

















Departement van Kuns en Kultuur

















RAAMWERK VIR DIE NASIONALE TAALBELEID









Finale konsep

























13 November 2002



2





INHOUD







VOORWOORD DEUR DIE MINISTER VAN KUNS, KULTUUR, WETENSKAP EN TEGNOLOGIE



LYS AFKORTINGS



AFDELING 1	AGTERGROND EN KONTEKS



Inleiding 



Historiese konteks 



Regskonteks 





AFDELING 2
 
SLEUTELELEMENTE VAN DIE BELEID
 

 
2.1
 
Doelstellings
 

 

 
2.2
 
Beginsels
 

 

 
2.3
 
Benadering
 

 

 
2.4
 
Toepassingsbestek
 

 
AFDELING 3
 
MENSEVERMOëBOU
 

 
AFDELING 4
 
IMPLEMENTERINGSTRATEGIEë
 

 




TERMGLOSSARIUM

























































Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



3





VOORWOORD DEUR DIE MINISTER VAN KUNS, KULTUUR, WETENSKAP EN TEGNOLOGIE, DR. B.S. NGUBANE



Iemand se taal is in baie opsigte 'n "tweede vel", die natuurlike besitting van elke gewone mens, waardeur ons ons verwagtinge en ideale uitdruk, ons gedagtes en waardes artikuleer, ons ervarings en gewoontes verken, en ons samelewing en die wette wat dit reguleer, konstrueer. Deur middel van taal funksioneer ons as mense in 'n immer veranderende wêreld. Die reg op die gebruik van die amptelike tale wat ons verkies, word daarom deur ons Handves van Regte erken en ons Grondwet erken die feit dat die tale van ons mense 'n hulpbron is wat ingespan moet word.



Ek is veral trots daarop dat ons na 'n deeglike oorlegplegingsproses finaal in 'n posisie is om 'n raamwerk vir 'n taalbeleid vir Suid-Afrika aan te kondig. Dit is die afhandeling van 'n proses wat in 1995 begin het toe ek die Taalplantaakgroep (LANGTAG) aangestel het om my van raad te dien oor 'n raamwerk vir 'n samehangende taalbeleid en -plan. Hierdie stap was onontbeerlik in die lig van die gebrek aan verdraagsaamheid ten opsigte van taalverskeidenheid en die gevolglike benadering sigbaar in party samelewingsektore dat "veeltaligheid 'n duur probleem" is, en die groeiende kritiek van taalbelanghebbers ten opsigte van die neiging tot eentaligheid in Suid-Afrika.



Die Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid is gegrond op die gevolge van ons oorlegplegingsprosesse, deur LANGTAG sowel as vervolgens deur my Departement se pogings in samewerking met my Adviespaneel oor Taalbeleid. Die beleidsraamwerk is fundamenteel tot die bestuur van ons diverse taalhulpbronne en die bereiking van die regering se doelwit om demokrasie, geregtigheid, billikheid en nasionale eenheid te bevorder. Dit is in die gees hiervan dat die bevordering van ons land se 11 amptelike tale, soos bepaal in die Grondwet, sentraal staan in die beleid.



Die Beleidsraamwerk neem kennis van die feit dat die waarde van ons tale grootliks bepaal word deur die ekonomiese, sosiale en politieke gebruik daarvan. Wanneer 'n taal sy waarde in hierdie sfere verloor, verminder die status van die taal. Die Beleidsraamwerk neem ook in ag dat ons die uitdaging van globalisering in die gesig staar en dat ons inheemse tale deel moet uitmaak van die snel uitbreidende tegnologiese omgewing. Die Beleidsraamwerk beoog dus om die status en gebruik van die inheemse tale van Suid-Afrika opnuut te bevestig.



Ek vertrou opreg dat alle Suid-Afrikaners hierdie Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid as hulle eie sal aanneem. Ek glo dat ons kollektief moet verseker dat die beleid 'n werklikheid in ons lewens word wat ons unieke Suid- Afrikaanse identiteit sal bevestig en ons daarop trots sal maak.





……………………………..



DR. B.S. NGUBANE, L.P.









Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



4







LYS AFKORTINGS







DKK	Departement van Kuns en Kultuur



DO	Departement van Onderwys



LANGTAG     Taalplantaakgroep



MTT	Mensetaaltegnologieë



BTO	Beleid vir Taal in die Onderwys



MTUR	Mediumtermynuitgaweraamwerk



NTD	Nasionale Taaldiens



PanSAT	Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad



SAOG	Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap



SAKO	Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid



SAG	Suid-Afrikaanse Gebaretaal



TISSA	Telefoontolkdiens vir Suid-Afrika





























































































Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



5





AFDELING 1:  AGTERGROND EN KONTEKS



1.1    Inleiding



Ongeveer 25 verskillende tale word in Suid-Afrika gepraat, met 11 waaraan daar ingevolge artikel 6 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet No. 108 van 1996), amptelike status verleen is op grond daarvan dat die gebruik daarvan sowat 98% van die totale bevolking insluit. 



Die 11 amptelike tale is isiNdebele, isiXhosa, isiZulu en siSwati (die Nguni-taalgroep); Sepedi, Sesotho en Setswana (die Sotho-taalgroep); Tshivenda, Xitsonga, Engels en Afrikaans. 



Suid-Afrika is 'n veeltalige land. 'n Treffende eienskap van veeltaligheid in Suid-Afrika is die feit dat verskeie inheemse tale oor provinsiale grense heen gepraat word en deur spraakgemeenskappe van verskillende provinsies gedeel word. 



Tans is daar 'n sterk gewaarwording van die nodigheid om pogings te versterk om die voorheen gemarginaliseerde inheemse tale te ontwikkel en om veeltaligheid te bevorder indien Suid-Afrika van onbehoorlike staatmaking op die gebruik van nie-inheemse tale as dominante, amptelike tale van die staat bevry staan te word. 



Tot op hede is die bestuur van taaldiversiteit in post-apartheid-Suid- Afrika problematies gemaak weens die gebrek aan 'n duidelik omskrewe taalbeleid, wat lei tot die gebruik van Engels en Afrikaans, as dominante tale, op die sosio-ekonomiese en politieke domeine van ons samelewing. 





Na agt jaar van demokrasie het Suid-Afrika nou by 'n kritieke punt in sy geskiedenis uitgekom. Suid-Afrikaners moet reageer op hulle taal- en kultuurdiversiteit en op die uitdagings van grondwetlike veeltaligheid, vandaar die inbring van hierdie Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid. 



Die Beleidsraamwerk inisieer nie slegs 'n vars benadering van veeltaligheid in Suid-Afrika nie, maar moedig die benutting van die inheemse tale as amptelike tale ten sterkste aan ten einde nasionale eenheid te koester en te bevorder. Dit neem die breë aanvaarding van taaldiversiteit, maatskaplike geregtigheid, die beginsel van gelyke toegang tot openbare dienste en programme, en respek vir taalregte in ag. 



Hierdie dokument sit 'n instaatstellende raamwerk vir 'n samehangende veeltalige bedeling binne die parameters van die Grondwet uiteen. 















Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



6







1.2    Historiese konteks



Sedert die Hollanders Suid-Afrika in 1652 die eerste maal beset het, deur opeenvolgende tydperke van Britse heerskappy, die Unie van Suid-Afrika, en vervolgens die instelling van die apartheidsbewind en die Republiek van Suid-Afrika, en met die koms van demokrasie en die Grondwetlike bepalings oor veeltaligheid in 1994, het die regeringstaalbeleid en die magselite versuim om Suid-Afrika se taaldiversiteit te erken. 



Die gevolg hiervan was taalongelykheid, en die oorheersing van Engels en Afrikaans het 'n ongelyke verhouding tussen hierdie tale en die Afrika-tale geskep. 



Koloniale en apartheidstaalbeleide, saam met politieke en sosio- ekonomiese beleide, het dus oorsprong verleen aan 'n hiërargie van tale waarvan die ongelykheid die strukture van rasse- en klasse- ongelykheid, kenmerkend van die destydse Suid-Afrikaanse samelewing, weerspieël het. 



Dit alles het die korollêre status van die inheemse tale en taalvariëteite van die Afrika-mense en van ander gemarginaliseerde groepe, insluitende dowes en blindes, veroorsaak en negatiewe stereotipes van Afrika-tale versterk, wat nie net deur Engels- en Afrikaans-sprekers gehuldig word nie, maar selfs deur baie Afrika-taal-sprekers self. 



Die toedrag word vererger deur die feit dat openbare en private instellings weens kortsigtigheid en burokratiese houdings teen die implementering van veeltaligheid die neiging het om taalbesluite ad hoc te neem, wat die grondwetlike bepalings en vereistes betreffende taal negeer. 





1.3    Regskonteks



Artikel 6 van die Grondwet bepaal die hoofregsraamwerk vir veeltaligheid, die ontwikkeling van die amptelike tale en die bevordering van respek en verdraagsaamheid vir Suid-Afrika se taalverskeidenheid. Dit bepaal die taalregte van landsburgers, wat deur middel van nasionale taalbeleide gerespekteer moet word. 



Die Grondwet benadruk dit dat alle amptelike tale "gelykheid van aansien" moet geniet en billik behandel moet word, waardeur die status en gebruik van inheemse tale verhoog word, met die regering wat wetgewende en ander maatreëls moet gebruik om die gebruik van benadeelde inheemse tale te reël en te monitor. 



Die Grondwet verleen 'n mandaat vir die verandering van die taalopset dwarsdeur die land en verleen maatskaplike en politieke erkenning aan 





Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



7





die tot dusver benadeelde taalgroepe op grond van die uitdruklike behoeftes van gemeenskappe en belangegroepe.



Artikel 6(2) van die Grondwet verlang dat meganismes in plek gestel word om die inheemse tale te ontwikkel. 



Artikel 6(3) en (4) bevat taalverwante bepalings vir nasionale en provinsiale regerings, ingevolge waarvan staatsdepartemente minstens twee amptelike tale moet gebruik. 



Om taaldiversiteit verder te bevorder bepaal artikel 6(5) dat die Pan- Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) ingestel moet word om veeltaligheid te bevorder en om te sien nie net na die ontwikkeling en gebruik van die amptelike tale nie, maar ook die Khoi-, Nama- en San- tale, en Suid-Afrikaanse Gebaretaal/-tale. PanSAT moet ook respek kweek vir die erfenistale wat deur sommige seksies van ons gemeenskap gepraat word en vir die tale wat vir godsdiensdoeleindes gebruik word. 





Ander tersaaklike bepalings ten opsigte van taalaangeleenthede word elders in die Grondwet gegee. Artikel 9(3) verleen beskerming teen onbillike diskriminasie op taalgronde, terwyl artkel 30 en 31(1) verwys na mense se regte met betrekking tot kultuur-, godsdiens- en taaldeelname en -genieting. Artikel 35(3) en (4) verwys na die taalregte van gearresteerdes, aangehoudenes en beskuldigdes, met besondere klem op die reg op 'n billike verhoor met verrigtinge gehou of getolk in die taal van daardie individu se keuse. 



Die Departement van Onderwys (DO) het 'n Beleid vir Taal in die Onderwys (BTO) ingevoer, wat veeltaligheid as uitbreiding van kultuurdiversiteit en as 'n integrerende deel vir die bou van 'n nierassige Suid-Afrika benadruk. Die onderliggende beginsel is om die leerder se huistaal vir leer en onderrig te behou, maar om leerders aan te moedig om boonop bykomende tale aan te leer. Die BTO handel met sake soos geleerdheidstaal/-tale vir onderrig en onderwys in openbare skole, skoolleerplanne en die taalverwante pligte van provinsiale onderwysdepartemente en skoolbeheerliggame. 



Die Grondwet en verwante wetgewing staan die bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika duidelik voor. Hierdie beleidsraamwerk moet dus voldoende voorsiening maak vir die harmonisering van taalbeleid op al drie regeringsvlakke en duidelike beleidstandpunte artikuleer oor die status en gebruik van die inheemse amptelike tale in al nege die provinsies in Suid-Afrika. 























Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



8





AFDELING 2:  SLEUTELELEMENTE VAN DIE BELEID





2.1    Doelstellings



Die taalbeleid neem kennis van die grondwetlike bepalings oor veeltaligheid in ooreenstemming met die regering se doelstellings vir ekonomiese, sosio- politieke en opvoedkundige groei. Die doelstellings daarvan is om -



die billike gebruik van die 11 amptelike tale te bevorder; 



billike toegang tot regeringsdienste, kennis en inligting te fasiliteer; 



herstel vir die voorheen gemarginaliseerde amptelike inheemse tale te verseker; 



‘n lewenskragtige gesprek oor veeltaligheid met alle taalgemeenskappe aan te knoop en vol te hou; 



die aanleer van ander amptelike inheemse tale aan te moedig ten einde nasionale eenheid te bevorder, asook taal- en kultuurdiversiteit; en 





goeie taalbestuur vir doeltreffende staatsdiensadministrasie te bevorder ten einde aan kliënte se verwagtings en behoeftes te voldoen. 







2.2    Beginsels



Die taalbeleid is op die volgende beginsels gegrond:



'n Verbintenis om taalgelykheid en taalregte te bevorder, soos deur ‘n demokratiese bedeling vereis; 



die erkenning van tale as hulpbronne om kennis, kundigheid en volle deelname aan die politieke en sosio-ekonomiese domeine te maksimaliseer; 



om te werk in samewerkende vennootskappe om grondwetlike veeltaligheid te bevorder; 



om die gebruik van enige taal wat uitbuiting, oorheersing en diskriminasie ten doel het, te voorkom; en 



om mensgesentreerdheid te verhoog wanneer daar deur middel van voortgesette dialoog en debat aandag geskenk word aan die belange, behoeftes en aspirasies van ‘n wye reeks taalgemeenskappe. 











Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



9







2.3    Benadering



Die benadering erken die volgende:



Die bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika vereis pogings wat nie die kennis misken wat in gemeenskappe bestaan waar inheemse amptelike tale prominent is nie. Dit sal gefasiliteer word deur die gebruik en betrokkenheid van gemeenskappe as deelnemers aan die prosesse van taalontwikkeling. 



Dit sal raadsaam wees dat taalspesialiste betrek word om deur middel van navorsing en die verspreiding van inligting te help met die ontwikkeling van funksionele veeltalige programme. 



Samewerking en die deel van verantwoordelikhede onder SAOG- ledestate moet gefasiliteer word sal taalontwikkeling versnel. 



Dit sal nodig wees om beleidshersienings met gereelde tussenposes te doen ten einde vordering ten opsigte van 'n volledig veeltalige Suid- Afrikaanse samelewing te monitor. 



'n Gemeenskapsgebaseerde benadering van die bevordering van veeltaligheid is die lewensvatbaarste, gegewe Suid-Afrika se uiters plurale samelewing. Daar moet 'n gedesentraliseerde en deelnemende benadering van taalbeplanning en beleidsimplementering wees, wat tegniese kundigheid inspan om kennis en vaardighede oor te dra. 





2.4    Toepassingsbestek



Die toepassingsbestek of bepalings van die beleid is soos volg:



Alle regeringstrukture (nasionaal, provinsiaal, plaaslike regering) en instellings wat ‘n openbare bevoegdheid uitoefen of 'n openbare werksaamheid ingevolge wetgewing verrig, word deur hierdie Taalbeleidsraamwerk gebind. 



By die bevordering van veeltaligheid sal die provinsies hulle beleide in lyn met die riglyne vervat in hierdie Beleidsraamwerk formuleer en, soos vermeld in die Grondwet, hulle streekomstandighede en gemeenskappe se behoeftes en voorkeure in ag neem. 



Plaaslike regerings sal die taalgebruik en -voorkeure van hulle gemeenskappe binne 'n instaatstellende provinsiale taalbeleidsraamwerk bepaal. By die bepaling van die taalgebruik en -voorkeure van gemeenskappe moet plaaslike regerings 'n veeltalige beleid in breë oorleg met hulle gemeenskappe ontwikkel, bekend maak en implementeer. 









Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



10





Amptelike taal, sal in alle wetgewende aktiwiteite, met inbegrip van Hansard-publikasies, soos vereis gebruik word as 'n saak van reg: Met dien verstande dat streekomstandighede die tale wat in die geval van provinsiale wetgewers gebruik word, sal bepaal. 



Die regering sal private ondernemings aanmoedig, en waar nodig ondersteun, om hulle eie taalbeleide ooreenkomstig die Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid te ontwikkel en te implementeer. 



Ten einde veeltaligheid te bevorder bepaal hierdie beleid die gebruik van verskillende tale in regeringstrukture soos volg: 



Werkstaal of -tale/verslagtaal of -tale: Elke regeringstruktuur moet by konsensus ooreenkom oor ‘n werkstaal of -tale (vir intra- sowel as interdepartementele kommunikasiedoeleindes): Met dien verstande dat, waar prakties moontlik, niemand daarvan verhoed sal word om sy of haar voorkeurtaal of -tale te gebruik nie. Vir doeleindes van vergaderings of bepaalde take moet alle pogings aangewend word om taalfasiliteringsfasiliteite soos vertaling of tolking (konsekutiewe, simultane en fluistertolking) te benut, waar doenlik. 



Kommunikasie met lede van die publiek: Vir amptelike korrespondensiedoeleindes moet die landsburger se voorkeurtaal gebruik word. Alle mondelinge kommunikasie moet in die amptelike voorkeurtaal van die teikengehoor plaasvind. Indien nodig, moet alle pogings aangewend word om taalfasiliteringsfasiliteite soos tolking (konsekutiewe, simultane en fluistertolking) te benut, waar doenlik. 



Regeringspublikasies: 'n Publikasieprogram van funksionele veeltaligheid moet deur nasionale staatsdepartemente gevolg word in daardie gevalle wat nie publikasie in al 11 amptelike tale vereis nie. 



Waar die doeltreffende en bestendige werking van die regering op enige vlak omvattende kommunikasie van inligting vereis, moet dit in al 11 amptelike tale gepubliseer word en in die provinsies in al die voorgeskrewe amptelike tale van die provinsie. 





In gevalle waar die regering regeringsdokumente nie in al 11 amptelike tale beskikbaar stel nie, moet die nasionale staatsdepartemente dokumente tegelykertyd in minstens ses tale publiseer, soos volg: 



Minstens een uit die Nguni-groep (isiNdebele, isiXhosa, isiZulu en siSwati); 

minstens een uit die Sotho-groep (Sepedi, Sesotho, Setswana); 







Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



11





Tshivenda; 



Xitsonga; 



Engels; en 



Afrikaans. 



'n Rotasiebeginsel moet vir die publikasie van regeringsdokumente toegepas word wanneer daar uit die Nguni- en Sotho-groep gekies word. 



Internasionale kommunikasie: Regeringskommunikasie sal op internasionale vlak gewoonlik in Engels geskied of ad hoc in die voorkeurtaal of -tale van die betrokke land. 









































































































Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



12







AFDELING 3:     MENSEVERMOËBOU





Die implementering van die taalbeleid sal die vraag na vertaal- en redigeerwerk en tolkdienste, veral in die inheemse tale, verhoog. Die kern van vertalingskundigheid in hierdie tale sal in staatsdepartemente uitgebrei moet word en in die konteks van die privaatsektor, bv. vryskuttaalpraktisyns soos vertalers, redigeerders en tolke, ontwikkel moet word. Die verhoogde behoefte aan die dienste van beroepstaalpraktisyns sal verdere vaardigheidsopleiding vereis. 



Die instelling van taaleenhede in elke nasionale staatsdepartement en in elke provinsie sal ook 'n impak hê op die aktiwiteitsbestek van die Nasionale Taaldiens (NTD). Van die NTD sal vereis word om die bestuur van beleidsimplementering te koördineer deur opleiding in taalbeplanningsaktiwiteite vir taaleenheidpersoneel en ondersteuning van die werkprogramme van hierdie eenhede te fasiliteer. Die NTD sal ook verantwoordelik wees vir die koördinering van die ontwikkeling van opleidingsprogramme vir vertalers, redigeerders en tolke, en die instelling van bedryfsriglyne oor gehaltekwessies. 



Die gebiede van terminografie en terminologie sal insgelyks geraak word. Die toename in vertaalwerk sal die versnelde ontwikkeling vereis van terminologie in die amptelike tale en van 'n Nasionale Termbank wat toeganklik is vir die regering en vryskuttaalpraktisyns. 



Die beskikbaarheid van mensetaaltegnologietoepassings (MTT- toepassings, bv. Masjiengesteunde vertaling, vertaalgeheues, speltoetsers), vir die inheemse tale sal 'n groot rol speel in taalfasiliteringsaktiwiteite. 



Die grootte-opsies vir taaleenhede sal bepaal word en vaardigheidsopleiding op hierdie gebied sal geprioritiseer word na inagneming van die getal amptelike tale wat gebruik gaan word. Waar Eenhede wat uit vier of meer beroepspersoneellede bestaan, sal klerke nodig hê. 



Vermoëbou op die geïdentifiseerde terreine van taalfasilitering sal in noue samewerking met diensverskaffers, byvoorbeeld tersiêre inrigtings wat SAKO-geakkrediteerde programme en -kursusse in taalpraktyk, vertaling en redigering, tolking, taalbeplanning, terminografie en leksikografie aanbied. 

























Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



13





AFDELING 4:     IMPLEMENTERINGSTRATEGIEË





Die voorkeurstrategie op alle vlakke is dat die beleid op kort, medium en lang termyn progressief ingefaseer sal word. 



Betreffende regeringspublikasies sal implementering buigsaam en pragmaties deur regeringstrukture oor 'n tydperk van minstens drie jaar ingefaseer word. Die voordeel van 'n metode van geleidelike infasering is dat departemente toenemend daartoe in staat sal wees om vermoë te ontwikkel en die implementeringsproses doeltreffender te bestuur. 



Regeringstrukture sal tyd hê om hulle begrotings te beplan deur geleidelik toewysings oor die tydperk van die Mediumtermynuitgaweraamwerk (MTUR-raamwerk) te verhoog en bedrywighede in lyn met die hulpbronne vereis vir suksesvolle beleidsimplementering te beplan. 



Moniteringsmeganismes om die gehalte van vertalings- en redigeringsdiente te verseker, sal ontwikkel word. 



In samewerking met PanSAT sal die Departement van Kuns en Kultuur vordering monitor en met gereelde tussenposes aan alle tersaaklike owerhede verslag doen. 



Beleidshersienings sal gereeld uitgevoer word en aanbevelings vir wysigings, waar nodig, gedoen word sodat begrotings dienooreenkomstig aangepas kan word. 



Die infrastruktuur wat vereis word om die beleid in bedryf te stel, sal in plek gestel word. Dit sluit die instelling van taaleenhede in alle nasionale staatsdepartemente en in die provinsies in om die volgende te bestuur: 





Intra- en interdepartementele mondelinge kommunikasie in alle sfere van regering; 



intra- en interdepartementele skriftelike kommunikasie in alle sfere van regering; 



mondelinge kommunikasie met die publiek; 



skriftelike kommunikasie met die publiek; en 



internasionale kommunikasie, waar toepaslik. 



Ander implementeringsmeganismes wat in bedryf gestel sal word, is 'n Taalgedragskode vir Staatsamptenare, die instelling van die Suid- Afrikaanse Taalpraktisynsraad, 'n Telefoontolkdiens vir Suid-Afrika (TISSA), 'n strategie vir die ontwikkeling van die voorheen gemarginaliseerde tale en 'n MTT-strategie. 



Bykomende regeringsverantwoordelikhede betreffende die implementering van die nasionale taalbeleid is soos volg: 





Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



14





Die ondersteuning van die ontwikkeling van menslike hulpbronne wat vereis word vir die geslaagde implementering van veeltaligheid. 



Die regulering van die taalfasiliteringsprofessie, d.w.s. vertaling, tolking en terminologie-ontwikkeling, deur middel van ontwikkeling en toepaslike wetgewing. 



Die ondersteuning van spesiale herstelpogings en/of -programme vir die gemarginaliseerde inheemse tale, met ander woorde Afrika- tale en die Khoi-, Nama- en San-tale, en Suid-Afrikaanse Gebaretaal/-tale. 



Die ondersteuning van die onderrig en onderwys van alle Suid- Afrikaanse tale op alle skoolvlakke. 











































































































Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



15







GLOSSARIUM





amptelike taal
 
'n  Taal  wat  in  die  regering,  geregshowe,  die  onderwys,  besigheid  en  die
 

 

 
media gebruik word.
 

 

 

 

 

 

 
billikheid
 
Die  eienskap  van  regverdigheid,  onpartydigheid,  gelyke  behandeling;
 
dit
 

 

 
wat regverdig en reg is.
 

 

 

 

 

 

 
erfenistale
 
Tale wat nie inheems is nie maar deur immigrante die land ingebring is.
 

 

 

 

 

 
funksionele
 
Die keuse van 'n bepaalde taal/tale in 'n bepaalde situasie, bepaal deur die
 

 
veeltaligheid
 
konteks waarin die taal gebruik word, d.w.s. die funksie, die gehoor en die
 

 

 
boodskap waarvoor dit aangewend word.
 

 

 

 

 

 
gemarginaliseerde taal
 
Enige amptelike taal wat uitgesluit word van amptelike gebruik of waarvan
 

 

 
die   gebruik   in   formele   opsette   ontmoedig   word   (bv.   die   onderwys,
 

 

 
gesondheidsorg).  "Gemarginaliseerd"  impliseer  gewoonlik  die  lae  status
 

 

 
van   die   taal   en   moontlik   van   die   sprekers.   Byvoorbeeld,   Xitsonga,
 

 

 
Tshivenda, isiNdebele en siSwati word as gemarginaliseerde tale in Suid-
 

 

 
Afrika beskou.
 

 

 

 

 

 
histories benadeelde
 
In   die   Suid-Afrikaanse   konteks   is   dit   tale   waaraan   lae   status   deur
 

 
tale
 
voormalige magsgroepe toegeken is en wat gevolglik nie in die media, die
 

 

 
onderwys  (ná  vroeë  primêre  skool),  of  in  die  publieke  of  ekonomies
 

 

 
beduidende  domeine  gebruik  is  of  vir  gebruik  ontwikkel  is  nie.  Weinig
 

 

 
ondersteuning is gegee aan verbale kunsvorms in hierdie tale. Die tale sluit
 

 

 
inheemse tale, erfenistale en Suid-Afrikaanse Gebaretaal in.
 

 

 

 

 

 

 
inheemse taal
 
'n Taal inheems aan 'n land.
 

 

 

 

 

 

 
leksikografie
 
Die aktiwiteit of professie vir die saamstel van woordeboeke.
 

 

 

 

 

 

 
masjienvertaalstelsels
 
Rekenaarstelsel wat elektroniese teks vertaal van een taal na 'n ander.
 

 

 

 

 

 
mensetaaltegnologieë
 
Die  toepassing  van  taalkennis  op  die  ontwikkeling  van  rekenaarstelsels
 

 

 
wat  mensetaal  in  alle  vorme  kan  herken,  verstaan,  vertolk  en  genereer;
 

 

 
d.w.s.  die  ontwikkeling  van  toepassings  wat  interaksie  tussen  mense  en
 

 

 
rekenaars moontlik maak.
 

 

 

 

 

 
onderrigmedium
 
Die klaskameronderrigtaal  soos  deur  die  leerplan  en  taalbeleid aangedui.
 

 
(geleerdheidstaal)
 
"Geleerdheidstaal"  dui  'n  effense  betekenisskuif  aan  om  die  konsep  in  te
 

 

 
sluit  dat  meer  as  een  taal  gebruik  mag  word  en  dat  leerders  eerder
 

 

 
toegang tot een taal as tot die amptelike medium gebruik.
 

 

 

 

 

 
ontwikkeling van 'n taal
 
Die   bevordering   van   'n   taal   deur   gravisering,   standaardisering   en
 

 

 
uitbreiding van funksies, sodat die taal gebruik kan word in die media, die
 

 

 
onderwys,   regs-   en   administratiewe   stelsels,   ens.,   en   deur   oor   die
 

 

 
algemeen  ruimte  vir  die  publikasie  van  literêre  werke  in  daardie  taal  te
 

 

 
skep.
 

 

 

 

 

 

 








Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002



16





redigering
 
Die aanbring van verbeterings aan die taal en/of styl in skriftelike tekste.
 

 

 

 

 
taalbeleid
 
'n  Amptelike  beslissing/dekreet  oor  die  status  van  verskeie  tale  wat  in
 

 

 
heterogene/veeltalige  gemeenskappe  gepraat  word,  byvoorbeeld  watter
 

 

 
taal  die  nasionale  of  amptelike  taal  sal  wees,  watter  tale  as  streektale
 

 

 
gebruik sal word en wat hulle status sal wees.
 

 

 

 

 
taalbeplanning
 
Taalbeplanning  fokus  op  oplossings  vir  taalprobleme  deur  alternatiewe
 

 

 
doelwitte, middele en uitkomste te formuleer. Dit behels prosesse om tale
 

 

 
deur middel van taalontwikkeling te reguleer en te verbeter.
 

 

 

 

 
taalbewustheid
 
Sensitiwiteit vir hoe taal in die samelewing gebruik word, of die gebruikers
 

 

 
hulle taalregte gegun word, en hoe taal gebruik word om te bemagtig of te
 

 

 
ontmagtig.
 

 

 

 

 
taalbillikheid
 
Die regverdigheid van taalvoorsiening en/of -behandeling van twee of meer
 

 

 
tale. Aangeleenthede, soos die getal sprekers en die status van 'n taal, kan
 

 

 
beleid om die gebruiksdomeine van 'n bepaalde taal te bepaal, beïnvloed.
 

 

 
Lg. gebruik is nie noodwendig gelyk nie. “'n Staat kan nie die tale van al sy
 

 

 
burgers  nuttig  gebruik  nie  en  hom  gevolglik  op  die  een  of  ander  manier
 

 

 
streng beperk tot praktyk slegs in sy amptelike taal/tale nie, of sekere tale
 

 

 
nie" [vertaling van Turi, 1993:14 – 15].
 

 

 

 

 
taaleenhede
 
Regerinsagentskappe  in  departemente  en  provinsies  wat  handel  met  die
 

 

 
taalspesifieke  kwessies  van  daardie  departement  en/of  provinsie  en  wat
 

 

 
spruit  uit  die  Nasionale  Taalbeleid,  en  wat  oor  taalaangeleenthede  met
 

 

 
ander departemente skakel.
 

 

 

 

 
taalgelykheid
 
Ingevolge die Grondwet moet alle tale gelyke respek ontvang. Die gelyke
 

 

 
behandeling  van  twee  of  meer  tale,  veral  met  betrekking  tot  amptelike
 

 

 
domeine   van   die   samelewing,   byvoorbeeld   wetgewing,   geregtigheid,
 

 

 
publieke administrasie en opdraggewing.
 

 

 

 

 
taalregte
 
Wette wat die situasie bepaal waarin burgers taalkeuses kan uitoefen.
 

 

 

 

 
terminologie
 
Gestandaardiseerde tegniese terme vir 'n bepaalde vakgebied vasgestel.
 

 

 

 

 
tolking
 
Die handeling om 'n  uiting in 'n  brontaal in  gesproke vorm in die doeltaal
 

 

 
oor te sit.
 

 

 

 

 
tweetaligheid
 
Die  praktyk  om  twee  tale  te  gebruik  (nie  noodwendig  met  ewe  veel
 

 

 
vaardigheid in albei nie).
 

 

 

 

 
veeltaligheid
 
Die  gebruik  van  drie  of  meer  tale  deur  'n  individue  of  'n  groep  sprekers,
 

 

 
byvoorbeeld die bewoners van 'n bepaalde streek of 'n nasie.
 

 

 

 

 
vertaling
 
Die  handeling  om  'n  bronteks  in  skriftelike  vorm  van  een  taal  in  'n  ander
 

 

 
(doel-) taal oor te sit.
 

 

 

 

 


















Raamwerk vir die Nasionale Taalbeleid - 2002

