NALN versamel alle tipes en kategorieë relevante materiaal en inligting wat in verband staan met Afrikaanse skeppende literatuur en alle rolspelers wat daarby betrokke is.
Die Museum beskik in hierdie stadium oor ?n versameling museummateriaal wat na raming sowat ?n halfmiljoen items beloop. Die term "versameling" word dikwels gebruik in die sin van "die N.P. van Wyk Louw-versameling", waar dit verwys na die skrywer of literêre personasie met wie dit primêr in verband staan; maar andersyds word die term ook gebruik met verwysing na die onderskeie tipes materiaal/artefakte/items wat gehanteer word en wat elk ?n eiesoortige hanteringsisteem, prosseseringsmetodiek en konserveringspraktyk vereis. In hierdie sin kan die volgende tipes versamelings uitgewys word:
Boeke*
NALN besit waarskynlik die volledigste versameling Afrikaanse boeke (d.w.s. skeppende literatuur). Van boeke met ?n hoë literêre waarde tot ontspanningsliteratuur en randgebiede van die literatuur soos foto- en strokiesverhale word versamel. Verder word daarna gestreef om minstens één eksemplaar van elke uitgawe en druk van ?n titel in die versameling op te neem en te bewaar. Dieselfde geld vanselfsprekend vir spesiale uitgawes, soos skooluitgawes, grootdrukuitgawes, ens. In die geval van hardebladuitgawes word aandag ook spesifiek gegee aan die opbou van ?n volledige reeks stofomslae.
Alle vertalings uit ander tale in Afrikaans word versamel, terwyl pertinente aandag gegee word om eksemplare van vertalings van Afrikaanse tekste in ander tale te bekom.
In verskeie gevalle is beduidende versamelings boeke uit ?n skrywer of literêre persoon se nalatenskap bekom. In ?n geval van D.F. Malherbe is sy totale boekery as deel van sy volledige studeerkamer geskenk, van die pionier-uitgewer J.L. van Schaik is sy versameling leergebonde eerste uitgawes bekom, en in die geval van die resente portmodernis Koos Prinsloo sy totale nagelate boekery (in aansluiting by sy volledige literêre nalatenskap wat hy aan NALN toegesê het).
L.W. Hierdie versameling boeke word as "museummateriaal" - dus versamelaarsitems, bewaringseksemplare - beskou, te onderskeie van die boeke wat deel van die museum se interne diensbiblioteek se gebruiksvoorraad uitmaak: NALN het nodig om met ?n ander oog na ?n boek te kyk as wat byvoorbeeld ?n biblioteek daarna sal kyk, omdat die boek in ?n letterkundige museum die funksie van ?n museumartefak of eksemplaar aanneem: dit is ?n unieke, onvervangbare item wat onbepaald intakt bewaar moet bly.
Manuskripte
Die manuskripversameling sluit verskeie tipes dokumente in. So word alle variante en stadia van die ontstaan van die skeppende teks versamel - van die eerste aantekening van ?n idee of gedagte tot die finale manuskrip vat na die drukker gaan (of ongepubliseer bly). Verder word alle dokumente wat deur die uitgewer en drukker, en tussen hulle en die outeur geproduseer word, versamel, bv. rakende korrepondensie, kontrakte, redigering, taalkundige versorging, illustrasies, bladuitleg, drukproewe, proefuitgawes, advertensie- en promosiemateriaal, ens. ?n Ander belangrike kategorie van manuskripte is korrespondensie van skrywers en enige ander rolspelers rondom die letterkunde. Enige ander vorm van dokumentasie kan hierby aansluit, soos tekste vir radio-en TV-aanbiedings, draaiboeke vir radio, TV en film, ens..
Tydskrifte en koerante
NALN besit volledige versamelings van prakties gesproke alle Afrikaanse tydskrifte wat binne konteks van die Afrikaanse letterkunde van belang is. Dit sluit in al die literêre tydskrifte wat deur die jare verskyn het, asook relevante vak- en akademiese tydskrifte, ens. Verder bevat die versameling selfs algemene gesins-, vroue-, jeug-, landbou-, godsdienstige en dergelike tydskrifte. Hoewel praktiese oorwegings dit onmoontlik maak om koerante so volledig te versamel, is daar naas voorbeelde van die eerste Afrikaanse koerant Die Afrikaanse Patriot, voorbeelde van die groot getalle koerante wat in Afrikaans verskyn (het). Sowat 110 lopende tydskrifte en koerante word tans geïndekseer.
Koerantknipsels
Elke berig of artikel rakende die Afrikaanse letterkunde in sy breedste definisie wat in ?n koerant of tydskrif verskyn, word in knipselvorm versamel. Dit sluit in alle verwysings wat bio- en/of bibliografiese inligting bevat, resensies, polemieke, en enige onderwerpsveld wat selfs sekondêre raakpunte met die letterkunde het. Tans word die knipselversameling op nagenoeg ?n kwartmiljoen items geskat. Die Bronnegids by die studie van die Afrikaanse letterkunde en taal word jaarliks saamgestel om die voorafgaande jaar se geïndekseerde knipseltoevloei vir gebruikers na buite toeganklik te stel.
Oudiovisuele materiaal
Alle kategorieë van oudiovisuele materiaal rakende Afrikaanse skrywers word versamel. Dit sluit in tipes fotografiese rekords (insluitende persoonlike en familiefoto?s), films en video?s, klankopnames op plaat, spoelband, kasset en CD.
Meublement
Terug na Tuisblad
