WAT OM TE DOEN AS JOU KIND VERDWYN
BLY KALM!Meld die geval by jou naaste SAPD-stasie aan ofskakel 10111. Jy HOEF NIE 24 uur te wag nie!
WAT OUERS KAN DOEN
Moenie dat jou kinders klere dra met hulle name op nie - 'n Kind sal na enige persoon luister wat hom of haar op die naam noem.
Neem twee tot drie keer per jaar foto's en video­opnames van jou kind.
Moenie jou kind alleen laat terwyl jy inkopies doen of by bure of vriende kuier nie. Jy mag jou kind onder geen omstandighede alleen in 'n kar los nie.
Maak seker dat jou kind jou altyd sê voordat hy of sy saam met iemand iewers heen gaan.
Maak seker dat jou kind reeds op 'n vroeë ouderdom sy of haar adres en telefoonnommer ken. 'n Tweede telefoonnommer van 'n vriend of familielid is baie nuttig.
Leer jou kind hoe om 'n noodoproep te maak en om te begin met "Ek is in die moeilikheid; ek het hulp nodig ...".
Maak seker dat jou kind weet hy of sy moet al die vensters en deure toe en gesluit hou; en nooit vir iemand laat agterkom dat hy of sy alleen in die huis is nie. Hy of sy mag niemand laat inkom nie - selfs al sê die persoon hy is van die polisie of die brandweer. (Hierdie professionele mense weet hoe om in 'n noodgeval in te kom.)
Maak seker jou kind weet dat hy of sy moet skree en weghardloop indien iemand hom of haar op 'n dreigende manier nader. Leer jou kind om ALTYD dadelik vir jou te vertel as 'n vreemdeling met hom of haar praat, hulp vra, presente of lekkers aanbied of op een of ander manier bangmaak.
Maak veiligheid deel van jou kind se daaglikse lewe deur hierdie vaardighede te oefen - sonder om die kind bang te maak.
WAT KINDERS SELF KAN DOEN
Beplan die veiligste pad na jou bestemming toe.
Kies besige, goedverligte strate.
Stap aan die regterkant van die pad sodat jy aankomende voertuie kan sien en deur hullegesien kan word.
Stap naby randstene sodat iemand wat inbosse of struike skuil, jou nie kan verras nie.
Bly buite bereik as iemand in 'n voertuig jou vir padaanwysings vra.
Moenie op verlate terreine, soos leëspeelgronde, parke, boupersele of stortterreine speel nie.
Gebruik die "buddy"-stelsel - speel, stap, ry fiets of skaatsbord saam met 'n vriend.
Laat altyd jou ouers weet as jy veilig by die huis aangekom het.
Moet NOOIT naby 'n vreemde voertuig gaan nie! Hou aan loop of hardloop as dit nodig is. Onthou net SS -Skree en Skop!
