Study (OPOT) 										Afrikaans

		

Studiegroepe dien hulle doel



Instructions: 

Folio strap: Studiegroepe

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van Graan SA Ontwikkelingsprogram vir Produsente



Om produsente op ‘n een-tot-een basis te diens, is baie stadig en duur. Dit is koste-effektief om mense met dieselfde belange en vermoëns te groepeer en hulle dan deur gereelde vergaderings te diens. Hierdie projek dien sy doel – om opleiding, vaardighede en inligting aan ontwikkelende produsente in die verskillende streke oor te dra. 



Ons het opgemerk dat lede-getalle oor die jare afgeneem het en slegs dié produsente wat regtig geïnteresseerd en toegewyd is, het oorgebly. Dit is veral opmerklik in die Noordwes-provinsie, waar die program al vir jare aan die gang is. In areas waar studiegroepe nuut gevestig is, veral in kommunale areas, is die grootste probleem om die grootte van die groep te beperk. In sommige areas is daar soveel as 200 kleinskaal-produsente wat wil aansluit!



Ons het hierdie jaar 128 studiegroepe oor die hele area deur die provinsiale kantore gediens. Ingesluit is agt studiegroepe, wat deel uitmaak van die koringprojek in die Oos-Vrystaat. Gedurende die vergaderings is die volgende bespreek:



Grondsuurheid;

Die belangrikheid van grondkeuse vir graanproduksie; 

Grondbestuur; 

Bewerking en die waarde daarvan;

Grondkompaksie en die impak daarvan op produksie; 

Voedingstekorte in graangewasse; 

Vogbewaring; 

Kultivarkeuse; 

Die produksiesiklus – grond, bewerking, kultivarkeuse, onkruidbeheer en bemesting;

Onkruidbeheer – meganies en chemies; 

Die veilige hantering van landbouchemikalieë; 

Topbemesting; 

Beheer van stronkboorder en ander plae;

“Roundup ready” en BT-mielies; 

Kritiese belang van tydsbepaling in die produksiesiklus; 

Veilige bewaring van mielies;

Begroting en beplanning – die werklike koste van produksie; 

Die waarde en koste van insetversekering; 

Bemarking; 

Meganisasie – een van die sleutels tot kommersialisering; 

Hoe om tweedehandse toerusting aan te koop; 

FICA vereistes en die Kredietwet; 

BTW en diesel-rebatte; 

Die rol van ‘n studiegroep as koopgroep; 

Die gevaar van vuur by ryp mielielande; en

Hoe om te beplan vir die komende seisoen wanneer die weervoorspelling negatief is vir gewas produksie. 



Ons het oor die afgelope maande met elke individuele lid van die studiegroepe vergader om inligting bymekaar te maak rakende die aantal hektaar geplant en die aantal en toestand van die trekkers, planters, spuite en bewerkingsimplemente. Ons hoop om toegang te verkry tot finansiering en ondersteuning vir ‘n rehabiliteringsprogram vir hierdie implemente – goeie meganiese toerusting is krities vir kommersiële produksie. Met druk op die winsgewendheid van graanproduksie, is baie van die implemente verwaarloos omdat daar nie geld is vir die nodige instandhouding en onderhoud nie. Hierdie saak moet aangespreek word indien swart produsente hulle regmatige plek as kommersiële produsente wil inneem. 



