Sunflower



Sonneblom: Siektes en peste



Instruksies:

Folio strap: Oliesade

Bylyn: Inligting verkry vanuit die Graan SA handleiding: Sonneblomproduksie

Invoegsel: Geborg deur die Olie en Proteïensade Ontwikkelingstrust

Foto 1: Snywurm

Foto 2: Gespikkelde mieliekewer

Foto 3: Harpalus kewer

Foto 4: Omvangryke skade is aan die koppe aangerig en ‘n hoë infestasie sal die sonneblomproduksie onekonomies maak.



Slegs sekere van die insekte wat by sonneblomplante gevind word kan as peste geklassifiseer word – daar is verskeie insekte wat op die plant gevind word wat geen skade aan die plant aanrig nie. Die insekte wat ‘n gevaar inhou vir sonneblomme kan leef van die geplante saad, die ontkiemende saailing, die saailing wat pas opgekom het, die ontwikkelende plant, wortels of die ontwikkelende pitte.



Insekbeheer maak hoofsaaklik staat op insekdoders (chemikalieë wat giftig is vir die insek), wat toegedien moet word op die regte tyd, teen die korrekte dosis, en baie belangrik, die korrekte gif vir die spesifieke pes. Daar is insekdoders wat geregistreer is om gebruik te word op alle insekte wat die sonneblomplant aanval. Indien jy die geregistreerde chemikalieë teen die aanbevole dosis gebruik, is jy so te sê verseker van goeie resultate. ‘n Geïntegreerde benadering tot insekbeheer is gewoonlik die effektiefste – metodes word gekombineer om die insekpopulasie te onderdruk en insekskade te beperk.



Insekte wat van die saad en saailinge leef

Daar is verskeie insekte wat van die saad en saailinge leef – soos draadwurms, larwes van die gespikkelde mieliekewer en die snywurm (om maar ‘n paar te noem). Hierdie insekte verminder die opgekome plantpopulasie en indien hulle nie beheer word nie, moet die gewas herplant word. Behoorlike beheer van hierdie insekte hang af van die korrekte toediening van insekdoders. Die beheer van hierdie peste is gewoonlik nie so duur nie en alle moontlike sorg moet getref word om skade aan die oes op hierdie vroeë stadium te verhoed.



Verbouing gedurende die winter kan help met die beheer van die meeste van hierdie insekte aangesien hulle op gasheerplante, wat gewoonlik onkruid is, oorwinter. ‘n Periode van 35 dae of langer sonder ‘n gasheerplant sal baie potensiële probleme uitskakel.



Die saad wat geplant moet word kan met insekdoder behandel word, of insekdoder kan tydens planttyd in die vore toegedien word. Snywurms kan beheer word deur die verspreiding van lokaas bo op die grond in die ry. Die mielieland kan ook met ‘n toepaslike insekdoder bespuit word.



Insekte wat op dele van die sonneblomplant leef

Volwasse gespikkelde mieliekewers (astylus atromaculatus), snywurms (agrotis segetum), ‘doodhouertjie’ kewer (protostrophus sulcatifrons) en die harpalus kewer-spesie veroorsaak groot skade aan saailinge en kan die populasie van lande met ‘n goeie opkoms afbreek tot onekonomiese produksievlakke.



Die Afrika bolwurm (helicoverpa armigera) veroorsaak skade aan die sonneblomkop en kan die weg baan vir infestering met swamagtige infeksies soos rhizopus microsporus. Suigende insekte soos nysius nataensis kan ook skade aanrig aan die ontwikkelende sonneblomsaad.



Daar is verskeie insekdoders wat geregistreer is vir die beheer van verskeie insekte wat die plant aanval. Dit is egter noodsaaklik om te weet watter insek die skade aanrig en om dan die korrekte insekdoder teen die geskikte aanwendingskaal op die optimale tyd te gebruik. Dit varieer natuurlik afhangend van die insek en die ontwikkelingsstadium van die plant.



Deur pesbeheer toe te pas kan verliese in opbrengs verlaag word, maar dit kom teen ‘n prys en die produsent moet die vergelykende koste van die regstelling hiervan in gedagte hou. Die vlakke waarteen pesbeheer ‘n noodsaaklikheid word, is reeds bepaal. Daar is ‘n punt waar dit noodsaaklik is om geld te spandeer om die pes te beheer, andersins sal die skade aan die oes die koste van die regstelling verbysteek.

 



Voorkomende beheer

Dit is nie aanvaarbare praktyk om insekdoders te spuit by oeste waar die vlak van infestering nog nie kritiese afmetings aangeneem het nie. Die rede hiervoor is dat die natuurlike indringers op dié manier vernietig word en dat weerstand teen die insekdoder opgebou kan word. Chemikalieë is gevaarlik vir die omgewing en moet slegs gebruik word wanneer dit absoluut noodsaaklik is.



Bewerking voordat die gewas geplant word, is ‘n suksesvolle manier om voorkomende bestuur van insekte toe te pas. Die vlakke van die insekinfestasie moet egter goed dopgehou word om behoorlike ekonomiese beheer toe te pas.



In alle opsigte is dit noodsaaklik om ‘n geïntegreerde aanslag tot pesbeheer te hê – gebruik die metode wat die beste is op daardie stadium vir daardie spesifieke gewas. Die beheer van insekte by gewasse is ‘n baie belangrike aspek van oesbestuur aangesien dit ‘n betekenisvolle effek het op opbrengs en gevolglik op die ekonomiese lewensvatbaarheid van produksie.



Sonneblomsiektes

Plantsiektes verlaag die opbrengs en kwaliteit van die oes en kan gesondheidsprobleme veroorsaak vir die diere of mense wat daardie plant eet of verbruik. Die plantsiektes word veroorsaak deur swamme, bakterieë en virusse. Dit kan al die dele van ‘n plant affekteer – die wortels, stamme, blare, blomme en die saadkop. Die verskeie siektes vereis verskillende toestande vir hul ontwikkeling.



Die siekte kan slegs ontwikkel indien die toestand in die omgewing geskik is, die gasheerplant beskikbaar is, en die siekte teenwoordig is. Hierdie drie aspekte kan die driehoek van die siekte-infeksie genoem word. Indien enige daarvan nie teenwoordig is nie, sal die siekte nie ontwikkel nie. ‘n Siekte wat in ‘n spesifieke seisoen in ‘n spesifieke gebied voorkom, kan afwesig wees in dieselfde gebied die volgende seisoen bloot omdat die omgewingstoestande nie teenwoordig is nie. Weens die hoë insetkoste van sonneblomproduksie, is dit gewoonlik onekonomies om die siekte chemies te beheer. Sekere siektes is altyd teenwoordig maar ontwikkel nie omdat een of albei van die driehoekkante nie teenwoordig is nie. Die siektes word beheer deur die toepassing van voorkomende maatreëls. Daar is verskeie aspekte wat oorweeg kan word by voorkomende siektebeheer.



Plantweerstand

Sekere kultivars is ontwikkel wat weerstandbiedend is tot siektes. Die weerstand is egter van toepassing op ‘n spesifieke siekte en is nie ‘n algemene siekteweerstand nie. Dit is belangrik om die oorheersende siekte te identifiseer en dan die geskikste kultivar te kies.



Chemiese beheer

Chemiese beheer vereis die toepassing van geregistreerde swam en bakteriese geneesmiddels vir die spesifieke siekte onder bepaalde toestande. Die koste van die middel moet altyd oorweeg word voor die toepassing daarvan. Dit is raadsaam om jou naaste landbouchemiese verteenwoordiger of landbou-koöperasie te kontak en advies in te win oor die gebruik van chemikalieë.



Produksiepraktyke

Grondbewerking kan ook belangrik wees in die beheer van siektes – sommige siektes word gehuisves in die stoppelland en die bewerkingstelsel behoort dus inagneming van die onderskeie heersende siektes in te sluit.



Die doel van wisselbou is om ‘n redelike tydperk toe te laat vir die ontbinding van plantmateriaal. Dit is belangrik om vas te stel watter siektes deur watter plante gehuisves is om te verseker dat die probleem aangespreek word deur die bepaalde wisselbou.



Die plantdatum sal ook ‘n uitwerking hê op die heersende voorkoms van sekere siektes – deur óf vroeër óf later te plant, kan die risiko verlaag word vir die ontwikkeling van daardie siekte.



Stresbeheer

Spesifieke stresfaktore kan plantsiektes beïnvloed. Faktore wat stres in plante veroorsaak sluit in vog (te veel of te min), hitte, koue, ongebalanseerde voedingstowwe, grondsuurheid en insekskade.



Optimum siektebeheer vereis die uitskakeling van ten minste een van die bene van die siekte-driehoek. Dit word die beste bereik deur ‘n geïntegreerde siektebeheerstelsel te gebruik.



Algemene siektes

Blaarvratsiektes – Septoria helianthi en Alternaria

‘Vratjies’ of ’puisies’ wat deur Septoria veroorsaak is, word gewoonlik beperk tot die blare. Altenaria word gekenmerk deur die formasie van donker vratjies of ‘puisies’ op die stamme, middelnerf van die blaar en die agterkant van die sonneblomkop. 



Roes – Puccinia helianthi

Die virus wat hierdie siekte veroorsaak word versprei deur blaarspringers en dit is ‘n aansienlike probleem in die Laeveld-gebied en waar koring geproduseer word. Plante word geïnfekteer kort nadat hulle opgekom het, en word dan belemmer en sal nie saad produseer nie.



Sklerotinia – Sklerotinia sklerotiorum (stam- en kopvrot)

Dit is waarskynlik die skadelikste van al die kommersieel belangrike siektes en word beheer deur wisselbou. Die aanval op die stamme veroorsaak dat groot verswakte dele op die stam net bo grondvlak ontwikkel en dit lei dan daartoe dat die plant met sterk winde buig en ‘opeenbondel’. Die koppe raak dan die grond en dit gee aanleiding tot verdere swaminfeksies voordat die oes begin.







































