Sprayers											Afrikaans



Instandhouding, skoonmaak en stoor van die onkruidspuit



Instructions: 

Folio strap: Instandhouding

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA ontwikkelingsprogram, insluitend waardevolle bydraes van verskeie kollegas



In die artikel oor swak onkruidbeheer in die Pula-Imvula van Februarie 2008, was een van die moontlike oorsake wat bespreek is die toestand van die onkruidspuit. Dit blyk ‘n algemene probleem te wees – daarom hierdie artikel. 



Behoorlike instandhouding- en stoortegnieke sal nie alleenlik volgende jaar se voorseisoen voorbereidings  glad laat verloop nie, maar ook die werking van die onkruidspuit verbeter, sowel as die produktiewe leeftyd verleng. Die langdurige blootstelling van die onkruidspuit aan verskillende plaagdoders kan onderdele, verf en elektriese konneksies vreet en die onkruidspuit se kondisie laat agteruitgaan. Oorblyfsels van hierdie produkte kan skadelik wees vir enigeen wat op, of in die omgewing van die spuit werk. Residu van plaagdoders wat in spuit-onderdele gehuisves word, kan ook gewasse beskadig deurdat dit na die volgende seisoen oorgedra word. 



Jou persoonlike veiligheid, asook dié van jou familie, werkers en jou oes, vereis dat die onkruidspuit deeglik skoongemaak en ontsmet moet word tussen verskillende gewasse en ook voordat dit vir die winter gestoor word. Onthou dat die meeste van die chemikalieë wat in die landbou gebruik word, skadelik is vir plante en/of diere en daarom moet sorg gedra word dat die gevare wat bestaan, verstaan word en die situasie so goed as moontlik bestuur word. 



Skoonmaak van spuittoerusting

‘n Volledige instandhoudings- en storingsproses bestaan uit vyf stappe:



Stap 1: Lees

Voordat jy begin om jou spuit skoon te maak, moet jy seker maak dat jy die aanwysings van die plaagdoder wat jy gebruik het, goed bestudeer. Hierdie etiket sal: 

Jou inlig hoe om van die oorblywende produk ontslae te raak. 

Jou voorsien van spesiale skoonmaak-instruksies wat nodig mag wees. 

Aanbevelings maak oor produkte om kontaminasie te verhoed. 

Riglyne gee oor die “Personal Protective Equipment (PPE)” wat jy benodig om jou spuit veilig skoon te maak. 



Stap 2: Spoel

Die doel van spoel is om enige gekonsentreerde areas of groot areas van die produk te verwyder wat nog in of op die spuit kan wees. Die skoonmaak van spuittoerusting behels die sirkulasie van water deur die hele sisteem, en om dit dan uit te spuit op ‘n plek wat op die etiket van die plaagdoder wat jy gebruik het, aangedui is (met ander woorde, om die water / verdunde chemiese mengsel op ‘n veilige plek uit te gooi).



Om te verseker dat jy die tenk, sowel as die pype en spuitpunte skoonmaak, vul die tenk halfpad met skoon water en gaan ry ‘n ent met die trekker op ‘n plaaspad – die gestamp van die pad sal die water laat rondskommel in die tenk en verseker dat die hele tenk skoongemaak word. Dit is beter om die tenk verskeie kere met ‘n klein hoeveelheid water (tot 10% van die tenk se kapasiteit) te was, eerder as om die tenk een keer met water vol te maak en te probeer skoonmaak. Dit word dus aanbeveel dat die proses ‘n paar keer herhaal word. 



Kies ‘n plek waar die spoelwater nie watervoorrade, waterstrome, gewasse of ander plante sal kontamineer nie en waar groot poele nie sal opdam nie, omdat dit skadelik sal wees vir mens, dier en die omgewing. Jy kan dit uitspuit al langs die kant van die land af of langs ‘n plaaspad. Maak seker dat jy die spuit se tenk dreineer in ooreenstemming met die plaagdoder se aanwysings. Moenie net die kleppe oopmaak en dit op die grond laat uitloop nie. Gebruik groter volume spuitpunte vir ‘n vinniger en veilige metode om van spuitwater ontslae te raak. Die buitekant van die spuit moet ook gewas word. Vermy staande poele water wanneer die spuit gespoel word, omdat dit skadelik kan wees vir kinders, troeteldiere, lewende hawe of wild. 



Stap 3: Dreinering 

Om van plaagdoder ontslae te raak in ooreenstemming met aanwysings, gebruik ‘n area waar die produk gewoonlik aangewend word (weer eens: langs die kant van die land waar die chemikalie gespuit is, is dikwels ‘n geskikte plek). Herhaal die dreineringsproses en spoel weer die spuit, maak seker dat jy ook watertenks dreineer voordat die spuit gestoor word om skade te vermy wat deur water wat vries veroorsaak kan word. 



Stap 4: Inspeksie 

Na die finale spoel kan jy die spuit ondersoek en die nodige herstelwerk en aanpassings doen. Selfs al is die spuit skoongemaak, moet beskermende toerusting gedra word. Oorblyfsels van die plaagdoder kan in en op die spuit agterbly. 



Waarna om op te let gedurende en na skoonmaak:

Spuitpunte wat uitgewerk is en nie pas nie; 

beskadigde spuitpuntskerms; 

beskadigde filter-element; 

krake, lekkasies en algehele werksverrigting in die pomp; 

toestand van pype, veral krake of brosheid; 

kleptoestand – identifiseer enige moontlike lekkasies of areas waar seëls los is, en 

die struktuur van die arm – identifiseer enige krake wat herstel moet word. 



Stap 5: Stoor 

Noudat die spuit deeglik skoongemaak is, kan jy dele verwyder wat beskadig is gedurende stoor. 

Verwyder filters en was hulle met die hand in seepwater (onthou om handskoene te dra wat bestand is teen chemikalieë). Spoel hulle en stoor hulle of sit terug in die spuit. 

Gee spesiale aandag aan spuitpunte en spuitpuntkoppelstukke. Kontroleer kleppe. Chemiese afval kan in hierdie dele opbou en gedurende die winter verhard, wat dan die spuit se werking in die volgende seisoen drasties sal laat afneem.

Verwyder spuitpunte, siffies, kleppe en spuitpuntkoppelstukke van die spuitpunt-basis. Seël die opening van die basis. 

Spoel en maak die spuitpunte skoon en kontroleer die kleppe. Bêre in ‘n houer wat gemerk is. Stoor kleppe by kamertemperatuur gedurende die winter om skade te vermy wat deur vriespunttemperature veroorsaak kan word. 

Verwyder alle drukmeters en maak openinge op die spuit toe. Stoor die meters weg van vriestemperature of beskadiging. 

Laastens kan vriesteenmiddel deur die hele spuitsisteem gesirkuleer word (byvoorbeeld al die pype, spuitbalkpype, kleppe, drukmeters en terugvloeilyne). Sirkuleer die vriesteenmiddel deur die arm se pype. Dit sal die binnekant van die pype seël en verhoed dat hulle kraak of uitdroog. Seël alle spuitpunte op die arm om die vriesteenmiddel in die sisteem te hou. Dit sal egter nodig wees om een of twee spuitpunte oop te maak om die vriesteenmiddel toe te laat om dwarsdeur die arm te sirkuleer. Maak hierdie spuitpunte toe, sodra die teenmiddel dwarsdeur die sisteem is.

Die doel hiervan vir stoor is dat die vriesteenmiddel alle oorblywende water uit die sisteem kan druk en die spuit se onderdele sal bedek. Die vriesteenmiddel in die pomp en kleppe sal roes en skade verhoed wat veroorsaak kan word deur vogtige lug in die sisteem.  

Vriesteenmiddel vir nutsvoertuie word algemeen gebruik in die stoor van landbouspuite. Anders as teenmiddel vir voertuie, is dit minder skadelik vir diere. Hoewel hierdie vriesteenmiddel in ‘n jel sal verander gedurende buitengewone koue toestande, behoort hulle nie te vries nie. Ten spyte daarvan, moet die aanwysings op die middel gelees word om seker te maak dat dit onder wintertoestande sal presteer. 

Noudat die spuit skoongemaak is, gedekontamineer is en reg is vir die winter, is dit gereed om te stoor. Binnehuise storing, weg van die skadelike effek van die elemente, is verkieslik. Enige binnehuise stoorplek behoort egter weg te wees van beide vloeibare en droë kunsmis. Die stof en residu van hierdie produkte kan die verf op die spuit beskadig. 

Indien jy nie die vriesteenmiddel-opsie wil uitoefen nie, is dit goeie praktyk om die pomp van die spuiteenheid te verwyder en in die stoor te hou tot die volgende seisoen. Baie dikwels bly water in die pomp agter en gedurende die kouer wintermaande vries dit en kraak die pomp, wat dit onbruikbaar maak. 



Instandhouding van spuittoerusting

Instandhouding van plaagdodertoerusting sluit in: die gereelde inspeksie van die spuittenk, pomp, pype, filters, drukmeters, konneksies, spuitpunte en lynfilters. Kontroleer die spuit voor en na lang storing en elke keer voordat dit gebruik word. Onthou om altyd beskermingstoerusting te dra wanneer spuittoerusting hanteer word. 



Spuittenks: Spuittenks word vervaardig van vlekvrye of gegalvaniseerde staal, veselglas of plastiek, insluitende polyethylene of polyproplylene. Hierdie materiaal is nie absorbeerbaar nie, dus behoort daar geen plaagdoder residu agter te bly na skoonmaak nie. Veselglas tenks kan egter, indien dit gekrap is, plaagdoder absorbeer. Krake in die epoxy laag van gegalvaniseerde tenks moet met epoxy materiaal herstel word, anders sal dit roes. Tenks moet gereeld vir krake, roes of skade nagegaan word voordat lekplekke ontstaan. Maak seker dat die spuit tenk veilig aan die spuit vas is.

Pomp en pomp seëls: Die pomp en al sy komponente moet in ‘n goeie werkende toestand wees. Pomp seëls, insluitende alle “O-ring” seëls van leer of sintetiese materiaal, mag uitdroog en krimp indien die spuit vir ‘n aansienlike tydperk nie gebruik word nie, of nie na behore nagesien is tydens die stoorproses nie. Die oplossings in sommige plaagdoder samestellings kan pompseëls beskadig, wat tot gevolg sal hê dat die pomp sal lek of oneffektief sal pomp.

Rubberpype: Vervang rubberpype wat gekraak is of lek. Onthou, rubberpype wat gebruik word om plaagdoders toe te dien kan nooit volledig so skoon gemaak word dat dit nie gekontamineer sal bly nie. Daar sal ‘n bietjie plaagdoder residu binne die pype agterbly. Die rubberpype wat vervang word moet behoorlik mee weggedoen word en onder geen omstandighede weer gebruik word vir enige ander doel nie.

Pypfilters en siffies: Filters en siffies behoort voortdurend tydens werkverrigting in werking te wees. Hierdie filters en siwwe verhoed dat vreemde materiaal en deeltjies die spuitstukke verstop en die onkruidspuit se werkverrigting verlaag. 

Drukmeters: Die vloeistofdruk in die spuitsisteem word deur ‘n drukmeter gemonitor. Die drukmeter meet die drukking waarmee die mengsel of spuitvolume deur die spuitstukke geforseer word, indien die drukmeter se posisie tussen die drukreguleerder en die spuitstukke is. Gevolglik kan ‘n verandering in die druk van die spuit ‘n aanduiding van ‘n potensiële fout wees. Verseker te alle tye dat drukmeters in ‘n goeie werkende toestand en gekalibreer is.

Koppelstukke en klampe: Los of gekraakte koppelstukke is voortdurend ‘n bron van baie lekkasies. Verseker dat koppelstukke en klampe na behore geïnstalleer is alvorens daar druk deur die pomp van vloeistof plaasvind. Sodra die sisteem onder druk is, kyk of daar enige lekkasies is. 

Spuitpunte en filters: Inspekteer spuitstukke gereeld, ten einde te verseker dat hulle nie verstop is nie. Spuitpunte wat geslyt is, veroorsaak dat meer chemikalie uitgespuit word en het dikwels tot gevolg dat ‘n oneweredige spuitpatroon ontwikkel, wat aanleiding kan gee tot onkonsekwente resultate. Spuitpunt-openings kan ook verander, veral wanneer samestellings met ‘n vretende en afbrekende eienskap (soos benatbare poeiers) gereeld op spuitpunte gebruik word. Wanneer die vloei deur die spuitpunte laer is as wat verwag word, moet spuitpunte skoongemaak word en moet daar weer probeer word. Die spuitpunte mag dalk verstop wees.



