INHOUDSOPGAWE
In Hollands of Engels? Hoe om te skryf - dit was die vraag (in 1910)
Nog liedjies onder die bed
Die Ou Goewermentsgebou se historiese boomtuin
Leeskringdiens 2000 bekendgestel
Wie besit nog P.J. Schoeman-briewe?
Statige Gastehuis stel voorbeeld
Ná die koerant se voorbladberig "Skrywer Gerhard Beukes sterf in Bloemfontein" stap jy op ?n pelgrimstog by sy "kamer" in NALN in, en... dáár leef hy nóg, soos altyd. Met ?n vonkel in die oog.
Teen ?n landskap van die Noord-weste, ?n fotobeeld wat van sy jeug- en studentejare tot sy akademiese topposte oorspan, vrolike plakkate van sy gemoedelike produksies, die dokumente en eerbewyse uit sy loopbaan, sy boeke en manuskripte, lesings, resensies en korrespondensie, vind mens die spore van sy bydraes. ?n Fokuspunt is die borsbeeld deur Laura Rautenbach.
n Kokerboommens
Toe sy seun Johan, toe nog ?n jóng, opkomende argitek, in 1978 die oorspronklike inkleding van die Beukes-kamer op versoek van NALN saam met sy pa gekonsipieer en ingerig het, het hy die kokerboom as leitmotiv gebruik - klein "foamolite"-embleme wat as herkomsgedagte plek-plek in die lewensoorsig gevoeg is.
Die uitstalling is deur die jare verskeie kere hersien, uitgebou, vernuwe. Maar die kokerboommotief het gebly. Want dié petit-bonkige boomaalwyn, gehard in sy grasie, van vele nut vir mens en omgewing, die sieraad van die Noordweste genoem, som Gerhard Beukes beter op as wat woorde kan doen.
n Persoonlike woord
Ek is een van dié groepie mense, oud-studente seker meestal, vir wie dit in die finale instansie irrelevant is wat die literêr-akademiese waardeoordeel oor Gerhard Beukes se statuur as skrywer of literator is. Hy was ?n literatuurpedagoog wat mens bybly. Hy was ?n mens wat sonder pretensie geleef en gedien het, gedoen het wat sy hand gevind het om te doen en wat sy era van hom gevra het.
As jou pad naby hom verbygeloop het, het iéts van hom, van sy menswees, in jou vesels neerslag gevind en deel van jou geword. Ten goede. Hy was ?n te-goed-om-waar-te-wees-mens, ?n wandelende oase van rus en lafenis en rykdom van die gees. ?n Totaal onbekonkelde mens, wat die kwaliteite wat die Skepper en die natuur in hom weggelê het, teen enige teenslae en verguising in, met ?n naïewe kristelike deernis bly deel het.
So ongekompliseerd as om by ?n padpredikant te gaan pad vra, so onthou ek die samesyn met hom - as student, as rou deeltydse dosentjie, later jare as skutheer van sy nalatenskap by NALN.
Daar is dinge wat ek prof. Beukes nie hoor doen het nie: sy eie beuel blaas, ander mense - kollegas, mede-skrywers - afkraak, robuuste taal gebruik... Ek eer hom byvoorbeeld daarvoor dat hy by my so ?n positiewe ingesteldheid teenoor die letterkunde nagelaat het. ?n Akkommoderende, verdraagsame waardering vir die literatuur, die teks, die woordmens, die woord, ongeag. Wat hom in die venynige wêreld van die literêre bendegeweld grootliks tot ignorering gestrek het - sy onbevange waardering bó verbete geslypte/geslepe kritiek - was mý wins.
Want vandag bevind ek my in ?n beroep - indirek ook deels deur sy toedoen - waar dit my dagtaak en bestaansreg is om in ?n sekere sin as rentmeester van die literêre nalatenskap van alle skeppende gebruikers van die Afrikaanse woord op te tree - sonder aansiens des persoons, sonder persoonlike of professionele voorkeure of vooroordele, sonder literêre, ideologiese of ander dienstighede: van die hoger-ste ghoeroe tot die naïefste agtergeblewe verteller en "onthouer".
Daarin het ek, benewens ?n bepalende huislike en kulturele gegewe, twéé mentors gehad, die een so onwegdenkbaar as die ander: prof. Gerhard Beukes en prof. Petrus Nienaber. Nou is albei van hulle weg, en dit laat ?n volgende geslag met die taak en voorreg om in erkentlikheid reg te laat geskied aan hulle nalatenskap.
Die "as"-toets
Die grootste geskiedskrywer van alle tye bly die Tyd self. Maar intussen, om by die beperkte visie van tydgenootlike oordele verby te kyk, bly die "as"-toets ?n nogal bruikbare meetinstrument. Byvoorbeeld: ás jy Gerhard Beukes uit die Afrikaanse letterkunde sou wegdink, sou alles nog dieselfde gewees het?
Meer as twee dekades lank het hy sy passie vir die woordkuns en die Afrikaanse letterkunde aan duisende studente oorgedra (voorgraadse Afrikaans-klasse het destyds in honderde getel; in my Honneursjaar dink ek was ons om en by twintig). Kan die dividende van dié belegging bereken en goedskiks weggedink word? Die literatore, skrywers, uitgewers, resensente, akteurs, skakel-, kommunikasie- en advertensiemense, onderwysers, leeskringlede en veral die baie wat nie-literêre koerse ingeslaan het, maar met ?n Beukes-nawerking rondom die Afrikaanse woordkuns in die gemoed?
Met sy publikasies het hy heelwat rekordlyste gehaal; selde indien ooit ?n uitgewer se "remainder"-lys. Sy publikasies was by uitstek gebruiksuitgawes: voorgeskryf en opgevoer. Ruim meer as ?n miljoen eksemplare is daarvan verkoop. Hoeveel pare oë het dus via Gerhard Beukes se publikasies met ?n toneelteks kennis gemaak, dalk vir die eerste keer, dalk vir die enigste keer? ?n Miljoen, konserwatief gesproke? In ?n spraakgemeenskap van net enkele miljoen? As jy dié effek dan sou wegdink, dié kennismaking met die Afrikaanse woord, die Afrikaanse toneelteks, sou kanselleer...?
In sy huldigingsrede destyds met die inwyding van die Beukes-kamer het mnr. P.P.B. Breytenbach ("Oom Breytie" van die NTO) gewys op die buitengewone gewildheid wat Beukes se toneelstukke geniet het: "In die gang van ons toneelontwikkeling vorm hy - saam met een of twee ander - ?n sleutelfiguur tydens die jare veertig en vyftig. Die publiek het na sy stukke gestroom en so is ?n liefde vir die toneel ontwikkel, veral op die platteland." Selfs in 1978 was hy, wat die betaling van letterkundige regte betref, nog onder die eerste ses uit ?n totaal van meer as 200 skrywers wat toe deur DALRO verteenwoordig is, aldus mnr. Breytenbach. As ?n mens nou hierdie "Beukes-faktor" in die vestiging van ?n landwye Afrikaanse toneel- en teaterkultuur sou wegdink, sou alles nog dieselfde gewees het?: die streekrade, die belangstelling in drama- en toneelonderrig sedert die sestigerjare, selfs die vroeë hoogbloei van Afrikaanse TV-produksies wat deur die toe bestaande toneelkultuur ondersteun is?
Benewens sy eie toneelstukke het hy eenbedrywe van verskeie ander skrywers - oueres, tydgenote en jongeres - prominent onder die oog laat kom deur dit op te neem in die reeks versamelbundels wat onder sy redaksie verskyn het. Volgens mnr. Breytenbach se telling in 1978 behels dit 42 eenakters van ander skrywers. (Hoeveel daarvan sou andersins ongepubliseerd gebly het?)
Deur Beukes se toedoen is die eenakter ook as genre in voorgeskrewe werk in die hoërskole van die destydse onderwysdepartemente ingevoer. Oor die betekenis vir sowel dramaturg as skoolkind van hierdie blootstelling aan toneeltekste deur van ons belangrikste dramaturge kan die "as"-toets maar net bespiegel.
Prof. Beukes was oor ?n lang loopbaan by tallose kommissies, komitees en instellings betrokke, byvoorbeeld die Komitee van ondersoek na die finansiële lewensvatbaarheid van NTO, die Komitee van ondersoek na amateurtoneel, die Kommissie van ondersoek na die daarstelling van ?n televisiediens, ens. Hy het op die rade van instellings soos die Nasionale Toneelbiblioteek, NTO, SUKOVS en NALN gedien en op die direksie van DALRO. Van 1973 tot 1975 was hy voorsitter van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns, en sy voorsittersrede het bygedra tot die opdrag aan die Niemand-kommissie van ondersoek na die uitvoerende kunste, wat die bestendiging van die uitvoerende kunste in Suid-Afrika beoog het.
Erkentlikheid
NALN het by verskeie geleenthede erkentlikheid teenoor prof. Beukes betuig. Nadat hy ?n omvangryke skenking van boeke, manuskripte, korrespondensie, dokumente, foto?s, toneelplakkate, sertifikate, eerbewyse en dergelike personalia geskenk het, is die Gerhard J. Beukes-kamer ingerig en op 26 Oktober 1978 in NALN amptelik geopen.
By geleentheid van sy 75ste verjaardag het NALN in 1988 ?n huldigingsgeleentheid vir hom en sy tydgenoot Anna M. Louw aangebied, en met sy 80ste verjaardag, in 1993, is ?n oggendteegeselligheid vir hom en sy vriende gehou.
Proff. Gerhard Beukes en Felix Lategan het albei ?n besondere verbintenis met NALN gehad. Dit dateer reeds uit die era toe die vestiging van ?n "Vrystaatse skrywersbiblioteek" in Bloemfontein bepleit is. Dié ideaal is toe later in die groter konsep van NALN opgeneem, en hulle het onvervangbare dienste aan die Museum gelewer.
n "Letterkundige museum"
In sy voorsittersrede by die jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns pleit prof. P.J. Nienaber in 1966 vir die skep van ?n "Afrikaanse Letterkundige Museum in ?n sentrale plek, bv. in die nuwe gebou van die Akademie".
Hy kon met gesag oor so ?n saak praat, want hy het die Nederlands Letterkundig Museum in Den Haag en die Archief en Museum voor het Vlaamse Cultuurleven in Antwerpen toe al verskeie kere besoek.
Verder was hy bekend as die grootste private versamelaar van boeke, manuskripte en dergelike in verband met die Afrikaanse taal en letterkunde. (Die Afrikaanse Skrywerskring kon al in 1943, tydens sy tweede "boekweek", ?n uitstalling oor die eerste taalbeweging en die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling met materiaal uit prof. Nienaber se persoonlike besit inrig.)
Terwyl prof. Nienaber in die daaropvolgende paar jaar dié gedagte by agtereenvolgens die Akademie, die pasgestigte Randse Afrikaanse Universiteit, wéér die Akademie, en later die toe pasgestigte Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) probeer bemark, begin daar ook in die Vrystaat ?n ideaal roer.
Binne die destydse Vrystaatse Adviserende Biblioteekkomitee word in die loop van 1967 kommer daaroor uitgespreek dat eerste drukke, manuskripte en personalia van skrywers verlore raak, en ontstaan die gedagte van ?n "Vrystaatse Skrywersbiblioteek".
Prof. Beukes word as voorsitter van ?n ad hoc-komitee aangewys om die saak te ondersoek, en prof. Lategan is een van die lede. Prof. Beukes is daarna, saam met die voorsitter van die Adviserende Biblioteekkomitee, mnr. H.J.R. Simes, LUK, en die Biblioteekorganiseerder, mnr. A. Cornelissen, deel van die afvaardiging wat die wenslikheid van so ?n onderneming met die Provinsiale Sekretaris, mnr. F.W. Liebenberg, en die Administrateur bespreek.
Op 3 Mei 1968 keur die Uitvoerende Komitee die stigting van ?n skrywersbiblioteek "onder die persoonlike sorg" van die provinsiale sekretaris in beginsel goed. Beide proff. Beukes en Lategan dien as lede van die ad hoc-komitee wat die Provinsiale Sekretaris daarin bystaan. Verder is prof. Beukes mnr. Cornelissen behulpsaam om ?n kortlys van die belangrikste Vrystaatse skrywers saam te stel. (Dit is later uitgebrei tot ongeveer 240 skrywers met die een of ander Vrystaatse verbintenis.)
n Instituut in Pretoria
Intussen het prof. Nienaber se volgehoue vertoë vir ?n museum of dokumentasiesentrum daartoe gelei dat die Raad van die RGN in Maart 1969, op slegs sy tweede vergadering, besluit het om ?n "navorsingsinstituut vir taal, lettere en die kunste" te vestig. Daardeur is ?n hele nuwe situasie geskep, wat die strewe na ?n Vrystaatse Skrywersbiblioteek by ?n kruispad gebring en onderhandelinge met prof. Nienaber en die RGN genoodsaak het.
Hiervandaan verder sou prof. Nienaber tot die sentrale figuur ontwikkel: terwyl hy enersyds ?n lid van die Raad van die RGN was, is hy op grond van sy kundigheid en ervaring deur die Universiteit van die Witwatersrand na die RGN gesekondeer om as "kurator" die beoogde 5 dokumentasiesentrums te vestig, elk weer met ?n eie direkteur aan die hoof. Terselfdertyd ontwikkel daar skakeling met die Vrystaters, en bedien hy hulle by geleentheid van strategiese advies.
Prof. Nienaber word na Bloemfontein genooi, en uit dié gesprek vloei ?n strategie om die RGN oor te haal om die te stigte instituut/dokumentasiesentrum vir taal en lettere in Bloemfontein te vestig. Die topbestuur van die RGN word daarop na Bloemfontein genooi, en gratis akkommodasie vir die instituut in die Raadsaal en die Ou Goewermentsgebou word aangebied. By albei hierdie geleenthede is prof. Beukes deel van die Vrystaatse afvaardiging.
Die RGN is nie vatbaar vir hierdie aanbod nie, maar prof. Nienaber stel ?n kompromis voor: dat daar in Bloemfontein, as gesamentlike onderneming van die Provinsiale Administrasie en die UOVS, "?n letterkundige museum" gevestig word, terwyl die RGN se "dokumentasiesentrum" in Pretoria bly. Die RGN sou graag behulpsaam wees met die uitbou van die museum.
Die Vrystaatse ad hoc-komitee is nie tevrede nie en vra ?n onderhoud met die Minister van Nasionale Opvoeding aan. Prof. Beukes is weer eens lid van die afvaardiging. Dié onderhoud lei tot die aanwysing deur die RGN van ?n komitee van ondersoek onder voorsitterskap van prof. J.M. du Toit van Stellenbosch. Tydens sy ter plaatse besoek aan Bloemfontein is sowel prof. Beukes as prof. Lategan deel van die ad hoc-komitee wat die Komitee van ondersoek te woord staan.
By die oorweging van die J.M. du Toit-verslag deur die Raad van die RGN in Junie 1971 bepleit prof. Nienaber die konsep van desentralisasie, en lei hy die Raad om dit as beginsel te aanvaar. Die RGN se vroeëre standpunt word dus gehandhaaf, maar naas die "nasionale" dokumentasiesentrum in Pretoria, word ruimte nou ook gelaat dat ander streke in die land streeksentra kan ontwikkel, met onderlinge samewerking en uitruiling van kopieë van materiaal.
Saam met die "nasionale letterkundige museum" kon daar in die Vrystaat dus nou ook ?n dokumentasiesentrum ontwikkel word, en dit kon enige skenker vrystaan om sy of haar materiaal dáár te skenk. (Teen hierdie agtergrond verstaan ?n mens beter waarom die"nasionale" en "navorsingsentrum" so prominent in die uiteindelike naam van NALN ingebou is.)
Beginselbesluit
Dit het nou ?n belangrike nuwe weg gebaan. Die Vrystaatse ad hoc-komitee word na Pretoria genooi, en die president van die RGN versoek die Direkteur van die Instituut vir Taal en Lettere, dr. P.G. du Plessis, en prof. Nienaber om ?n "miniatuurmuseum" in te rig om vir die Vrystaters te toon hoe die uitstallings kan lyk wat hulle in ?n letterkundige museum in Bloemfontein kan vestig.
Die besluit van die gesprek was in wese dat die beoogde museum in Bloemfontein met die aktiewe hulp van die RGN op nasionale vlak uitgebou en deur die RGN as die enigste van sy soort erken sou word. Finansieel sou die RGN nie kon help nie: die museum sou "aanvanklik geheel en al deur die Vrystaatse Administrasie gefinansier word".
Op grond van hierdie ooreenkoms het die Vrystaatse Administrateur op 9 Februarie 1972 "die skepping van ?n Nasionale Letterkundemuseum as ?n verantwoordelikheid van die Provinsiale Administrasie" goedgekeur. In die woorde van prof. Nienaber: "Dit het stil gebeur, maar ons kan 9 Februarie 1972 beskou as die geboortedatum van die NALN." (Die Museum is toe op 24 Maart 1973 amptelik geopen.)
Steunpilare
Hier het proff. Beukes en Lategan se betrokkenheid by NALN allermins geëindig: in hulle aktiewe jare was hulle steunpilare; in hulle bejaardheid steeds lojale vriende.
Albei van hulle is as lede van die eerste Advieskomitee (later Beheerraad/Adviesraad) van NALN benoem. Toe dit mettertyd hersaamgestel is, is bepaalde ampte verteenwoordig. As hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die UOVS het prof. Beukes steeds lid gebly tot met sy aftrede in 1978. In dié hoedanigheid het hy ook gedien op die NALN-beurskomitee en die kuratoriums van die Stigting NALN en die A.D. Keet-publikasiefonds.
Skenkings
Prof. Lategan se kleinerige, maar goeie versameling boeke en manuskripte is deur die Provinsie aangekoop om NALN onmiddellik van ?n stewige kernversameling te voorsien. In aansluiting daarby het hy sekere unieke materiaal geskenk, asook later sy lessenaar en ander items uit sy studeerkamer.
Veral prof. Beukes het as skenker ?n uitsonderlike voorbeeld gestel. Uiteindelik het hy, met uitsondering van sy boekery wat na sy ou skool in Upington is, sy totale literêre en verwante nalatenskap aan NALN geskenk. Na beraming beloop dit meer as 10 000 items, waarvan ?n deel in die Gerhard J. Beukes-kamer uitgestal word.
In die finale instansie was albei van hulle pleit-besorgers vir NALN. In hulle wye kontak met skrywers en akademici het hulle die Museum se belange met groot toewyding gedien. So het prof. Lategan gehelp om P.J. Schoeman te oorreed om sy hele studeerkamer en dokumenteversameling aan NALN te skenk. Prof. Beukes, weer, het help onderhandel dat Mikro se nalatenskap hier bewaar word. Ook in die onderhandelinge om die Van Schaik-kamer en ?argief te bekom, het hy deur sy noue vriendskap met die Van Schaik-broers ?n konstruktiewe rol gespeel.
Hulle heengaan is ook NALN se verlies. Ons betuig graag opregte meegevoel met hulle naasbestaandes.
Skoleprojek bereik baie
Cornelis Jacob Langenhoven is gebore in die nag tussen 12 en 13 Augustus in 1873. In die doopregister word sy geboortedatum aangegee as 13 Augustus. Die skrywer self het egter verkies om sy verjaardag op die twaalfde te vier. Met sy opvoedkundige projek op 12 Augustus vanjaar wou NALN hierdie voorkeur van die Chief respekteer. Op die ou end het dit egter ook na die 13de oorgeloop, met nagenoeg 400 kinders wat die program bygewoon het.
Langenhoven is almal se erfenis - dit het die geskiedenis voldoende bewys.
Ons moes by die kinders begin vir wie Langenhoven sewentig jaar gelede wou leer lees. Ook: die skoolgaande jeug wat, deur sy toedoen, in 1914 vir die eerste keer in hulle eie taal onderrig kon ontvang, al was Afrikaans aanvank-lik net erken vir laerskool-onderrig.
Dus het NALN uitnodigings aan Bloemfonteinse hoërskole gestuur om op die skrywer se verjaardag in die Museum te kom besoek aflê.
Die Engelse meisieskool Eunice was die eerste skool wat op dié dag voor ons deur kom staan het om te kom kyk na Herrie wat die trem trek, en na die mensvreters Brolloks en Bittergal wat ook nog saam met die ander spoke hier ronddwaal!
Bang meisies is hulle sekerlik nie, en ook nie bygelowig nie, want op die dertiende was dit wéér Eunice wat die voortou geneem het deur nóg vier groepe na die museum te bring. Die museum se gange het gewemel van die skoolkinders.
Dr. Blok Sekondêre Skool van Heidedal het ?n skoolbus volgepak om te kom kyk en te kom luister, en die seuns van die Hoër Tegniese Skool Louis Botha het met groot bewondering gekyk na die figuur-saagwerk in sy kamer, wat Langenhoven se vaardige hande self gemaak het!
In Arbeidsgenot se tuin het die skaduwee van die sonnewyser intussen aangeskuif. Uit die prentrame teen die muur het die mooie jong Engela vir hulle geknipoog, en selfs Vroutjie en Saartjie het minder streng afgekyk uit die familieportret waar die groepie saam met die hond Jakhals en ?n houtolifant in die tuin geposeer het...
Deur Langenhoven se toedoen word Afrikaans in 1914 erken as onderrigtaal in die laerskool en uiteindelik op 8 Mei 1925 deur die Regering erken as amptelike landstaal naas Engels.
HOE OM TE SKRYF - DIT WAS DIE VRAAG (in 1910)
Charles, ?n kleinkind van die Rynse sendeling A.F. Weich, het in 1898 saam met sy ouers na die Paarl verhuis, waar sy vader aangestel is as predikant. Teen die tyd wat die briefwisseling begin, bly sy ouers reeds op Worcester en loseer Charles in die Paarl. Jack Holloway se oupa het as kind uit Engeland na Suid-Afrika gekom, maar die familie het as deel van die boeregemeenskap in die omgewing van Hopetown, spoedig heeltemal verafrikaans. In 1896 vestig Jack se vader hom op Stellenbosch, waar Jack met behulp van afleweringswerk vir De Wet Gebrs. help om die pot aan die kook te hou, om later met ?n beurs van dieselfde firma verder te studeer. Charles se briewe handel oor skoolseundinge - ?n bietjie akademie, baie geselskap, klavierlesse, rugby, meisies en dan veral een meisie, Flava.
Die briewe gee ?n bekoorlike beeld van die lewe van die laaste skooljaar van ?n goed opgevoede en entoesiastiese lid van ?n Kaapse familie uit die begin van die twintigste eeu en kan uit ?n verskeidenheid oogpunte bestudeer word. Wat veral opgeval het, is die probleme wat die Afrikaners van daardie tydperk gehad het om korrekte Nederlands te skryf en daarom briefwisseling liewers in Engels gevoer het om ?n beter indruk te maak. Charles se Engels was feitlik foutloos, maar alhoewel hy aspirasies gehad het om baie goed te doen in die Taalbond-eksamen, was sy Nederlands nie van so ?n hoë standaard as wat hy gedink het nie - ?n probleem waarvan hy eers bewus geword het nadat hy vir Jack Holloway begin briewe skryf het.
Die briefwisseling begin dus in Engels. Hier en daar word ?n Afrikaanse tussenwerpsel gebruik - die spelling so effens Hollands. Na Charles se vierde Engelse brief antwoord Jack hom in Hollands en dit laat Charles wonder of hy uit hoflikheid nou die volgende brief in Hollands moet skryf.
Die laaste brief in die versameling is gedateer 11 November 1911.
Altwee die jongmans het hulle stempel afgedruk op die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Charles Weich is nie met Flava getroud nie, maar met I.D. du Plessis se suster Issie Davida. Onder die skuilnaam "E-mol" was hy jare lank die musiekkritikus van Die Burger en as voordragkunstenaar by Radio-omroep Kaapstad, het hy bekendheid verwerf as "Org Treurniet" in die reeks Kriekbult Roep. Sy lewe was verweef met dié van bekende Suid-Afrikaanse komponiste, skrywers en ander kultuurmense. Hy was lank voorsitter van die Oranjeklub en menige jongmens het hulle eerste tuiste in Kaapstad gevind in sy huis in Tamboerskloof. Jack Holloway se professionele lewe het begin as onderwyser aan Grey Kollege. Daarna word hy dosent in Geskiedenis aan die Grey Universiteits-kollege en later Suid-Afrika se leidende ekonoom, en nog later ambassadeur in Engeland.
Nog liedjies onder die bed
Dinsdae is die dag van die kind se vioolles. Terwyl háár dogter poog om die notasies en die vibrato?s aan myne oor te dra, gesels ek en sy oor die lang pad wat sy reeds geloop het, en die wonderlike dae wat sy so helder en lewendig onthou... Die landelike agtergrond van die begin van hierdie eeu het soveel skeppende geeste gevoed! Die naam van haar grootouers se plaas kort anderkant Calvinia was Kokkoboos - dit sing soos die bergstroom waaruit die vrugteboord natgelei is. Natuurlik het sy altyd vakansies daar by haar ouma gaan kuier, die ouma na wie sy as oudste dogter vernoem is.
Anna van Niekerk (née Holloway) is in 1907 in Kimberley gebore, en moes haar skoolonderrig in Engels ontvang. Musiekonderrig was privaat in daardie dae, sy moes elke week per trem na die orrelmeester by die Newton-kerk. Die Noordkaap se diamante is blink en hard, veral as hulle reg geslyp word: ná matriek is Anna na die Musiekkonservatorium op Stellenbosch om klavier, sang en orrel te bestudeer.
In die dertigerjare, toe die geslag van Van Wyk Louw, Eybers en Hettie Smit ?n nuwe geluid in die Afrikaanse letterkunde laat weerklink het - ai, hoe opgewonde was ons nie oor Sy kom met die sekelmaan en Belydenis in die skemering nie! - begin die jong Anna Holloway klavierlesse gee in Dutoitspan, Wesselsbron en Edenville. Orrelposte was skaars in die jare na die Depressie, en Wesselsbron se gemeente moes nog kerk bou, hulle kon haar nie genoeg betaal nie: sy moes immers losies ook nog betaal! Maar Edenville het ook ?n orreliste nodig gehad, en die liewe domineesvrou het sommer gesê, "Jy bly net hier by my!"
As die jong skoolhoof van Wesselsbron hom nie deur ?n mielieboer uit die distrik wou laat voorspring nie, sou hy maar gereeld die grondpad na Edenville moes aandurf. Aanhouer het gewen: In 1940 trou Anna met J.P. van Niekerk, en die groeiende dorpie Wesselsbron is ?n leeftyd lank verseker van ?n orreliste! En van ?n toegewyde onderwyseres wat nie net twee geslagte inwoners deur hulle musiekeksamens geloods het nie, maar bekende Vrystaters in ?n musiekloopbaan ingelei het.
In 1997 verhuis Anna na haar dogter in Bloemfontein, en haar klavier trek saam. Maar dis nie al nie, sy wil nog met die rekenaar ook leer werk, sodra iemand tyd het om haar bietjie touwys te maak. Daar is nou wonderlike musiekprogramme beskikbaar vir die rekenaar...
Dit laat haar juis onthou van haar tante se kinderversies wat sy destyds getoonset het. Haar oom was byna sterwend, sy moés aan sy versoek voldoen om sy geliefde vrou wat al in 1967 in Johannes-burg oorlede is, se gedagtes weer te laat sing. Op sy sterfbed het sy dogter Leonie die woorde vir hom "van blad gesing", en haar oom Jack het geglimlag en tevrede teruggeleun. Daardie selfde nag het hy stil gesterf... en Anna was so dankbaar dat sy dit vir hom kon doen!
Die manuskripte? Hulle moet nog iewers wees, ja. Dirkie de Villiers het destyds twaalf daarvan uitgesoek en laat publiseer. Miskien moet sy verder werk aan die toonsetting: sommer hierdie week nog begin.
Die doos onder die bed? Ja waarlik, daar kom die hele vonds tevoorskyn.. Saam met die boekies, en die briefwisseling met haar oom Jack en met Dirkie. Materiaal vir die museum, voorwaar! Want ja, miskien het u al geraai: die tante was niemand anders nie as die beminde Tienie Holloway! Sy was die skryfster van ?n groot aantal kinderversies en rympies in Afrikaans, reeds vanaf die dertigerjare. Haar eerste liefde was die "Kindergarten" waarvoor sy opgelei was, maar in 1913 trou sy met J.E. Holloway en vergesel hom later na Washington en Londen as Ambassadeursvrou.
By geleentheid het die Ambassadeurspaar op Wesselsbron kom besoek aflê. Natuurlik is daar toe ?n onthaal gereël - dit was vir jou ?n gedoente hoor! Die Vrystaters weet hoe om fees te vier. Tant Tienie was ?n deftige vrou, en haar vlotheid in beide Afrikaans en Engels was destyds al van groot waarde in die uitvoering van die tweetaligheidsbeleid van die Hertzog-onderwyswet. Anna was self tuis in Engels, maar sy moes tog die aanspreekformules vooraf oefen - só was Oom Jack en Tant Tienie dit immers gewoond tydens hul ampstermyn in Washington en in Londen - sodat sy hulle op Engels aan die Wesselsbronners kon voorstel: Please allow me to introduce you to my aunt, Mrs Christina Holloway... So moes sy elke keer sê. Met dié mense se boere-hartlikheid het tant Tienie egter nie rekening gehou nie. "Dag niggie! Van der Merwe is die naam! Noem my sommer Koos. En mevrou is nou seker Anna se hoge familie wat oor die water was?"
In 1962 skryf Tobie Brümmer ?n artikel "Was sy Sarie Marais?", in Die Byvoegsel tot Die Burger (13 Januarie 1962). Sy navorsing het hom gelei na ?n dossier, saamgestel deur J.P. Toerien in sy soeke na die waarheid oor die legendariese Sarie Marais. Hierdie dossier word by NALN bewaar en bevat al die briewe en dokumente wat Brümmer gebruik het om die volgende artikel te skryf.
Wie was Sarie Marais - die Sarie oor wie die liedjie gesing word? Net met die wysheid van Salomo kan hierdie vraag beantwoord word, want:
In my soektog na die oplossing van dié vraag het ek ?n interessante dossier raakgeloop. Hierdie dossier, met sy sowat 100 000 woorde, bevat ou dokumente en waardevolle stukke wat deur die jare deur mnr. J.P. Toerien van Bergvliet versamel is. Hy is ?n neef van die Toerien-susters.
Dit bevat o.m. die stukke van Renier, rubriekskrywer van Die Volksblad, Jan Burger, rubriekskrywer in ?n Engelstalige koerant, en Lawrence Green, wat kant kies vir mev. Malherbe, en drr. P.J. en G.S. Nienaber, wat in hul boeke kant kies vir die Toeriens. Dit alles bring ons nog geen duim nader aan die oplossing nie.
Die vraag wie die regte Sarie was, het in 1937 vir die eerste keer onder die openbare aandag gekom toe ?n verslaggewer van Die Volksblad in Bloemfontein by mev. Susara Margaretha Toerien opgedaag het. Ná baie mooipraat het mev. Toerien erken dat sy die Sarie is van wie so gesing word en dat haar man, J.P. Toerien, in die dae van die Eerste Taalbeweging beter bekend as Jepete, die skrywer van die woorde is.
Maar mev. Toerien was baie godsdienstig en sy het die verslaggewer versoek om nie ?n bohaai daaroor op te skop nie. Sy het hom gevra om die berig eers aan haar voor te lê voor hy dit publiseer. Toe die verslaggewer egter later daar opdaag, wou sy nie hê dat dit gepubliseer word nie.
Die saak is daar gelaat totdat ?n briefskrywer in Die Volksblad beweer het dat die skrywer van die lied darem ?n papbroek was, want hy was dan "so bang dat die kakies hom sou vang". Die waarheid is dat die liedjie oorspronklik gesing is. "Sy was so bang dat die kakies my sou vang."(sic.)
Nietemin het dit die Toerien-dogters hewig ontstel want, het hulle gesê, "ons vader was beslis geen papbroek nie". Maar toe die saak eindelik ná ?n hewige briefwisseling opgelos is, het die drie susters weer net soos voorheen geswyg en kon mnr. J.P. Toerien van Bergvliet geen verdere inligting by sy groot dossier voeg nie.
Net so het die drie susters, Jeannette, Garty en Dana, geswyg toe ek hulle hierdie week in hul huis in Bellville besoek het. "Ons wil geen bohaai daaroor opskop nie," het hulle gesê, "maar daar is by ons geen twyfel nie dat ons vader, Jepete, die lied se woorde geskryf het, of altans die oorspronklike woorde geskryf het en dat dit deur die jare gedurig verander is." Hul twee susters en twee broers wat ook nog lewe, bevestig dit.
Mev. Ella Unsworth, jongste dogter van Jepete wat nou in Windhoek woon, is waarskynlik die enigste van die kinders wat met sekerheid kan sê of haar vader die skrywer is na wie al so lank gesoek word. Kort voor haar moeder se dood in 1939 is die kinders versoek om ?n trommel met waardevolle ou dokumente van Jepete daarin te vernietig. Wat die rede daarvoor was, kan nie een nou met sekerheid sê nie, maar hulle glo dat hul moeder vernederd gevoel het omdat die liedjie Sarie Marais "deur elke Jan Rap en sy maat" op danspartye gesing is en dat sy geen publisiteit wou hê nie.
Ella, aan wie die opdrag gegee is om die ou trommel met dokumente te vernietig, het egter in die trommel gekyk en o.m. ?n gedig gesien wat haar vader oor haar moeder geskryf het toe hy haar nog die hof gemaak het. Sy het ook ander gedigte daarin gesien.
Volgens die Toerien-susters kon hierdie trommel die oorspronklike woorde van Sarie Marais bevat het en was die een wat Ella gesien het waarskynlik die oorspronklike kopie.
Vir ?n man soos Jepete is dit onwaarskynlik dat hy nie ook ?n gediggie oor sy vrou geskryf het nie. So ?n gedig kon nog nooit opgespoor word nie, behalwe dat die Toerien-susters sê daar was een en dat Ella wel so ?n gedig gesien het.
Ons moeder het altyd gesê die geheim van Sarie Marais sal ná haar dood opgelos word," het mej. Dana Toerien gesê, "maar sy het naderhand anders besluit, want dit het haar altyd diep seergemaak om te sien hoe almal haar lieflingsliedjie sing. Daarom was dit vir geeneen van die kinders snaaks dat sy opdrag gegee het dat die trommel met dokumente vernietig word nie."
Die presiese geheim van die ou trommeltjie wat Sarie Maré Toerien met haar na die graf geneem het, kon nie een van die susters my egter meedeel nie. "Ons kan maar net vermoed dat dit die gediggie is wat sy graag vernietig wou sien omdat sy so sterk godsdienstig was," sê hulle.
Die geskiedenis van Jepete en die goeie werk wat hy gedoen het, kan boekdele vul, en so ook die beweringe van die vrou in Durban, mev. Janie Malherbe, wat sê mev. Ella de Wet is die skrywer van Sarie Marais se woorde.
Tussen die dokumente wat ek opgespoor het, is daar geen bewys dat mev. De Wet ooit gesê het sy het die woorde geskryf nie. Sy het net gehelp om dit te publiseer.
Mev. Malherbe sê mev. De Wet, eggenote van wyle mnr. N.J. de Wet, later hoofregter van die Unie, het op ?n dag in 1902 by genl. Botha se kommando in die omgewing van Utrecht opgedaag. In ?n ou plaaswoning het sy die burgers onthaal deur op ?n klavier te speel. Die liedjie wat die meeste byval gevind het, was Ellie Rhee, wat die oorspronklike wysie van Sarie Marais is.
n Ds. Nel, wat die kommando?s as kapelaan vergesel het, het die Boere vertel van sy moeder wat so ?n beeldskone mens is, en die burgers het die woorde Ellie Rhee deur Sarie Marais vervang. So het Sarie Marais ontstaan, sê mev. Malherbe, en in 1920 is dit deur ?n Kaapse drukker uitgegee, soos saamgestel deur Ella de Wet.
En as ?n mens die woorde van die twee liedere vergelyk, dan is daar beslis ?n ooreenkoms. Ellie Rhee lui so:
KOOR:
Sarie Marais, soos dit in die jare twintig gesing is, het so gelui:
Om haar nooit weer te sien,
Sy het in die wyk van die Mooirivier gewoon,
Voordat die oorlog begin.
KOOR:
O neem my terug na die ou Transvaal,
Daar waar my Sarie woon,
Daar onder in die mielies by die groen doringboom,
Van albei liedere is net die eerste versie geneem. Later is by die Afrikaanse weergawe nog ?n versie deur mev. De Wet gevoeg.
Mev. Malherbe sê ook Jepete kan nie die skrywer van die lied wees nie, want eers in die Tweede Vryheidsoorlog is van kakies gepraat. In die eerste oorlog is hulle Rooibaadjies en tommies genoem. As ?n mens in aanmerking neem hoe dikwels die woorde van die lied al verander is, kan dit moontlik wees dat Jepete geskryf het: "Sy was so bang dat die tommies my sou vang." Dit kan later deur kakies vervang gewees het toe die Engelse begin het om kakieklere te dra.
In die brief sê mej. Neethling dat sy die persoon is wat volgens mev. Malherbe met mev. De Wet na die Boerekommando?s gegaan het om haar man te besoek.
Sy skryf: "Mev. De Wet was nooit in die oorlog naby Utrecht nie. Dit is nie waar dat sy saans voor die klavier gesit het en vir die burgers liedjies gespeel het nie. Utrecht was toe in die hande van die Engelse en elke Boer wat sy gesig daar durf waag het, sou dadelik gevange geneem gewees het."
Mej. Neethling wys ook daarop dat die wyk Mooirivier nie in Natal was nie, maar net die rivier met daardie naam. Daar was wel ?n wyk Mooirivier in Transvaal.
En sover ek met behulp van die dossier kon vasstel, het mev. De Wet self nooit beweer dat sy dié liedjie geskryf het nie. Sy het wel in die jare twintig hand bygesit om die lied reg te stel, en dit is deur ?n Kaapstadse drukker uitgegee.
Wat interessant is, is dat daar op die laaste oomblik voor die artikel ter perse gegaan het, ontdek is dat mev. Malherbe se oupagrootjie waarskynlik ?n broer van die Toeriens se oupa was. Daar is egter nog geen duidelikheid oor hoe verlangs hulle verwant is nie, maar hulle is beslis familie.
Die Toerien-susters is, soos hul moeder en vader was, baie godsdienstig en weier nou enige verdere kommentaar op die aangeleentheid.
Dit maak net baie seer om te hoor hoe ons moeder se lieflingsliedjie so misbruik word op partytjies, en elke keer is daar ?n stertjie by," sê hulle egter.
Maar die Toerien-susters glo dat oor die geheim van Sarie Marais nooit saamgestem sal word nie en dat die oorspronklike woorde vernietig is toe Ella die dag volgens haar moeder se opdrag die trommel met die ou dokumente vernietig het.
En as dit so is, dan was daardie woorde beslis nie dieselfde as wat vandag gesing word nie. "Al wat ons weet, is dat ons moeder nooit ?n leuen sou vertel nie, en vóór sy besluit het dat haar geheim met haar na die graf sal gaan, het sy tog uitdruklik gesê haar Jepete het ?n lied oor haar geskryf."
Die susters glo ook dat hul moeder daarteen gekant was dat haar lied soos Ellie Rhee op elke straathoek gesing word.
Hierdie "magtige geheim", soos dit al beskryf is, het selfs al die verbeelding van manne soos Lawrence Green aangegryp. Uit ou koerantknipsels het hy besluit om die standpunt van mev. Malherbe te aanvaar, min wetende dat hy eintlik net bevestig dat Sarie Marais, soos dit vandag gesing word, ?n verdraaiing van ?n geheim is wat in 1939 met Susara Margaretha Toerien na die graf is.
Dit is waarom ek glo dat geeneen van hierdie dik dossiere en geen verslaggewer ooit die geheim gaan oplos nie. Ons sal eers moet besluit na watter Sarie ons nou eintlik soek.
Eers as iemand met sekerheid kan sê of Sarie Marais al in die Eerste Vryheidsoorlog gesing is, en of die Boere in die Tweede Vryheidsoorlog die woorde vir die eerste keer gehoor het, kan daar weer oor die geheim gepraat word. En eers dan sal mnr. J.P. Toerien van Bergvliet miskien sy dossier kan aflsuit. Maar dit is ?n groot miskien...
Dit gebeur maar min dat ?n skrywer op haar honderdste verjaardag met die heruitgawe van ?n boek vereer word en nog lewe om die boek self in ontvangs te neem. Dit is die voorreg wat Hettie Cillié te beurt geval het op 18 Februarie 1985, ?n dag na haar honderdste verjaardag, toe mnr Daan Retief aan haar ?n herdenkingsuitgawe oorhanding het van Rachel, die koppige meisiekind, ?n jeugverhaal wat reeds in 1958 vir die eerste keer verskyn het. Baie van haar kinderboeke weerspieël die verloop van haar eie lewe. Miskien moet ons Hettie Cillié toelaat om dit in haar eie woorde te vertel.
Patatskloof was die naam van my vader, D.G. Cillié se wynplaas in Drakenstein, Kaap Provinsie. Daar was hy onvermoeid besig in sy wynkelder; die maak van rosyne en die kook van sy heerlike moskonfyt wat besonder gewild was.
En toe ... ewe skielik besluit hy om sy plaas te verkoop, sy meubels en sy plaasgereedskap van die hand te sit en met sy vrou en vier kinders na Transvaal te trek om daar te gaan skoolhou. En dit op Donkerhoek, omtrent veertig myl van Pretoria waar die wêreld destyds nog wild en woes was, met net ?n enkele Boerehuis hier en daar. Die reis na die verre Suid-Afrikaanse Republiek sou buitendien nie maklik wees nie. Die trein het nog maar net tot op Beaufort Wes geloop. Daarvandaan moes reisigers maar met ossewaens oor die pad kom.
Die Cillié gesin het dit nogal gelukkig getref. Toevallig was daar ?n bestelling nuwe ossewaens van Wagenmakersvallei, Wellington, op pad na Pretoria waar dit moes afgelewer word. En die eienaars was meer as gewillig om die landverhuisers in hul waens te vervoer. Die ossewatrek het omtrent ?n maand geduur.
Maar waarom so ?n onnodige omwenteling in ?n mens se lewe as alles tog goed gaan?" sou ?n mens kon vra. Maar D.G. Cillié het hom laat ompraat van Ds. S.J. du Toit (vader van Totius) wat juis aangestel was as Superintendent van Onderwys in die Suid-Afrikaanse Republiek. My vader was goed bevriend met die Dominee vir wie hy ?n groot bewondering gehad het en altwee het aan die Genootskap van Regte Afrikaners behoort.
Die Dominee het sy taak as Superintendent van Onderwys in Transvaal met groot geesdrif aangepak. Private skole deur die Staat ondersteun is oor die land gestig maar ... onderwysers vir al die skole het ontbreek. Die leerkragte wat uit Holland gekom het was veels te min. Daarom dat hy toe in die Kaap Provinsie onder sy bekendes na onderwysers begin soek het.
In Pretoria aangekom moes my ouers natuurlik weer per ossewa na Donkerhoek reis. Lid van die skoolkommissie het hulle kom haal. Onderwyl die lang span osse met die tentwa langsaan in die maanhaarpad deur die veld slinger, het die goeie Boere-oom dit sy plig geag om Meester se vrou te waarsku: "Tante moet nou darem nie ?n huis met glas ruite verwag nie." En sy het hom gerusgestel en verseker dat sy haar in alles kon skik.
Toe hulle eindelik stilhou was dit dan ook voor ?n klein grasdak huisie sonder stoep, met kleimure, grondvloere, ?n groot skoorsteen en klein plankvenstertjies. Die skool ?n entjie van die huis af was ?n lang geboutjie met ?n paar klaskamers. Daar anderkant was ook nog gerieflike perdestalle want die Sederberg poskoets het gereeld hier kom oorspan op sy togte tussen Pretoria en Lydenburg en dan was ?n span uitgeruste perde nodig.
My moeder, soos altyd selfs onder die moeilikste omstandighede, het sonder kla of kerm ingetrek en haarself tuisgemaak in die nuwe omgewing. Die landskap, ?n digbeboste wildernis met ?n paar skilderagtige koppies en blou rantjies hier en daar, was nie sonder bekoring nie en die gesin het gou heeltemal gelukkig en tevrede op Donkerhoek gewoon.
Daar was egter iets waaraan my moeder haar lewe lank nooit gewoond geraak het nie, miskien as gevolg van die eerste ondervinding hier op Donkerhoek. Dit was die geweldige Transvaalse donderstorms. Wanneer so ?n donker, dreigende onweer oor die aarde losbars moes die ondigte deure en klapvenstertjies styf toegemaak word. En dan het die gesin in die duisternis by kerslig gesit en geluister na die gedreun van woeste rukwinde en skokkende donderslae daarbuite waar die reën in strome neerstort. Vreesbevange het my moeder dan vurig verlang na haar vorige veilige woonhuis in Drakenstein.
Soos reeds gesê het die poskoets hier kom oorspan op sy togte tussen Pretoria en Lydenburg. Dan is ?n possak hier agtergelaat en ?n ander een is ontvang om verder vervoer te word. Saam met sy pligte as onderwyser moes my vader toe ook nog diens doen as posmeester. Briewe moes geweeg en possakke moes verseël word. Die skaaltjie wat hy gebruik het om die posstukke te weeg is in Pretoria in die museum in Boomstraat te sien.
En hier, op Donkerhoek, het ek op 17 Februarie 1885 die eerste lewenslig aanskou. Dokters en verpleegsters was natuurlik uit die kwessie. ?n Liewe ou Boere tannie was meer as gewillig om te kom verpleeg en sover in haar vermoë moeder en baba op die regte manier te versorg. Soos hulle my vertel het was dit maar ?n toiingrige baba, huilerig en ontevrede. Maar later het dit glo darem beter gegaan.
Na enige jare is ons weg van Donkerhoek. My vader het sy bedanking ingestuur want hy wou liewer weer gaan boer as om langer skool te hou. Dit het nogal moeilik gegaan om ?n plaas naby Pretoria te kry. Die gesin het ondertussen hier en daar woonplek gevind o.a. op die plaas van Jopie Fourie se ouers. Eindelik in 1891 het die blye dag aangebreek dat ons na Skietfontein, agter Magaliesberg kon trek. Die plaas Skietfontein, omtrent agtien myl van Pretoria het aan Kom. Gen. Piet Joubert behoort en hy was van plan om dit van die hand te sit. My vader het dit dan ook later gekoop.
Skietfontein was 2 000 morg groot. Die baken in die suidekant het bo-op Magaliesberg gestaan en die een in die noorde, daar onder in die wye vlaktes. Die groot gerieflike woning met sy uitstekende buitegeboue was aan die voet van die berg. Daar was ?n waenhuis, stal en buitekamers. Daar was ?n pragtige veekraal met hoë klipmure, ?n skuur, kalwerhok en ?n outydse "trapvloer" waarop die vorige eienaar sy koring deur perde laat uittrap het. Groot koringlande het net onderkant die dam gelê ... ?n dam waarin die water van ?n sterk standhoudende fontein uit die berg dag en nag geloop het. Daar was ?n groentetuin, vrugtebome van alle soorte en ?n lemoenboord waar jy die lekkerste lemoene kon gaan pluk.
Hier het ons kinders (vyf susters en drie broers) opgegroei. En ongetwyfeld was dit die gelukkigste tyd van ons lewe. Die hoë suikerboskop net agter die huis wat jy so maklik kaalvoet kon uitklim tot daar bo op die top, die digte bosse in die pragtige klowe van Magaliesberg, die spruit met sy stroompie koel water onder die bome waar ?n mens die heerlikste klei vir die maak van kleiosse kon gaan haal, was almal speelplekke wat ons op ons tien vingers geken het. Ons het presies geweet wanneer die stamvrugte in die berg ryp is en waar die groot donkergroen boom staan wat die soetste moepels dra. En daar was natuurlik ?n plaasskool...
En toe breek die Tweede Vryheidsoorlog uit en ?n nuwe hoofstuk in my lewe begin...
Met die twee oudste broers (die jongste van die twee nog maar sestien) op kommando en my vader gevange geneem, het my Moeder met haar dogters en jongste seuntjie op die plaas agtergebly tot ses maande voor vrede gemaak is. Vurig het sy gehoop om end uit met rus gelaat te word. Maar eindelik was die vyand ook op Skietfontein om die huis met alles wat daarin was te verbrand en ons met ?n ossewa na ?n konsentrasiekamp te vervoer. Die lang geskiedenis van ontbering daar op die plaas, van gevare en noue ontkomings gedurende die oorlog het ek in my boek En die Winde het Gewaai vertel (Uitgewers HAUM).
Na die vrede gesluit is was die skole in Transvaal in so ?n toestand dat ek saam met ?n suster na La Rochelle Hoër Meisiesskool, Paarl, K.P. gestuur is. Vyf jaar lank was ons daar op kosskool. Maar hierdie storie met al sy vreugde en verdriet, pret en kaskenades het ek in my boek Chrissie en Joey breedvoerig beskryf. Hierdie boek was die allereerste kosskool boek vir meisies in Afrikaans.
Na vyf jaar op kosskool kon my suster en ek terug na Pretoria. Die Christelike Nasionale skole was gestig en die Eendrag Hoër Skool in Pretoria het ?n matriekklas met uitstekende onderwysers gehad, o.a. Dr. N.M. Hoogenhout. Die Normaal Kollege was ook al daar vir die studente wat ?n onderwysers-kursus wou loop.
My ondervindinge gedurende die vyf-en-twintig jaar wat ek skool gehou het was m.i. buitengewoon interessant en opwindend, maar ook al weer veels te lank en ingewikkeld om hier vertel te word.
Dit was m.i. sommer toevallig dat ek begin skryf het. My vurigste begeerte was om kunsskilder te word. Ek het feitlik in niks anders belanggestel nie. Op kosskool het ek vyf jaar lank kunsklasse bygewoon maar verder het dit nie gekom nie... Na die Tweede Vry-heidsoorlog was ons Transvalers in so ?n hopelose toestand van armoede dat die kinders maar so gou as moontlik moes begin werk om iets te verdien. Ter gedagtenis aan daardie jammerlik mislukte poging om kunsskilder te word bewaar ek nog twee ingekleurde tekeninge wat ek op sewejarige leeftyd gemaak het.
Ek het begin skoolhou en, seker maar om myself te troos, tussenin kort verhale geskryf, die meeste onder ?n skuilnaam. Tot my verbasing was die skrywery ?n groot sukses. Tot so ?n mate dat toe J.L. van Schaik my vra om ?n meisiesboek te skryf ek moed genoeg gehad het om dit te waag. (Senatus, Vol. 5, no. 9; 8 Junie 1979)
Nog lank voordat haar boek, Chrissie en Joey, in 1925 gepubliseer is, was Hettie Cillié reeds ten nouste betrokke by die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde as medewerker aan tydskrifte soos Die Brandwag, Die Boervrou, Die Kleinspan en Die Volkstem. Reeds met die verskyning van die eerste Brandwag op 31 Mei 1910, is sy as medewerker genader. Haar eerste skryfwerk was egter nie vir kinders nie. Dit was eers nadat sy begin skoolhou het op Dullstroom en haar leerlinge begin vergas het op haar eie stories, dat sy vir kinders begin skryf het. Haar bekendste jeug- en meisieverhale het verskyn terwyl sy nog skoolgehou het, maar haar grootste bydrae tot die Afrikaanse kinderletterkunde het gevolg nadat sy die onderwysberoep in 1940 vaarwel geroep het.
Behalwe die talle geskiedenis-, aardrykskunde- en natuurstudie-pamflette wat sy geskryf het, het sy ook bydraes gelewer vir Afrikaanse skoolleesboek-reekse soos Prettige praatstories en Stories vir almal. Die dertien stories wat sy geskryf het vir haar Dieretuin-stories, was baie gewild en sommige van hulle is ook in Suid-Sotho vertaal. Vir hierdie boekies wat in die 1940?s verskyn het, moes sy reeds baie navorsing doen, maar in 1958 vra dr. C.F. Albertyn haar om bydraes te lewer vir sy reeks Kinders van die wêreld. Vir hierdie werk moes sy omtrent harder studeer as ooit voorheen in haar lewe.
By NALN word verskeie dokumente van Hettie Cillié bewaar - dokumente oor haar eie lewe asook ?n aantal wat genealogiese en biografiese inligting oor haar familie bevat. Die stamvader was Jacques Malan wat in 1688 of 1689 na die Kaap gevlug het. In die J.S. Gericke biblioteek op Stellenbosch is ook van haar manuskripte gedeponeer vir bewaring.
Soos vele ander Europese taalgeleerdes het sy aanvanklik Nederlands as universiteitsvak gekies, en toe Langenhoven en sy Loeloeraai se jongste taal in die wêreld ontdek! (Ja Jana, mens praat van Loeloeraai se taal, daar is geen ander manier om dit te sê nie, en Afrikaans het regtig nie naamvalle nie!)
Ons toer deur die Afrikaanse letterkunde; sy wil weet watter boeke sy nog almal móét lees, want sy moet hulle gaan bestel by die boekwinkel en solank laat verskeep na Duitsland. Die drie ure is glad nie genoeg vir al die inligting wat sy hier wil versamel nie.
In die Dertigers se kamer staan ons stil voor W.E.G. Louw se uitstalling. In die kas is afdrukke van Hieronymus Bosch se skildery, Die tuin van aardse luste, waarop die dertigerdigter sy drieluik-vers gebaseer het:
in die middel - as naaf van ?n wiel - is ?n ronde vywer waarin jong vroue uitgelate baljaar, gehul in loshangende, goudgeel hare;
en daaromheen is ?n wilde mallemeule van ruiters op perde, kamele, bokke en bere.
Een verdwaasde ry op ?n gevlekte panter;
hy leun agteroor, in so ?n drif beswym n mens sou dink hy slaap .. .
O, maar kyk die verskriklike monsters uit die Middeleeuse verbeelding! Dit moes onmenslik gewees het om in daardie tyd te lewe, met soveel vrees .. .. Geen wonder die titel van die bundel is Vensters op die vrees nie!
Baie geluk jong Duitsertjie, dat jy van so vér na die suidpunt van Afrika gekom het om ?n Middeleeuse Nederlandse skilder se kuns te kom herontdek, en daarmee saam ?n stewige sny uit die koek van die Afrikaanse Letterkunde te nuttig!
Die Ou Goewermentsgebou se historiese boomtuin
Wanneer die besoeker aan die Letterkundige Museum vandag onder die reuse sederbome se beskermende takke deur die Ou Goewermentsgebou binnestap, wel, dan het hy miskien die gevoel dat hulle maar daar hoort! Of maar altyd daar was...
Die sederbome, die toringhoë sipresse, selfs die twee inheemse olienhoutbome weerskante van die ingangshek, het egter nie sommer op eie hout(jie!) hier in die hart van die Vrystaatse hoofstad kom groei nie! Soos die naamplaatjies by die oudstes van die boomreuse vandag nog aandui, is hulle geplant deur hoogwaardigheidsbekleërs, soms besoekers van ver.
Aan die buitekant van die hoofhek word die tuin bewaak deur die standbeeld van Jan Brand. Hy tuur in die lengte van Maitlandstraat af en herinner ons in Nederlands dat alles wel sal regkom (as elkeen sy plig doen, soos u mos óók gesê het, President?)! En dit was dan ook die president self wat die boomplant-tradisie in die tuin van die Ou Goewermentsgebou begin het.
Om nege-uur die Maandagoggend van 24 Februarie 1879 het President Brand en sy vriend Moritz Leviseur, ?n Joodse handelaar, twee sipresbome aan weerskante van die hoofingang van die Goewermentsgebou geplant. Die geleentheid was die viering van die 25-jarige bestaan van die Vrystaatse Republiek. Die hoofstad was nog maar ?n dorpie, en die enigste "kwekery" was mnr. Leviseur se eie tuin, dus het laasgenoemde sommer die boompies ook verskaf!
Elf jaar later is Bloemfontein se isolasie van die res van die land luisterryk beëindig met die koms van die stoomtrein. Die inwyding van die spoorlyn het gepaard gegaan met feesvierings wat dae lank geduur het. Op 17 Desember 1890 het die versierde lokomotief Bloemfontein se stasie binnegestoom om die sylint te breek. Vlae van die twee republieke en die twee Britse kolonies was daaroor gedrapeer, en die verteenwoordigers van sowel die twee Britse kolonies as die twee Boererepublieke het voor op die lokomotief gesit: Sir Charles Mitchell van Natal, Lord Henry Loch van die Kaapkolonie, dr. W. Leyds namens president Paul Kruger van die Z.A.R., en natuurlik die Vrystaatse Republiek se eie president F.W. Reitz. Vanselfsprekend was daar toesprake, ?n banket, ?n bal en ?n tuinparty! Op 19 Desember het die verteenwoordigers elkeen ?n sipresboompie in die tuin van die Goewermentsgebou geplant.
Die feestelikhede van die einde van die negentiende eeu is helaas gou oorskadu deur die donker wolke van die Anglo-Boereoorlog. Teen 1902 is Brittanje aan bewind en die twee nuwe Britse kolonies onder Lord Alfred Milner se bestuur. Kort daarna word vyf lemoenbome in die binnehof van die vergrote Rege-ringsgebou geplant om aan te pas by die lemoenboom wat op die wapen van die Oranjerivierkolonie verskyn. (Eers dekades later is besef dat die lemoene op die boom te lande gekom het deur ?n misverstand - die boom op die eerste Vrystaatse wapen was sonder vrugte!)
Op 3 Februarie 1903 besoek die Britse Minister van Kolonies, Robert Chamberlain, die klein stad. Hy verkies egter om die middag te gaan rus, sodat die eer mevrou Chamberlain te beurt val om twee meidoring-struike in die voortuin te plant. Ook die goewerneurs Hamilton Goold-Adams en Lord Selborne laat in 1905 elkeen ?n groeiende gedenkteken na in die gestalte van ?n Cedrus Deodara wat vandag al byna daarin slaag om die toring van die ou gebou te verberg...
Die Britse heersers was nie die enigste buitelanders wat aan die begin van die eeu deur die tuin kom wandel het nie: die jong Hertog van Braganza (1887 - 1908), Dom Luiz Filippe, besoek die stad vlugtig op 26 Augustus 1907 en plant sy boom in die tuin. Kort na sy terugkeer na Portugal word die prins vermoor - hy was die seun van Carlos I. Maar die plaatjie tussen die klimop herinner ons vandag nog dat ook hierdie jong aristokraat eenmaal die milde winterson van die Vrystaat oor hom voel skyn het.
Nog veranderings het spoedig op die herstel ná die oorlog gevolg: die Oranjerivierkolonie het deel geword van die Unie van Suid-Afrika, en Langenhoven se taal is deur die Unieparlement aanvaar.
President Brand sou dié vernuwings seker goedgekeur het; hy het nog steeds stewig gestaan in die middel van die straat wat na hom vernoem is, voor die ingang na die tuin wat hy begin aanlê het. (Kort ná die Uniewording het die beweging van die trems aan die bopunt van die hoofstraat egter genoodsaak dat die beeld teruggeskuif moes word, nader na die ingang.)
Die sestigerjare word ingelui deur die Uniefees in Bloemfontein, wat seker die oudste inwoners van die Vrystaatse hoofstad met heimwee sou laat terugdink het aan die koms van die spoorweë in 1890... In 1961 volg nog ?n groot omwenteling: die Unie word die Republiek.
Die ry bome aan die binnekant van die heining het teen hierdie tyd al so hoog gegroei dat sommige verwyder moes word, omdat die kontoere van die statige gebou glad nie meer sigbaar was nie. Die ou historiese bome is behou. Maar die gebou kon nie meer al sy amptenare huisves nie en die nuwe H.F. Verwoerdgebou (vandag die Lebohanggebou) het spoedig daaragter verrys, sodat die toring nou nooit meer teen die skoon lug afgeëts gesien kon word nie. Die bome het wag gehou en gegroei.
In 1979 vier die tuin sy honderdste verjaardag, en kry as geskenk ?n klein inheemse olienhoutboom uit die hand van die destydse administrateur van die provinsie, mnr. A.C. van Wyk. Byna twintig jaar later staan sy boonste takkies al amper op die hoogte van die president-standbeeld se kop!
Vanweë die vestiging van NALN in die Ou Goewermentsgebou in 1974, het ?n ander Vrystaatse president, boek in die hand, in 1986 sy staan gekry binne in die tuin: die vroeë Afrikaanse digter F.W. Reitz.
Op 1 Oktober 1992 kry mnr. Van Wyk se olienhoutboompie langs die hoofhek ?n maat, geplant deur die eerste direkteur van NALN, prof. P.J. Nienaber. En op boomplantdag ses jaar later staan Professor se boompie al regop van gestalte en hoër as menshoogte.
President Brand en Moritz Leviseur se oorspronklike sipresse is in 1932 vervang met nuwe bome, geplant deur mev. J.S. Gates, dogter van die President, en deur die weduwee Sophie Leviseur. Een lemoenboom is ook vervang, maar die ander vier troon in 1998 steeds oor die agapante in die ou binnehof. Al ken die plek nie meer sy eertydse Engelse amptenare nie...
NALN het op 14 Augustus vanjaar ?n muntinsameling ten bate van die restourasie van die "Gedenkschool der Hugenoten" in Dal Josafat geloods. Daardeur wil die Museum sy daadwerklike steun toon vir die ideaal om hierdie bakermat van die Afrikaanse letterkunde te restoureer en tot ?n lewende kultuursentrum te ontwikkel.
Die muntlegging is gehou tydens die Afrikaansdagprogram wat deur die Breë Afrikaanse Inisiatief (BAI) in Bloemfontein gereël en op dié se versoek in NALN se voortuin ?n hoogtepunt bereik het. Ons is voornemens om ook op ánder wyses skenkings vir hierdie restourasiefonds te bemiddel, en versoek die lesers van die NALN-nuusbrief om geld vir hierdie lofwaardige saak te skenk.
n Ereskuld
Die Afrikaanse letterkunde het ?n skatpligtigheid teenoor die Gedenkschool wat moeilik oorbeklemtoon kan word.
Vier van ons bekendste vroeë skrywers is deur die Gedenkschool gevorm: Eugène Marais, Totius, D.F. Malherbe en A.G. Visser. ?n Mens kan jou die Afrikaanse literêre erfenis moeilik voorstel sónder hulle onderskeie bydraes. En dan was hulle indirekte invloed dalk nog groter: dink maar aan Totius se bydrae as Bybelvertaler en Psalmberymer; Malherbe se rol in die taalstryd en met sy toneeltoere, albei se akademiese invloed, uiteindelik as rektore van universiteitskolleges, en hulle invloed as kultuurleiers en oratore van formaat; die weerklank wat al vier hierdie skrywers in mindere of meerdere mate in die werk van latere skrywers gevind het, tot selfs dekades ná hulle dood...
n Mens praat dus van ?n kumulatiewe impak waaroor ?n spreekwoordelike verhandeling geskryf sou kon word. Benewens sy onpeilbare groot invloed op die ganse Afrikaanse taal- en kultuurlewe, het die beskeie Gedenkschool en die opvoeding wat daar gegee is, dus in die Afrikaanse letterkunde ?n monumentale erfenis nagelaat.
Simbool van idealisme
Die "Gedenkschool der Hugenoten" is in 1883 op inisiatief van ds. S.J. du Toit, leier van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) opgerig, met kragdadige steun van Die Afrikaanse Patriot. Dit moes dien as gedenkteken ter herinnering aan die koms van die Franse Hugenote na die Kaap twee eeue tevore.
n Fraai klein dubbelverdiepinggebou is op die plaas Kleinbosch in Dal Josafat, net buite die Paarl, opgerig. Dit is vandag een van Afrikaans se kosbaarste erfenisstrukture.
Eerder as om bloot ?n monument te bou, is gevoel om ?n skool te stig en ?n skoolgebou op te rig waar die kinders van die Afrikaanssprekende Hugenote-nasate, wat onder die streng verengelsingsbeleid in die Kaapse staatskole van destyds gebuk gegaan het, in hulle moedertaal onderrig sou kon word. Christelike onderrig, wat in die staatskole binne amptelike skooltye verbode was, sou in die Gedenkschool fondament én sluitsteen vorm.
Die Gedenkschool was ?n hoogtepunt in die destydse beweging om vanuit die gemeenskap "vrye Christelike skole" as teëhangers vir die godsdiens-neutrale Engelse staatskole te stig. Die Afrikaanse Patriot het dié gedagte baie sterk gepropageer, onder meer met ?n reeks uitvoerige hoofartikels.
Oom Lokomotief
Die koerant se redakteur, D.F. du Toit, D.P.sn., bekend as Oom Lokomotief, was natuurlik vroeër self in die onderwys. Voor hy die redakteurskap aanvaar het, was hy juis die onderwyser van ?n staatskool in Dal Josafat, wat onder sy leiding deur die plaaslike gemeenskap tot ?n vrye Christelike skool omskep is.
Teen hierdie agtergrond is dit verstaanbaar waarom Oom Lokomotief versoek is om, gelyklopend met sy redakteurskap, ook as die eerste onderwyser die Gedenkschool op vaste voet te plaas. Te perd, later met ?n perdekarretjie, moes hy daagliks tussen Dal Josafat en die Paarl pendel om albei beroepe te behartig.
Goed twee en ?n half jaar lank was hy, hetsy as enigste onderwyser of as hoofonderwyser of in toesighoudende hoedanigheid, vir die onderwyspraktyk van die Gedenkschool verantwoordelik. Tot met sy vrou se onverwagse dood in Julie 1884 het hulle trouens ook by die skool, wat ook ?n kosskool was, ingewoon om toesig te hou.
W.A. de Klerk
Die Gedenkschool het van krag tot krag gegaan, en Afrikaanssprekendes van oor die land heen het hulle kinders daarheen gestuur.
Ná uniewording in 1910 is die skool egter gesluit.
Sedertdien is die gebou as ?n buitegebou op die plaas gebruik, onder meer as wynkelder. Mettertyd het dit erg vervalle geraak.
Op geesdrif van die skrywer W.A. de Klerk en die Paarlse Kultuurraad is die ideaal gevestig om die Gedenkschool se geboutjie van sloping te red: geld is ingesamel en die Helpmekaar Fonds het ?n ruim skenking gedoen, sodat ?n serwituut in 1987 op die gebou en ?n omliggende stukkie grond teen ?n bedrag van R10 000 bekom kon word. Dit het daartoe gelei dat ?n Trustraad geskep is met die oogmerk om die gebou volledig as dubbelverdieping te restoureer en as ?n permanente lewende taal- en kultuursentrum te ontwikkel. Die gedagte is byvoorbeeld dat daar deurlopend slypskole en dergelike aangebied sal word. Die projek is deur Naspers onderskryf.
Daar is beraam dat R500 000 vir die restourasie nodig sou wees, met ten minste ?n verdere R500 000 vir die ontwikkelingsplanne en ?n rentedraende kapitaal vir die toekomstige instandhouding van die projek.
n Kleinood n Groot geldinsameling is die afgelope paar jaar deur Die Burger se naweek-kultuurbylae, Woon-Burger (redakteur Martiens van Bart), geloods. Goeie vordering is gemaak om die eerste mikpunt van R500 000 te haal. Maar die groot uitdaging lê by die tweede R500 000: ?n korttermyn red-aksie sonder die kapitaal om ?n langtermyn-strategie te ondersteun, is futiel.
Die Gedenkschool is ons almal, oral waar Afrikaans lewe, se erfenis. In die besonder het diegene wat daagliks verryk word deur die Afrikaanse letterkunde en die ander geestes-erfenisse wat deur die Gedenkschool nagelaat is, ?n ereskuld om ?n regmatige bydrae tot hierdie projek te lewer.
Ons doen hiermee ?n oproep aan individue, leeskringe, skrywersverenigings, kultuurverenigings, skole, ens. om tot hierdie saak by te dra. Geen skenking sal te groot of te klein wees nie: daar kan kwalik ?n beter tema gevind word om taaltrots prakties en konkreet uit te leef.
Skenkings moet asseblief DIREK AAN WoonBurger gedoen word. Gekruisde tjeks moet uitgemaak word aan: Hugenote-Genkskool Trust. Indien verkies, kan u van die bygaande vormpie gebruik maak om te toon dat u in die NALN-Nuusbrief daaromtrent gelees het. Alle skenkings sal erken word. U kan WoonBurger ook bel by tel. 406 2823. Laat, indien nodig, u naam, telefoon-nommer en ?n boodskap op die antwoordapparaat.
Vrouedaglesing op haar verjaardag n Vergete legende en haar Bloemfonteinse spore" was die tema van mnr. Otto Liebenberg, kurator van NALN, se lesing wat hy by geleentheid van NALN se viering van Nasionale Vrouedag op 10 Augustus 1998 gelewer het. Die openbare vakansiedag het vanjaar toevallig op haar verjaardag geval. Sy is op 10 Augustus 1903 in die distrik Tulbagh gebore ? vanjaar 95 jaar gelede. Ons gee hier 'n samevatting en enkele uittreksels uit die lesing.
Dr. E.J.M. (Elizabeth/Bettie) Conradie is byna 60 jaar gelede in die ouderdom van 'n skrale 36 jaar in die verre Nederland oorlede en begrawe. In daardie stadium het sy tydelik die professoraat in Afrikaans aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam beklee, en was sy die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se verteenwoordiger in Nederland en België.
Dr. Conradie het 'n selfverterende gedrewenheid gehad om die onderlinge kulturele bande uit te bou, en het in dié proses die Suid-Afrikaanse Instituut (SAI) gestig, wat vandag steeds 'n belangrike rol speel.
In haar era was sy 'n lewende legende; vandag weet bitter min egter van haar. In die yuppie-era, waar baie mense om baie redes baie belangrik is, het sy in die waas van die verlede verdwyn en nietig geraak.
Haar tasbare nalatenskap, bestaande uit kleding-stukke, 'n naaldwerksakkie, 'n aktetas en vulpen, en 'n beursie met 'n paar Suid-Afrikaanse seëls, kon in 'n enkele handkoffer gratis na haar moeder in Suid-Afrika verskeep word. Met die geld wat sy nagelaat het, sou daar 'n slagskaap of wat gekoop kon word: £3.15.9.
Maar dalk het die tyd nog steeds nie aangebreek om die kulturele erfenis wat sy vir die Afrikaanssprekende en die land as geheel nagelaat het, na volle waarde te bereken nie.
Om oor dr. Bettie Conradie te lees vanuit die perspektief van NALN, sy voorgeskiedenis en veral sy "argitek" en vormgewer, die legendariese woelgees prof. Petrus Nienaber, is 'n fassinerende ervaring. Want wat oor hulle gesê kan word betreffende dinge soos roepingsgevoel, ondernemingsgees, toewyding, werk-ywer, dryfkrag, en dergelike, is feitlik uitruilbaar.
Aan UKOVS was die jong Nienaber 'n student van haar, en toe sy einde 1933 na Nederland is om te promoveer op haar baanbrekende proefskrif Hollandse skrywers uit Suid-Afrika, was hy ook op die skip, op pad om in Nederland verder te gaan studeer. "Die woord Africana het ek die eerste keer gehoor by dr. Elizabeth Conradie", skryf hy in sy beskrywing van NALN se geskiedenis. En dan herinner ek my verskeie verwysings na haar in gesprekke met hom: sy het 'n indruk op haar studente gemaak, sy was 'n mentor.
Briewe uit sy versameling in NALN getuig eweneens van hierdie verrykende mentorskap, wedersydse hulp en die deel van insigte en visie ? insigte, oortuigings en benaderingswyses wat in die lig van prof. Nienaber se aandeel aan die totstandkoming van NALN uiters insiggewend is.
Met die uitsig wat ons vandag het op die hernieude hegterwordende bande tussen Suid-Afrika en Nederland-België, spesifiek tussen Afrikaans en die Nederlandssprekende wêreldbevolking van sowat 'n 40 miljoen mense, wil ek die voorspelling maak dat daar oor vyf jaar verder, wanneer Elizabeth Conradie se honderdste geboortedagherdenking in die jaar 2003 beleef sal word, met gans nuwe oë na haar nalatenskap gekyk sal moet word.
Sy het gesterf op die kulturele kruin aan die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog - waarmee die halfeeulange woestyntog van Afrikaans-Dietse verhoudinge ingelui is. Haar eeujaar sal volg op die vooraand van die kulturele kruin wat bepaal sal word deur twee uiters belangrike en verreikende ontwikkelinge rakende die interaksie tussen die "Hollands-Afrikaanse" gemeenskap in Suid-Afrika en sy kulturele skakels in Nederland en België:
Die kumulatiewe kulturele effek van die Europese eenwordingsproses en die verhewigende taal- en kulturele identiteitsgevoel wat dit waarskynlik onder meer in Nederland en Vlaandere/België kan stimuleer (met hernieude post-koloniale gelykstatige uitreiking na vroeëre Nederlandse invloedsfere as moontlike resultaat); en
Die effek van die tweede demokratiese verkiesing in Suid-Afrika wat, na vermoede, eers die éintlike afrikaniseringsfase van die land en spesifiek die "Afrikaanse" kultuurlewe gaan inlui (waarbinne internasionale bande met Nederland, Vlaams-België en ander Nederlandssprekende gebiede nuwe aktualiteit sal wen).
Binne die nuwe wêreldorde sal Nederland en België belangrike poorte tot 'n magtige Europese supermoondheid wees, en Suid-Afrika waarskynlik die aanvoerder van 'n "Afrika-renaissance" en adamante getalsterke Onverbonde Lande-konglomeraat in die VN en elders. Net die tyd sal dan kan leer wat die werklike rol en bate van uitbreidende, opbouende, effektiewe interaksie tussen die Afrikaanssprekende gemeenskap in Suid-Afrika en die Nederlandssprekende gemeenskappe in Europa en die res van die wêreld sal wees (daarmee saam ook nog die Afrikaanssprekende gemeenskapppe wat nou weens die Afrikaner-diaspora wêreldwyd aan die ontwikkel is).
Hierdie bate gaan uiteraard in die eerste plek vir die Afrikaanse gemeenskap wees, maar indirek potensieel ook vir die inklusiewe Suid-Afrika, ook in sy uitkringende affiliasies.
Die futiliteit al dan nie van 'n leier se strewe en sterwe word nie binne sig van sy/haar leeftyd bepaal nie, maar eers dekades, selfs eeue later. Dit is dus nie vreemd dat die legende van Bettie Conradie kon vervaag het nie, gereduseer tot grotendeelse sentiment in die herinneringe van haar enkele, gryserwordende tydgenote.
Kykende vanuit die uitsigloosheid van die kulturele woestyntog van die afgelope paar dekades, het haar ideale inderdaad na anachronismes gelyk. Vanuit die polities-korrekte vertrekpunte van die huidige is die Eurosentrisme daarvan dalk nog steeds ongemaklik. Maar daar is op sowel die Suid-Afrikaanse as die globale toneel staatkundige en kulturele kragte aan die werk wat die perspektief oor vyf jaar verder, vanuit 'n nuwe millennium, heelwat anders daar kan laat uitsien.
Die rol wat Bettie Conradie se nalatenskap in terme van byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Instituut gespeel het om selfs in die era van uiterste isolasie basiese skakeling in stand te hou, kan nooit onderskat word nie. Die uiteindelike waardebepaling sal egter eers eendag gedoen kan word wanneer die Suid-Afrikaanse Instituut en die ander fasette van haar nalatenskap se rol in die nuwe millennium geboekstaaf sal kan word.
Ek sien NALN duidelik as deel van haar indirekte nalatenskap, en as definitiewe rolspeler in die internasionale proses wat ek hierbo geskets het. Dáárvoor moet ons huidige geslag amptenare en ondersteunerspubliek hierdie instelling ? naas vir talle ander grondvlakse gemeenskapsgerigte uitdagings ? reg posisioneer. Daardeur sal ons betekenis gee aan die oënskynlike ontydige dood en vervaagde ideale van 'n formidabele vrou uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Met spesifieke verwysing na dr. Bettie Conradie, sal ek daarom graag wil sien dat die bande met die Suid-Afrikaanse Instituut uitgebou word.
As simboliese aanduiding daarvan, sou ek aanbeveel dat NALN volgende jaar, by geleentheid van die SAI se 60ste bestaansjaar, 'n formele groeteboodskap aan die SAI sal stuur.
Hierdie samewerking behoort dan ook voortgesit te word met die oog op die viering van haar eeujaar in die jaar 2003 hier te lande én in Nederland.
Die hoeveelste kabinet?
Jan Scholtz, skrywer, regisseur en vervaardiger van die onlangse TV-treffer Die vierde kabinet het op 21 Augustus by NALN opgetree en ook ?n skenking saamgebring om sy bestaande versameling manuskripte, draaiboeke, boeke en dergelike aan te vul.
Mnr. Scholtz het gepraat by geleentheid van die Skrywers ?98-prysaand, die afsluiting van die landwye skryfwedstryd wat deur die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) - in samewerking met NALN en geborg deur die Stigting vir Afrikaans - aangebied is. (Mnr. Scholtz het ook die volgende dag die BSV se Slypskool vir ontluikende skrywers gelei.)
Jan Scholtz is een van die suksesvolste mense in die film- en TV-bedryf in Suid-Afrika, met ook verskeie boeke en radioverhale op sy kerfstok. Hy is sedert die vroeë sewentigerjare in die film- en TV-bedryf aktief.
Hy is die skrywer, regisseur of vervaardiger - dikwels al drie - van 25 vollengte rolprente en sowat 40 televisiereekse. Al 18 van sy Afrikaanse TV-reekse was onder die SAUK/SABC se top tien-programme - die meeste van hulle inderwaarheid die top-programme.
Hy het al haas elke moontlike prys in sy bedryf ontvang: ?n Star-toekenning, ?n Artes (vir Jopie Fourie), twee Rapport Oscars, twee Star Tonight-toekennings, drie toekennings van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en twee ATKV-toekennings. Hy is al ses keer vir ?n Artes genomineer.
Jan Scholtz het in 1978 sy eerste skenking aan NALN gedoen: manuskripte en draaiboeke van sy destyds so gewilde radiovervolgverhale en films. Hy het dit nou aangevul met onder meer die volledige draaiboek van Die vierde kabinet, die manuskrip van die eerste episode daarvan in sy ink-handskrif - ja, hy skryf nog alles met die hand! - en die blaaibordvelle waarop hy die karakters en hulle interaksie ge-"plot" het.
Die skenking sluit verder die manuskrip van ?n baie interessante ongepubliseerde roman in. Dit is ?n verwerking van ?n TV-draaiboek wat, toe daar reeds met verfilming begin sou word, afgekeur is omdat dit ?n té realistiese uitbeelding van kru historiese gegewe sou behels. Volgende jaar, of so, vertel ons méér oor hierdie teks...
Jan noem terloops dat hy in sy eie argief nog kopieë van feitlik ál sy draaiboeke besit, behalwe van Beeld van Jeannie, wat hy as sy beste film beskou. Selfs nie die akteurs kon help nie, behalwe één, wat gesê het Jan kan sy kopie by kom kóóp. Toe kon NALN dadelik help: Beeld vir Jeannie se getikte manuskrip (met handskrifkorreksies) het Jan destyds vir bewaring aan ons geskenk, en ons kon vir hom ?n fotostaat daarvan aanbied.
LEESKRINGDIENS 2000" BEKENDGESTEL
NALN se "Leeskringdiens 2000", ?n herstrukturering en uitbreiding van die Museum se bekende en gevestigde nasionale diens aan leeskringe, is op 21 September amptelik bekend gestel. Dr. Riana Scheepers, skakelredakteur: fiksie van Tafelberg-uitgewers, was die gasspreker by dié geleentheid. Dit is ook bygewoon deur heelwat mense wat vir die daaropvolgende twee dae se Boekmakietie in Bloemfontein was.
Die ontstaan en ontwikkeling van die leeskringkultuur vorm ?n belangrike tema in die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur en die Afrikaanse boek. Ofskoon leesgroepe/leeskringe ?n heelwat ouer verskynsel in Suid-Afrika is, het dit veral sedert die vyftiger- en sestigerjare tot ?n beduidende samelewingsverskynsel op literêre gebied ontwikkel.
Leeskringaktiwiteite het mettertyd ?n unieke en belangrike rol begin speel om, veral in die periode van akute vervreemding tussen skrywer en leser vanaf die sestigerjare, ?n leeskultuur in Afrikaans te voed en ?n progressie in die leessmaak van die ontwikkelde leser te kweek. Dit het ook ?n beduidende invloed op die kopersmark en biblioteekaanvraag t.o.v. Afrikaanse boeke begin uitoefen.
Leeskringe belangrik
Dit is realiteite wat vir NALN, in sy dokumentering en reflektering van die ontwikkelingsgeskiedenis van die Afrikaanse letterkunde, van absolute belang is.
Gegewe huidige tendense rondom die Afrikaanse taal en letterkunde en die Afrikaanse boek, en scenario?s wat vir die toekoms geprojekteer kan word, moet redelikerwys aanvaar word dat ontwikkelinge binne die leeskringkultuur een van die dominante faktore gaan wees wat hierdie toekoms sal bepaal.
Dit is dus van die allergrootste belang dat NALN se interaksie met leeskringe in stand gehou en aktief uitgebou moet word. As unieke artefak- en data-gebaseerde instelling in diens van die Afrikaanse letterkunde en leser, het NALN derhalwe ook ?n onverhandelbare taak om enersyds die leeskringaktiwiteite te ondersteun, en andersyds op ?n wetenskaplike basis data daaromtrent te versamel, statisties te genereer en te bewaar ten einde mettertyd die nodige akademiese analises en interpretasies moontlik te maak.
Dít is gespesialiseerde museumverwante prosedures wat nie deur universiteite, uitgewers of enige ander instellings of organisasies onderneem kan word nie ? die analises en interpretasies wél, en daarvoor moet NALN dan die data paraat hê. (So word die Museum deur uitgewers, boekhandelaars en andere genader om sy adreslys van leeskringe beskikbaar te stel - onlangs ook deur die Afriklub en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, ten einde omsendskrywes aan leeskringe uit te stuur.)
Bestaande diens
Leeskringdiens 2000" is ontwikkel vanuit die realiteit dat NALN, sover dit die Afrikaanse letterkunde betref, die primêre verskaffer van inligting aan leeskringe, asook van inligting omtrent leeskringe is.
Die bestaande diens aan leeskringe behels aspekte soos:
die verskaffing van inligting omtrent Afrikaanse skrywers en boeke;
die verskaffing van lyste van/inligting omtrent die nuutste boeke in Afrikaans;
advies t.o.v. die saamstel van jaarprogramme/leeslyste; en optredes by leeskringe.
NALN het oor die jare, soos wat inligting aangevra is, ?n uitgebreide adreslys van leeskringe en leeskringlede opgebou. Uit die korrespondensie en die aard van die navrae kan daar ook insiggewende indrukke omtrent die aktiwiteite van leeskringe en tendense in die resepsie van Afrikaanse boeke gevorm word.
Hierdie tipe inligting stel die Museum eweneens aan navorsers en ander belanghebbendes beskik-baar.
Leeskringdiens 2000"
Teen hierdie agtergrond beoog NALN se "Leeskringdiens 2000" om op nasionale basis en toenemend ook internasionaal ?n gebruikers- en behoef-tegerigte diens te lewer wat sowel die Afrikaanse letterkunde as die lees-kringkultuur sal dien, en wat aan die hoogste standaarde van professionaliteit kan voldoen.
Die projek omvat twee komponente, t.w.:
die "leeskring-modem"-komponent, wat in wese die bestaande inligtingdiens insluit, opgegradeer om die potensiaal wat deur ontwikkelende tegnologie ontsluit word ten volle te benut, asook om leeskringe landwyd en internasionaal effektief te kan bedien; en die "leeskring-lapa"-komponent, wat NALN se bestaande databasis en kommunikasie met leeskringe as vertrekpunt het, maar pro-aktief die uitbreiding daarvan tot ?n komprehensiewe inligtingsbank en interkommunikasie beoog, en kreatief sinergie met alle ander rolspelers en belangstellendes aktiveer.
Volhoubaar
Wat beklemtoon moet word, is dat NALN hom tot dienslewering en fasilitering beperk. "Leeskringdiens 2000" moet geen sweem van beheer of voorskriftelikheid inhou nie. Die krag van die leeskringkultuur lê immers juis daarin dat leeskringe so spontaan en outonoom moontlik ontstaan en funksioneer.
So kan NALN nie aktief by die stigting en funksionering van bepaalde leeskringe betrokke raak nie, maar individue, groepe of organisasies wat dit doen, wel aanmoedig en ondersteun. Die behoefte aan leeskringe vir kinders, mans en nie-moedertaallesers, is ?n voorbeeld hiervan.
NALN moet doen wat hy goed kán doen: om inligting te dissemineer, om te dokumenteer en te reflekteer; en ver-der om as ?n gevestigde en alombekende kommunikasie- en skakelpunt te funksioneer.
Dit is dus in almal se belang dat NALN ?n sentrale gesaghebbende databank omtrent leeskringe en hulle aktiwiteite sal opbou en byhou. NALN is die enigste instelling wat, op grond van sy inligtingverskaffingsdiens aan leeskringe, die kontinuïteit, infrastruktuur en kapasiteit het om oor die lang termyn ?n volhoubare kommunikasie-proses en databank van hierdie aard te bedryf.
Transformasie
Leeskringdiens 2000" is die eerste formele projek wat uit die "Saamdinkberaad NALN 2000" voortgevloei het. Dié beraad is in Maartmaand as deel van die Museum se kwarteeubestaansviering gehou, en het ?n proses van gemeenskapsinspraak in NALN se toekoms van stapel gestuur.
As sodanig vorm dit deel van die transformasieproses waartoe die Museum hom verbind het. Die oogmerk is ?n gemeenskapsgedrewe, behoeftegerigte proses van heropbou en ontwikkeling wat NALN as instelling en diensleweraar oor die wydste moontlike register van belanghebbendes t.o.v. die Afrikaanse letterkunde relevant sal maak.
Sekere aspekte van die projek het egter ook ?n baie lang aanloop. Meer as tien jaar gelede, tydens ?n besoek aan NALN deur Audrey Blignault, is dit al met haar bespreek. NALN het destyds egter nog nie oor rekenaarfasiliteite beskik nie, en personeel om dit met ?n kaartstelsel te bedryf was nie beskikbaar nie.
Oproep aan leeskringe
Leeskringe gaan gevra word om een keer per jaar, verkieslik net nadat die bestuur vir die volgende termyn gekies is, ?n datavorm te voltooi en aan NALN terug te stuur. Dit sal inligting bevat omtrent die ampsdraers/ skakelpersone, die leeslys/jaarprogram, waar en hoe dikwels die leeskring vergader, kommunikasie met ander leeskringe, waar hulle boeke en inligting verkry, ens. Inligtingstukke word eersdaags uitgestuur.
Deur aan "Leeskringdiens 2000" mee te werk, sal leeskringe NALN in staat stel om ?n noodsaaklike diens te verrig. Daar word ook in die vooruitsig gestel dat sekere insentiewe aan meewerkende leeskringe aangebied kan word, bv. afslag op tariewe, verlaagde ledegeld t.o.v. die vereniging Vriende van NALN (wat geheraktiveer gaan word), ens.
Wie besit nog P.J. Schoeman-briewe?
In ons vorige nuusbrief (Nr. 16, April 1998, p. 10), het ons uitgewys dat P.J. Schoeman (1903-1988) se eeujaar in die jaar 2003 paslik gevier behoort te word, en dat NALN die leiding daarin gaan neem.
Schoeman, "die Afrikaanse letterkunde se geskenk aan Afrika", moet herontdek en herwaardeer word. ?n Nuwe eeu, ?n nuwe, selfontdekkende Afrika en ?n groen-gerigte samelewing kan/behoort ?n mens met vars oë te laat kyk na die geykte "laaste woorde" omtrent Schoeman se plek en betekenis, wat ruim al ?n kwart- na ?n halfeeu gelede vanuit ?n verbygegane verwysingsraamwerk gevorm is.
Daar word beoog dat skole, leeskringe, kultuurverenigings en andere landwyd aangemoedig en ondersteun moet word om Schoeman-temas te behandel.
Verskeie projekte word reeds oorweeg, en informeel is die instemming en samewerking van sekere sentrale rolspelers reeds verkry.
Almal wat in hierdie projek belang stel en in hulle eie omgewing inisiatief kan neem, word genooi om van hulle te laat hoor.
P.J. Schoeman was ?n aktiewe briefskrywer: lang, gemoedelike geselsbriewe in die tipiese Schoeman-styl, vol inligting oor sy omstandighede, sy lewensfilosofie en sy skryfwerk.
Schoeman het ?n wye vriende- en korrespondente-kring gehad, wat ook nie tot die literêre wêreld beperk was nie. Oor die baie dekades van sy lang en vrugbare lewe moes hy honderde briewe geskryf het. En omdat sy briewe so kenmerkend van die "swerwerfilosoof" was en hy die vermoë gehad het om elke korrespondent in eie reg belangrik te laat voel, het mense sy briewe as kleinode bewaar.
Ons vermoed dus dat daar oral in privaatbesit nog honderde Schoeman-briewe behoue sou gebly het. As navorsingsbron met die oog op die Schoeman-herdenkings-jaar is dit ?n bron van onskatbare belang.
NALN sal graag dringend wil hoor van alle mense wat sulke Schoeman-dokumentasie besit.
STATIGE GASTEHUIS STEL VOORBEELD
n Toonaangewende Bloemfonteinse gastehuis se spontane aanbod dat amptelike NALN-gaste by geleentheid as húlle gaste gratis daar kan tuisgaan, stel ?n belangrike en welkome voorbeeld vir die toekoms. NALN, soos alle museums, sal toenemend op borgskappe aangewese raak.
Geld sal vir NALN nooit geil wees nie, en ons rieme is klaar breekdun gesny; tog probeer ons die maksimum met die minimum doen om ?n noodsaaklike kultuurdiens vol te hou. Hierdie aanbod toon hoe die belangegemeenskap NALN kan help om steeds positief oor die toekoms te bly.
Marthinus en Ilse Jordaan se gastehuis, "Die Statige Gastehuis", was vanjaar een van drie semi-finaliste in sy kategorie vir die AA en SAA se Akkommodasietoekennings vir gastehuise.
Hulle is mense wat die toeriste- en gasvryheidsbedryf van alle kante ken. Marthinus was vroeër aan Satoer se destydse Bloemfontein-kantoor verbonde en tans is hy onder meer deeltydse dosent in Toerisme aan die Technikon Vrystaat.
Ons maak met vrymoedigheid van hulle gul aanbod gebruik en kan hulle diens by alle vriende van NALN en lesers van die NALN-nuusbrief sterk aanbeveel. Bykomend by kamers wat vir rolstoelgebruikers ingerig is, het hulle nou ook twee kamers spesiaal vir gesig- en gehoorgestremdes aangepas (bv. met braille- aanwysings).
Ondersteun die Statige Gastehuis asseblief as u in Bloemfontein moet tuisgaan.
Die Statige Gastehuis se besonderhede is:
Tel.: 522 4770
Faks.: 522 1610
Sel: 082 8089 273
