Nommer 16
Goewermentsgebou Geskiedenis van 'n huisvesting vir die Afrikaanse boek
Hettie Smit kry simpatieke besoekers
En nog 'n besoeker met die soetste taal op 'n Franse tong
Skenkings
Vyf-en-twintig is ?n jeugdige ouderdom, maar dis terselfdertyd kwartpad na ?n eeu toe. Met gemengde gevoelens, en die af-wagting wat (sommige!) mense vir ?n verjaardag koester, is die 24ste Maart 1998 dus by NALN ingewag. Soos met baie dinge in die lewe is museummense ook maar altyd op die uitkyk na goeie voortekens. En dié kom toe op die vooraand van die 24ste in die vorm van Tobie Cronjé en Steve Hofmeyr. Almal wat hoor dat ons sulke deurlugtige dog opwindende besoekers gehad het, is groen van jaloesie. En ons? Ons spring met hernieude ywer aan die werk, want toe weet ons: die verjaardagvieringe kan net lekker wees!
Op Menseregtedag hou ons ?n personeelreünie en die bittereinders reminiseer tot ounag (of was dit vroegdag!) toe. Die terrein van die historiese NALN-tuin kry tien Feesvlae by, wat deur die loop van die jaar die "proud ou gabou" sal versier. En dis nie ál wat in die tuin gebeur nie. Sondagmiddag het ons ?n afspraak met Bennie Liebenberg, dirigent en beskermpa van die Thabure Blaasorkes. Die orkeslede stel hulleself onder een van die denne op, skik lywe en instrumente reg en begin met ?n geloofsdaad: NALN se eerste teetuin. ?n Mens sou die opkoms weliswaar nog nie met Oliewenhuis se Sondagtee kon vergelyk nie, maar dit was ?n aangename begin, en een wat meedoeners van huis én straat lok.
Ernstiger dinge Maandag en Dinsdag, 23 en 24 Maart. Dit is vir almal in ons land onseker tye, en ook NALN belê beraad. Dié Saamdinkberaad NALN 2000 was daarop gemik om ?n beginfase van konsultasie met ?n breë en inklusiewe gebruikerspubliek te wees. As sulks wil ons graag glo dat dit tot ?n hoë mate ?n sukses was. Die samestelling van beraadgangers was gevarieerd en het die onderskeie groeperinge verteenwoordig wat gereeld van hierdie museum se diens gebruik maak. Opvoedkundige instansies soos die Vrystaatse Universiteit, Bloemfontein Vista en Welkom Vista het afgevaardigdes gestuur. Verskeie opvoedkundiges van die groter Bloemfontein het ook die verrigtinge bygewoon. Leeskringe, wat een van die sterkste voedingsgroepe van so ?n museum vir die letterkunde vorm, was deurgaans teenwoordig en het sinvol deelgeneem aan die gesprek. Dit was egter ?n besliste leemte dat skole nie verteenwoordig, en skrywers swak verteenwoordig was.
Binne die een en ?n halfdaglange duur van die beraad is daar oor ?n wye verskeidenheid sake gesprek gevoer: die museum en sy versameling, en die inklusiewe aard daarvan; die transformasie-idee as positiewe uitdaging; die moontlikheid of wenslikheid van ?n nuwe korporatiewe identiteit en die beste bestuurs- en administratiewe modelle vir die Museum; kommunikasie- en uitstalbeleid, en die verskillende tipes publikasies wat deur NALN gegenereer kan word. Een van die modules wat lewendige bespreking uitgelok het, was dié rondom gemeenskapsdeelname. Die beraad is van meet af aan gekenmerk deur eerlike en openhartige gesprekvoering tussen lede van die vergadering en alle insette is op band vasgelê. Daar word beplan om hierdie insette tot en met die jaar 2000 te verwerk in bruikbare bestuurs- en aksieplanne, wat dan sinvol van stapel gestuur kan word met die ingang van die nuwe eeu. ?n Beroep word ook hiermee gedoen op al ons Nuusbrief-lesers om enige bydrae wat u mag hê ten opsigte van bogenoemde sake, per pos, faks of e-pos aan NALN te stuur. ?n Opsomming van die modules wat bespreek is, kan ter insae aangevra word. Ons sou graag wou hê dat mense wat nie self die beraad kon bywoon nie, ook die geleentheid moet kry om op dié wyse saam te dink oor NALN 2000.
n Hoogtepunt van die kwarteeufees was sekerlik die feesdinee waarmee die verrigtinge in Maart afgesluit is. Bloemfontein se "Glaspaleis" waaroor daar destyds soveel verdeeldheid was, was ?n gepaste lokaal vir die spesiale glans wat ons aan die vyf-en-twintigste verjaardagpartytjie wou verleen. Prof. Elize Botha, gasspreker van die aand en grande dame van die Afrikaanse letterkunde, het die bestaan en koers van NALN binne konteks geplaas, en ?n interessante draai by Nederlandse leeskringe en die Boekebeurs gemaak. Die aand is afgesluit met ?n simboliese oorhandiging van die dokumente waaruit Antoinette Pienaar se Karoo-stories hul ontstaan gehad het. Sy was sélf daar, met kooi, trommel en pampiere kompleet. En met een of twee sappige meerminstories wat juis gebaseer is op die vertellings wat sy van staning tot staning by plaasarbeiders in Beaufort-Wes se Karoo bymekaargemaak het.
Met al die goeie wense, mooi voornemens en daardie adrenaliengevoel wat so eie is aan ?n verjaardagmaand, werk ons nou voort aan 1998 se ander planne: iets spesiaals vir leeskringe landwyd; ?n literêre boeketoer op Internasionale Museumdag; Arthur Fula se huldiging op Erfenisdag, en hopelik nog een of twee spesiale skrywersgeleenthede. Ons glo dat dit ?n jaar gaan word om te onthou. Met soveel literêre skatte soos dié waarmee NALN sit, word die volgende kwarteeu ?n volgehoue poging om die deksel van die literêre Pandorakis nie opeens te laat oopspring nie!
As u op enige wyse wil deel hê aan, of bydraes wil maak tot NALN 25, die adresse is op voorblad.
OU GOEWERMENTSGEBOU
GESKIEDENIS VAN 'N HUISVESTIGING VIR DIE AFRIKAANSE BOEK
Die Bloemfontein van die jare rondom 1856 is, volgens opmerkings uit dié tyd, nie ?n baie aansienlike dorp nie. Josias Hoffman word tot President verkies, en die eerste Goewermentskantoor wat staatsamptenare moet huisves, word in St. Georgestraat, naas die Engelse kerk, opgerig. Dié plekkie is egter gou-gou onvoldoende en in 1856 word Henry Paddison se winkel aan die oostekant van die markplein bekom vir ?n nuwe raadsaal en goewermentskantoor.
Talle gebreke het die regeringskantoor gekortwiek: die somerhitte het dit benoud en warm gemaak, want die vertrekke se ventilasie was swak. In die winter was die teenoorgestelde waar, en het die raadslede en ander beamptes Bloemfontein se ysige koue seker góéd aan die lyf gevoel! Desnieteenstaande het hierdie Goewermentsgebou-aan-die-plein vir twintig jaar diens gedoen. Toe dit weer eens te klein begin word, en £600 vir herstelwerk begin benodig, het die regering besluit om ?n nuwe gebou te laat oprig.
Ons laat Karel Schoeman uit sy boek Bloemfontein: die ontstaan van ?n stad, 1846-1946 verder vertel: "Die tender van die skynbaar plaaslike Maleise bouer Samodien vir die oprigting van ?n gebou met 26 vertrekke na ?n ontwerp van Wocke teen £17 000 is aanvaar. Maleise steenbakkers, messelaars, timmermans en ander werksmense is gedurende 1873 deur Samodien uit die Kaap gebring, maar hy het die kontrak nie behou nie, en in die volgende jaar is ?n nuwe tender vir £18 000 van Wocke self aanvaar, waarna hy ook Kaapstad toe gereis het om die nodige boumateriaal aan te koop. Dit is as vermeldenswaardig beskou dat hy die reis per passasierskoets van Dutoitspan na Kaapstad in vyf dae en vier uur afgelê het.
Onder sekere Raadslede het die mening bestaan dat die nuwe gebou op die markplein opgerig moet word, terwyl die Munisipaliteit ten gunste was van ?n onbeboude blok aan die end van Maitlandstraat, tussen Maitland- en Elizabethstraat, maar ?n spesiale kommissie het met onverwagte insig en oordeel ?n perseel regoor die bopunt van dié straat verkies en aanbeveel dat die gebou opgerig word sodat die toring "in het midden regt over Maitlandstraat staat, met het voorfront der gebouwen naar het Markplein". Op 31 Mei 1875 het die President op hierdie afgeleë perseel, heeltemal buitekant die destydse dorp, die hoeksteen van die gebou gelê. Dit was ?n buierige dag en die gebruiklike prosessie van amptenare vanaf die plein - die President en Goewermentsekre-taris in ?n rytuig en ander te voet - het ?n ongebruiklike kleurigheid besit, ?n kronkelende slang van glimmende swart, wit, groen en blou sambrele langs die modderige straat op maat van marsmusiek.
n Tyd lank het die Volksraad in die nuwe stadsaaltjie vergader, maar in Mei 1878 is die gebou voltooi, volgens Collins teen ?n endkoste van £20 000, en kon Raadslede en amptenare daarvan besitneem. Die eenvoudige ou kantoortjie aan die plein is hierna met ?n stoep en veranda verryk en as poskantoor ingerig, terwyl ?n deel daarvan jare lank as bygebou van die Vrystaathotel gedien het.
Die nuwe kantoor was ?n eenvoudige wit bouwerk van slegs een verdieping, met ?n rooi dak: aan die voorkant was daar houtblindings en ?n oordekte stoep, en bo die hoofingang ?n staatswapen van gietyster wat vierhonderd pond geweeg het. In die middel was ?n reghoekige toring sewentig voet hoog, bekroon met ?n steil dak en ?n vlagpaal, wat ongelukkig heeltemal buite verhouding tot die gebou self was, en hierin is die klok wat jare gelde deur die dames van Bloemfontein aangekoop is, uiteindelik aangebring. Om die gebou het ?n ringmuur geloop, met aan die voorkant "sierlijk ijzeren traliewerk" en ?n hek, en hier is ?n klein parkie uitgelê waar verskeie hoogwaardigheidsbekleërs deur die jare bome geplant het. Die opsigter van die gebou was Tom Screech, wat twintig jaar lank ?n bekende figuur in die dorp sou wees, en vir hom is daar "een klein huisje (met twee kamers en een kombuis)" in die onmiddellike nabyheid opgerig.
n Klagte oor die nuwe gebou was dat dit so ver buite die dorp - dit wil sê van markplein en Kerkstraat - geleë is, maar hierna het die huise langsaam weswaarts begin beweeg oor Wes-Burgerstraat en het daar ?n nuwe woonwyk ontstaan wat die "West End" genoem is en vanweë sy "agreeable and salubrious position" geprys is. Maitlandstraat het ook ?n belangrikheid verkry wat dit voorheen nie besit het nie en sy ontwikkeling as hoofstraat van Bloemfontein begin.
Ook ten opsigte van Onafhanklikheidsreg het die houding ver-ander sedert die tyd in 1870 toe The Friend verklaar het dat geen Engelsman dié dag kon meevier nie aangesien hy daardeur herinner word aan "nothing but national disgrace". Tot in die tagtigerjare het dit in die kolomme van hierdie blad nog as die "anniversary of the abandonment of the Sovereignty" bekendgestaan, en toe die 25-jarige bestaan van die staat in 1879 gevier is, was dit ook slegs ?n fees vir die Afrikaners. Dit is gereël deur ?n komitee onder hoofregter Reitz en het bestaan uit die gebruiklike eetmaal, bal, skyfskiet en sport, benewens die plant van twee sipresbome deur President Brand voor die Goewermentsgebou en die omrank van die Nasionale Monu-ment met ?n krans rose. In Neder-land het advokaat Hamelberg spesiale nuwe verse vir die volkslied geskryf:
Om agtuur op die oggend van 17 Desember 1890 het die eerste amptelike trein, sy lokomotief met Vrystaatse, Transvaalse en Britse vlae versier, onder ?n boog van immergroen op die stasie aangekom en die sykoord wat oor die spoor gespan is, deurbreek, en hierop het drie vakansiedae vol feesvierings gevolg. Daar was ?n noenmaal in die oordekte markgebou op die plein, waar urelange toesprake gehou is en Rhodes onder meer ?n heildronk op die voorspoed van Suid-Afrika ingestel het, voor ?n gehoor wat vermoedelik taamlik lomerig was in die middaghitte na ?n besonder swaar en uitgebreide ete van osstertsop gevolg deur verskeie soorte pasteie, beeslende, skaapsaal, beestong en Yorkham en afgerond met ?n verskeidenheid vrugteterte, koekstruif en aanklamkoek, benewens die wyn, drie soorte whisky, Duitse en Engelse bier, Pomméry, konjak en likeurs. Daar was volkspele, skyfskiet, wedrenne, atletiek, ?n tweede noenmaal vir kerkleiers en spoorwegwerknemers, en ?n tuinparty by die Goewermentsgebou, enigsins bederf deur wind en stof, waar roomys en koffie bedien is en die verteenwoordigers van die vier Suid-Afrikaanse state bome geplant het wat nog deur plaatjies onderskei word. Daar was ?n bal vir sewehonderd gaste in die stadsaal, waar die vloer soms so vol was dat dit onmoontlik geword het om te dans, blaasorkesuitvoerings, ?n Negerrevue, opvoerings van The Mikado deur amateurs uit Fauresmith en Jagersfontein, en ?n fakkeloptog, vreugdevuur en vuurwerkvertoning wat verskeie stelstukke ingesluit het, onder meer ?n voorstelling van ?n waterval. Daarna kon Bloemfontein voldaan op die geslaagdheid van die onderneming terugkyk, besonderlik op die versiering van Maitlandstraat, die bal, die vuurwerkvertoning, en die vlotheid waarmee alles afgeloop het.
Ná die brand het slegs die skelet van die ou gebou nog gestaan, en dit het gedien as raamwerk van die nuwe. Alhoewel die bestaande struktuur en vloerplan grotendeels behou is, is die detail egter verfyn om by Baker se aanbouing te pas: die herbouing is gedoen in rooskleurige baksteen en Bayswater-sandklip met ?n dak van rooi Marseilles-teëls, die houtveranda aan die voorkant is vervang met ?n kolonnade met ioniese suile, en die toring is slanker en ook 35 voet hoër gemaak en met ?n uitgebeitelde kroon afgerond. Die toring was veral ?n treffende gesig teen die lug aan die end van Maitlandstraat, totdat dit weggevaag is deur die oprigting van ?n meerverdiepinggebou onmiddellik daaragter".
Die naam L.W. Hiemstra is aan die meeste Afrikaanse taalgebruikers bekend as een van die skrywers van die Tweetalige Woordeboek van Bosman, Van der Merwe en Hiemstra. In 1997 is Hiemstra ook op ?n ander wyse in herinnering geroep: die Tweetalige frasewoordeboek is deur die skry-wer, P.A. Joubert aan Hiemstra opgedra. Joubert, wat Hiemstra as woordeboekredakteur opgevolg het, het in die Afrikaanse dagblaaie ?n artikel geskryf wat in Die Burger van 3 Julie 1997 verskyn het met die veelseggende opskrif: "Louis Hiemstra - ?n leeftyd in diens van Afrikaans".
Die Hiemstra-versameling in NALN gee ?n goeie, weliswaar onvolledige, beeld van sy werksaamhede in diens van Afrikaans.
Vooraf enkele besonderhede oor sy lewe, wat hoofsaaklik oorgeneem is uit Joubert se artikel. Ludwig Wybren Hiemstra is op 3 Julie 1897 op Lydenburg gebore as seun van ?n Nederlandse vader en Duitse moeder. Ná matriek het hy sy universiteitstudie in 1915 aan die Transvaalse Universiteitskollege begin, maar die hoofde van De Volkstem in Pretoria het hom gou vir hul redaksie nader getrek en die joernalistiek het sy studie so onderbreek dat hy sy B.A. eers in 1920 kon voltooi. By De Volkstem was sy leermeesters twee veelsydige joernaliste: Gustav Preller, voorvegter vir Afrikaans, en die gebore Nederlander Frederik Rompel.
Preller het Hiemstra op grond van sy taalvermoë aangewys om toe te sien dat die blad se Afrikaans min of meer eenvormig was. Dit was ook Preller wat Hiemstra aanbeveel het toe die pas opgerigte maandblad Die Boerevrouw in 1919 iemand nodig gehad het om met die redaksiewerk te help omdat die redaktrise, mev. Mabel Malherbe, nie ?n opgeleide joernalis was nie. By Die Boerevrou (die titel ná Junie 1920) het hy die skrywer M.E.R. leer ken.
In Maart 1920 het Hiemstra self ?n blad gestig waarvan hy die redakteur was. Dit was die maandblad Die Banier, orgaan van die Afrikaanse Studentebond, wat in daardie jare ?n groot rol gespeel het om Afrikaans as taalmedium en vak aan Suid-Afrikaanse universiteite erken te kry.
Hiemstra is in 1921 na De Burger (van 1922 af Die Burger). Hy het hier gou ekstra take op hom geneem, soos die persklaarmaak van boeke vir die uitgewersafdeling. Hy het kennis gemaak met die taalkundige J. du P. Scholtz, wat ?n tyd aan die uitgewersafdeling verbonde was.
Dit was ook Hiemstra wat verantwoordelik daarvoor was dat M.E.R. aangestel is as as vroue-redaktrise van Die Burger. Toe Rompel as "tegniese redakteur" ?n vroue-afdeling begin oorweeg het, het Hiemstra aan hom gesê dat hy van die regte persoon weet, een wat al klaar ondervinding en roetine besit en ?n styl skryf wat die rubriek ?n sieraad vir die koerant sou maak. Hiemstra het later geskryf: "As ek in my lewe niks anders sou gedoen het as om M.E.R. in die Afrikaanse joernalistiek en daarmee in die Afrikaanse letterkunde te bring nie, sou dit al genoeg gewees het."
Van 1927 af tot in 1946 was Hiemstra assistentredakteur van Die Volksblad in Bloemfontein. Hy het die taalleiding geneem en ?n voorbeeld gestel met artikels wat volgens ?n jonger kollega "koel beredeneerd, wetenskaplik en sonder herhaling of omhaal van woorde" was. Hiemstra was een van die toonaangewende Nasionale Persmanne wat ongunstig gestem was teenoor die Hitler-bewind; op redaksiekonferensies het hy met sy redakteur, dr. A.J.R. van Rhyn, daaroor verskil.
In 1946 is ?n pos vir Hiemstra geskep waarvoor sy hele loopbaan hom voorberei het. As taalkundige redakteur van die Nasionale Pers moes hy taalleiding aan al die Pers se afdelings verskaf - koerante, tydskrifte en uitgewery. Hy het ook steeds taaladvies gegee aan mense van buite die Pers; hy het ?n taalrubriek vir die Pers se koerante geskryf en was jare lank ?n hardwerkende lid van die taalkommissie van die Akademie. Die hersiening van die Tweetalige Woordeboek van D.B. Bosman en I.W. van der Merwe is aan hom toevertrou, sodat dit sedert die vroeër jare sestig as Bosman, Van der Merwe en Hiemstra verskyn het. Verder was hy adviserende redakteur van die Standard Encyclopaedia of Southern Africa.
Hiemstra is op 12 Julie 1978 oorlede. In 1984 het mev. Rikie Hiemstra, met wie hy in 1944 getroud is, uit die nalatenskap van haar man die L.W. Hiemstra-Trust gestig, wat reeds sowat R1,5 miljoen ter bevordering van Afrikaans bestee het.
Die Hiemstra-dokumente is kort ná sy dood aan NALN geskenk. Dit bevat inligting - nie veel nie, ongelukkig - oor sy lewe en loopbaan, onder meer ?n klompie briewe wat tussen hom, die Nasionale Pers en die Staatsdienskommissie gewissel is toe laasgenoemde hom in 1930 genader het om die werk van hoofvertaler op te neem. Dit het gebeur nadat die regering besluit het om ?n aparte vertaalafdeling in die lewe te roep wat verantwoordelik sou wees vir die vertaalwerk van al die staatsdepartemente.
Volgens ?n ongedateerde beriggie in Die Volksblad, waarvan hy toe assistentredakteur was, het hy "ondanks baie aanloklike voordele" wat die nuwe betrekking hom sou bied, besluit om in die joernalistiek te bly. "Terwille van die hoog-nodige verbetering van ons amptelike Afrikaans is dit baie jammer dat hy die betrekking nie aanvaar het nie. Vir die Nasionale Pers sou sy vertrek egter ?n onherstelbare verlies gewees het", lui die berig.
Interessant vir taalkenners is al Hiemstra se aantekeninge vir die drukke van die Tweetalige Woordeboek wat hy versorg het. ?n Groot aantal van die bydraes tot sy taalrubriek het ook behoue gebly.
Onder die dokumente is daar ook seldsame eksemplare van die eerste drukke van die Afrikaanse woordelys en spelreëls, onder meer die eerste druk van 1917, die tweede van 1918 en die derde hersiene druk van 1921 - die druk waarin die Nederlandse ij vervang is deur y.
n Paar van die vroeë briewe wat oor taalaangeleenthede aan hom gerig is, het behoue gebly, onder meer ?n paar van J.F.W. Grosskopf. Een van die kwessies was die betekenis van die woord verskoning, waaroor taalgeleerdes destyds verskil het.
Hiemstra het blykbaar kommentaar gelewer op Grosskopf se gebruik van die woord, en laasgenoemde skryf op 28 Julie 1926 dat hy seker is dat hy hom nie vergis nie. Hy verwys na sy gevangenskap ná sy deelname aan die mislukte opstand van 1914, later beter bekend as die Rebellie. "Dis vir my asof ek nou nog my maats in die opstand en in die tronk hoor sê: 'Ek wens ek kan my tog weer ?n slag verskoon.' (Veral in die sin van skoongewaste klere aantrek.) ook ?n verskoning, in die sin van 'change of clothes'. My vrou (Humansdorp) verseker my dat haar oorlede ma dikwels gesê het: 'Kinders, loop verskoon julle nou tog.' Wat prof. [J.J.] Smith bedoel met ?n obsene bybetekenis, weet ek glad nie. Ek moet sê, vir my het die woord in dié betekenis bepaald ?n Transvaalse geur."
Klaarblyklik was Hiemstra nog nie tevrede gestel nie, en op 10 Augustus 1926 gee Grosskopf die menings van nog ?n paar gesaghebbende taalgebruikers. "Tussen hakies, - E.C. Pienaar sê, hy ken verskoon in die sin van skoon klere aantrek, baie goed. Toe ek hom vra, het prof. Van der Merwe (oorspronklik van Wellington) daarby gestaan, en hy sê hy sal vir prof. Smith in sy omgewing by tien huisgesinne bring waar al die ouer mense die woord (in daardie nie-figuurlike betekenis) nog gebruik. En uit Pretoria het die oue heer J.D. Neethling op my vraag geantwoord dat hy dié gebruik van kleins af ken. Hy praat dan verder van die nuwer gebruik van dié woord in die betekenis van 'verekskuseer'."
Die versameling bevat ook heelwat ander werk as taalrubrieke wat Hiemstra vir die koerant geskryf het. Daaronder is ?n paar van sy artikels en resensies, briewe wat skrywers, taal- en letterkundiges aan hom geskryf het, asook knipsels uit koerante en tydskrifte.
n Aantal briewe is afkomstig van bekende mense in die taal- en letterkundige wêreld met wie Hiemstra bevriend was.
Een daarvan is op 28 Mei 1924 deur J. du P. Scholtz uit Nassau-kade 369, Amsterdam, aan Hiemstra geskryf. (Hy begin die brief met "Beste Hiemstra" en sluit dit met "Groete, Scholtz"). Hy vertel van sy kennismaking met prof. J. Prinsen van die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam, onder wie ander Afrikaners soos P.C. Schoonees en G. Dekker gepromoveer het. "Toe ek die eerste dag by Prinsen kom - ek het hom by sy huis gaan besoek - het ek byna ?n flater begaan. Hy het my die eer aangedoen om self af te kom van sy studeerkamer om my onder in die wagkamer te ontvang en op te neem na sy studeervertrek. Toe die man die wagkamerdeur oopmaak, dog ek dit moet Prinsen se lyfbediende of wat ook al wees - so het hy gelyk - en wou hom net assulks aanspreek, toe hy sê: 'U is mnr. Scholtz, niet waar - uit Zuid-Afrika? Ik heb reeds van prof. Stoett omtrent U gehoord.' Ek het byna op my rug geval. Prinsen lyk kompleet soos ?n houthakker. Hoe dit ook al sy, die ou het my besonder vriendelik ontvang, en my ?n kompliment oor my goeie Hollands gemaak. Ja, man, ek het gemaak soos ek jou gesê het en van die eerste dag op die boot het ek nooit ?n woord Afrikaans gepraat nie. Verskillende Hollanders het my gevra of ek van Hollandse ouers is. Maar dis van minder belang."
Scholtz laat ook iets blyk van die agterstand wat Afrikaners dikwels aan Nederlandse universiteite gehad het. Hy vertel dat hy aan die begin dikwels in die lesings van die Nederlandse taalhistorikus F.A. Stoett gesit en "hoegenaamd nie begryp wat daar gepraat word nie. Hulle speel met die ontwikkeling van Indo-europese klanke in germaans, vanuit germaans onderskeidelik in oos-, wes- en noord-germaans, vanuit wesgermaans in die verskillende middel-nederlandse dialekte dat ek duislig geword het. Daar gaan nog baie-keer dae om dat ek absoluut hopeloos voel. Maar gelukkig was dit die geval met alle Afrikaners wat hier gekom het, en hulle het my vooraf gewaarsku wat ek moes verwag. Maar alles sal wel regkom."
Onder die briewe in die versameling wat aan Hiemstra geskryf is, is daar enkele van Preller; in een daarvan, op 23 Julie 1923, laat hy hom uit oor die negatiewe houding van die personeel van die TUK oor die voertaalkwessie. Daar is baie dinge wat ons teëwerk, skryf hy, "en die vernaamste is dat ons onder die ganse onderwijsende personeel blijkbaar niemand besit wat baie voel vir die saak nie." Dit lyk of hulle "eenvoudig doodkwijn onder die meerderheid van volslae apatie".
In een van M.E.R. se briewe vertel sy (op 29 Maart 1945) dat sy die nag gedroom het dat sy hom teëkom in die Nasionale Pers-gebou in die Kaap. "dat jy so besonder goed uitsien, en dat die gedagte toe by my gekom het: ?nou maar hy is mos getroud, dan nie?'
Ek het altyd die gedagte dat ek, wanneer van die liggaam ontslae, soms in daardie gebou sal ronddwaal, veral in die lang donker gang wat na onse kantore gelei het toe ek en jy daar gewerk het; en dat ek daar vir Langenhoven en Mnr. Rompel ook sal kry; want ons drie het heelwat sielstof deur daardie gang gedra.
Nou, toe was dit vir my in vannag se droom heel natuurlik om jou, hoewel nog aan die liggaam vas, daar te kry, en dat ons bly was om mekaar te sien."
Die versameling bevat heelwat knipsels, asook ?n seldsame vergeelde eksemplaar van ?n Kruger Rouwblad. Die nommer bevat hoofartikels en berigte uit Ons land van 3 Desember 1904 pres. Paul Kruger. Die stoflike oorskot van die ou president het op 1 Desember 1904 in Kaapstad aangekom, is daarna per trein na Pretoria vervoer waar dit op 16 Desember 1904 ter aarde bestel is.
n Baie lewendige beskrywing van die gebeurde rondom dié begrafnis word gegee in Spykers met koppe, ?n werk deur een van Hiemstra se oudkollegas, J. Steinmeyer, wat eers verbonde was aan De Volkstem en later aan Die Burger.
Uit besonderhede in dié werk kan ?n mens ook aflei dat ?n paar koerantknipsels deur ene Johannes in werklikheid geskryf is deur Steinmeyer. Johannes se artikels het van 19 Julie tot 9 Augustus 1949 in die Saterdagbyvoegsel van Die Burger verskyn, en handel oor die wedervaringe van ?n immigrant wat in 1903 in die land aangekom het.
Johannes se artikels gee interes-sante besonderhede oor die toestande aan die begin van die eeu. Destyds het geen mens aandag aan ?n paspoort gegee nie. "As jy lus gevoel het om jou land te verlaat, dan het jy die eerste die beste reisgeleentheid uitgesoek, trein- en bootkaartjies gekoop en daarvoor gesorg dat jy ?n paar oulap in die beurs het om in jou eerste behoeftes na aankoms in Suid-Afrika te voldoen."
Johannes se reisgeld van Londen na Kaapstad het 9 ghienies bedra, waarvan die nominale waarde vandag R18,90 is; die reële waarde is natuurlik veel hoër, minstens R1500. Toe hy by Kaapstad kom, het niemand ?n paspoort gevra nie. Immigrasie-amptenare het van sommige passasiers verlang dat hulle bewys lewer van minstens £25 om die sekerheid te verkry dat die immigrante nie van die oomblik dat hulle aan wal stap, staatsteun nodig sou hê nie. "Sulke passasiers het omtrent almal dieselfde £25 getoon. En daarmee was aan elke formaliteit voldoen."
Geen enkele straat van Kaapstad was in 1903 nog geteer nie. Die blad van die strate was ?n rooibruin klei, vermeng met klippies en deeglik vasgestamp. In die reëntyd het die straatbedekking modder geword, wat deur die verkeer hoog opgespat en op ?n mens se klere kolle gemaak het wat baie moeilik daaruit verwyder kon word. In die somer het die rooi modder plek gemaak vir ?n rooi stof wat net so skadelik was vir die klere en nog minder aangenaam vir die voet-gangers. Die winkels het hul deur oopgehou om die stof te keer. "Op elke winkeldeur het die kennisgewing verskyn 'closed on account of the dust'. In Hollands het ek daardie kennisgewings nooit gesien nie, om van Afrikaans nie eens te praat nie."
Ook van ?n paar resensies deur Hiemstra is daar knipsels. Een daarvan is sy bespreking (in Die Volksblad van 5 Junie 1930) van J.R.L. van Bruggen se Afrikaanse vertaling deur van die werk van Erich Maria Remarque: Aan die westelike front alles stil. Hiemstra noem die oorspronklike Duitse werk "die grootste suksesboek van alle tye". Miljoene eksemplare daarvan is verkoop, en dis in verskeie tale oorgesit.
Hiemstra skryf insiggewend oor die redes vir die boek se sukses, en sê dat ?n groot deel daarvan te wyte is aan die opspraak en nuuskierigheid oor ?n onderdeel van die boek, naamlik "die onbewimpelde vermelding en beskrywing van dinge wat anders bedek bly, en die gebruik van growwe woorde in dié verband". Dis hier waar die sterkste bedenking teen ?n Afrikaanse vertaling rys, skryf Hiemstra. "Elke volk het sy eie standaard in dié dinge, en ons s?n verskil totaal van dié op die Europese Vasteland, en in mindere mate ook van die Engelse standaard." Op sigself genome is die boek nie erg aanstootlik nie. "Maar wanneer eenmaal die streep oorskry is wat deur ons Afrikaners in ag geneem word in beskaafde geselskap en gevolglik ook in ons letterkunde, dan is daar geen logiese rede waarom êrens nog ?n streep getrek sal word nie." Deur sy goeie kennis van Duits kon Hiemstra wys op belangrike tekortkominge in Van Bruggen se vertaling.
Hiemstra was een van die sentrale figure in die standaardisering van Afrikaans. Sy dokumenteversameling gee ?n genuanseerde beeld van sy lewe van diens aan die taal.
Bibliografie:
Dit blyk uit Johannes se gegewens oor hoe hy lid van De Volkstem-redaksie geword het in Die Burger se Saterdag-byvoegsel van 9 Augustus 1947, en Steinmeyer se beskrywing van sy werk as verslaggewer van die Transvaalse wetgewende vergadering in Spykers met koppe, bl. 37.
HETTIE SMIT KRY SIMPATIEKE BESOEKERS
Woensdag 29 Oktober. Die sekuriteitsman kom in die breë gang af met drie gretige besoekers uit Thaba ?nchu - hulle vra ?n gids om vir hulle bietjie van die museumuitstallings te vertel. Shall I speak English? Die begeleier beduie na die jong (wittebroods?)-paartjie. "Nee, hulle sal nie verstaan nie." "O maar goed, dan praat ons maar Afrikaans, dis tog eintlik die taal van die boeke hier!" Maar die gids het eintlik ook nie mooi verstaan wat hy wou sê nie. Nietemin.
n Goeie begrip het mos net ?n halwe woord nodig. En gretigheid om te deel! Die begeleier het ?n notaboekie by hom. Nuwe begrippe wat met die letterkunde te make het word daarin neergeskryf: Oorgangs-Nederlands. Regstellende Aksie. G.R.A. Genootskap van... Dan tolk hy dit alles flink oor in Sesotho, met hier en daar ?n Engelse woord tussenin, vir die paartjie. Hy moet ?n student wees, besluit die gids. Nie in die formele sin van ?n kursus wat moet voltooi word nie, maar meer van ?n lewenslange lus om die vreemde te ontdek.
So al vertalende vorder ons van die beginpunt van die Letterkunde vóór 1920 (vryheidsvegter Jan Celliers se primitiewe handgemaakte eetgerei en velskoene vind hulle vreemd en komies!) na die Makro-gestalte van Mikro wat die menslike Meraai van Gonnakolk geskep het, na I.D. du Plessis wat al die tale van die Kaapse Maleiers kon verstaan... By die Dertigers wil die gids by N.P. van Wyk Louw verpoos - sy epiese gedig Raka is immers nie net in etlike tale vertaal nie, maar ook verwerk in ?n ware Afrika-ballet en reeds verfilm. Daarvan sal die besoekers verseker wil kennis neem!
Skuins teenoor Van Wyk Louw is die vroulike dertiger Hettie Smit se uitstalling. Weliswaar het sy maar één roman geskryf, maar daarmee het sy ?n nuwe genre in Afrikaans geskep: die biegroman, waarin sy haar onbeantwoorde liefde vir ?n medestudent en jong dertigerdigter bely...
Marié, jy?s weer verkeerd om so dolbly te wees, om jou te verbeel dis geluk hierdie wat buite jou eie wil soos manna van bowe afval. Want geluk is wat ?n mens vir jouself skep.
Ek het in die maanlig in ?n tuin gestaan, en daar was ?n holheid in my, ?n leegte, ?n knaende verlange na ?n onbereikbare onbeplaadheid.
Deur ?n oop raam het verre snaarmusiek en sagte lamplig op die stilte getril. Ek het daarheen opgekyk en met ?n ligte skok iemand herken. Dit was jy.
Dit is ?n stukkie belydenis, ?n klein intrige wat die gids gemeen het om maar liewer verby te gaan, aangesien die besoekers tog nie ingewydes in die literêre wêreld van sestig jaar gelede is nie!
Die treffende collage waarmee die museum-kunstenaar die belewenis van die jong Hettie Smit uitgebeeld het, kan egter nie aan die opmerksame student verbygaan nie: twee vroue-gesigte in silhoeët wat na mekaar kyk, ingevul met ?n kleurryke prentjie-versameling van blomme, musiekinstrumente, mane en sterre, ?n baba in ?n spierwit tjalie toegedraai ... elke prentjie verteenwoordig ?n stukkie beeldspraak uit die dagboekinskrywings waarin Hettie, oftewel Maria/Marié, haar drome en versugtinge gegiet het. Soos wat die aanhalings uit Sy kom met die sekelmaan onderaan die collage te kenne gee - vir die enkele besoeker wat die moeite wil doen om alles te lees.
Tog is ons begeleier/tolk dadelik getref en wys na die opskrif bo-aan en na die skrywer se foto daarnaas: "Is dít die vrou wat Sy kom met die sekelmaan geskryf het?" "O ja, en sy was baie lief vir daardie man op die foto daar oorkant, maar hy het nou nie dieselfde vir haar gevoel nie, en dan het sy al hierdie gedagtes gehad as sy saans deur haar venster na die sekelmaan kyk en na hom verlang..." (Vergewe tog oorlede Hettie, maar hoe moet ek dit nou alles na een of twee sinne reduseer, en ?n ses dekade sprong deur die tyd maak?) "Die donker Maria-kant van haar het na die vrolike Marié-kant gekyk en met haar gepraat in die dagboek..." Hy tolk vinnig in Sesotho: die gids vang die woorde Ousie en Ngaka(dokter?) wanneer hy na die skrywersfoto?s wys. Die gebare word vergesel van simpatieke tongklikgeluide. "Ai mevrou, dit was darem baie swaar. En kyk, sy het in haar kop gedink oor daardie kind wat sy wil hê by daardie man (hy wys na die baba-prentjie binne-in die kop) en kyk, nou lyk die kind ook net soos daardie man!" (en hy wys na die foto van die destydse onbereikbare geliefde)
Drie handtekeninge in die besoekersboek is die enigste getuienis dat hulle daardie dag ?n stukkie letterkunde intens beleef het: Edward, Elisabeth en Benjamin, al drie van "249 Ratlou loc." Of is die boek tóg nie toegemaak nie?
EN NOG 'n BESOEKER MET DIE SOETSTE TAAL OP 'n FRANSE TONG
Dit is mos nou nie aldag dat ons besoekers uit die Franse hoofstad kry nie! Toe Clement, NALN se sekuriteitsman, by die voordeur die gids skakel met: "Mevrou, ek het een besoeker uit Frankryk. Sy wil die museum sien"..., wel toe kon niemand vermoed wat die besoeker se sending eintlik is nie!
Nie net kom ons besoeker van reg onder die Eiffeltoring nie, maar - glo dit, ja - dit is haar dérde besoek aan NALN en dié keer verstaan sy wat ons sê. Meer nog: sy hoef nie eens die Engelse byskrifte te lees nie; sy kan die Afrikaanse teks in die uitstallings ook volg!
Dié welkome besoeker was Anne-Marie Berthier wat na twee vroeëre besoeke besluit het om self die Afrikaanse taal te leer skryf en dit te verstaan. Na ?n vorige besoek aan die museum het Anne-Marie die NALN-Nuusbrief in haar eie land ontvang. Sy kon maar net nie glo dat die interessante leesstof wat sy gratis ontvang, nie net ?n bekendstellingsaanbod was nie en was oortuig dat dit nie sou voortduur nie. Daarom wou sy hierdie keer sommer vooruit kom betaal om seker te maak dat sy toekomstige uitgawes ook sou ontvang! Ons verseker haar dat daar geen vangplek is nie - sy sal wel haar volgende Nuusbrief kry (ons weet net nie wanneer nie), maar Anne-Marie dring aan en so kry Stigting NALN die dag ?n ruim en welkome donasie.
Baie dankie, Anne-Marie. Jy is ?n regte riem onder die Afrikaanse harte! Ons sien uit na jou volgende kuier. Intussen sal ons die leesstof aanstuur.
In Januarie 1993 was ek vir die eerste keer in Suid-Afrika en ek het in Bloemfontein enige dae gebly. In my klein reisgids was NALN genoem. So het ek NALN besoek. Maar want ek kon nie Afrikaans lees, het ek niks verstaan. Terug na Frankryk het ek probeer om Afrikaans te leer en ?n jong vrou van Bloemfontein wat in Parys woon het my Afrikaans geleer.
So in 1994 het ek weer NALN besoek en dan ?n dame van NALN, wat Frans praat, het my die Museum gewys (en ook in 1996). Maar nou kan ek die verduideliking in Afrikaans les.
Sedert 1994, ontvang ek die NALN nuusbrief wat ek baie geniet. So het ek ?n biografie van Langenhoven en "Nuwe perspektief oor die geskiedenis van Afrikaans" gelees.
Ek was ook baie interessiert deur die voorstelling van die twee volkslieds.. So vanjaar kom ek om NALN te besoek, terug.
Eendag lank gelede het ?n troebadoer en sy gevolg by ?n letterkundemuseum in ?n stad gaan kuier. Sy naam was toe nog André Letoit en hy?t nou al mooi groot geword as Koos Kombuis. Die tannies van NALN (soos hy hulle gedoop het in De Kat) het ook intussen groter geword (no pun intended, liewe leser)..., maar hulle hou nog steeds daarvan as troebadoere en meermanne en meerminne vir hulle kom kuier, soos wat gedurende die eerste paar maande van 1998 gebeur het.
Vroeg in die nuwe jaar het ?n meermin, in die persoon van Antoinette Pienaar, vanuit die Karoo saam met die goeie reën op NALN se voorstoep uitgespoel. En omdat die tannies van NALN baie besorgd is oor meerminne en feetjies en prinse het hulle haar met NALN se lawende en helende "water" behandel en spoedig was sy weer haarself en só beïndruk met NALN en haar tannies dat sy belowe het om ?n belangrike rol in die feesvieringe van NALN se kwarteeubestaan te speel.
Die tannies het nog gebaai in die glorie van die meermin se besoek toe parkeer Summer Holiday se dure bus en produksie (wat van Engeland af kom, hoor die tannies later eerstehands) feitlik op NALN se voorstoep. Die NALN-tannies bedink dus ?n bose plan om sommige van die NAME in die produksie by hulle te laat kuier. En omdat veral twee NAME hulle besighou met bedrywe soos skrywe en toneelspeel (een van ons susters hier by NALN is mos die Nasionale Toneelmuseum) bring die goeie fee genaamd Hélène Coetzer vir Steve Hofmeyr en Tobie Cronjé om te kom tee drink een oggend. Die fee moes haar towerstaffie geswaai het, want - te goed om waar te wees - raak ALBEI van hulle heeltemal verlief op die lekkergoed-huisie (wat gewone mense as die Ou Goewermentsgebou en NALN ken), en hulle kom sommer weer en weer kuier. Al wat ?n stiefma is en nare dinge oor mense glo, is verstom om te hoor dat dié twee oulike kinders (een van hulle amper nog ?n bogsnuiter) opreg belangstel in die boeke-, skrywers- en toneelwêreld. Die res van die mense wat hoor dat Bruce (dis nou Ant Stienie se loseerder en Lejanatjie se boyfriend) en Rompelstompel rêrig hier was, is om die beurt hartseer en erg jaloers: hoe lekker kan sommige mense se werk dan wéés!
En asof dit nie genoeg is nie: Hier kom ?n man uit Malelane, en noem homself Boendoe. Stil man dié, en ?n denker, maar met heeltemal genoeg binnepret (kom die tannies later agter, want soos dit in ware sprokies gaan, neem die "prins" hulle uit vir ete. Staatsdiens het mos nie meer geld nie, né). En dis die lekkerste kuier in die lekkergoedhuis, want dié Boendoe (du Plessis en skepper van Gallie die held van Gat) was P.J. Schoeman se vertroueling, en bring hy vir ons briewe en getekende kopieë van Schoeman se boeke as aanvulling tot ons versameling.
Nou ja, wat laat mense terugkom na NALN? Die tannies weet ook nie. Hulle werk te lekker hier, vir altyd en altyd. En al sê hulle ook moet op prinse (en prinsesse en meerminne) nie vertrou nie, weet ons van beter.
SKENKINGS
Die afgelope jaar het, soos ons almal al aan gewoond geraak het, ?n ryke oes aan skenkings opgelewer. Aan al die "nuwe" skenkers wat so positief gereageer op ons beroep om voltooide skrywerskaarte, biografiese sketse, manuskripmateriaal, ensomeer ?n baie groot dankiesê. Ons hoop dat dit die begin van ?n lang en vrugtevolle verhouding met NALN sal wees.
Tydens die Boekmakietie in September 1997 het Marietjie Coetzee van die Gautengtak van Human & Rousseau namens haar broer, Pieter Pieterse, ?n foto wat P.J. Schoeman aan hom gegee het, vir NALN saamgebring. Die foto het beslis "ver paaie" geloop voordat dit by ons uitgekom het, maar dit sal sy regmatige plek in die P.J. Schoeman-kamer inneem. Pieter Pieterse het in handskrif agterop die foto die volledige dokumentasie gedoen wat dit nog meer waardevol maak. Ook gedurende die Boekmakietie (dit was ?n besige paar dae) het Cecilia Britz, namens Perskor, die plakkate wat hulle vir die uitstalling gebruik het, by NALN gelos. Daar is ook onderhandel vir die skenking van hulle boeke, wat intussen hier uitgekom het. Baie dankie, Cecilia. Uit Pretoria het prof. Piet Roodt aantekeninge en handgeskrewe gedigte van bekende skrywers namens prof. A.P.B. Breytenbach saamgebring.
Daar is van ons skrywers wat in antwoord op ons roetine-navraag na materiaal, in groter detail reageer. Charl-Pierre Naudé, skrywer van Die nomadiese oomblik, het ?n lêer met die interessantste materiaal daarin gestuur - van sy heel eerste probeerslae tot sy jongste gedigte. Chanette Paul, kortverhaal- en hygromanskywer, het van haar eerste pennevrugte gestuur. Elsa Briel het in haar ma, Ella Eloff-van der Walt, se voetspore gevolg en baie meer gestuur as waarvoor ons gevra het. Ons weet dit sal nie die einde van hulle skenkings wees nie.
Floris Brown van Worcester vul sy bestaande mate-riaal by NALN gereeld aan met nuwe skenkings en dit is wat ons wil hê - dat almal sommer vanself aan NALN sal dink! Só het Robert Pearce ná die dood van sy vriend, Patrick Petersen, vir ons onder meer dokumente gestuur wat opgestel het rondom die skrywer se begrafnis. In Augustus 1997 het prof. N.J. Snyman sy versameling knipsels oor veral die Afrikaanse letterkunde, aan NALN oorgedra. Dié versameling van oor die 700 knipsels vul ons bestaande tydskrifbank goed aan. Mev. B. van Rensburg het voordragprogramme, lesings en poësieplate van M.P.O. Burgers geskenk.
Personeel van NALN het in Januarie Kaapstad en omstreke besoek en het weereens nie met leë hande huistoe gegaan nie. Soos gebruiklik het Danie Botha van Tafelberg Uitgewers ons baie gul ontvang en interessante manuskripte geskenk, o.a. dokumente rondon Wys my waar is Timboektoe. Ettie Williams was met vakansie, maar sy het per pos die beloofde manuskripte van Identikit, Klawervier en Koors gestuur. By Queillerie Uitgewers het ?n oud-Vrystater, Riana Barnard, ons in die afwesigheid van Frederik de Jager baie tuis laat voel en gesorg dat bokse vol materiaal saam terug Vrystaat toe gaan. Onder die manuskripte is Abraham Phillips se aantekeningboek met die verhaal van Die Messiasbende daarin. George Weideman het sy belofte van ?n jaar of wat terug nagekom en dit wat hy nog nie vir NALN gegee het nie, nou geskenk. Ons het ook by prof. Hennie Aucamp (in die skadu van Tafelberg) gekuier en die mooiste toneelplakkate en nóg materiaal rondom Timboektoe gekry. Aan almal wat NALN se mense so gul en vriendelik ontvang het, ?n baie groot dankie. Dié wat belowe het dat hulle in die toekoms skenkings aan NALN sal maak, moet weet dat ons sal sorg dat dit beslis nie by beloftes sal bly nie!
Ons het al vantevore gemeld dat van die uitgewers manuskripte aan NALN skenk. Dié praktyk gaan op ?n deurlopende basis voort en as ons dit nie altyd noem nie, weet dat ons dit opreg waardeer. Erik van den Bergh van KAIROS in Nederland stuur gereeld knipsels uit Nederlandse koerante en tydskrifte wat verband hou met die Afrikaanse letterkunde. Baie dankie daarvoor - dit is ?n bykomende bron van inligting wat ons andersins baie moeilik sou bekom het. Dr. Frances Galloway het haar navorsing van baie jare oor Breyten Breytenbach NALN toe laat kom. Ons wag al lank daarvoor en dit vul ?n besliste leemte in ons versameling.
In 1996 het NALN, reeds in Ernst van Heerden se leeftyd, ?n groot skenking van hom ontvang. Na sy dood het dr. Lucas Malan toegesien dat die res van sy lêers, asook personalia soos sy lessenaar en ander driedimensionele voorwerpe NALN toe kom. In F.A. Venter en W.A. de Klerk se testamente is ook bemakings van voorwerpe aan NALN.
Hierdie is ?n besondere "lywige opgawe" van skenkings aan NALN. Indien enigiemand oorgesien is, vra ons om verskoning (dit klink amper soos Nagmaal). Ons glo dat die komende jaar, veral omdat dit NALN se 25ste verjaardag is, nog meer kosbaarhede sal oplewer.
Sita de Kock, die bekende Afrikaanse skryfster, is in 1987 kort voor haar 89ste verjaarsdag oorlede. Toe haar boek Die spookhuis, in Sita se 83ste jaar verskyn het en daar nog vier boeke by uitgewers gewag het, was dit, volgens haarself, haar 130ste publikasie.
Sy was van kleins af ?n storie-uitdinker en ?n storieverteller wat haar eie ervarings, sowel as die doen en late van haarself en haar vyf susters, haar twee seuns en haar kleinkinders as inspirasie gebruik het vir haar skryfwerk. Sy het gretig alles gelees wat sy in die hande kon kry, so ook die Brandwag en veral die kinderrubriek van Tannie van die Brandwag wat van haar briefies gepubliseer het. Haar skryfloopbaan het met erns ?n aanvang geneem nadat bydraes van haar in Die Huisvrou gepubliseer is, daarna ook in Die Huisgenoot en in Die Boervrou. In 1938 verskyn haar eerste bundel Outa Fransie en ander verhale by J.L. van Schaik-uitgewers. Daarna was daar geen keer aan haar skryfwerk nie. In ?n onderhoud in Hoofstad in 1981, sê Sita: "Skryf is soos ?n biologiese honger en dors. En as mens dit nie doen nie, voel jy gefrustreerd."
Sita, soos haar leserspubliek haar geken het, het veral kinder- en jeugboeke geskryf, maar daar het ook ?n hele aantal romans, bundels kortverhale en sketse asook ?n lywige genealogiese werk soos Die Bosmans van Suid-Afrika uit haar pen verskyn. Sita het ook dramatekste voorsien aan die bedrywige Afrikaanse rondreisende toneelgeselskappe, soos bv. Bennie-Boet, wat later as jeugboek gepubliseer is, maar wat oorspronklik as drama geskryf is spesiaal vir Benn Potgieter, een van die beroemde Afrikaanse kindertoneelspelers. Haar baie gewilde boek Janette - die dogter wat nie ?n dame wou word nie, het sy verwerk vir die jong aktrise Pikkie Uys, die liefling van die Afrikaanse toneel van die 1930?s en 40?s.
Opsomming van dokumente en manuskripte uit die Sita-versameling wat by NALN bewaar word
KORRESPONDENSIE MET UITGEWERS
Die versameling van meer as ?n honderd briewe weerspieël Sita se gewildheid, die groot aanvraag na haar werk en ook die inspirasie wat sy vir haar uitgewers en kollegas was: van 1936 tot 1947 was sy redaktrise van die kinderdeel Die Touleiertjies, in Die Brandwag. Op 2 November 1973 skryf Bennie Fritz, in antwoord op Sita se brief van gelukwensing met sy aanstelling as redakteur van Rooi Rose: "... wil ek dan ook baie graag ?n dankie tot u adres rig: dankie vir jare wat ek Touleier kon gewees het. Dankie vir al daardie besielende briefies wat u gereeld elke week die wêreld ingestuur het, elkeen met ?n boodskap, elkeen as leiding. Weet u, ek dink dat u harde werk destyds, die grondlegging vir baie van ons wat vandag iewers gekom het, was. Ook my sukses in die lewe het dáár begin, u aanmoedigings oor die geringste ou tekenprentjie ... u lieflike menswees. Dus, dankie dat u meegehelp het om my te bring waar ek vandag is!"
BRIEWE VAN BEWONDERAARS EN VAN DIE TOULEIERTJIES
NALN beskik oor heelwat briewe en dokumente in hierdie kategorie, wat strek oor ?n tydperk van ongeveer 1940 tot 1984. Dit sluit onder meer ?n lywige petisie in van persone wat versoek dat Uit Juffrou se dagboek oorweeg moet word vir televisie-uitsending.
Die ongekunstelde briefies met betrekking tot die touleiertjie-rubriek is van die mees treffende, veral gesien in die oorspronklike holograafvorm: van Jan Maritz, Middelburg, 15 Mei 1945: "Beste maats, ek hoop hierdie brief verskyn. Want dit openbaar groot geheim. In die boek rooi rose van Maart 19/45 is ?n kiekie van Tant Sita. Volgings die kiekie van Tant Sita het ek haar nog meer lief gekry. Op haar gesig lees ?n mens liefde en opregtheid ..."
Van Estelle Kemp, Ingogo, 23 Oktober 1945: "Die aandeel wat u het aan die bou van ons nasie word seker deur baie min mense na waarde geskat ..." Van Marthie Prinsloo, Angola, 12 Januarie 1946: "U briewe is altyd so aanmoedigend. Vir my hier in die verte is daan geen ander troos behalwe u briewe nie."
n Besonder interessante reeks briewe is die van Mieke Hulle. Mieke, ?n Hollandertjie, het in die veertigerjare uit Sumatra aangesluit as ?n touleiertjie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog volg ?n lang stilte van Mieke se kant, en ná die oorlog ontvang Sita ?n briefie van Mieke, op toiletpapier geskryf, waarin sy van haar en haar familie se ontberinge in ?n krygs-gevangenekamp vertel. Mieke het as volwasse vrou haar korrespondensie met Sita volgehou, en - sekerlik deur Sita se inspirasie - self met skryfwerk begin.
Wat briewe van lesers betref, beskik NALN oor items vanaf ongeveer 1934; byvoorbeeld die volgende: "Liewe Sita, ons is bitterlik spyt dat Uit Juffrou se dagboek gesluit is. Skryf dan hoe het dit verder gegaan. As dit kan, laat die hele storie in boekvorm verskyn." (Beulah van Heerden, 15 Januarie 1934, Pretoria)
Gedurende die sewentigerjare het Sita en die letterkundige Lambert Swerts, gereeld gekorrespon-deer. Deur die briefwisseling is hegte vriendskapsbande gesmee. In die Gazet van Antwerpen skryf Lambert Swerts op 18 Desember 1974 ?n artikel oor Sita en haar werk, waarin selfs Sita se stukke in "het letterkundig museum te Bloemfontein" ter sprake kom.
BRIEWE AAN VRIENDE EN FAMILIE
Dat Sita ?n hegte familiemens was, is alombekend. Die warmte van ?n familie wat groot hoogtes bereik het en tog baie na aan mekaar is, spreek uit die groot aantal familiebriewe, en meer as wat enige biografie kan doen, lewer dié briewe getuienis van "Moedie Sita" en "Oupa Kokkie". Sita se suster Bets, getroud met Coert Steynberg, skryf op 19 November 1975: "Jou susters is trotser op jou as wat jy besef, en ek wens baie keer jy kon hoor as hulle van jou praat. Ons is nie net trots op jou prestasies nie, maar op die dapper manier waarop jy jou beproewinge dra en aanvaar. Wees bly en dankbaar vir jou man en kinders..." "Mens kry altyd die indruk dat julle so lekker, gelukkig en gesellig woon."
Die humoristiewe briewe van Sita se vriendin, die skryfster Elizabeth Saunders, spreek van ?n leeftyd se gesamentlike belangstelling - skryfwerk - en ?n gees van optimisme wat weier om geknel te word deur die ouderdom: op 2 Oktober 1975 skryf sy: "Mensdom maar was deeske grys ou vrou gister in haar noppies. Kry ?n tjek ... op de verkoop van ... Die kapokhennetjie. Jong toe was ek so opgewonde dat dit alles in my bene getrek het en ek die ganske middag in die bed gelê het."
Of, op 26 Maart 1974: "Ai, hoe bly is ek tog dat Petrus [Nienaber] weer gaan trou en dit met iemand op wie hy toeka se dae verlief was. Dis tog eienaardig hoe dinge in ?n mens se lewe gereël word. Elke stukkie pas in die patroon." Woorde wat van NALN se briewe- en dokumentbesit ook gesê kan word: Daagliks word stukkies van die legkaart van ons Afrikaanse literêre wêreld, van die lewe en werk agter die skerms, ontdek.
Die versameling bevat min briewe deur Sita self geskryf: wel tikskrifkopieë van briewe aan uitgewers, of met betrekking tot genealogiese navorsing, maar slegs enkele persoonlike briewe.
NALN besit egter oorspronklike tikskrifte en tikskrif-deurslagkopieë van Sita se pragtige briewe aan haar kleindogter Karin. Van dié briewe skryf Sita: "Toe ons tyding van die geboorte van ons eerste kleinkindjie ontvang, was ek totaal oorstelp. Ek het gelag, gebid en gehuil en toe spontaan uit die volheid van my hart, my eerste brief aan die klein vreemdelingetjie geskryf."
Sita het vir 17 jaar die briewe geskryf, en, op aandrang van Karin self is dit in 1976 gepubliseer onder dit titel Liefste Kadie.
Sita se sprankelende humor kom na vore in die enkele briewe aan vriendinne wat in NALN se besit is; bv. aan Anna Neethling-Pohl (Potchefstroom, 12 Augustus 1954): "... Bossie het seker vir jou vertel dat ek nou op my oudag ?n winkelier geword het! Ek verkoop die sies en die vies, alles net soos die miesies wiel. Ek verkoop hom die roltwak, die horseshoe, die blaartwak, die snuif, die doepa, duiwelsdrek, rooipoeier, kraamdruppels ... Ek staan met my twee pote in die werklike lewe ... Ek gaan my tikmasjien toesluit en wegbêre en dan jaart ek agter my toonbank die jaarts-goed af en hulle gapataal my die int van die aankomste Maandag se week en ek sjee hulle die pasella!
KORRESPONDENSIE MET BETREKKING TOT DIE BOSMAN- EN DE KOCK-GESLAGREGISTERS
Die groot aantal briewe en dokumente weerspieël die geweldige taak wat só ?n geslagsregister behels en wat Sita bereid was om aan te pak. Treffend van die meer as 280 Bosman-briewe is die waardering en entoesiasme vir die taak.
Soos gesê bevat die versameling relatief min briewe deur Sita self geskryf. Dié versameling bevat egter die meeste briewe deur haarself geskryf, onder meer roerende briewe na haar seun Bosman se dood: "Hy het my toe laat belowe dat, as ek met die Bosman-album klaar is, ek ook sal help om die bal aan die rol te sit omtrent die de Kocks se voorgeslagte ..." "Hy was reeds in die hospitaal toe die eerste briewe van die de Kocks begin inkom... Twee dae later is hy skielik ... oorlede. Maar my belofte aan hom moet ek volvoer." (Brief aan familie, 23 Sept. 1967.)
Sita het gelukkig nie haar tikmasjien in 1954 toegelsuit nie: die legende leef voort. Sonder haar dokument-versameling sou ons haar egter net uit haar boeke en biografiese sketse kon ken en onthou. Verdere gegewens oor Sita sou uit sekondêre bronne gehaal moes word: verwerkings van dieselfde deuntjie.
Tannie Sita" se versameling is dus - soos al NALN se dokumentversamelings - ?n volkserfenis van onskatbare waarde en onontbeerlik as primêre bron van inligting. Dit is ondenkbaar dat ons skrywers se stemme hoegenaamd moet stilraak: ons kan ?n persoon se hele lewe uit sy briewe leer ken. Tog is dit ?n tragiese feit dat die kuns van brieweskryf besig is om uit te sterf. Om dié rede het argiewe reeds begin met onderhoudvoering op band, en geniet die kwessie van "oral history" toenemende aandag in die argiefwese. Bandopnames kan wel stemme, menings en ervarings bewaar, maar ongelukkig kan geen band die spontaniëteit en intimiteit van ?n brief vervang nie.
Indien u die Nuusbrief op 'n gereelde grondslag wil ontvang, kan u ons kontak per faks, e-pos of ander skriftelike wyse.
Terug na Begin
Terug na Tuisblad
