Successful (Maize)									Afrikaans

Hoe om suksesvolle boerdery te vergemaklik 

– doelwitte en oogmerke vir jou boerderybesigheid

Instructions: 

Folio strap: Bestuur

Byline: Inligting saamgestel vanuit die Plaasbestuur vir Wins Handleiding deur Marius Greyling



Een van die eerste stappe vir effektiewe bestuur van ‘n boerdery besigheid, is om jou doelwitte te bepaal. “’n Onbekende roete kan nie gevolg word sonder om min of meer te weet wat jou verlangde doelwit is nie.” Produsente word dikwels gekritiseer omdat hulle traag is om doelwitte vir hulle besigheid of hulleself te stel.

Sommige van die redes wat aangebied word vir hierdie houding, is:

Dit is moeilik om doelwitte vir ‘n boerdery te formuleer, omdat toestande onseker en onvoorspelbaar is.

Dit neem te veel tyd om behoorlike doelwitte vir ‘n boerdery te stel.



Alhoewel beide redes ‘n tikkie waarheid bevat, kan die betekenis van doelwitstelling – ten spyte van probleme en tyd betrokke – nie genoeg beklemtoon word nie. Doelwitte gee rigting en sin aan bestuursaksies en daarsonder is dit nie moontlik om sukses of mislukking te bepaal nie. Sonder ‘n doelwit is effektiwiteitsbepaling sinneloos, omdat dit onmoontlik is om ‘n teiken wat nie bestaan nie, te tref. Die feit dat dit moeilik en tydrowend is om teikens daar te stel, maak dit nie minder belangrik nie, dit beklemtoon eerder die feit dat dit spesiale aandag verg. 

Doelwitstelling binne ‘n boerderybesigheid bied soms probleme. Die rede daarvoor kan gevind word in die feit dat boerdery die eienaar-produsent se loopbaan is, maar ook ‘n leefwyse. Sy huishouding is ‘onlosmaaklik geïntegreer, met sy besigheid as loopbaan. Alhoewel dit oor die algemeen aanvaar word dat die hoofdoel van ‘n kapitalistiese besigheid maksimum wins oor die langtermyn behels, is dit nie noodwendig die doelwit van die boerdery nie, as gevolg van ‘n geïntegreerde leefwyse en loopbaan. Die algemene doelwitte van hierdie eienaar-produsente kan daarom in die breë gedefinieer word as die strewe na die hoogste moontlike wins, op voorwaarde dat hierdie strewe na wins nie ten koste van ‘n gelukkige familie en leefwyse sal geskied nie.


Die bostaande doelwitte is vaag in die sin dat hulle nie kwalifiseerbaar is nie en op verskillende maniere geïnterpreteer kan word. Die definisie is egter waar in die praktyk, waar dit bevind is dat geen twee individuele persone dieselfde waardesisteme het nie en hulle siening van ‘n gelukkige familie en leefwyse daarom verskil. Die omvang en duur van die strewe na wins sal daarom verskil van een produsent na ‘n ander, afhangende van sy persoonlike omstandighede en die omvang waartoe hy bereid is om die strewe na wins op te offer ten gunste van ander prioriteite. Wat egter van kardinale belang vir die individuele produsent is, is dat hy in staat moet wees om te bepaal wat sy ander prioriteite hom kos in terme van wins wat hy opoffer, want alleen dan sal hy ŉ rasionele keuse tussen die prioriteite kan maak.

Die gemeenskap verwag van die boerderysektor om ten minste kos en basiese materiale teen redelike pryse te voorsien – binne die beperkings van ŉ bepaalde land – en om dit volhoubaar te doen, wat sal impliseer dat optimale gebruik van natuurlike hulpbronne oor die langtermyn sal plaasvind. Algemene doelwitte is egter nie voldoende nie. Elke aktiwiteit of sub-aktiwiteit benodig sy eie spesifieke doelwit of sub-doelwit, maar moet altyd in ooreenstemming met die algemene hoofdoelwit wees. Die produsent wat byvoorbeeld besluit om mielies te produseer, moet ‘n spesifieke doelwit vir sy mielievertakking hê soos om 500 hektaar geelmielies per jaar te produseer. Dit is egter nog nie genoeg nie. Hy sal ook fisiese en koste-doelwitte moet bepaal, omdat dit hom in sy beplanning van saad en kunsmis-gebruik, sal lei.


Elke produsent moet sy eie persoonlike doelwitte bepaal. Die belangrikheid om teikens te stel, kan weereens beklemtoon word en dit is baie belangrik vir die produsent om duidelikheid te hê oor dit wat hy in sy boerdery wil bereik. Indien daar enige konflik tussen hierdie doelwitte is, moet die produsent self sy spesifieke strewe en persoonlikheid in ag neem en sy eie prioriteite duidelik bepaal. In die beplanning van enige verdere aksie of teiken, moet hy seker maak dat sy spesifieke doelwit of aksie in ooreenstemming met sy eie prioriteite is en inpas by die algemene doelwitte. 

Alles wat tot dusver oor doelwitte gesê is, kan in ‘n enkele konsep opgesom word. Die doelwitte van die boerderybesigheid is die strewe na maksimum wins met die voorwaarde dat natuurlike hulpbronne (grond, water, weiding) so in stand gehou word dat hulle ‘n hoë opbrengs oor ‘n lang termyn kan verseker.


Om effektief te wees moet die bestuurder:

Duidelike doelwitte hê, beide korttermyn en langtermyn;

Beplan en begroot hoe om sy doelwitte met behulp van sy hulpbronne te bereik;

Die verantwoordelikheid dra en die gesag hê om hierdie planne in aksie te stel; en

Beheersisteme instel om terugvoering op vordering te kry sodat die nodige regstellende maatreëls op die regte tyd geneem kan word.



Doelwitte moet wees:

S – spesific (spesifiek)

M – measurable (meetbaar)

A – achievable (bereikbaar)

R – realistic (realisties)

T – time related (tydsgebonde).



Daarstel van doelwitte

Die daarstelling van doelwitte het te doen met die vraag “wat” van die boerdery, bedoelende om antwoorde te verkry op die vraag, “Wat wil ons bereik?”



Sommige doelwitte en doelstellings sluit ‘n verskeidenheid uitdagings in waarvan die belangrikste is:

Behaal teiken-opbrengs per hektaar – dit beteken dat die produksie per hektaar die teiken behaal wat in die jaarlikse begroting gestel is. Jaarlikse begrotings wissel van onderneming tot onderneming. 

Verseker dat die eindproduk aan mark-spesifikasies voldoen – die produksiebestuurder moet byvoorbeeld produksiedoelwitte stel om die vereistes van die mark te behaal. Dit kan wees grootte, kleur of kwaliteit.

Verseker dat die proses volhoubaar is – dit beteken dat die omgewing nie onnodig gesteur word deur produksieprosesse nie, byvoorbeeld deur plaagbeheer-chemikalieë en kunsmis, sodat hoë vlakke van produksie volhoubaar kan wees gedurende die leeftyd van die onderneming.

Bly binne die raamwerk van Goeie Landbou Praktyke (GAP) – GAP vra vir sorg by die gebruik van chemikalieë om die veiligheid van alle operateurs te verseker, die gebruik van plaagdoders en kunsmis op ‘n sistematiese en beplande wyse en die behoorlike aanwending van water om vermorsing, kontaminasie en erosie te voorkom.



Sekondêre doelwitte verwys na individuele boerderybestuur, maar om die doelwitte hierbo te behaal, sal die algehele sukses van die boerdery verseker.





