Harry Potter het van meet af aan jonk én oud gevange gehou, trouens, kort ná die publikasie van die eerste boekdeel, was dit die nommer- een-verkoper op sowel Brittanje as Amerika se lys vir volwasse fiksie. Bloomsbury, Rowling se Britse uitgewer, het 'n tweede oplaag laat druk met 'n meer gesofistikeerde omslag vir volwasse lesers. Nie dat so 'n toegewing van uitgewerskant later meer nodig was nie, want ouer lesers het sonder skroom en met openlike genot Harry Potter-aanhangers geword. Dis duidelik dat hierdie verhale die kind in lesers aanspreek. Wanneer sy skryf, sê Rowling, het sy aanvanklik geen spesifieke teikengroep in gedagte nie, en die idee bepaal uiteindelik die lesers- publiek. Ten spyte van die talle vorme van elektroniese vermaak en alles wat daarmee saamgaan, is die sukses van die Harry Potter-reeks genoegsame bewys van lesers se onbewuste behoefte aan ras-egte fantasie, daardie wonderwêreld waarin On leser perkeloos "iemand anders" kan word, en kan ontvlug van die dikwels benouende werklikheid.
Hoewel Rowling twee tekste vir volwassenes voltooi gehad het teen die tyd dat sy met Harry Potter se verhaal begin het, het sy hulle nooit vir publikasie aangebied nie. Die Harry Potter-boeke het 'n publikasie- geskiedenis waarvan uitgewer en skrywer (én joernalis!) maar net kan droom. En dit klink altevol baie soos 'n sprokie: sonder enige (aanvanklike) televisiedekking, filmweergawe of "road shows", het Harry Potter se storie opslae gemaak. In 'n wêreld waarin kinderboeke moeilik 'n duikie maak ­ soos ons almal weet -, was dít op sigself 'n prestasie. Teen die tyd dat die derde boekdeel Harry Potter and the prisoner of Azkaban die boekhandelaar bereik het, was Harry 'n fenomeen: weerlig-tattoo's vir kinderlesers se voorkoppe (want dis Harry se "kenteken"); "sleep-ins" by boekwinkels, sodat kopers om middernag beskikbaar kon wees om hulle voorafbestelde kopieë (wat per sekuriteitstrok aangekom het) op te raap. Boekhandelaars het gretige kopers verwag, maar getalle het dié verwagtinge ver oortref. Teen Julie verlede jaar het Barnes & Noble (een van die grootste boekwinkelhuise in Amerika) berig dat meer as 500 000 kopieë oor 'n enkele naweek verkoop is, en uit Michigan is laat weet dat die Borders Group sowat 200 000 gedurende dieselfde naweek verkoop het. Uitgewers het hul oplae in miljoene begin druk, wat verklaar waarom huidige verkoopsyfers reeds die 35 miljoen-kerf verbygesteek het. Van die vierde boek, Harry Potter and the Goblet of Fire, is 'n verstommende eerste druk van 5 miljoen eksemplare die wêreld ingestuur. Resensies moes na koerante en tydskrifte ingebél word. Die Harry Potter-tekste is reeds in meer as 31 tale vertaal.
Die avonture waarin Harry en sy vriende beland, is naelskou opwindend en dikwels gevaarlik. 'n Mens kan jou net indink watter verbeeldingsvlugte moontlik is by 'n towenaarskool waar die boswagter Hagrid se gunsteling troeteldiere 'n hippogrief en 'n drakie is, beide versot op hoenderbloed en brandewyn. Rowling se buitengewone vermoë om visueel te bewoord, het verskeie bemarkingsfoefies geïnisieer: 'n Hogwarts Express wat vanaf Platform 9 vertrek het (hoe anders?) het hordes gretige lesertjies én hul gunstelingskrywer op 'n vierdaagse stoomtreinrit geneem. Die trein, wat vanaf King's Cross stasie in Londen vertrek het, het langs die pad telkens gestop om nog opgewonde passasiers op te laai, totdat hulle uiteindelik in Perth (Skotland) aangekom het. Daar is ook 'n filmweergawe van die eerste boek op pad (Warner Brothers is die vervaardiger en die Gloucester Cathedral sal gebruik word om Hogwarts-tonele in te skiet), en nege verskillende Harry Potter Lego-stelle sal as deel van dié promosie vrygestel word. Rowling vertel graag in onderhoude dat haar eie skool- loopbaan maar half onopwindend was, en dat sy dikwels pousetye avontuurverhale vir haar maats sou opdis, waarin húlle die rolle van held en heldin kon speel.
Vir Rowling, wat byna nege maande lank op staatsfinansiering moes leef voordat sy (toe pas geskei en met 'n babadogter) 'n onderwyspos kon kry, bied hierdie skielike rykdom lewensruimte en gemoedsrus. "Ek was arm en ek was ryk, en ryk is beter", sê sy. Maar 'n mens kry half die gevoel dat sy, ook sónder die finansiële gewin, sou aanhou skryf het. Hoewel sy in die Harry Potter-boeke 'n geweldig wye emosionele register hanteer, is dit die ooglopende pret wat sy met woorde (én karakters!) het, wat 'n mens bybly lank ná die lees van die boeke. Gaan lees maar weer die verskillende geure waarin Bertie Bott se Allegeurtjiebone kom, of woon saam met Harry, Hermien en Ron Niek-amper-sonder-kop se doods- dagpartytjie by. Dis uiteindelik nie uitgewers- of advertensie hype wat Rowling se boeke gewild en gesog maak nie, maar die doodgoeie outydse kuns om 'n treffer-storie te vertel.
Natúúrlik stem nie almal hiermee saam nie. Saam met die positiewe Harry Potter-warrelwind het verskeie dwarswinde al gedreig om die euforie te laat verdamp: hofsake tussen uitgewers en handelaars, duistere voorspellings van die Satanisme wat in die tekste skuil, en kritici wat die vierde (dik) boek (van sowat 630 bladsye) skerp veroordeel het. Dit ís inderdaad te vroeg om finale uitsprake te lewer. Maar iemand wat 'n lekker boek se pret bederf, behoort gestraf te word. Wees slim as jy 'n Harry Potter-aanhanger is, en luister na die raad wat die wyse ou professor vir Lucy, Peter, Edmund en Susan gee in Die leeu, die heks en die hangkas: "Eenmaal 'n koning in Narnia, altyd 'n koning in Narnia. Maar moenie gaan probeer om dieselfde roete twee keer te volg nie. Om die waarheid te sê, moet glad nie probéér om daar te kom nie. Dit sal vanself gebeur wanneer julle nie soek nie. En moet dit nie teenoor iemand anders noem nie tensy jy vind dat hulle ook al sulke avonture gehad het ... Hoe sal julle weet? O, julle sal goed genoeg weet! Snaakse dinge wat hulle sê ­ selfs die uitdrukking op hulle gesig ­ sal die geheim verklap. Hou net julle oë oop."
Nog wetenswaardighede
Bronne geraadpleeg
Verskeie tydskrifte- en koerantartikels, almal beskikbaar in die NALN
knipselversameling.
Kopieë van die internetbydraes is ook beskikbaar in die NALN-versameling.
