Producer (Maize)									Afrikaans

Gaan die produsent weer die blaam dra?

Instructions: 

Folio strap: Relevant

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir produsente



Daar is in elke storie altyd ‘n goeie en ‘n slegte ou en in die voedselproduksieketting is die produsent byna altyd die slegte ou. Hy word geblameer wanneer kos duur is of wanneer die kwaliteit swak is. Wanneer ons kyk na die proses wat gevolg word om voedsel op die verbruiker se tafel te kry, is daar verskeie rolspelers en die proses is baie, baie lank. 



Navorsing en biotegnologie



Insetverskaffers



Agribesighede



Produsent



Plaaslike mark



Dierevoedsel		Meulens		Bakkerye



Groothandelaars



Kleinhandelaars



Verbruikers



Navorsing en biotegnologie

Hierdie vorm deel van die proses sodat die regte plante verbou kan word – die mielies, koring, sorghum, sonneblom, bone, ens. wat aangeplant word, moet: 

Goed ontkiem sodra aangeplant;

Goed groei onder verskillende toestande;

Weerstand kan bied teen peste en plae;

Droogtebestand kan wees en ook te veel vog kan verdra;

Oor die regte kwaliteite beskik vir maal, bak, mout en pars;

Beskik oor aanvaarbare vlakke van proteïne, olie, koolhidrate, ens.;

In staat wees om die oesproses te verdra; en

In staat wees om gestoor te word en veilig vervoer te word.



Kunsmis, wat in die produksiesiklus gebruik kan word en in die voedingsbehoeftes van plante kan voorsien, moet ontwikkel word. Plaagdoders en onkruiddoders moet ontwikkel word om gewasse teen onkruid, peste en siektes te beskerm. 

Insetverskaffers

Hulle is betrokke, omdat hulle moet toesien dat: 

Chemikalieë geregistreer word vir gebruik op die verskillende gewasse;

Chemikalieë vervaardig word;

Saad vir kommersiële gebruik gereproduseer word;

Kunsmis wat in produksie gebruik word, vervaardig word;

Brandstof en olie wat deur landbou-implemente gebruik word, geprosesseer word; en 

Dit versprei word na Agribesighede.



Agribesighede

Hulle is betrokke, omdat hulle: 

Geld leen aan die produsent vir produksie;

Saad, kunsmis, chemikalieë, meganiese onderdele, brandstof en olie, trekkers en implemente verkoop;

Voorligtingsdienste verskaf;

Oesversekering voorsien; en

Die graan koop.



Die produsent

Die produsent is betrokke omdat hy:

Toegang tot grond en masjinerie bekom;

Toegang tot produksiekrediet bekom;

Al die insette vir die oes aankoop;

Die grond voorberei;

Die gewas aanplant, versorg en verkoop; en

Die oes aan die plaaslike silo lewer.



Die plaaslike mark

Die plaaslike mark is ook deel van die proses, omdat hulle: 

Die gewas koop;

Die gewas droog indien te nat om veilig te stoor;

Die gewas gradeer; 

Die gewas stoor;

Verseker dat geen peste en plae die graan wat gestoor word, bereik nie; en

Die gewas aan meulenaars verkoop (of aan die uitvoermark). 



Die meulenaar

Meulenaars vorm deel van die proses en: 

Ontvang die graan;

Verseker dat dit veilig gestoor word totdat dit gemaal is;

Maal die graan vir meel of koekmeel; en

Verpak die produk en versprei dit na die groothandelaars.



Die groothandelaar

Die groothandelaar se rol is:

Om die verpakte produk aan die kleinhandelaar te verkoop.



Die kleinhandelaar

Die kleinhandelaar se rol is: 

Om aan die verbruiker te verkoop. 



Hierdie kort verduideliking sluit nie al die verskillende stappe in nie, omdat die detail verskil van produk tot produk. Nadat die koring gemaal is, moet dit byvoorbeeld gebak word voordat dit aan die verbruiker verkoop word; indien die gewas gars is, moet dit gemout en gebrou word vir bier. 



Mense en prosesse is betrokke by hierdie proses en dit vorm die landbouwaardeketting. Almal langs die pad moet wins genereer om in besigheid te kan bly. 



Nou bestaan die vraag – is slegs die produsent te blameer vir prysstygings in voedsel?

Indien ons kyk na die prys van:

‘n Brood, is 20% – 25% van die prys wat jy betaal die waarde van die koring in die brood;

‘n Sak mieliemeel, is 35% – 45% van die prys wat jy betaal, die waarde van die mielies; en

‘n Blikkie bier, is minder as 3% van die prys die gars.



Besigheid dra risiko – alle besigheid dra ‘n sekere mate van risiko. Maar vir die produsent is die risiko groot: 

Die produksiesiklus is lank (vanaf grondvoorbereiding tot oes);

Die gewas is blootgestel aan weersomstandighede (droogtes, vloede, hael, ryp, sneeu en wind);

Produsente het nie ‘n keuse oor prys nie – hy kan nie besluit wat hy wil hê per ton mielies nie, omdat alle graan opgeveil word en die prys dan is wat die produsent ontvang. In baie gevalle word die produsent gedwing om ‘n prys te aanvaar wat minder is as wat dit hom gekos het om die gewas te produseer. 



As ons ter illustrasie kyk na die afgelope koringseisoen in die Vrystaat, was dit ‘n baie swak jaar met min reën. Die produsente in verskeie dele was nie eers in staat om een ton per hektaar te oes nie. Die produksiekostes vir koring is in die omgewing van R4 200 per hektaar en die prys wat die produsent vir sy koring gekry het, was in die orde van R3 000 per hektaar. Dit beteken dat, indien ‘n produsent een ton per hektaar geoes het, hy ‘n verlies van R1 200 per hektaar gehad het. 



Indien jy ‘n bakker is, koop jy die meel en jy besluit oor die prys wat jy vir jou broodrolletjies wil vra. Indien die verbruiker nie bereid is om daardie prys te betaal nie, hou jy op om meel te koop en te bak totdat die prys verbeter. Wanneer die produsent egter besluit het om ‘n gewas aan te plant, kan hy nie die proses stop en wag tot toestande verbeter nie – hy het alreeds geld spandeer en moet die gewas oes en verkoop. 



Ons produsente is kosbaar – hulle is hardwerkend, neem risiko’s,  voorsien voedsel en skep werksgeleenthede vir die mense van Suid-Afrika. Onthou dat ons slegs voedsel kan invoer wanneer ander lande ‘n surplus het en terwyl ons land die buitelandse valuta het om vir die invoere te betaal. Indien toestande swak is in ander uitvoerlande, sal hulle die voedsel vir hulself hou en ons sal dit nie kan koop nie. Indien die wisselkoers negatief teenoor die rand draai, sal ons nie die fondse hê om te betaal vir invoergraan nie en mense sal honger ly, soos die geval in baie ander Afrika-lande. Voordat ons die produsente blameer vir hoë voedselpryse, moet ons ondersoek instel en verstaan hoekom pryse gestyg het. Indien ons nie ons produsente ondersteun en help om in produksie te bly deur winsgewend te boer nie, sal ons nasie verhonger.

