Weeds (Maize) (995 words)								Afrikaans
Oorweeg 'n spuit vir onkruidbeheer
Instructions:
Folio strap: Onkruidbeheer
Byline: Artikel voorsien deur 'n afgetrede produsent
Na die plantseisoen van Oktober tot middel Desember 2010, het die meeste mielieproduksie gebiede hoë reënval met kort tussenposes ontvang. Op baie plase het die nat toestande dwarsdeur die seisoen doeltreffende meganiese onkruidbeheer tussen die rye verhoed.
Produsente wat nie chemiese onkruidbeheer toegepas het, of nie gespuit het voor opkoms, of nie chemikalieë na opkoms kon toedien nie, sal waarskynlik 'n groot onkruidprobleem hierdie komende seisoen hê. Onkruide wat saad kon skiet, sou waarskynlik miljoene sade in die lande versprei voor die komende somer produksieseisoen.
Produsente wat minimum bewerking toepas, het ook onkruidbeheer probleme in die lande ondervind indien die toerusting nie gebruik kon word vir die bespuiting van die beplande onkruidbeheer program vir onkruide voor en/of met planttyd nie. Dit is dus noodsaaklik om die lande wat geplant gaan word te evalueer, sodat die verspreidingspatroon van potensiële probleem onkruide geïdentifiseer kan word. Die korrekte chemiese en spuitprogram kan dan saam met jou onkruidbeheer agent of konsultant beplan word.
Met die huidige nat toestande en reën wat reeds gedurende Augustus ontvang is, is dit waarskynlik dat die nat toestande weer beide meganiese en chemiese onkruidbeheer hierdie jaar kan belemmer. Dit word dus aanbeveel dat indien jy slegs meganiese onkruidbeheer toegepas het, 'n besluit om 'n geskikte onkruidspuit aan te koop, oorweeg word.
Tipes spuite
Driepunt trekkerspuit
Baie verskillende tipes spuite wat geskik is vir montering op jou trekker se driepunt, insluitend tenks van 600 liter en 1 000 liter en spuitarms van 12 meter tot 16 meter, is op die plaaslike mark beskikbaar. Eenhede met tenks van 1 000 liter moet slegs gebruik word op trekkers wat 'n driepunt kapasiteit van 1,5 ton of meer het.
Die plaaslik vervaardigde eenhede is mededingend geprys en onderdele is vrylik beskikbaar gedurende die seisoen. Indien jy 'n ingevoerde eenheid aankoop, moet jy seker maak dat die agent die beskikbaarheid van vervangingspompe of pomp diafragmas kan waarborg en ‘n reeks spuitpunte aanhou. Elke aanwending vereis spesifieke spuitpunte wat verskillende spuitpatrone en openinge het. Die druk verstellings vir elke spuitpunt is baie belangrik om te verseker dat die regte druppelgrootte vir 'n spesifieke aanwending verkry word vir optimale effektiwiteit van die onkruiddoder wat gebruik word.
Sleep eenhede
As jy ‘n sleep eenheid kan koop, het dit ‘n paar voordele bo 'n driepunteenheid wat gemonteer word. Die slytasie op die hidrouliese stelsel van driepunte word uitgeskakel en die trekker en spuit vorm 'n gebalanseerde meganiese eenheid wat meer doeltreffend is en minder grondverdigting veroorsaak. Die 2 000 liter eenhede stel jou ook in staat om groter oppervlakte te spuit voordat 'n tenkmengsel hervul moet word. Hou die gemak van die aanpassing van die wielspasiëring op die sleep-eenheid saam met die trekker vir jou planter se ryspasiëring in gedagte, asook maklike toegang tot die beheerkontroles vanaf die operateur se sitplek.
Die normale minimum wateraanwending vir spesifieke tenkmengsels is sowat 200 liter per hektaar om behoorlike bedekking van die grondoppervlak te verseker. 'n Driepunt tenk met 'n kapasiteit van 600 liter sal dus drie hektaar dek voordat die chemikalieë weer gemeng en gevul moet word vir die volgende aanwending.
Wanneer die beplanning van die spuitprogram gedoen word, neem in ag die gebied wat bespuit gaan word, tyd beperkings, beskikbaarheid en toegang tot geskikte water, die aantal trekkers en toerusting beskikbaar, insluitend 'n sleepwa met minstens 'n 5 000 liter tenk kapasiteit. Dit is ook raadsaam om die water sleepwa toe te rus met 'n pomp met 'n groot genoeg kapasiteit sodat die driepunt tenk of sleep tenk vinnig hervul kan word.
Goeie beplanning en instandhouding van al die toerusting moet versigtig gedoen word sodat dit probleme in die land gedurende die plantseisoen beperk. Winsgewende moderne gewasboerdery kan nie bereik word sonder 'n goeie kennis van chemiese onkruidbeheer en die doeltreffende toepassing daarvan deur die korrekte spuittoerusting nie. Gebruik altyd 'n ervare agent of konsultant om te help met die beplanning en toepassing van onkruiddoders en insekdoders.
As jy nie genoeg beskikbare trekkerkrag het of die kapitaal wat benodig word nie, oorweeg dan 'n kontrakteur met 'n groter spuit. Kwotasies van kontrakteurs wissel tussen R65 en R100 per hektaar plus diesel. 'n Groot oppervlak van die land kan gedek word gedurende die dag en nag met die hulp van GPS-stelsels. Maak egter seker voor die aanvang van enige reëling dat die kontrakteur in staat is om te kom op die tyd wanneer dit nodig is en dat elke party baie duidelik weet watter toerusting benodig word en deur elke party voorsien kan word. Sommige kontrakteurs het nie hul eie tenks of trokke nie. As jy nie die volume water wat benodig word deur die kontrakteur se spuit kan voorsien nie, sal die verlies aan tyd en doeltreffendheid lei tot konflik en frustrasie van beide partye.
Die koste van die verkryging van jou eie toerusting en die gerief om te kan spuit wanneer nodig per hektaar moet opgeweeg word teen die totale koste van die bespuiting gedoen deur 'n kontrakteur. 'n Bykomende voordeel is dat die meeste kontrakteurs ingelig is oor die chemiese en tenkmengsels wat gebruik word, of werk nou saam met onkruiddoder konsultante.
Dit is in jou belang om enige bespuiting ten alle tye te monitor. Dit is ook raadsaam om te praat met verskeie chemiese maatskappye om koste van chemikalieë per hektaar te vergelyk en die vlak van dienste wat verskaf sal word, te evalueer. Onthou dat enige chemiese verskaffer baie besig is gedurende die seisoen en dalk nie in staat sal wees om genoeg aandag te kan gee met betrekking tot hulp met tenkmengsels en byvoegmiddels en monitering van die toedienings hoeveelhede nie. Sonder ervaring is dit baie maklik, selfs met die beste bedoelings, om te veel of te min chemikalieë aan te wend.
