Die Mendi-dekorasie vir Dapperheid
Hierdie dekorasie word aan Suid-Afrikaners toegeken wat 'n daad van buitengewone dapperheid verrig het wat hulle lewens in groot gevaar gestel het, of wat hulle lewens verloor het in 'n poging om 'n ander persoon se lewe te red, of om eiendom te red - binne of buite die Republiek van Suid-Afrika.
Organisasie
Hierdie orde word in drie kategorieë toegeken:
Kategorie 1 = Goud
Kategorie 2 = Silwer
Kategorie 3 = Brons.
Kernmotief/simboliek
Die skild, wat van diervel, veral beesvel, gemaak is, is tot 'n ovaalvormige produk met 'n baie stywe oppervlak verwerk en geweef en met 'n houthandvatsel afgewerk. Die knopkierie en spies hoort by die skild, wat as simboliese gebaar van welwillendheid gegee word aan mense wat vanoor die hele wêreld kom om ons land te besoek.
Elemente
Die skild
Die SS Mendi - verteenwoordig die dapperheid van talle swart Suid-Afrikaanse soldate en hulle wit mede-offisiere wat aan boord die SS Mendi verdrink het. Die skip het gesink nadat hy op 21 Februarie 1917 in die koue water van die Engelse kanaal naby die eiland Wight getref en byna deur die SS Darro middeldeur gesny is. Die soldate was tydens die Eerste Wêreldoorlog na Frankryk op pad om bystand aan die Britte te verleen.
Die bloukraanvoël - die bloukraanvoël se vlug deur die lug bo die SS Mendi op see versinnebeeld die siele van die dapper soldate wat verdrink het. Die bloukraanvoël se vere is in die koloniale oorloë tradisioneel as versiering deur dapper soldate gebruik.
Die groen smarag - die kern vanwaar die drie wysers voortkom, verteenwoordig die weg vorentoe deur hulpverlening aan hulpbehoewendes tydens natuurrampe en ander uiterste moeilikhede wat van tyd tot oor die hele wêreld heen voorkom.
Leeu - as simbool van skoonheid, krag en dapperheid, word deur sy spore om die rande van die houervorm versinnebeeld. Dit dui op grenspatrollies, binne en buite ons land, deur dapper en toegewyde Suid-Afrikaners. Die drie geografiese wysers word verteenwoordig deur die integrasie van die blomme van die bitteraalwyn, 'n inheemse Suid-Afrikaanse plant wat uithouvermoë, oorlewing en medisinale waarde versinnebeeld.
Knopkierie en spies - hoort by die skild as simbole van verdediging en eer.
Miniatuur
Lapelroset
