

Weeds (Maize) 	 								Afrikaans



Onkruid en onkruidbeheer



Instructions: 

Folio strap: Onkruidbeheer

Byline: Inligting bekom vanuit die Inleiding tot Mielieproduksiehandleiding



Enige plant wat groei waar dit nie moet nie, word ‘n onkruid genoem. Onkruid is die vyand van die graanprodusent – hulle kompeteer vir vog, lig en voedingstowwe, hulle skep probleme tydens oes, hulle kan graan besmet of vlek, hulle sade kan giftig wees en hulle kan siektes en plae huisves wat die gewas kan beïnvloed.



Onkruidsade word gewoonlik deur vinnige en oorvloedige saadproduksie gekenmerk, hulle sprei maklik en groei vinnig. Hulle het gewoonlik baie goed ontwikkelde wortelsisteme en hulle pas goed aan by meeste toestande. Hulle is moeilik om te beheer, gehard en kompeteer aggressief met die gewas vir vog en voedingstowwe. Hulle is baie gou volwasse en reproduseer vinnig.



Die wortels van onkruide penetreer dieper en meer uitgebrei as die wortels van die gewas, dus is hulle in staat om makliker te oorleef. Meerjarige onkruide het dikwels groot hoeveelhede voedselreserwes in hulle ondergrondse dele – wat weer eens veroorsaak dat hulle moeilike groeitoestande kan weerstaan. 



Onkruide kan hulle lewensiklus in minder as een jaar voltooi – of in ‘n seisoen (ook eenjarige onkruide genoem), of hulle kan leef vir meer as een jaar, maar minder as twee jaar (tweejarige onkruide), of hulle kan vir ‘n lang tyd leef en jaarliks reproduseer (meerjarige onkruide). 



Waarom is dit belangrik om onkruid in gewasse te beheer?

Onkruid kompeteer met gewasse vir grondvog, voedingstowwe, spasie en lig. Hierdie kompetisie bemoeilik gewasgroei en strem ontwikkeling, wat opbrengs verlaag. Dit kan saad besmet, verlaagde opbrengs tot gevolg hê of verlaagde saadkwaliteit teweeg bring. Die kompetisie deur onkruide verskil van gewas tot gewas – dit kan so min as 10% of soveel as 98% verlaging in opbrengs veroorsaak.



Onkruid begin met die gewas kompeteer die oomblik wanneer dit ‘n permanente wortelstelsel ontwikkel het – wanneer hulle verby die saailing-fase is. Onkruidbeheer moet gerig wees op die voorkoming van kompetisie met die gewas, sowel as die voorkoming van saadvorming wat kompetisie met ‘n ander gewas op ‘n later stadium tot gevolg sal hê. 



Metodes van onkruidbeheer

Daar is twee maniere van onkruidbeheer – meganies en chemies. In baie gevalle is bewerking alleen, of ‘n kombinasie van onkruiddoder en bewerking, die mees ekonomiese sisteem om te gebruik. Die keuse van die metode sal afhang van die produsent se voorkeur, ondervinding en kennis, tesame met die beskikbaarheid van arbeid, trekkers en toerusting – veral met plant en onmiddellik daarna. 



Die bestuur van onkruid moet gesien word as ‘n integrale deel van mielieverbouing en moet toegepas word tydens grondbewerking, saadbed-voorbereiding, plant en gedurende die groeistadiums van die gewas.



Meganiese onkruidbeheer

Meganiese onkruidbeheer sluit in die kap van die onkruid om saadvorming te voorkom, of meer belangrik, die ontworteling van onkruid met die gebruik van ‘n trekker en toepaslike implement. Meganiese onkruidbeheer is gepas voor plant (hou die land skoon) en gedurende die vroeë stadium van gewasontwikkeling. Dit is belangrik om die onkruid te beheer terwyl hulle klein is om kompetisie vir grondvog te voorkom, sowel as wanneer die gewas klein is om te verseker dat bewerking nie die wortels van die gewas beskadig nie. Gevestigde onkruide het ‘n goed ontwikkelde wortelstelsel en effektiewe beheer sal aggressief moet wees en kan dus die wortels van die gewas beskadig. 



Chemiese onkruidbeheer

Daar is chemiese vloeistowwe, korrels en gasse wat vir onkruidbeheer gebruik kan word. Die korrekte dosis en tydsberekening met die gebruik van onkruiddoders is van groot belang.



Hierdie chemikalieë kan geklassifiseer word as selektiewe of nie-selektiewe onkruiddoders. Die nie-selektiewe onkruiddoders dood enige plant waarmee hulle in aanraking kom, terwyl die selektiewe onkruiddoders ‘n spesifieke onkruid kan dood sonder om die gewas te beïnvloed. Die nie-selektiewe onkruiddoders kan ook aangewend word tussen die rye van die gewas en dus die onkruid dood sonder om die gewas te beïnvloed. 



Onkruiddoders werk op twee maniere – sommige werk met kontak, terwyl ander sistemies werk. Kontak-onkruiddoders affekteer die plantweefsel waarmee hulle in aanraking kom, dus word die beste resultate verkry deur deeglike benatting. Dit is gewoonlik meer effektief op klein of jong onkruid. Sistemiese onkruiddoders word in die plant vervoer en indien dus slegs op die blare gespuit word, sal die wortels beïnvloed word. 



Onkruiddoders kan verder geklassifiseer word in voor-opkoms (voordat die gewas bokant die grond verskyn) en na-opkoms (nadat die gewas bokant die grond verskyn). Voor-opkoms onkruiddoders word deur die ontwikkelende wortels geabsorbeer, terwyl die na-opkoms onkruiddoders deur die blare en stamme geabsorbeer word. 



Daar is baie voordele van chemiese beheer eerder as meganiese beheer – mees algemeen is:

Dit is baie vinniger om vir onkruidbeheer aan te wend as om die onkruid meganies te verwyder.

Baie chemikalieë het ‘n lang effek, wat beteken dat jy nie nodig het om verdere stappe te neem om onkruid te beheer nie.

In nat seisoene, wanneer dit te nat is vir ‘n trekker om in die lande te kom, is chemiese beheer baie meer effektief (‘n trekker met ‘n spuit kan makliker die land inkom as ‘n trekker wat ‘n skoffel trek).

