Sustainable (Maize)										Afrikaans

	

Volhoubare boerdery: hoekom neem dit so lank?



Instructions: 

Folio strap: Volhoubare boerdery

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir produsente 



Ons streef daarna om swart kommersiële produsente te ontwikkel, wat instaat sal wees om onafhanklik en volhoubaar te boer. Dit is moeilik genoeg in die huidige ekonomiese omgewing – selfs al is jy toegewyd en jou bedoelings eerbaar. Indien landbou in Suid-Afrika suksesvol en volhoubaar moet wees, moet ons ware transformasie in die industrie hê sodat ons uit een mond kan praat. 



Boerdery is nie maklik nie en produsente bestuur ‘n wye spektrum met groot risikos. 

Lae pryse vir graan plaas hoë druk op die winsgewendheid van gewasproduksie.

Rentekoerse is hoog en masjieneriekoste is uitermatig hoog.

Ervare kommersiële produsente sukkel – wat dan van ontwikkelende produsente? Hulle sukkel selfs meer.



Hoe kan die regering help?

Op hierdie stadium is die winsgewendheid van graanproduksie van so aard dat ontwikkelende produsente nie graan volhoubaar kan produseer nie. Ons glo dat hierdie nie ‘n permanente situasie is nie en dat pryse van kommoditeite sal toeneem. Op die kort termyn moet ons egter finansiële bystand aan graanprodusente gee in die vorm van ‘n toelaag – om hulle by te staan met insetkoste of met ‘n bonus vir tonne geproduseer. Die voordeel van so ‘n sisteem sal wees dat jy die wat presteer beloon– dit is ‘n manier om die produsente by te staan wat die vermoë en toegewydheid het om volwaardige kommersiële produsente te word. 



‘n Ander groot probleem vir ontwikkelende produsente is die toestand van trekkers en implemente – ons benodig ‘n vorm van finansiële ondersteuning, sodat produsente hulle toerusting kan vervang. Daar is ‘n paar regeringsdepartemente wat trekkers en toerusting aan groepe produsente verskaf. Dit kan ‘n kort termyn oplossing wees, maar daar is egter baie opleiding nodig, sodat produsente kan leer hoe om hierdie toerusting te bestuur. Wanneer ‘n groep iets besit en gebruik, neem niemand verantwoordelikheid nie en niemand is verantwoordbaar nie – daar is baie gevalle waar toerusting aan groepe gegee is en dit dan verwaarloos is tot op die punt van totale disintegrasie. Dit is nie ‘n volhoubare praktyk nie.



Voorligtingsbeamptes moet heropgelei en gemotiveer word – daar is ‘n groot aantal van hierdie beamptes en hulle moet produsente in die veld bystaan. 



Die rol van agribesighede

Een van die grootste uitdagings vir ontwikkelende produsente is die toegang tot produksiekrediet. Baie het grond, hulle het masjienerie (nie almal in goeie toestand nie), hulle word opgelei en bygestaan, maar hulle benodig fondse. Die totale koste om ‘n gewas te produseer is baie hoog – tussen R4 000 en R5 000 per hektaar (afhangende van watter gewas, waar ens.). Aanvanklik was ons baie opgewonde oor die deelname van agribesighede in die voorsienning van produksiefinansiering vir ontwikkelende produsente en ons moet byvoeg dat daar nog agribesighede is wat waarlik ondersteuning verleen aan produsente wat oppad is na kommersiële boerdery. 



Na ons mening moet ondersteunende agribesighede soos volg te werk gaan:

Produsente insluit in alle onderhandelings;

Produsente inlig en bemagtig;

Produsente bystaan met produksielenings teen die laagste moontlike rentekoerse;

Afslag onderhandel vir ontwikkelende produsente by insetmaatskappye;

Produsente ondersteun met voorligtingsdienste – gebruik ervare en gekwalifiseerde mense;

Werk met instansies wat produsente oplei en ondersteun;

Help produsente om hul graan teen die beste pryse te verkoop;

Help produsente om hulle trekkers en implemente op te gradeer en in stand te hou;





Wat van die gebruik van landboukontrakteurs?

Een van die maklikste maniere om grond in produksie te kry, is om die dienste van groot landboukontrakteurs te gebruik. Dit is oor en oor probeer met die verskoning dat die kontrakteur slegs in ‘n vroë stadium gebruik sal word en dat die produsent dan later die werk self sal doen. Die praktyk het geleer dat dit nie gebeur nie, om die volgende redes:

Die produsent is nie aktief betrokke nie terwyl die kontrakteur die werk doen;

Die kontrakteur is te haastig om vaardighede oor te dra;

Die kontrakteur is nie noodwendig in staat om ander te bemagtig en op te lei nie;

Die produsent maak nie genoeg wins om instaat te wees om sy eie trekkers en toerusting aan te koop nie.



Nadele verbonde daaraan om ‘n kontrakteur te gebruik

Verhoogde produksiekoste.

Geld wat op kontrakwerk gespandeer is, kon liewer op opgradering en instandhouding van die trekkers en implemente van die produsent gebruik word.

Die produsent is nie betrokke in die boerderyproses nie en word nie bemagtig om alleen te boer nie. 

In ons droë omgewing is daar dikwels slegs ‘n kort venster van geleentheid vir verskeie bewerkingsoperasies. Wanneer ‘n kontrakteur vir ‘n groot area gebruik word, word hierdie periode dikwels gemis, wat dan die produsent sy gewas kos (laat plant en laat spuit).

Die kontrakteur word per hektaar betaal en word nie beloon vir die kwaliteit werk nie – of die produsent ‘n wins maak of nie, die kontrakteur kry sy geld. Kwaliteitbeheer ontbreek – ook as ‘n resultaat van die grootte van die projek. 

Daar is bevoegde swart produsente. Hierdie produsente behoort grond te kan huur by ander wat nie belangstel of bevoeg is om self te boer nie. Baie van die beskikbare grond word tans deur agribesighede bewerk en is daarom nie beskikbaar vir ander swart produsente nie. Bevoegde produsente behoort hierdie grond te kan gebruik en so hulle eie boerderye uit te brei. 

In die geval van produsente wat geen toerusting het nie, is die argument dat hulle genoegsame kapitaal bymekaar kan maak, indien daar vir hulle geboer word, sodat hulle later alleen kan boer. Daar is geen bewys om hierdie argument te staaf nie – winsmarges in graanproduksie is baie klein en die gebruik van kontrakteurs verminder winste verder. 



Wat glo ons kan werk?

Alle rolspelers moet integriteit hê en daarna streef om produsente te ontwikkel – boerdery gaan meer oor die produsent as oor die grond. Produsente wil self boer en wil nie dat daar vir hulle geboer word nie.

Laat ‘n produsent toe om te begin met wat hy het – ‘n klein begin op min grond is veiliger. Onthou dat die persoon wat sy grond wil gebruik tot nou toe oorleef het op sy inkomste. Indien hy ‘n klein wins per hektaar op die beskikbare grond kan maak, is dit addisionele geld wat hy of sy nie andersins sou gehad het nie. Deur klein te begin en risikos te beperk, die regte ding reg te doen, kan die produsent groei in sy vaardighede en selfvertroue. 

Moet nie die produsent forseer om van ‘n kontrakteur gebruik te maak nie, help hom eerder om sy toerusting instand te hou en te boer met dit wat hy op sy eie kan bestuur. Dit sou beter wees om die grond wat hy nie kan gebruik nie uit te verhuur, terwyl hy groei in die besigheid.

Die gebruik van ‘n mentor is uitstekend, maar daardie persoon kan nie sommer enigiemand wees nie. ‘n Mentor is iemand wat opreg geïntereseerd is in die ontwikkeling van die persoon wat hy help, wat tyd sal neem om kennis en vaardighede oor te dra en geduldig en ondersteunend sal wees. ‘n Mentor-leerling verhouding moet goed wees – gebaseer op wedersydse vertroue en respek en dit is belangrik dat beide partye gelukkig is in die verhouding, omdat dit is wat dit is: ‘n verhouding.

Hou die produsente ingelig en betrokke en moet nie besluite neem sonder hulle wat hulle kan beïnvloed nie. “Niks vir ons, sonder ons” is ‘n slagspreuk van ‘n organisasie vir gestremde mense en dit is baie toepaslik hier.

Staan produsente by om ‘n volledige boerderyopname te doen van hulle grond, trekkers, toerusting, masjienerie, lewendehawe, skuld, bates ens. Ons moet produsente holisties help en hulle moet verstaan waaroor dit gaan. Byvoorbeeld: hoeveel kW het die produsent en wat kan hy met daardie kapasiteit bestuur? 

Maak seker dat die produsent deel van ‘n opleidings-en ontwikkelingsprogram is. Om ‘n volwaardige kommersiële produsent te ontwikkel, is ‘n langtermyn proses en baie verskillende instansies kan bydra tot hierdie proses. 

Beoordeel die kwaliteit van die opleiding wat voorsien word. Sommige geakkrediteerde opleidingverskaffers doen nie goeie werk nie, omdat hulle ook geen ondervinding in boerdery het nie. Jy kan nie boerdery uit ‘n boek leer nie!

Hou die projek klein en hanteerbaar. Ontwikkelende produsente het tyd en ondersteuning nodig en indien ‘n projek te groot word, loop dinge skeef en die projek misluk. Dit lyk miskien nie indrukwekkend om te sê dat jy 15 tot 20 produsente ondersteun nie, maar dit is hanteerbaar. Baie skemas van meer as 50 produsente (van die begin af) het misluk, omdat daar eenvoudig nie genoeg mannekrag is nie. Wanneer die projek eers aan die gang is, kan die getalle elke jaar vergroot word. 







