelsel wat saamloop in hierdie oomblik van feesviering. 
En ja, die grootste deel van beide die nasionale en provinsiale begrotings gaan aan onderwys.
Vanjaar alleen, om die werk van 2000 opvoeders te behou, moes ons geld weg van ander provinsiale funksies herlei na onderwys. 
Ons moet ons belegging in armer skole verhoog sodat in toenemende getalle die gelykheid in onderwys ervaar word deur die groter geloof in die toekoms by elke townshipskool.  
Die belangrikste, minister Dugmore en superintendent-generaal Swartz, ons het een kans om ’n menslikehulpbronstrategie te skep om al hierdie belegging te regverdig. 
Ons moet matrikulante skep wat vasstaan in hul waardes, uitstaan in hul uitslae, relevant is vir die ekonomie, getrou is aan hul gemeenskap en tot voordeel is van die mensdom. 
Dit is wat ons vandag hier kom vier het.
Julle verteenwoordig hierdie hoop terwyl ons ons Tuiste vir Almal bou. 
Ons vier julle suksesse omdat julle opgeoffer en hard gewerk het, julle ouers opgeoffer en julle op skoolgehou het, en julle gemeenskap opgeoffer en in julle toekoms belê het. 
Baie betwyfel die waarde van die viering van matrieksuksesse  weens die ingewikkeldheid en die feit dat dit steeds die oorblyfsel van ’n apartheidstelsel kan weerspieël. 
Net julle kan dit oorkom deur aktief en bewustelik toegewyd te wees om ’n Tuiste vir Almal te bou, een wat nierassig en meer gelyk is.
Dit moet weerspieël word in al die keuses wat julle van nou af maak . 
Tot dusver moes julle net kies hoe hard julle wil werk. 
Jou matrieksertifikaat stel jou in staat en verplig jou om besluite en keuses te maak oor die tipe persoon wat jy wil wees en die tipe lewe wat jy wil lei. 
Veels geluk en sterkte.
<Doc06>
Die 2010 Regeringskommunikasie Projekbestuur se missie is om:
die prestasie van die strategiese kommunikasiedoelwitte vir die eerste Afrika FIFA Wêreldbeker te fasiliteer
die beste te maak van hierdie unieke geleentheid om eenheid en trots onder Suid-Afrikaners uit te druk en verder te bou
ons jeug te inspireer
die land aan die wêreld te bemark
’n klimaat vir kommunikasie te skep wat help om hierdie geleentheid te gebruik om ontwikkeling te versnel en geleenthede uit te brei
Afrika-solidariteit te bou.
Dit sal bereik word deur:
die verskaffing van leierskap en koördinering vir regeringskommunikasie vir die 2010 Wêreldbeker 
die bou van ’n nasionale vennootskap van openbare en privaat kommunikeerders vanuit dissiplines, asook deur bondgenootskappe te smee met kommunikeerders op die vasteland en in die diaspora, sodat die land en vasteland kollektief kan voordeel trek uit hierdie kommunikasiegeleentheid van ’n leeftyd   
die onderneming van belangrike regeringskommunikasieprojekte vir die 2010 Sokkerwêreldbeker. 
<Doc07>
Nasionale Padverkeersregulasies gewysig om padveiligheid te verbeter 
POLOKWANE: Die Nasionale Padverkeersregulasies is gewysig.
Dit staan bekend as die Sewentiende Wysiging en het in werking getree op die dag van publikasie. 
Die Departement van Paaie en Vervoer lig motoriste in oor die volgende wysigings:
Nuwe motorvoertuie wat na 01 Augustus 2010 geregistreer word, moet nommerplate hê wat vasgemaak is met plofklinknaels of skroewe.
Indien dit nie vasgemaak kan word aan die voertuig nie, moet dit vasgemaak word aan ’n draagklamp wat voldoen aan SANS 973.
Hierdie wysiging sal misdaad en verkeersoortredings deur motoriste wat die nommerplate maklik verwyder sodat hulle nie opgespoor word nie, verlaag. 
Dit sal nie maklik wees om die nommerplaat te verwyder en dit terug te sit nadat die misdaad gepleeg is nie omdat dit altyd bykomende koste sal beloop.
Die nommerplaat word gemaak van aluminium wat dit moeilik sal maak om onherkenbaar te verbrand tydens ’n ongeluk.  
Vanaf 1 Februarie 2011 sal persone wat bestuurslisensies kry vir ’n kode C, C1, EC of EC1 bestuurslisensie, nie toegelaat word om ’n voertuig wat ’n kode B of kode EB lisensie vereis, te bestuur nie (in ou terme kan ’n persoon met ’n kode 10, 11, 13 of 14 lisensie nie ’n voertuig bestuur waarvoor mens ’n kode 8 nodig het nie).
Dit sal slegs van toepassing wees op nuwe lisensiehouers. 
’n Taamlik groot aantal leerlingbestuurders doen aansoek om swaarvoertuiglisensies eerder as ligtevoertuiglisensies sodat hulle byvoorbeeld nie parallelle parkeringstoetse hoef te doen nie.   
Die werklikheid is dat, wanneer hulle hul swaarvoertuiglisensies gekry het, bestuur hulle ligte voertuie waarvan hulle die bestuurskontrole nie ken nie en dan in ongelukke beland.  
Daar word ook verwag dat al daardie bestuurders wat swaarvoertuiglisensies gekry het professionele bestuurspermitte moet hê, maar die statistieke wys iets anders.  
Dit bewys die feit dat die aansoekers die bestuurslisensies nodig gehad het vir ligte voertuie en nie vir swaar voertuie nie.
Beheertoestelle vir koersvastheid vir mini- en midibusse word bekendgestel deur ’n sertifiseringsproses wat deel vorm van die padwaardigheidstoets. 
Dit is van toepassing op alle mini- en midibusse en nie net nuutvervaardigde voertuie nie. 
Die geregistreerde eienaar van ’n motorvoertuig of gevolmagtigde moet ’n behoorlik voltooide DSCD-vorm by die toetsstasie indien.
’n Beheertoestel vir koersvastheid is ’n toestel wat keer dat ’n band van die velling loskom wanneer die band bars terwyl die voertuig beweeg. 
’n Wysiging aan Regulasie 332 is gepubliseer en bevat ’n lys van die asemtoetsers wat as bewys gebruik mag word om asemmonsters wat as bewys gebruik mag word te versamel en die sertifikaat wat deur die vervaardiger of verskaffer uitgereik word, mag as bewys in sake gebruik word, bloot deur dit te toon.   
Hierdie wysiging wil die kwessie regstel wat geopper is rakende die wettigheid van die asemtoetsers ingevolge artikel 65(7) van die Nasionale Padverkeerswet, 1996 en voldoen aan SABS 1973 en mag gebruik word om die konsentrasie van alkohol in asem te bepaal.   
Die volgende is die voorgeskrewe toerusting s’n: 
"Dit is meer geskik tydens die feestyd omdat dit ’n bykomende hupstoot gee aan ons pogings om dronkbestuur op ons paaie te beveg", sê die LUR van Paaie en Vervoer, Pinky Kekana.
<Doc08>
Voorgeboortelike gesondheidsdienste
Swanger meisies en vroue word verwys na kraamdienste of  vroedvrou-obstetriese-eenhede (VOE’s) in stedelike gebiede, en satelliet- of vaste klinieke in die landelike gebiede.
VOE’s is kraameenhede wat bedryf word deur vroedvroue in die gemeenskap vir pasiënte van basiese gesondheidsdienste.
Verwagtende moeders word aangeraai om hul eerste besoek aan die kliniek voor 20 weke te bespreek of so gou moontlik daarna. 
Die moeder word ’n volledige eerste ondersoek en berading gegee, ook bekend as die  besprekingsbesoek, wanneer sy kom vir haar eerste voorgeboortelike ondersoek.
Die swangerskap word gemonitor deur gereelde opvolgbesoeke. 
Die moeder se gesondheid word ook noukeurig gemonitor.
Sy sal geweeg word, haar bloeddruk word gemeet en urine getoets.
Indien daar geen komplikasies is nie, behoort sy na twee weke terug te keer vir haar eerste opvolgbesoek vir die uitslae van die toetse wat tydens die besprekingsbesoek gedoen is. 
Hierna moet sy elke ses weke na die kliniek terugkeer tot op 28 weke, dan op 34 weke, daarna soos aangedui deur die kliniek-/VOE-personeel (herhaling van besoeke kan verskil van gebied tot gebied).  
Swanger moeders word gesif vir moontlike risiko’s vir hulle gesondheid en die gesondheid van die fetus. 
Beide tienermeisies en vroue ouer as 35 jaar wat swanger is word beskou as hoërisikogevalle. 
Dit beteken hulle loop ’n groter gevaar om komplikasies te hê tydens swangerskap en geboorte.  
Swanger vroue kan ook beskou word as hoë risiko indien hulle verhoogde bloeddruk het, ’n geskiedenis van genetiese  afwykings, ’n meervoudige swangerskap en indien hulle voorheen ’n operasie soos ’n keisersnee gehad het.   
Moeders wat gediagnoseer word as hoë risiko, word verder verwys na buitepasiënt voorgeboortelike klinieke by hospitale op sekondêre of tersiêre vlak, waar verdere ondersoeke en siftingstoetse uitgevoer word.  
Moeders met hoërisikoswangerskappe word aangeraai om buitepasiënt voorgeboortelike klinieke so dikwels as nodig te besoek.   
Indien dit u eerste besoek aan ’n gesondheidsinstelling is, sal u gevra word om ’n vorm in te vul en ’n lêer sal oopgemaak word.
Bring u ID-boekie, enige medikasie wat u neem en ’n kliniek- of hospitaalkaart, indien u voorheen by die instelling geregistreer is.
Laerisikoswangerskappe word by VOE’s hanteer (kraameenhede wat deur vroedvroue in die gemeenskap hanteer word vir pasiënte van basiese gesondheidsdienste) in stedelike gebiede, en satelliet- en vaste klinieke in landelike gebiede. 
Hoërisikoswangerskappe word hanteer by buitepasiënt klinieke by stedelike en landelike streekhospitale en tersiêre hospitale.
<Doc09>
Geïntegreerde Voedingsprogram
Die Geïntegreerde Voedingsprogram (GVP) probeer om die voedingstatus te verbeter van alle mense wat in die Wes-Kaap woon.  
Hierdie program bestaan uit talle aspekte.
Wat is wanvoeding?
Wanvoeding is ’n ernstige probleem in Suid-Afrika en een van die grootste bydraers tot kindersiektes en -sterftes. 
Daar word beraam dat sowat 30% van Suid-Afrikaanse kinders se groei belemmer word weens ’n gebrek aan voldoende voeding in hul vroeë lewensjare.
Onvoldoende voedselinname, siekte en psigososiale stres/trauma is die belangrikste direkte oorsake van wanvoeding. 
Armoede en gebrek aan hulpbronne is basiese faktore wat bydra tot wanvoeding. 
Die GVP probeer om hierdie stille epidemie op ’n paar maniere te hanteer. 
Aanvullings vir kinders
Op die vlak van primêre gesondheidsorg sal kinders wat ondersoek en geïdentifiseer word as ondervoed (dit sluit kinders en volwassenes met MIV en tuberkulose in), voedselaanvullings gegee word, insluitend verrykte mieliemeel en ’n energieryke drankie. 
Aanvullings word aan geïdentifiseerde kliënte gegee volgens kriteria. 
Gesondheidswerkers verskaf ook berading, inligting en opvoeding oor gesonde diëte en die gesondste maniere om kos voor te berei. 
Dieetkundiges verskaf ook gespesialiseerde dienste aan die gemeenskap.
Borsvoeding
Om wanvoeding in die vroeë kinderjare te beveg, moedig gesondheidswerkers vroue aan om hul kinders tot op ses maande slegs te borsvoed en daarna voort te gaan met borsvoeding terwyl toepaslike aanvullende voedsel bygevoeg word, tot die kind twee jaar oud is.  
Ander voedingsopsies word bespreek met moeders wat MIV-positief is.
Vredendal Hospitaal en Groote Schuur Kraamsentrum is babavriendelike hospitale in die provinsie volgens die inisiatief vir babavriendelike hospitale. 
Groeimonitering
Alle kinders word gereeld geweeg as deel van die groeimoniteringsprogram, ’n sensitiewe aanduider of die kind groei.
Die gewig word aangeteken op die pad-na-gesondheid-kaart. 
Onderliggende oorsake van gewigsverlies word ondersoek, soos aansteeklike siektes, tekort aan voedsel by die huis en kinderverwaarlosing. 
Aansteeklike siektes speel ’n groot rol in wanvoeding en hierdie siektes word behandel op die vlak van primêre gesondheidsorg.
Diarreesiektes hou grootliks verband met swak omgewingshigiëne  (sanitasie en watervoorsiening) en onder- of swak voeding van ’n baba, wat hom/haar dan meer kwesbaar maak vir ernstige en uitgerekte diarree. 
Armoedeverligting
Armoedige huishoudings word geïdentifiseer en verwys na een van die regering se armoedeverligtingsprogramme.  
Huishoudings se voedselsekuriteit word intersektoraal getakel en toepaslike intervensies en ondersteuning word verskaf.  
Vitamienaanvullings
Die beheer van tekorte aan mikronutriënte is ’n noodsaaklike deel van die diens. 
Mikronutriënte is natuurlike stowwe soos vitamiene en minerale, wat in klein hoeveelhede in voedsel voorkom en wat baie belangrik is vir die instandhouding van goeie gesondheid. 
Die GVP verskaf vitamien A-aanvullings aan kinders in die teikengroep.
Kinders met ’n tekort aan vitamien A verloor gewig, groei nie behoorlik nie en is meer geneig om infeksies te kry en daaraan te sterf. 
’n Tekort aan vitamien A beskadig ook die oog en is een van die hoofoorsake van blindheid onder kinders.
Kinders met ’n lae geboortegewig word vitamien A-kapsules gegee, wat die immuunstelsel ’n hupstoot gee en help met die kind se ontwikkelingsgroei. 
Babas tussen 6-11 maande word ’n enkele dosis vitamien A (100 000 IU) gegee om ernstige siekte te voorkom. 
Kinders tussen 12 maande en vyf jaar word ’n enkele dosis van 200 000 IU gegee op 12 maande, daarna ’n dosis van 200 000 IU elke ses maande tot op vyf jaar. 
Bykomende dosisse vitamien A word gegee aan kinders wat ernstig ondervoed is, of wat aanhoudend aansteeklike siektes soos diarree, masels of MIV-infeksie het.
Ontwurming
Gewigsverlies by kinders kan ook veroorsaak word deur wurmbesmetting en dit kan by die kliniek behandel word met ontwurmingsmedikasie. 
Voedingsadvies vir spesifieke toestande
Voedingsopvoeding, -inligting en -berading word op alle vlakke van sorg gegee aan mense wat beroertes gehad het, wat hoë bloeddruk het, diabetes, MIV-vigs en tuberkulose. 
Voedingsprogram vir laerskole
Die voedingsprogram vir laerskole is beskikbaar by subekonomiese skole wat spesifiek geïdentifiseer is. 
Hierdie skemas word tans bedryf in samewerking met die Departement van Onderwys. 
Die provinsiale regering se doelwit is om 125 000 kinders by 847 laerskole in die provinsie teen 2004 met sy skoolvoedingsprogram te bereik. 
Voedsel by instellings
Die GVP dra ook by tot die institusionele versorging van kliënte deur voedseldiensstelsels vir die voorsiening van gebalanseerde voedsel.
Instruksies:
Eerste besoekers aan die kliniek/sekondêre of tersiêre hospitaal sal gevra word om ’n vorm in te vul en ’n lêer sal oopgemaak word vir die pasiënt.
Bring u ID.
’n Verwysingsbrief van die kliniek sal vereis word wanneer ’n hospitaal besoek word. 
Hospitale sal u mees onlangse betaalstrokie/inkomste-aanslag (IRP 5) vra.
Bring u hospitaalkaart indien u voorheen geregistreer is by die hospitaal.
<Doc10>
Toespraak deur die Adjunkminister van Openbare Werke, mnr. Ntopile Kganyago, ter geleentheid van die eerste openbare bekendstelling van die Tshwane-middestadprogram, Suid-Afrikaanse Reserwebank-gebou, Tshwane
Ander senior staatsamptenare
Dames en here van die media
Uitgelese gaste
Die besluit wat die Kabinet in 1997 geneem het om nasionale staatsdepartemente aan te moedig om die middestad van Tshwane hul permanente tuiste te maak, was ’n bewys van ’n groot visie; toe en nou. 
Die uitkoms is ’n goed georkestreerde plan om die verjonging van ons stede te koppel aan die regering se oproep tot stedelike hernuwing en ander ruimtelike ontwikkelingsinisiatiewe wat ontwerp is om stedelike bestuurswaardes te bevorder wat gehoor gee aan menseregte, gasvrye woongebiede, ekonomiese ontwikkeling en maatskaplike samehorigheid.  
Vandag, terwyl ons die eerste tree gee om daardie visie te laat realiseer, vier ons ook die reis waarop ons tot op datum was.
Intense beraadslaging, dikwels gekenmerk deur ewe intense debatte oor die behoeftes van en opsies beskikbaar vir staatsdepartemente wat hul fisiese omgewing betref, het nie almal van ons weggelei van die oorspronklike doelwitte nie, naamlik om die fisiese werksomgewing van staatsdepartemente in die middestad Tshwane te verbeter.
Terselfdertyd moet ons bydra tot die middestad se hernuwing en verjonging.
Ander doelwitte, wat geensins minder belangrik is nie, sluit ’n aksie in om uit die privaat sektor belegging te lok, die beeld van Tshwane te ontwikkel as ’n belangrike hoofstad in Afrika en swart ekonomiese bemagtiging te bevorder.
Die regering is die grootste besitter van eiendom en onder die voorste beleggers in die ekonomiese lewe van die plaaslike regering, veral in die Johannesburg- en Tshwane-metro’s in Gauteng. 
Departemente het funksionele sowel as kantoorakkommodasie nodig om hul openbare diensleweringsverpligting na te kom in uitvoering van hul mandaat. 
Dit is algemeen bekend dat die meeste regeringsgeboue, wat hul toestand betref, in die kategorie goed tot redelik, teenoor uitstekend val.
Opknappingswerk, opgradering en herstelwerk sal aan die spits staan van kapitaalbesteding en bydra tot die SEB-komponent van die Tshwane-middestadprojek. 
Die nasionale regering, deur die Departement van Openbare Werke, spandeer jaarliks landwyd meer as twee miljard rand (R2 miljard) om te betaal vir huurkontrakte en ander verwante eiendombestuurstariewe soos eiendomsbelasting en diensgelde, met beide die privaat sektor en plaaslike regering as begunstigdes.
Daar word sonder uitsondering van dieselfde belanghebbers verwag om die proses om Tshwane-middestad se hernuwing te bestuur, moontlik met die deelname van Gauteng se provinsiale regering deur hul belangrike beleggingsprojekte soos ondersteun deur die Gautengse Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap (GEDA). 
In die konteks van die Tshwane-middestadprogram, voortaan bekend as "Re Kgabisa Tshwane" met die subtitel "’n Beter Plek om te Werk", is die fokus net so veel op die mense (beide staatsamptenare en publiek) as op die fisiese ruimtes wat hulle inneem wanneer hulle noodsaaklike openbare dienste lewer of ontvang. 
Met die aankondiging van die regering se aksieplan vir 2004, het die president, mnr. Thabo Mbeki, ’n beroep gedoen op die nasionale Departemente van Openbare Werke, asook Staatsdiens en Administrasie, om die projek saam te bestuur om die fisiese werksomgewing van staatsdepartemente en staatsamptenare te verbeter. 
Fisiese staatsinfrastruktuur is die enjin van dienslewering en die staatsamptenare is die brandstof wat die enjin aandryf en dit vinniger,  doeltreffend en suksesvol laat draai.
Tydens die behoeftebepalingsfase van die projek, het baie staatsdienswerkers wat geraadpleeg is die belangrikheid beklemtoon van uitstekende werkruimtes wat pas by hul amp, en dit het beide die interne en eksterne omgewing ingesluit, daarom die noodsaaklikheid om saam te werk met die Tshwane-metro, wat verantwoordelik is vir die meeste stedelike bestuursaspekte soos verkeer, netheid, veiligheid, sekuriteit en estetika . 
Laat ek hierdie geleentheid gebruik om die Tshwane-bestuur en -leierskap te bedank vir hul versiendheid om hierdie projek te aanvaar deur dit geredelik in ooreenstemming te bring met hul eie geïntegreerde  ontwikkelingsplanne. 
Om die waarheid te sê, die memorandum van verstandhouding (MvV) wat ons ’n bietjie later vandag aangaan tussen die Departement van Openbare Werke en die Stad Tshwane-metro, is ’n bevestiging dat ons gemeenskaplike gronde gevind het van waar ons kan wegspring. 
Dit is ’n verklaring van voorneme om saam te werk aan inisiatiewe en projekte wat tot voordeel strek van beide partye.
Ons boodskap aan u vandag is dat "die werk begin het" en oor die volgende 10 jaar sal ’n inspuiting van meer as agt miljard rand (R8 miljard) plaasvind deur die nasionale regering en privaat sektor deur kapitaalbegrotings, huurverbeterings en openbaar-privaat-vennootskappe.  
Wat programbestuur betref, is ’n loodskomitee gestig tussen die Departement van Staatsdiens en Administrasie, die Departement van Openbare Werke, die Nasionale Tesourie en die Stad Tshwane.  
Die komitee sal onder andere die program bevorder, daaroor toesig hou en die implementering monitor, die befondsingstrategie finaliseer en gekoördineerde implementering verseker. 
Die departement het mnr. Dumisani Dlamini aangestel as adjunk-direkteur-generaal verantwoordelik vir die hele programbestuur. 
Ek dank u.
<Doc11>
Mevrou die Speaker, die agbare Premier, kabinetskollegas, lede van die Huis, agbare gaste, die amptenare van die Departement van Behuising, lede van die media en die algemene publiek, hartlik welkom.
Hierdie woorde, dames en here, weerspieël die Suid-Afrikaanse politiek, veral in die Wes-Kaap.
Dit maak nie saak hoe hard hierdie land se toegewyde mense en mense wat vooruitgang lief het werk nie, sommige mense se missie is altyd om die wonderlike werk wat gedoen is deur hierdie sorgsame regering in die kortste moontlike tyd wat dit aan bewind is, as onbelangrik af te maak.  
Dames en here, baie mense het geredeneer oor wat behuising eintlik is, maar laat my toe om u nog ’n weergawe te gee. 
Vir my gaan behuising nie net oor skuiling nie.
Dit is oor mense wat self verantwoordelikheid neem om hul gemeenskaplike omgewing te handhaaf en hul toekoms te vorm. 
Dit gaan oor die skep van lewensvatbare gemeenskappe en volhoubare leefomgewings. 
Dit is oor vooruitgang in eenheid deur vennootskappe tussen die privaatsektor, staatsektor, nieregeringsorganisasies, maar die belangrikste, gemeenskappe.
Vir my word behuising die beste beskryf as ’n proses, wat beplanning met mense beteken teenoor beplanning vir die mense.
Behuising in die Suid-Afrikaanse konteks is nie net ’n produk nie, maar ook ’n proses wat gebaseer is op demokratiese waardes waarvoor die mense van hierdie land so hard geveg het.  
Dit is ’n proses wat luister na die mense, wat mense toelaat om hul demokratiese reg uit te oefen om die soort behuising en die gebiede waar hulle hul huise wil bou, te kies. 
Daar is dus niks so onmenslik en ondemokraties as om mense te ontneem van hul basiese reg van keuse nie. 
Anders as die apartheidsregime, as ’n maatskaplike aktivis, is mense die middelpunt van my visie en strategie om behuising te lewer.
Dames en here, ek is gelukkig om vanmiddag my tweede begrotingsrede as die Provinsiale Minister van Behuising aan u voor te lê.  
Ek is ook trots daarop dat ek hierdie begrotingsrede voorlê op die vooraand van die 10de herdenking van ons demokrasie.
Daar is tasbare bewyse dat die ANC-geleide regering baie bereik het in net minder as tien jaar van sy demokratiese regering as wat enige ander land in die wêreld nog gedoen het. 
Ons het presteer. 
In reële terme, van die 1.4 miljoen behuisingsgeleenthede wat die regering gelewer het, kan ek met trots aankondig dat ons provinsie die afgelope nege jaar 167 000 eenhede gelewer het, wat 11% van die nasionale koek is. 
Dit, na my mening, is ’n uitstekende prestasie volgens enige standaard. 
Ek wil ook graag aanteken dat die afgelope jaar vol uitdagings was wat ’n negatiewe invloed op die lewering van behuising in die land as geheel gehad het, maar veral in die provinsie.
Hierdie uitdagings was die gevolg van die bekendstelling van die nuwe beleidsvoorskrifte en meganismes soos begunstigdebydrae van R2 479 en die bekendstelling van die Nasionale Huisbouersregistrasieraad se waarborgskema op staatsgesubsidieerde behuising.   
Hierdie maatreëls is nie daarop gemik om lewering te vertraag nie, maar om seker te maak dat ons mense kwaliteit bekostigbare behuising kry.
Die leerkurwe wat ons ondergaan met die implementering van hierdie beleide het egter lewering vertraag.
Wat sake selfs erger maak, is die feit dat my departement vir nege maande sonder ’n hoofdirekteur moes werk.
Dit het vordering in ’n baie groot mate vertraag.
Ek het sedertdien een aangestel, mnr. Seth Maqethuka, ’n gebore en getoë Kapenaar met ervaring van nasionale en plaaslike regering, wat ek graag wil gelukwens en verwelkom al het ek dit reeds so baie keer gedoen. 
Ten spyte van al hierdie uitdagings en beperkings, is ek trots om aan ons mense te sê dat my departement daarin geslaag het om R348 miljoen Rand te spandeer, wat 92% is van die behuisingstoekenning aan die Wes-Kaap. 
Sommige van die provinsies het skaars 52% van hul begroting spandeer.
Dit het gelei tot die goedkeuring van sowat 25 000 behuisingsubsidies. 
Al meer arm gesinne sal ’n kans kry om die vrugte van ons demokrasie te geniet.
Dit, dames en here, verteenwoordig ’n beduidende toename van 3000 eenhede in vergelyking met die vorige jaar.
Wat dit betref, wil ek graag erkenning gee aan die belangrike rol wat munisipaliteite in ons provinsie gespeel het. 
Sonder hul toewyding en deeglike werk sou ons nie in staat wees om te spandeer nie. 
In dieselfde asem wil ek die Stad Kaapstad gelukwens omdat sowat 70% van ons begroting spandeer is.
Ek vergeet ook nie van my amptenare se harde werk en bydrae tot ons visie vir behuising vir ons nasie nie. 
Dames en here, ek sou nie eerlik wees teenoor die voorskrifte van my gewete as ek slegs ’n rooskleurige prentjie sou skets van behuising se leweringsproses nie. 
Daar is gebreke wat steeds oorbly in ons leweringsproses.
Wat dit betref, moet ons steeds op die volgende dringende gebiede verbeter:
Die meeste huise voldoen nog nie aan die beleidsverskuiwing-van kwantiteit na kwaliteit behuising nie.
Ons moet steeds die proses van lewering van behuising verander van een wat skuiling verskaf tot een wat volhoubare menslike nedersettings skep.
Ons moet die deelname van begunstigdes van passiewe na aktiewe deelname transformeer. 
Ons moet die ingesteldheid van ons mense verander sodat hulle kan begin om na die staatsgesubsidieerde huise te kyk as bates en nie blote produkte nie. 
<Doc12>
SEKTORPOLISIËRING WERK 
Groot was die verligting vir ma en kind toe die 16 dae oue James Busakwe op 7 April 2006 met sy biologiese ma herenig is. 
Die beproewing het begin toe baba James se ma op 6 April by die Klerksdorp Hospitaal aankom om haar seun te besoek, en die verpleegpersoneel besef dat die kind aan ’n ander vrou gegee is, wat die vorige dag beweer het sy is die kind se biologiese ma. 
Onmiddellik nadat die ontdekking gedoen is, het die verpleegsters die Kanana-polisiekantoor in kennis gestel omdat die vrou wat James kom haal het ’n adres in Kanana gegee het.
Die adres is nagegaan, maar sonder sukses.
Niemand met daardie naam of beskrywing van die vrou was by hierdie adres bekend nie. 
Die aand van 6 April het die Kanana-GPF ’n vergadering gehou.
Die waarnemende stasiekommissaris het die vergadering ingelig oor die ontvoerde kind en almal versoek om hul oë en ore oop te hou. 
Ongeveer 23:00 dieselfde nag, het een van die gemeenskapslede die polisie gebel met inligting dat ’n vrou wat in sy sektor woon, en wat volgens alle aanduidings nie swanger was nie, skielik ’n babaseuntjie by haar gehad het.
Die polisie het die inligting opgevolg en inderdaad die vrou en die kind gevind. 
Die hospitaalpersoneel is uitgeroep en het die kind onmiddellik geïdentifiseer, asook die vrou wat hom uit die hospitaal ontvoer het. 
Verskeie bewyse, insluitend die plastiek hospitaalarmbandjie, is by die verdagte se huis gevind. 
Die vrou is in hegtenis geneem en die ongedeerde kind is teruggeneem hospitaal toe, waar hy die volgende oggend met sy regte ma herenig is. 
Die optrede van die lede van die gemeenskap wat betrokke was by die kind se ontdekking, moet geprys word, want dit beklemtoon die waarde van gemeenskapspolisiëring. 
Die waarde van sektorpolisiëring wat reg geïmplementeer en gehandhaaf word, moet nooit onderskat word nie.
Gaan voort met die goeie werk, Kanana-GPF!
Beste Mevrou
Ek neem aan dit was geluk, of miskien ’n gelukskoot, dat ek by u polisiestasie in Mondeor moes verbygaan, en so het ek afgekom op u SAPD-joernaal.
Ek neem aan dit word een keer per maand uitgegee en ek het dit baie interessante leesstof gevind. 
Ek en my vrou het pas ’n nuwe sakeonderneming geopen en wil almal, of enige van julle personeel wanneer hulle in ons area is, nooi om in te loer vir ’n gratis koppie koffie of tee en ’n hopelik sal ons ook ’n koekie of twee vir hulle beskikbaar hê.   
Ek is seker u sal verstaan dat dit nie maklik is om ’n nuwe sakeonderneming te begin nie en dit verg baie werk en kapitaal.
Maar, ons glo dat die polisie en al die ander wetstoepassingsdepartemente baie belangrik is vir alle Suid-Afrikaanse burgers. 
Dit is net iets klein wat ons graag vir julle almal wil aanbied om dankie te sê vir alles wat julle opoffer om seker te maak dat ons, die burgers, kan voortgaan met ons daaglikse lewens. 
Ons sien daarna uit om van julle te hoor, of nog beter, sommige van julle personeel in uniform te sien wanneer hulle by ons winkeltjie inloer en ons hulle beter leer ken.
Weereens, dankie aan u, die wetstoepassingspersoneel  van Suid-Afrika, vir al julle harde werk en toewyding om Suid-Afrika veilig te hou.
Kort, feitelike briewe kan gefaks of ge-e-pos word aan die redakteur. 
Ons behou die reg voor om briewe te redigeer of te verkort. 
<Doc13>
’n OPROEP TOT AKSIE
Op 14 Junie 2007, het een van die artikels in die SAPD se aanlyn joernaal (www.sapsjournalon-line.gov.za) beskryf hoe twee polisiebeamptes van die Welkom voertuigidentifikasie-afdeling in hegtenis geneem is weens korrupsie en bedrog.   
Hierdie twee, ’n superintendent en ’n inspekteur, het na bewering voertuie wat deur die polisie teruggekry is, vir eie gewin verkoop.
Albei verdagtes het op 12 Junie in die hof verskyn en die saak is uitgestel tot 21 Augustus.
Een dag later, op 15 Junie 2007, het ’n hoofopskrif in Netwerk24 verklaar: "Twee polisielede vas weens gewapende roof".
Hierdie keer was dit ’n studentekonstabel en ’n inspekteur wat na bewering ’n klerewinkel in Marble Hall oorval en geld, ’n langbroek en ’n hemp gesteel het.
Korrupsie in die polisie moet beëindig word. 
Terwyl die meeste van ons eerlike, hardwerkende burgers is, toon ’n paar van die polisiebeamptes geen respek vir hulleself, hul uniform of die polisie se gedragskode nie. 
Dit is hoog tyd dat ons die SAPD eens en vir altyd verlos van al hierdie negatiewe elemente.
En nou kan u help om ontslae te raak van korrupte polisielede deur hulle op ’n nuwe misdaadlyn te ontmasker. 
Anoniem!
Indien u vermoed dat een van u kollegas iets in die mou voer, of indien u weet van enige iemand anders, of dit polisiebeamptes, familielede, kollegas, bure of vreemdelinge is wat betrokke is by of beplan om betrokke te raak by misdadige aktiwiteite, hoef u net ’n SMS te stuur na 32211.
Dit is die nuwe nasionale misdaadlynnommer wat onlangs deur Primedia in Sandton bekend gestel is. 
U kan óf ’n SMS stuur na 32211 (teen ’n koste van R1 elk) óf gaan na www.crime-line.co.za.
Opgeleide datavasleggers wag om die inligting aan die polisie oor te dra wat onmiddellik daarop sal reageer!
Die beste deel is dat u anoniem sal bly.
Nou het u die mag om misdaad te help beveg sonder om uself in gevaar te stel.
Die Primedia-inisiatief beloof daar is geen nadraai nie. 
Yusuf Abramjee, Primedia se  projekkoördineerder teen misdaad, het gesê: "Ons wil nie u naam en adres hê nie, tensy u aanbied om dit vir ons te gee en dit is nie nodig vir enige verklarings of hofverskynings nie. 
Al wat ons wil hê, is inligting oor misdadigers sodat die polisie kan optree."
Hierdie nuwe, multimiljoen rand nasionale veldtog teen misdaad is op 7 Junie 2007 deur Primedia in Sandton bekend gestel.
Dit is gebaseer op die internasionale Crime Stoppers-stelsel.
Crime Stoppers het in September 1976 in Albuquerque, Nieu-Mexiko, begin.
Dit is ’n vennootskap tussen die gemeenskap, die media en wetstoepassingsagentskappe en is ontwerp om misdaad te beveg en inwoners veilig te hou. 
Vandag is daar sowat 1 200 Crime Stoppers-programme wat wêreldwyd in 20 lande funksioneer en wat inligting, wat deur die gemeenskap verskaf word, gebruik om misdaad te help oplos.
Volgens die HUB van Primedia Ltd, mnr. William Kirsh, het hierdie programme gehelp om 600 000 misdadigers in hegtenis te neem! 
Wat elke polisiebeampte oor hierdie nuwe veldtog teen misdaad moet weet, is dat dit die volle ondersteuning het van die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, mnr. Charles Nqakula, en die nasionale kommissaris van die SAPD, kommissaris Jackie Selebi.
Kommissaris Selebi het beloof dat "as ’n organisasie, gaan ons alles in ons vermoë doen om hierdie projek te laat werk."
Die vraag is, wat gaan u daaraan doen?
Almal se volle samewerking is nodig, nie net om onmiddellik te reageer as u inligting sou kry van die misdaadlynsentrum nie, maar ook deur hierdie inisiatief oral waar u kan te bemark.
Vertel die mense, die GPF’s, die skole, u familie en vriende van hierdie inisiatief.
Maak seker hulle verstaan dat die veldtog beloof dat daar geen nadraai is nie, dat hulle ten alle koste anoniem sal bly. 
En onthou, dit is nie ’n noodnommer nie.
Mense moet steeds noodgevalle aanmeld by 10111 of hul naaste polisiestasie.
Deur hierdie veldtog teen misdaad, het die media ’n hand uitgereik na die polisie.
Hulle wil ons help om Suid-Afrika ’n veiliger plek te maak vir almal. 
By die bekendstelling van die misdaadlyninisiatief, het John Robbie, die aanbieder van die oggendprogram op Talk Radio 702, 65 ID-instrumentmasjiene aan die SAPD oorhandig.
Mnr. Robbie het luisteraars onlangs op lug versoek om by te dra tot hierdie ID-instrumentmasjiene.
Die masjiene se kleinhandelaar, Face Technology, het ook aan boord gekom en die prys van die masjiene tot kosprys verlaag wat die maatskappye, wat oorspronklik genoeg geld vir een masjien bygedra het, in staat gestel het om twee te koop.
Primedia en John Robbie is nie die enigstes wat die polisie waarlik help in die geveg teen misdaad nie. 
Lees enige van die suksesverhale in die SAPD Joernaal of op die SAPD se aanlyn joernaal en u sal sien hoe sake opgelos is met die hulp van gemeenskapslede.
Met hierdie nuwe veldtog teen misdaad gereed, kan die misdadigers, insluitend die paar korruptes in die diens, van een ding seker wees ... hulle dae is getel.
<Doc14>
OOKV-akkreditasie van diensverskaffers
Suid-Afrika Regeringsdienste 
Aansoek by ’n OOKV vir akkreditasie as ’n verskaffer van onderwys en opleiding
Beskrywing
Die regulasies wat van toepassing is op die onderwys-en-opleiding-kwaliteitversekeringsliggame (OOKV) onder die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO), vereis dat verskaffers van onderwys en opleiding aansoek doen vir akkreditasie by ’n OOKV.
Om geakkrediteer te word, word vereis dat verskaffers van onderwys en opleiding geregistreer moet wees kragtens die toepaslike wetgewing. 
Wetgewing wat verband hou met hoër onderwys en verdere onderwys, vereis dat alle verskaffers van onderwys en opleiding wat volle kwalifikasies bied, geregistreer moet wees by die Departement van Onderwys. 
Die verskaffer van onderwys en opleiding moet eenheidstandaarde en/of -kwalifikasies bied wat binne die primêre fokusgebied van die Kwaliteitsversekeringsliggaam vir Onderrig en Opleiding (ETQA) van die Sektorowerheid vir Onderwys en Opleiding (SETA) of professionele liggaam val.
Vereistes vir akkreditasie:
* Die vereistes vir akkreditasie is vervat in die dokument genaamd Kriteria en Riglyne vir Verskaffers en is beskikbaar op die SAKO-webwerf. 
* Die programme (en/of assesserings) wat deur die verskaffer van onderwys en opleiding gebied word, kulmineer in eenheidstandaarde en/of kwalifikasies wat geregistreer is op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR).
* Die leerplan (ontwerp, inhoud en leermateriaal) is in ooreenstemming met die eenheidstandaarde en/of kwalifikasies.
* Daar is personeel met gepaste kwalifikasies (fasiliteerders en geregistreerde assessors).
* Die leerders het toegang tot voldoende leerondersteuningsdienste.
* Die assesseringsmetodes en toerusting wat gebruik word om die vereistes vir die eenheidstandaarde en/of kwalifikasie te meet is regverdig, geldig en betroubaar, en word gebruik om geleerdheid te bevorder. 
Stappe om te volg
* Stuur ’n brief van u voorneme om as ’n verskaffer van onderwys en opleiding geakkrediteer te word aan die betrokke OOKV.
* Dien ’n selfevaluerings- en aansoekvorm in by OOKV.
* Indien akkreditasie nie aan u toegestaan word nie en u reken die proses was onregverdig, het u die reg van appèl. 
* ’n Lys met OOKV’s en kontakbesonderhede is beskikbaar op die SAKO-webwerf.
Dit kan tot 6 maande duur.
Die diens is gratis.
Vorms om te voltooi
Aansoekvorms en verwante dokumentasie vir akkreditasie van verskaffers kan verkry word van die betrokke OOKV. 
Kontakbesonderhede - Kies asseblief een opsie:
